Wilma Stockenström (1933–)

  • 1

Gebore en getoë

Wilhelmina Johanna Stockenström aanskou op 7 Augustus 1933 die eerste lewenslig op Napier in die Overberg. In 1949 voltooi sy haar skooljare aan die skool op Napier, waar haar pa skoolhoof was.

Haar ma en pa was beide onderwysers, vertel sy aan Francois Smith (Die Burger, 9 Augustus 2003), en hulle het “by hul kinders ’n leeslus aangewakker, maar wat beskikbaar was op Napier, was pateties. Die bibliotekie was klein, en wat was daar? Spanning- en speurverhale? Romantiese goed? Niks verder nie.”

Verdere studie en werk

Na skool gaan sy na die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1952 ’n BA-graad in drama verwerf. Dít wat die grootste bydrae tot haar kunstenaarskap was, was die feit dat haar ouers haar ondersteun het in haar besluit om drama te gaan studeer, vertel sy verder aan Smith. “My kuns is in die toneel gewortel. Ek het uit frustrasie poësie begin skryf omdat ek nie die geleentheid gehad het om my kreatiwiteit op die verhoog uit te leef nie.”

Vir ’n jaar werk sy as omroeper in Kaapstad, maar verhuis in 1954 na Pretoria om daar as aktrise en dramaturg te werk. In 1954 trou sy met Ants Kirsipuu, ’n gebore Estlander en filosoof, antropoloog en taalkundige. Ants is in 2003 oorlede.

Drama en toneel is Wilma se eerste liefde en sy maak haar debuut as aktrise by die NTO (Nasionale Toneelorganisasie) in Hugo Claus se Bruid in die môre in 1958. Sy speel daarna die rol van die ou vrou in Ionesco se The chairs onder die regie van Richard Daneel. Met die koms van die Streekrade het Truk ook van Wilma se dienste gebruik gemaak en haar eerste rol vir Truk was Agt vroue van Thomas. Robert Mohr het die produksie van Tsjechof se Drie susters op die planke gebring en Wilma se vertolking van die rol van die ouer suster Olga sal nog lank onthou word.

Met die koms van televisie het Wilma meer gereeld voor die kameras beland. Sy speel in Liesbeth slaap uit vir Stephan Bouwer en haar optrede in dié stuk besorg aan haar die rol in Die besoeker, ’n stuk oor Eugène Marais van Athol Fugard en Ross Devenish wat in Engels gepubliseer is as The guest en later deur Wilma vertaal is. In 1977 verower sy die Rapport-Oscar vir haar spel in Die besoeker. Wilma sal ook onthou word vir haar rolle in ManakwalannersHoggenheim Edms Bpk en The promised land van Karel Schoeman. Sy vertolk ook ’n rol in Katinka Heyns se Die storie van Klara Viljee.

Wilma begin eers later in haar lewe ernstig skryf. (Haar eerste skryfpoging was ’n toneelstukkie terwyl sy nog op laerskool was.) Na die publikasie van enkele gedigte in die tydskrif Wurm volg twee eenbedrywe, Katlagters en Op Deurrys wat ook in Wurm en Contrast verskyn. Haar vroeë toneelwerk, soos Dawid die dik dom kat en Trippens se patatta, word nie deur gevestigde uitgewers gepubliseer nie, maar in die sewentigerjare deur Dalro. Haar bekendste eenbedryf, Die laaste middagmaal, word in 1978 deur Taurus in boekvorm uitgegee. Met dié werk wen sy in 1974 die destydse Foundation for Art and Theatre se wedstryd vir eenbedrywe.

Sy begin eers in die laat sestigerjare dig. Sy sê self: “My gedigte het eintlik as ’n grap begin.” Hoewel sy aanvanklik toneelstukke geskryf het, het sy gou besef dat dit moeilik is om dramas opgevoer en/of gepubliseer te kry; dus begin sy poësie skryf. In die 1960's publiseer die letterkundige tydskrif Wurm (destyds onder redakteurskap van Phil du Plessis) nie net ’n eenbedryf van haar nie, maar ook van die gedigte. Sy stuur toe die eenbedryf aan Wilhelm Grütter, wat in daardie dae ook ’n teaterresensent was. Haar gedigte het egter vir Grütter getref en op sy aandrang het sy aan ’n manuskrip begin werk. Aanvanklik het sy net 12 gedigte gereed gehad en Grütter het voorgestel dat hulle dit op mooi papier in mooi groot letters moet druk sodat dit sou lyk asof dit genoeg verse vir ’n bundel was. En dit was Wilma wat voorgestel het dat hulle dit in daardie geval Vir die bysiende leser moet noem! Johann de Lange vertel op sy blog dat kritici later veel in die titel gelees het, “tot Wilma se verkneutering”.

Later is nog gedigte bygevoeg en in 1970 is dit deur Reijger Uitgewers (Grütter se uitgewers) uitgegee. Human & Rousseau het dit heruitgegee en ook haar ander bundels gepubliseer.

JC Kannemeyer skryf in Ons Erfdeel (jg 41, 1998) dat die verskyning van hierdie bundel feitlik ongesiens verbygegaan het en dit was aan DJ Opperman te danke dat Stockenström onder die aandag van Afrikaanse poësielesers gekom het nadat hy van haar gedigte in Groot verseboek opgeneem het. Dit was ook Opperman wat Wilma aan die uitgewers Human & Rousseau bekendgestel het.

Kannemeyer het voortgegaan: “Dat Opperman in dié mate met Stockenström se poësie beïndruk was, kan naas die intrinsieke gehalte van haar verse aan die verwantskap met sy eie werk toegeskryf word. Met die klipperige landskap van haar verse, die vermoë om in historiese dimensies te dink en die ontdekking van Afrika as vasteland sluit sy aan by die groot tradisie van Opperman, ’n aansluiting wat ook neerslag vind in die kriptiek, die soms barokke katalogisering en die karige aanwending van die lidwoord. Andersyds laat die sinisme en demaskering in haar verse ’n mens aan die satiries-ironiese lyn van Peter Blum se poësie dink, al is daar van regstreekse oornames of navolging geen sprake nie.

