Wilma Stockenström: ’n Poëtiese lewe

  • 0

Titel: Hierdie mens
Outeur: Wilma Stockenström
Uitgewer: Human & Rosseau
ISBN:9780798163736

 

Koop Hierdie mens by Kalahari.com

Wilma Stockenström vestig haarself as een van die belangrikste digters, romanskrywers en dramaturge in Afrikaans. Van haar werk is in verskeie tale vertaal en sy is geen onbekende op die verhoë van letterkundige toekennings nie. Op 7 Augustus verlede jaar vier sy haar tagtigste verjaarsdag met die publikasie van Hierdie mens, haar agste digbundel, die eerste in veertien jaar.

As klassieke voorbeeld van sogenaamde “laatwerk”, ’n term gemunt deur Theodor W. Adorno, Duitse filosoof en letterkundige (1997), sluit die bundel tematies aan by werk wat kunstenaars gedurende die laaste fase van hul lewens skep. Daar is talle voorbeelde in Afrikaans, onder andere N.P. van Wyk Louw, S.J. Pretorius (Amper postuum), Ernst van Heerden (Herfstelike Lig), en meer onlangs Pirrow Bekker (Atlas van die vergeetrivier). Edward Said wys in sy werk (On late style: Music and literature against the grain (2007) sowel as in ’n artikel “Art and architecture, ageing, literature and literary criticism” (2004)) daarom dat laatwerk nie alleen met ouderdom assosieer nie. Volgens sy insigte moet werk wat ’n jonger mens skep nadat hy met ’n terminale siekte gediagnoseer is, ook as laatwerk geklassifiseer word. Die saak word verder gekompliseer wanneer ’n spesifieke digter eers laat in sy lewe begin publiseer en daarom moet bedoeling eerder as ouderdom die deurslaggewende faktor wees.

Oor hierdie onderwerp sit Helize van Vuuren in twee artikels (2011, 2013), saamgelees met haar rede tydens die D.J. Opperman-gedenklesing te Stellenbosch op 26 September verlede jaar, die belangrikste kenmerke van laatwerk uiteen. Sy sê onder andere dat die verse ’n emosionele weergawe is van wat dit beteken om oud te word en daarom word klem geplaas op temas soos isolasie, weerloosheid, vervreemding, afskeid en verlies, sowel as pogings om die indiwidu daarteen te verskans. Die styl is intens persoonlik, gerig op die innerlike bewussyn van die digter-spreker. Kommunikasie met die buitewêreld is nie meer belangrik nie. Die skeppingsproses is voorop as verskansingsmeganisme teen ’n toenemend vervreemdende wêreld. (Adorno praat van ’n versplinterde landskap.) Simbole en sleutels se intrinsieke betekeniswaarde is slegs vir die digter-spreker belangrik en nie in die werk geplaas om interpretasie makliker te maak nie. Net soos die digter-spreker staan die gedig geïsoleerd van die sosiale gemeenskap wat vroeër ’n tuiste gebied het en is eerder stelling as boodskap. Die leser is niks meer as ’n toeskouer nie en kan daarom niks tot die skeppingsproses byvoeg nie, trouens, dit word ook nie van hom verwag nie.

Uit voorafgaande moet die afleiding nie gemaak word dat laatwerk vervelig is en liefs vermy moet word nie. Trouens, daar is talle voorbeelde waar digters in hierdie periode van hul beste werk gelewer het. Komas uit ’n bamboesstok van D.J. Opperman is ’n goeie voorbeeld.

Laatwerk fokus op die digter-spreker self, broos in ’n toenemend krimpende wêreld. In Hierdie mens is die styl lig en speels, gestroop van oorbodige emosionaliteit, sentimentaliteit en selfbejammering, maar lê tog die belewingswêreld van die oud geworde digter-spreker op ’n aangrypende wyse bloot. Pynlike besonderhede word nie vermy nie (“Hierdie mens”, p. 24). ’n Objektiewe selfbeheerste vertellerspersona is aan die woord wat nie haar ironiserende greep op die lewe verloor het nie. Die satiries, soms spottende stem wat in Hierdie mens aan die woord is herinner aan talle verse in Wilma Stockenström waarin sy vroeër in haar oeuvre die hoop uitspreek dat sy, ten spyte van die lewe se soms donker momente (Vgl. “Aalwyn in die droogte”, p. 19 Vir die bysiende leser.) tog haar humor sal behou. “Eendag sal ek, weet ek, die dood/met laggende skedel trotseer. “Minstens my sin vir humor sal ek behou” (“Die skedel lag al huil die gesig”, p. 15 uit Van vergetelheid en van glans.) Haar vonk vir die lewe en satiriese inslag is in Hierdie mens veral opsigtelik in gedigte soos “Uitnodiging”, p.13, “Nalatenskap”, p. 15 en “Olke bolke”, p. 12, maar altyd met ’n skrynende ondertoon.

’n Aspek wat Helize van Vuuren nie in haar artikels aanraak nie, hou verband met die feit dat laatwerk ook dikwels ’n evaluering van die digterspersona se poëtiese bydrae is. In Hierdie mens is die digter-spreker meer begaan oor die vraag of sy mens genoeg was as oor die meriete van haar poëtiese bydrae. Wilma Stockenström soek nie die antwoord op hierdie vraag in die groter hiërargie van dinge nie, maar bloot op persoonlike vlak vir haarself. Die mens in sy nietigheid word in Hierdie mens nie meer gedefinieer teen die kosmos/natuur as agtergrond nie, maar fokus op