“Belangrik – ook vir die verdere ontwikkeling van Stockenström se digterskap – is die wyse waarop die barheid en verklipte wêreld van Afrika reeds in Vir die bysiende leser gestalte vind en in watter mate tipiese elemente van dié vasteland ‘soms (as) hoeders van fossiele’ ’n hele verlede toegesluit hou. Die wêreld van Afrika wat hier ontgin word, is ’n ‘klipperige bed van geboorte en dood/ van geslagte en geslagte vaal helde’ en begroei met tipiese plante soos die spiesdoring en driedoringboom met polletjiesgrasveld.”

Haar tweede digbundel, In spieël van water, verskyn in 1973 en volgens Kannemeyer (in Ons Erfdeel, 41, 1998) is die “satiries-ironiese lyn van haar poësie hier sterker aanwesig, veral in die siening van die mens wat in sy vermetelheid die prag van die aarde volgens sy gewaande mening probeer herskep en skend. Soos in haar eerste bundel vind ons hier ook die blootlegging van verrassende aspekte van vroeëre onbeligte fasette van die Afrika-vasteland, vanaf die bar, koue, patriargale weskus met sy legendes en ‘leegtes en putte’ tot die matriargale, ruie, warm, tropiese ooskus met sy vermolming en verwording waaruit ‘die nuwe jongelinge’ van Afrika met rasherinnerings voortkom.”

Stockenström se volgende bundel is Van vergetelheid en glans (1976), waarvoor sy die Hertzogprys vir poësie vir 1977 ontvang. Kannemeyer skryf dat hier, meer as in die vorige twee bundels, meer klem gelê word op die “woeste voorgeskiedenis, folklore, primitiewe mite en dikwels bar wêreld van Afrika”.

“Dit is ’n bundel waarin sy feitlik die hele kollektiewe onbewuste van Afrika met haar saamdra om met behulp van die hele beeldwêreld, die folklore en die teleskopering van verskillende periodes uit die geskiedenis van die kontinent iets sinvols omtrent die mens in die algemeen en sy plek in die heelal te sê. Die wêreld van Afrika wat hier gestalte vind, is dié van die prehistoriese mens en dier wat paleontologies opgediep is of in die rotstekeninge van die Sanjagters en die folklore van die swart mense bewaar gebly het. Daarnaas is daar telkens sprake van die tydperke van die Portugese ontdekkingsreise, VOC, Groot Trek en stormloop om goud waarin deur vaarders, kolonialiseerders, nedersetters en trekkers met behulp van kruis, fort, blokhuis of voorpos aanslae op die vasteland gemaak word in ’n poging om die wêreld te tem en leefbaar te kry. Die landskap waaraan Stockenström ons by voorkeur voorstel, is dié van ’n ‘ribbetjiemaer veld’ met tamboekiegras, driedorings, katjiepierings en ghaap, ’n knersvlakte deurkruis deur slote en gevul met brulsand en veral klippe, en bevolk deur die leeu, waterslang, olifant, padda, spreeu, eland en ietermagô. Telkens is daar sprake van ’n vasteland wat borrel en gis en wat deur middel van walms, glinstervloed of verteenwoordigende diere ’n ryk primordiale lewe laat vermoed. Op die mens se pogings om hom aan dié land vas te heg en daarmee vergroeid te raak, reageer Afrika egter afsydig: afgesien van walms en winde gee hy niks prys nie, verskaf hy geen kodes nie en dra sy diere geen boodskappe oor nie.

“Die afsydigheid van Afrika, die gebrek aan kommunikasie tussen die ek en die vasteland en die aanslae wat die mens ten spyte hiervan op sy omringende wêreld geloods het, is een van die deurlopende temas van Van vergetelheid en glans.”

Ook in 1976 verskyn Stockenström se eerste roman, onder die titel Uitdraai. In Impaired vision skryf Judy H Gardner dat Wilma Stockenström se Uitdraai ’n uitdagende debuut as prosaskrywer is. Dit bring ’n vernuwing tot die plaasroman-genre en ontluister die konsep van die mitiese “reinheid” van die Afrikanervrou.

In Uitdraai vertel Stockenström die verhaal van Flip wat op die plaas Uitdraai woon. Hy is die kind van ’n Afrikanervrou en ’n gekleurde plaaswerker. Sy ma is deur haar Afrikaanse bure verguis en het selfmoord gepleeg. Flip is deur sy grootouers aan moederskind grootgemaak en het ook hulle plaas geërf. Toe hy sy huishulp en haar siek kind versorg, het die bure weer gespekuleer dat hy saam met ’n “gekleurde” vrou leef. Hy moes, want dit is “in sy bloed”. Die ironie lê egter daarin dat die dogter van een van sy stoere bure, Cornelie, verlief raak op Flip, hom verlei en swanger word.

Eerder as om aan nog ’n “basterkind” geboorte te gee, doen die naaldwerkster op die dorp, met die toestemming van Cornelie se ma, ’n aborsie om Cornelie se “reinheid” intak te hou. Later trou sy in maagdelike wit met ’n ander boer en word die “reinheid” van die volgende generasie aldus verseker.

Dit blyk duidelik uit die tema van hierdie eerste roman dat Wilma nie skroom om die sogenaamde mites van die Afrikaner aan die groot klok te hang nie.

Dit is egter met die publikasie van Die kremetartekspedisie in 1981 dat Wilma haar merk as romanskrywer in die Afrikaanse letterkunde maak. Die roman is in sewe tale vertaal en is in 1988 met die Guinzare Cavour-prys vir die beste vertaalde literatuur in Italiaans bekroon. Dit is deur Susanna Basso vertaal en deur Il Quadrante in Italië uitgegee.

In Die Burger van 16 Augustus 2004 vertel Koos Human, wat destyds hoofbestuurder van Human & Rousseau was, oor die publikasiegeskiedenis van Die kremetartekspedisie: “Wilma Stockenström se brief was gedateer 25 Februarie 1981 en het uit een sin bestaan: ‘Weet nie of jy met so ’n hewig romantiese verhaal sal genoeë neem nie, maar ek sal dit tog waardeer as jy dit lees en vir my laat weet.’

“Watter beskeidenheid vir ’n brief wat die manuskrip van Die kremetartekspedisie vergesel het. Wat ek haar laat weet het, is nie op skrif nie, want volgens die briefwisseling het ons mekaar op 18 Maart in die voortreflike restaurant Le Madeleine in Sunnyside, Pretoria, ontmoet. Wilma was egter, soos uit een van my briewe blyk, onseker oor die waarde van die werk, en die manuskrip is aan twee lesers (ek praat liewer nie van keurders nie) voorgelê, wat albei sonder voorbehoud publikasie aanbeveel het.

“Ernst Lindenberg het pront weggeval: ‘Die kremetartekspedisie is ’n tour de force – niks meer en ook niks minder nie. As “verdigte” herinnerings van haar verlede is die enigste spreekstem dié van ’n slavin wat nie slegs herbeleef nie, maar in haar onthullings haar kontinent én haarself ontdek. Dié werk is iets unieks in Afrikaans.’

“En André P Brink, wat ook praat van die ‘meesterlike tydshantering’, besluit: ‘As beeld van die mens wat alle verhoudings met ander, en met ’n omringende ruimte, en met tyd, ontgin op soek na ’n definisie van die self en sy behoeftes en moontlikhede, is Die kremetartekspedisie inderdaad ’n voortreflike novelle, met van die mees “poëtiese” intensiteit in ons jonger Afrikaanse prosa.’

“Interessant genoeg reken Brink dat dit ‘’n uitgesponne prosagedig’ genoem kon word, ’n mening wat DJ Opperman ook in gesprek uitgespreek het.

“Die werk was dadelik ’n ikoon, maar die amptelike prysuitdelers het nie so gedink nie. Ons het almal verwag dat sy in 1982 die Louis Luyt-prys sou kry, maar sy het nie. Op 21 April 1982 skryf ek aan haar: ‘Ek voel nog altyd verbitterd oor Die kremetartekspedisie. Ek het geen twyfel dat dit kop en skouers bo al die ander uitgestaan het verlede jaar nie. Ek was vandag by Opperman en hy knik heftig instemmend toe ek dit sê.’ (Opperman het toe sy tweede beroerte gehad, maar kon ’n mens nog verstaan.)

“My gevoel was dadelik dat die boek vertaal moes word en dat die uitgewers die risiko moes loop. Ek het nie lank tevore nie kennis gemaak met JM Coetzee en verneem dat hy graag vertaalwerk doen en trouens in Nederland bekroon is vir sy vertaling in Engels van Emants se Een nagelaten bekentenis. Ek het hom genader, en nadat hy die boek gelees het, skryf hy op 5 Januarie 1982: ‘Die kremetartekspedisie has impressed me deeply, and I will be happy to translate it.’ Op 27 Julie 1982 stuur hy die vertaling nadat hy en ‘Miss Stockenström have already had an exchange of letters, mainly on the subject of plant names’. Hy stel voor dat die titel Expedition to the baobab moet wees.

“Soos tevore ooreengekom, is die vertaling eerste voorgelê aan Faber & Faber. Op 27 Oktober skryf Robert McCrum, destyds ‘editorial director’ soos volg: ‘First of all, I would like to congratulate you on publishing this quite remarkable book. It has been many months since I have read a work of fiction that has struck such a profound and moving chord.’ Faber het die boek ook in Amerika gepubliseer.

“John Coetzee het natuurlik intussen ook beroemd geword, veral danksy sy Waiting for the Barbarians, wat die vorige jaar verskyn het. Dat hy die vertaler was, het stellig bygedra tot die belangstelling in die novelle. Verskeie vertalings het gevolg, en die Italiaanse uitgawe, Spedizione al baobab, is bekroon met die Guinzare Cavour-prys as die beste vertaalde boek van 1988. Let wel: nie die beste vertaling nie, maar die beste buitelandse boek wat vertaal is. In Italië het Die kremetartekspedisie die wêreld se bestes geklop, maar in die Afrikaanse wêreldjie kon dit nie die paal haal nie. Tipies?

“Verskeie ander vertalings het ook verskyn, in Duits, Frans, Sweeds, Nederlands, sover ek kon nagaan. Daar was ook ’n plan om ’n Franse teaterstuk aan te bied. ’n Vermaaklike oomblik was toe ek vlak agter die kantoor van die Franse uitgewer in Parys afkom op die restaurant Le Baobab.”

Susan Meyer som Die kremetartekspedisie in LitNet Akademies soos volg op in haar artikel “Wat oor is, is die Self: verblyf in ’n boomholte in Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie”: “In hierdie roman herbeleef ’n naamlose, 15de-eeuse slavin die verhaal van haar oorlewing in ’n hol kremetartboom, in ’n vaag gedefinieerde Afrika-ruimte, in die laaste fase van haar lewe. Die oudgeworde slavin lewer verslag, in die vorm van innerlike monoloog waarin ’n direkte aanbieding van haar onuitgesproke gedagtes gegee word, van haar bestaan vandat sy as jong meisie gevange geneem en agtereenvolgens deur drie eienaars besit is. Saam met ’n vierde eienaar vertrek sy op ’n ontdekkingsreis deur Afrika om nuwe handelsroetes te vind. Die ekspedisie misluk, haar eienaar word die prooi van ’n krokodil en sy vind skuiling in die stam van die hol kremetart. Hier word sy ontdek deur klein mensies, vermoedelik die San, wat haar versorg deur geskenke aan haar te offer, totdat sy hul laaste geskenk aanvaar en die gif wat hul voor die boom plaas, drink. Die kremetartboom word dus die punt waar haar (lewens)reis eindig, maar dis ook die oord waaruit geestelike ontdekkingspaaie lei terwyl sy terugskouend die verskillende stadia van haar lewe beleef.”

In 2004 is Die kremetartekspedisie in die Klassiek-reeks heruitgegee en skryf Willie Burger in Beeld (16 Augustus 2004) retrospektief daaroor: “[T]og ook betrokke by die Suid-Afrikaanse situasie en geskiedenis [...] is Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie (1981). In ’n tyd waarin die taalgebruik van jong skrywers al by geleentheid deur Andries Visagie as ‘bloedarmoedig’ beskryf is, behoort Die kremetartekspedisie verpligte leesstof vir elke voornemende skrywer te wees. Dit is in die eerste plek ’n taalkunswerk.

“Hier word dit duidelik waarom taal ’n ‘waarnemingsintuig’ (soos Breyten Breytenbach poësie beskryf) genoem kan word. Dit is die soort prosa waarvan ’n mens paragrawe wil oortik en aan al jou vriende stuur oor die fyn waarnemings en die raak woorde en die verstommende beelde. Die ‘fyn net van die woord’ word hier ingespan om groot visse te vang.

“Dit is die verbysterende taalgebruik wat dit moontlik maak om juis só na te dink oor vryheid, slawerny, doodgaan, oor identiteit, oor menswees en godwees. Elke woord en sin voel so oorwoë soos in ’n gedig en het ’n geweldige intensiteit tot gevolg. Hierdie is die soort werk wat nie maklik sal verouder nie maar, soos Antjie Krog in die voorwoord dit stel: ‘Solank Afrikaans bestaan, sal dié boek waarskynlik die essensie daarvan bly verwarm.’”

Die liriese kwaliteit van Die kremetartekspedisie en die aangrypende verhaal van die slavin wat haar tuiste in die hol stam van die kremetart maak, het die danseres Tossie van Tonder so aangegryp dat sy geïnspireer was om die novelle te verwerk in ’n dans, wat gunstig ontvang is.

Ná die sukses (veral internasionaal) van Die kremetartekspedisie verskyn daar in 1984 weer ’n bundel gedigte van Wilma Stockenström getiteld Monsterverse, agt jaar na Van vergetelheid en van glans. In Ons Erfdeel het JC Kannemeyer geskryf dat Stockenström hier soos in Spieël van water die mens teken, “in sy geringheid en vermetelheid: ’n wese wat voortdurend wil opglans, die wêreld wil herskep en ‘sterbesete’ uitreik na iets anders”.

Monsterverse het die plaaslike pryse wat Die kremetartekspedisie verbygegaan het, ingepalm. Die CNA-prys van 1984 is aan die bundel toegeken en in 1985 het dit ook die Ou Mutual-prys en Louis Luyt-prys verower.

Hierna maak Wilma weer ’n draai by die roman as genre met die publikasie van Kaapse rekwisiete in 1987. Oor hierdie roman skryf Joan Hambidge in Die Burger (29 Oktober 1987): “Haar prosa word telkens gekenmerk deur ’n interessante versoening tussen die intellektuele en eg liriese passasies. Ook in die nuwe roman, Kaapse rekwisiete, word die leser by herhaling bewus van hierdie spanning. Die roman probeer ’n moord ontrafel, maar soos in Uitdraai waar daar vernuftig omgegaan en gespeel word met die kodes van die plaasroman, word Kaapse rekwisiete ook ’n spel met die konvensies van die speurverhaal. Uitdraai de-romantiseer die idilliese plaaslewe en wys op ’n sardoniese manier op die inherente valsheid van die sogenaamde boeremens. In Kaapse rekwisiete wéét die leser wie die moordenaar is – maar dit gaan hier eintlik om Lefebvre se eie ‘soektog’, haar eie versekering. Soos in Eers Linkie dan Johanna en die magistrale Die kremetartekspedisie is die storielyn van mindere belang. Die leser word eerder geboei deur die fyn stilistiese aanbod. Natuurlik kan dit van alle ernstige prosateurs gesê word, maar by Stockenström vind iets anders ook plaas.

“Reeds met vorige prosatekste het Stockenström die taboe wat Van Wyk Louw op ‘poëtiese prosa’ geplaas het, verbreek. Die romantiese of sierstyl het nog altyd ’n frons by Afrikaanse kritici ontlok. In die jongste teks word weer ’n paar reëls ‘oortree’, maar nogmaals met soveel virtuositeit en sukses.

“Die vertelperspektief in Kaapse rekwisiete is personaal met Lefebvre as die ‘central intelligence’. Sy is die vertolker en interpreteerder van die gebeurde en deur haar oë kom ons iets te wete van haar verhouding met Piet, die wrede teaterlewe, en deur herinneringe (en versugtinge) lees ons oor haar loopbaan. Ons lees ook van haar ongelukkige jeug. Maar die moord op Karoolsie kontamineer alle herinneringe, indrukke én beskrywings. Deur sy dood besef sy dat die mens maar net ’n nuttelose rekwisiet is. (...)

“Feit bly staan: Stockenström se manier van doen in vorige tekste kan nié van Kaapse rekwisiete losgedink word nie. Die leser is voortdurend op soek na kodes wat heenwys, omdat dit ’n tekstuele strategie is wat só eie aan haar is: hóé ónvanselfsprekend die vanselfsprekende is. Plek-plek skep die roman die indruk van ’n nukleus, omdat die plot nie orals ewe goed uitgewerk is nie. Maar dit is werklik klein besware, omdat ’n mens aanlees agter passasies aan soos die volgende: ‘Hoe verruklik was die platlê op die welkom van groot sagte blare en blomme. Hoe mild die aalmoes van ’n natuurlike bruidskamer vol kykende blomme vlak by die huis en eensydig die ontwaking. Nou glimlag sy om die eerlike wanopvatting toe sy gemeen het sy was net lieflikheid en kennis, en vlug kyk sy oor haar skouer. En so begin die besluite van jou liggaam jou hele lewe bepaal en word dit deel van die vesels van jou bestaan [...]’ (p 43). Toeganklik en maklik is dié teks bepaald nie; ’n lonende ervaring wél.”

In 1988 publiseer Ombondi Uitgewers met die digter Casper Schmidt aan die stuur ’n bibliofiel-uitgawe Skoelapperheuwel, skoelappervrou na ’n gedig van Wilma Stockenström. Sy het die gedig aan Schmidt in New York gepos met die versoek dat Judith Mason Attwood die gedig “visueel moet verklaar”. Die gedig is die beeld van ’n vrou wat met haar kinders in ’n huis by die see bly en betrek verhoudings – die vrou en haar kinders, die vrou en die see en die heelal en die kinders tot die vrou.

In Die Burger van 13 Desember 1988 word verder oor die boek geskryf: “Die teks is liries visueel deur Judith Mason Attwood vertolk. Aan die boek self is baie aandag bestee. Die formaat is groter as ’n gewone boek. Die papier is handgemaak, suurvry om vergeling of verskilfering te voorkom en afkomstig uit Frankryk. In dié luukse-artikel word die velle papier met die hand aanmekaar gestik en gegom. Die gewone uitgawe (75 word beplan) word met Nederlandse linne oorgetrek, met kwartleer afgewerk en in ’n stofjas aangebied. Slegs tien kunstenaarsproewe in vol leer is te koop; tesame met die spesiale uitgawes vir die uitgewer, digteres, kunstenares, drukker is die opgaaf 91. ’n Uiters belangrike komponent was ’n geskikte lettertipe. Die teks het ’n lettertipe geverg wat met sterkte en visuele krag die teks sou ondersteun. ’n Bekende kalligraaf, Arthur Baker van Rhimebeck, Amerika, wat veral ’n Gotiese kursief in sy kalligrafie gebruik, is genader. Hy het Cynthia Hollandsworth aanbeveel. Sy het ’n kennis van rekenaarverwerkings van handgeskrewe teks. So het die lettertipe vir Skoelapperheuwel, Skoelappervrou ontstaan.”

Maar voordat die boek gebind kon word (nadat dit deur die eertydse Broederstroom Press gedruk is), het die hele oplaag in 1988 verdwyn. In 2010 is 30 eksemplare in Johannesburg teruggevind, is in Die Burger van 6 September 2010 berig.

Nadat ’n weldoener geld beskikbaar gestel het, is die boeke gebind. Nadat Judit Mason die oorspronklike boeke onder oë gehad het, het die illustrasies van destyds vir haar te “skraps” gelyk en het sy besluit “om elk van die 30 boeke aan te vul met ’n stel tekeninge wat elke boek uniek maak.”

Dit was die enigste plek waar die gedigte van Wilma Stockenström nog verskyn het en dit word beskryf as “ironiese realisme wat die ontstaan van die kreatiewe proses beskryf”.

In 1988 verskyn Die heengaanrefrein, wat geskryf is in opdrag van die Nasionale Feeskomitee Hugenote 300. In Die Burger van 22 September 1988 skryf Helize van Vuuren dat ’n mens eers na ’n paar keer se lees ’n oordeel oor hierdie bundel kan vel. “Met die eerste lees stuit jy op die eienaardighede van die teks: ’n vreemde styl wat neig na die abstrakte, en in die eerste vyf van die sewe afdelings ’n sterk filosofiese inslag. Maar dié obstruksies verdwyn geleidelik by elke ‘ervaring’ van die teks, totdat die leser uiteindelik nie anders kan as om meer en meer onder die indruk van dié treffende en unieke gedigte te kom nie.

“Dis die hoogtepunt in Stockenström se poësie: ’n bundel wat in kompleksiteit laat dink aan NP Van Wyk Louw se Tristia, maar wat intens fokus op Afrika en sy mense. Al is dit as opdragwerk geskryf vir ‘die Nasionale Feeskomitee Hugenote 300’, gaan dit meer oor nóú as oor tóé. Die detail rondom die Franse Hugenote se ‘heengaan’ na Afrika word metafories gebruik as beeld van die mens se lot. [...]

“Die táál sal dus bly voortbestaan, is Stockenström se hoopvolle slot. Die heengaanrefrein – met sy verskrikking én sy hoop – is ’n manjifieke hoogtepunt in die jonger Afrikaanse poësie en in Stockenström se oeuvre. Sonder skroom word die Hugenoot-nasate se geskiedenis, geloof, taal en letterkunde hier bygehaal en krities bekyk. Dis ’n volwasse gedig wat elke Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner genadeloos konfronteer met wie en wat hy is, en waar hy vandag staan in ons versplinterende samelewing.”

Stockenström se volgende roman, Abjater wat so lag, word in 1991 gepubliseer en word in 1992 met die Hertzogprys vir prosa bekroon. Dit maak tot op daardie tydstip van Wilma Stockenström slegs die tweede vroueskrywer naas Henriette Grové wat hierdie prys vir twee verskillende genres verower.

Abjater wat so lag se verteller is ’n eenkantvrou en oujongnooi wat op ’n plattelandse dorp in die eerste deel van die 20ste eeu terugkyk op haar lewe – as ’n versorgster van gegoede wit mense se kinders en later van ou mense en sterwendes. Sy vertel van die insig in die dood wat sy só by die baie sterwendes verkry het. Dan raak sy ook eindelik sterwensbegeleidster vir Abjater, ’n man wie se goue lag sy in haar jongdae bewonder het, iemand wat vir haar soos ’n “uitverkorene” gelyk het.

JC Kannemeyer het sy resensie in Die Burger (26 Maart 1991) so afgesluit: “Die gepaste en dramatiese sluitstuk van haar optrede as sterwensbegeleidster is by die laaste siekbed van haar jeugvriend Abjater, vir wie sy ’n groot bewondering voel. Tot sover in die verhaal is Abjater gereduseer tot momentele verskynings en sirkulerende motief, net om aan die slot die volle lading te ontvang. Uit die verhaal blyk dit dat die laggende Abjater van haar jeug ná sy deelname aan die veldtog in Oos-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog somberder en stiller geword het, totdat hy uiteindelik ná ’n hartaanval aan die bed gekluister was. Abjater het in belangrike opsigte verskil van die vroeëre pasiënte vir wie sy moes begelei. Hy was nie ‘’n sterwende nie, maar ... iemand wat nie wou lewe nie’, ’n ‘halfdooie’. In die sterwensoomblik begin hy egter weer soos vroeër te lag en gaan hy die dood jubelend tegemoet (vgl die vyfde afdeling van Die heengaanrefrein, Stockenström se gedig van 1988), waarskynlik omdat hy dit tydens die oorlog van naby ervaar het en niks vir hom nuut kon wees nie. Uiteindelik was die dood vir hom ’n ontsnapping uit die ‘skyndood’, wat sy ingekeerde lewe wesentlik was.

“En aan die slot is die vertelster, vermoeid ná haar lang reeks begeleidings, terug na haar huis, nou wagtend op haar eie dood. ‘Ek wag op ’n gelag,’ sê sy, ‘ek weet hoe hy sal klink en ek sal my omhels voel en my mond sal oopval, dink ekke, my mond sal oopgaan kompleet of ek ja sê, en so sal ek my deel vind. Nou eers, dink ekke. Nou eers kom ek daarby uit. Genade, so is dit.’

“Met die volgehoue monoloog, die verwisseling van tydsvlakke, die pragtige kontraswerkings, die fyn taalgebruik en bowenal die verbysterende insig in menswees en dood is Abjater wat so lag saam met Die kremetartekspedisie die hoogtepunt van Stockenström se prosa-oeuvre.”

In 1994 en 1999 word nog twee digbundels van Wilma gepubliseer, naamlik Aan die Kaap geskryf en Spesmase.

Oor eersgenoemde het Wilhelm Grütter in Die Burger (28 Desember 1994) geskryf: “Het sy ooit gelees, en onderbewustelik onthou, een van daardie onvergelyklike essays van Joseph Conrad, ‘Initiation’? Daarin staan die frase dat ‘... the ocean has no compassion, no faith, no law, no memory’. Dit is hoe Wilma Stockenström se jongste bundel is: Dit roep, sy dit dan onwillekeurig, tekste op wat saampraat, verwysings wat resoneer, wat ver en diep teruggryp in die leser se eie bestand aan lees- en lewenservaring. Want, sê sy aan die begin van ’n gedig oor die see, ‘Van die baie drenkelinge vertel die golwe/ my net mooi niks ...’ en sluit af met ‘Dit word altyd dag, altyd nag’. Puurste Conrad. Die titel self resoneer op twee maniere, want ja, die bundel is letterlik en tasbaar aan die Kaap geskryf, wat sy lief het soos weinig minnaars wat hul geliefde so plasties kan uitbeeld soos ‘maar die wind neul nog om die gewelry en die see/ byt nog haar naels wit in die baaie.’ [...]

“Maar in die finale instansie bly dit tog die Kaap wat aan die bundel lewe gee, waarbinne sy haar intellektueel uitleef, en waarin sy haar sintuiglikheid wat uit afgelope bundels padgegee het opnuut laat botvier.”

En oor Spesmase laat Bernard Odendaal hom as volg uit in Volksblad (29 November 1999): “Wilma Stockenström se bydrae is werklik ’n unieke bydrae, ’n poësie waarin ’n sterk beskoulike inslag én ’n verwonderde liriese aanleg deur ’n ironiese openheid vir die betreklike in ewewig gehou word. Sodanige ewewig word stilisties onderskraag deur ’n soms speelse, soms ontluisterende praattoon en humorvolheid, betoom deur kragtige, meestal treffende beeldgebruik en ’n redelik streng verstegniek. Laasgenoemde vertoon ’n neiging tot eindrymloosheid, maar word dan vergoed deur ander vorme van klankherhaling en ’n voorliefde vir vastigheid wat betref versreëllengtes en strofebouvorme.

“Die heilsame, ironiese openheid vind in haar verskuns uitdrukking in ’n gewilligheid, eintlik vasbeslotenheid, om sake van alle kante te bekyk. (Kyk, en variante of implikasies daarvan, is ’n belangrike motief in haar gedigte.) Sodoende word die betreklikheid van sowel die glorie- as die skandekante van dié wêreld beklemtoon.

“Die bundelstruktuur van Spesmase is hiervan ’n illustrasie. Dit is opgebou uit drie afdelings, telkens voorafgegaan deur losstaande enkelgedigte. Die eerste enkelgedig, ‘Binnehof’, sinjaleer selfbeskouing deur die ‘ek’ en wel in die lig van die onverbiddelike verganklikheid – maar wat dan ironieserwys, luidens die ‘spesmase’ van die ek-spreker, kan uitloop op ‘die tyd wat langer is as nooitverby’.

“Hierop volg ’n afdeling van 14 gedigte wat uiteenlopende werkinge en uitwerkinge van die Goddelike maar veral die menslike gees ondersoek. [...] Dit verteenwoordig ’n steeds dringender peiling na wat dan eintlik vasstaan in die lewe. Die antwoord: Niks nie. [...]

“In die tweede enkelstaande gedig, ‘Bergkyk en seekyk’, word die blik na buite gerig op die poëtiese eienskappe van die vlugtige dinge, ‘ewewigtig en verdwynend’. Die afdeling van ses gedigte wat hierop volg, laat val die fokus dan pront op die alomverganklikheid: die pynlike belewings daarvan of vermoedens, maar ook die (futiele) pogings tot verweer daarteen, onder meer deur middel van die poësie. Dit mond uit in ’n bewuste aanvaarding van die vervlietendheid as wesenlike eienskap van die bestaande, ook van wat die digkuns kan vermag (‘Gekwetter’).

“Die derde alleenstaande gedig, ‘Oewergedagtes’, laat die perspektief nóg meer verruim, ‘jubelend jobbelend tot aan die lug’. Die implikasie blyk te wees dat die menslike gees die vervlietende lewe en wêreld tog te bowe gaan. Onmiddellik op dié transendente visie volg egter ’n relativerende blik op aktuele werklikhede van die dag. Meer spesifiek word sieninge van die vrou in die glorie én ellende van haar bestaan weergegee. [...]

“Die slotafdeling staan miskien ietwat losser van die bundelgeheel as die ander. Die deurlopende voorkoms van woorde wat betekenismatig met die bundeltitel verband hou (byvoorbeeld bepeins, dink, bedink, uitdink, vermoed, verbeel, mymer en weet) speel daarenteen mee om die eenheidsindruk te vestig.

Spesmase bekragtig die uitsonderlike digterlike aansien van ’n Afrikaanse skrywer wat ook as prosaïs onder die bestes tel.”

In 1997 is Wilma Stockenström saam met Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk, Marita van der Vyver, Peter Snyders en EKM Dido deur die Nederlandse Taalunie na Nederland en Vlaandere genooi, waar hulle openbare optredes saam met Nederlandse en Vlaamse skrywers gehad het.

In 2007 ontvang Wilma saam met Marlene van Niekerk die Afrikaans Onbeperk Kanna vir haar Lewensbydrae tot Afrikaans by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Tydens hierdie geleentheid is die volgende oor Wilma Stockenström gesê (Die Burger, 16 Mei 2007): “Dit is nie altyd maklik om te praat oor iemand wat reeds deur André Brink as die grootste lewende Afrikaanse digter bestempel is nie. Lofuitings het die eienskap dat hulle dikwels met die verloop van tyd ’n ironiese resonansie verkry. Waar dit Wilma Stockenström aangaande is, is daar geen aktivering van ironie nie – Brink se woorde het ná al die jare net gewen aan belang. Stockenström se werk – prosa en poësie – weeg met elke herwaardering net swaarder binne die konteks van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse lettere. [...]

“Maar ’n blurb op die agterplat van ’n boek reduseer ’n kunstenaarskap tot ’n punt waar daar van die woordkunstenaar se magtige omgang met die taal net ’n reklameflits oorbly. Reklameflitse is ’n taaldomein waar die ironie uitgesterf het, waar woede en agterdog en die nugtere siening van die mens in al sy naïewe en lagwekkende, absurde dimensies opgehef is en vervang is deur die presterende mens.

“Stockenström ís so ’n iemand – omdat sy in haar werk feitlik alles anders onder die loep neem, die nie-presterende siele en dinge. Mens kan nie werklik probeer om die geledinge van die Afrikaanse digkuns, en spesifiek digkuns oor die mens se plek op hierdie vasteland, te takseer as jy nie haar bundel Spieël van Water (1973) behoorlik gelees het nie. Haar formulering van ons ‘langsame verslaning’ alhier weerklink nou nog. En daarna het gevolg die verbluffend goeie Van vergetelheid en van glans (1976) waarin sy Afrika in vele ander dimensies ontgin het. As haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse lettere slegs uit hierdie twee bundels bestaan het, dan was dit reeds genoeg om haar te verhef tot die geledere van wat Leopold noem die ‘smetteloos verresenes’. [...]

“Hoe beskryf mens haar digterskap? Serebraal én sensueel, nugter én singend, virtuoos, eiesoortig. Ons lewe in ’n tyd van eenvlakkige, oppervlakkige taalgebruik. Lees jy Stockenström, vind jy die plesier van die taalspel terug, in inswaai van betekenis na ander standplase, die verskuiwing van woordfunksie in ’n woelige poging om dinge anders te sien. Ek gebruik ‘poging’ alleen uit gewoonte – Stockenström poog nie, sy doen en kry reg.

“Stockenström het as prosateur twee kragtoere gelewer: Kremetartekspedisie (1981) en Abjater wat so lag (1991). Albei is die herinneringe van ’n ou vrou; in Kremetartekspedisie bevind sy haar in die stam van ’n kremetartboom; in Abjater is sy ’n doodsbegeleier. Eersgenoemde dy uit na die uithoeke van die vasteland in sy herinneringsgang, laasgenoemde meer na binne, na die kennis van die drome van ’n lewensgang, van ’n eens lewenslustige persoon wat uiteindelik in sy halfdooie toestand die dood jubelend tegemoetgaan.

“Haar ander prosawerk reflekteer, as jy wil, die omgewing waaruit die outeur kom. Uitdraai (1976) is ’n plaasroman oor ’n ongewenste liefdesverhouding in ’n omgewing wat nie daarmee kan vrede maak nie. Die volgende roman, Eers Linkie dan Johanna (1979), het die wêreld van die verhoog as agtergrond, maar ook die breër konteks van ’n Suid-Afrika met al sy rassevooroordele en stratifikasies. Kaapse rekwisiete (1987) het die toneelwêreld as agtergrond, en is in essensie ’n satire gebou om die valsheid en skynwêreld en skynwaardes waarin die akteurs en aktrises beweeg. Die een ding wat mens deur die jare van Stockenström geleer het, is dat sy jou altyd sal verras met iets nuuts.

“Wanneer ek dan hierdie motivering lewer vir die toekenning van die KKNK se verering van Stockenström vir haar lewensbydrae, doen ek dit volkome met die verwagting dat sy my en die Afrikaanse leserspubliek weer gaan verras. Om te dink dat haar lewensbydrae reeds in sy volheid gemaak en afgesluit is, is ’n fout. Mag dié verering die aansporing wees om dit te bewys!”

Benewens die versamelbundel Die stomme aarde (2007) wat ’n persoonlike keur deur die digteres self is, en die vertalings van haar gedigte in Engels deur Johann de Lange onder die titel The wisdom of water (ook in 2007), was daar sedert die verskyning van Spesmase in 1999 ’n literêre stilswye van Wilma Stockenström se kant.

En toe, in 2013, 14 jaar later, verskyn daar weer ’n bundel, getiteld Hierdie mens. In Tydskrif vir Letterkunde (jg 51, 2014) skryf Loftus Marais oor Stockenström se digkuns én Hierdie mens: “Wilma Stockenström is bekend vir ’n agenda van ‘natuurlike’ kritiek op die mens se gedrag. Die woord ‘natuurlike’ word hier gebruik in die sin dat dit wel verwys na die dier- en plantewêreld, maar ook na die wesensaard of essensiële vanselfsprekendheid van verskynsels en ervarings.

“Die mens, en dikwels die talige mens, word in Stockenström se werk gekontrasteer met die prag en betekenis van die nietalige natuur en skeppingsorde. Verder is haar poësie ook ’n intieme refleksie op die ‘vergetelheid en glans’ (om een van haar bundeltitels aan te haal) van individuele asook kollektiewe geskiedenisse. Sy is een van die mees gerekende digters in die Afrikaanse poësie, en sedert haar debuut in 1970 word haar bundels, wat van speels-ironiese gedigte tot ernstige filosofiese bepeinsings en politieke kommentaar bevat, met groot lof ontvang.

Hierdie mens is ’n gefokusde en ekonomiese werk, die verse sowel as die bundelgeheel. Stockenström se nouer fokus (die bundel beslaan slegs 49 bladsye) word waardeer in ’n tyd waarin veral ouer digters omslagtige bundels publiseer. ’n Mens dink aan Cloete, Breytenbach en Müller. Hierdie soort uitgesponnenheid het soms ’n verwaterende effek. Stockenström se gedrongenheid is, daarenteen, gereeld die rede vir haar trefkrag.

“Reeds in die bundeltitel word die idee van ’n intieme, noulettende blik opgeroep. Die woord ‘hierdie’ bevestig dat ons met die spesifieke te make het. Die meeste van die gedigte is klein studies, persoonlike mededelings, waaraan Stockenström se tipiese speelsheid telkens ’n bedrieglik terloopse kwaliteit gee. Maar behalwe vir hierdie ‘bysiendheid’ (om die titel van haar debuutbundel aan te roer) gee Hierdie mens, veel meer as in enige ander van haar werke, ’n oorkoepelende gevoel van eenvoud, ingetoënheid en stilte. Die spreker skaar haar in die verse by dit wat ‘nie singbaar [is] nie’ (‘Om’t ewe’) en by ‘die rus van die eensellige’ (‘Eenvoud is koning’).

“Dit is ’n kalmer en direkter Stockenström aan die woord. Hierdie ingesteldheid hou moontlik verband met die herhaalde beskouings van die dood in die bundel. Ons lees ‘hierdie mens se gesig val uitmekaar’ (‘Hierdie mens’) en ‘dit is doodgaanseisoen’ (‘Hoor hierso’). Dit wil voorkom asof die skrywer in gepaste styl vorm gee aan die aanvaarding, verstilling en aflegging voor die naderende dood – soos hierdie reëls uit ‘Dit wil-wil’ ook suggereer: ‘Dis goed om op te ruim/ die dooie vlieë, met die skoppie/ uit te gooi. Minder weet. Meer wonder.’

“Net soos in haar vorige werk wantrou die digter hier ook die idees van tegnologiese vooruitgang, die mens se superioriteit in die natuurorde en die menslike verknogtheid aan sekerheid. Dit was nog altyd een van Stockenström se mees aanloklike eienskappe as digter: die aanbied van ’n natuurvers wat nie naïefbewonderend of tradisioneel-retories is nie, maar eerder ’n verfrissende en gereeld verrassende blik op ’n orde wat ‘eerliker’ en meer betekenisvol is as die mens se leefwêreld en sy gepaardgaande materiële ingesteldheid. [...]

“Stockenström se agtste bundel is nie ’n verbluffende of oorrompelende werk nie, maar eerder een wat sagter fluister en met ’n herhaalde lees ’n intieme soort wysheid aan die leser bied.”

In 2014 was Hierdie mens een van die drie finaliste vir die Poësieprys van die ATKV-Woordveertjies, asook vir die eerste Elisabeth Eybers-poësieprys.

In Die Burger van 26 Mei 2015 lees ons oor Hierdie mens: “Hoewel Stockenström van die begin af gedigte geskryf het wat intens gemoeid is met die geskiedenis en voorgeskiedenis van hierdie kontinent, met sy politiek, mites en folklore, was haar fokus tegelykertyd áltyd die menslike kondisie, volgens die digter Johann de Lange.

“‘Die gedigte is gestroop en onpretensieus,’ volgens Louise Viljoen op Boeke24. ‘Ook kom daar ’n wysheid na vore wat die merk dra van ’n lewe lank se aandagtige kyk na die mens en sy doenighede. Met Hierdie mens bewys Wilma Stockenström dat haar digterlike stem nog niks van sy unieke krag verloor het nie.’”

Volgens Marthinus Beukes in Rapport bekragtig Hierdie mens ‘’n digter wat in die Afrikaanse literatuur skatpligtigheid verdien en wie se verse ‘onthoubaar’ sal bly in die geheue van die taal.’

In ’n huldigingsartikel ten tye van Wilma Stockenström se 80ste verjaardag skryf Johann de Lange (Die Burger, 8 Augustus 2013) dat hoewel daar van vroeg af ’n intense bemoeienis met die geskiedenis en voorgeskiedenis van Afrika in haar gedigte sigbaar is, sy tog deurentyd stip op die menslike toestand gefokus het.

De Lange gaan voort: “In die hande van Stockenström is die mens in sy grootsheid en sotterny uitgebeeld. Enersyds as ’n ‘behaarde buis glorie en smet’, as ‘opgefokte saad’, uitgelewer aan ’n onverskillige kosmos, onmenslik teenoor medemens, vol selfbedrog en hubris. En immer in die skadu van die altyd teenwoordige dood.

“Sy het ’n unieke idiosinkratiese siening van die dood, opstandig, spottend, ironies, selde nederig. Andersyds is die mens ook skepper, voortbringer van beskawings wat opglans en vergaan, wat met taal as medium soos die primitiewe rotskunstenaar in ‘Die eland’ met ’n ‘klein klein handjie’ kan uitreik en merkies kan maak, ín teen die ewigheid, woorde om te sê: Ek was hier.

“Die mens bewus van sy onvolmaaktheid en sterflikheid, sy onmerkwaardigheid, maar bewus ook van die skoonheid van die skepping en die wonder van eenmaal te kon gewees het, eenmaal deel te kon gehad het aan die Al.

“Pas, ná ’n stilte van 14 jaar verskyn daar weer ’n digbundel van Stockenström getiteld Hierdie mens, en waar die fokus in haar oeuvre vroeër op die menslike kondisie in die breë geval het, verskuif dit met hierdie bundel na die digter, die spreker van die verse, broos, in ’n immer krimpende wêreld, maar steeds opstandig, satiries in die aangesig van die naderende dood. Só dig sy in ‘Hoor hierso’:

Nee, my ou suikerpot, my skuimpie, my Lyle’s Golden Syrup,
die lewe is nie net soet nie, die suur kom etsend by,
die bitter is soos heksverdriet, van lag maak dit broek nat,
want die dood is massavermaak en denke ’n mank stut.
Dit is doodgaanseisoen en die swaels sit op weggaan se drade.

“Dit was en is my voorreg om die afgelope 37 jaar nie net die ontwikkeling van ’n merkwaardige skrywerskap mee te kon maak nie, maar ook om Wilma Stockenström as vriend te kan tel, as diereliefhebber, en veelal as mens met deernis vir die slagoffers van die lewe.”

In 2015 word Wilma Stockenström vereer met ’n Fiësta-toekenning vir haar lewenslange bydrae tot die teater en woordkuns.

In September 2017 is Wilma Stockenström deur PEN Afrikaans gehuldig by die jaarlikse Tuin van Digters by die Breytenbach Sentrum in Wellington.

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 9780798109260 (hb)

 

 

 

 

 

Publikasie

Abjater wat so lag

Publikasiedatum

  • 1991
  • 2007 (Klassieke uitgawe)

ISBN

  • 0798127740 (hb)
  • 9780798149570 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • WA Hofmeyr-prys, 1992
  • Hertzogprys, 1992

Vertalings

  • Nederlands vertaal deur Rob van der Veer, 2018

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

 

 

 

 

Publikasie

Hierdie mens

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798163736 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Vertalings deur Wilma Stockenström

  • Greidanus, Aad: Lappies die lappiesmous, Johannesburg: Dalro, 1968
  • Vos, Erik: Professor Poffel en Professor Moffel: ’n toneelstuk vir kinders, Johannesburg: Dalro, 1971
  • Fugard, Athol en Ross Devenish: Die besoeker: ’n episode in die lewe van Eugène Marais, Johannesburg: Ad Donker, 1977

’n Keur van artikels oor en deur Wilma Stockenström beskikbaar op die internet:

Wilma Stockenström se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is volledig bygewerk op 22 Augustus 2023.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Rob van der Veer

    In 2018 werd Abjater wat so lag in het Nederlands vertaald als Abjater die zo lachte. Deze vertaling verscheen met steun van PEN Afrikaans bij uitgeverij Manuzio, Kampen. De roman werd vertaald door Rob van der Veer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top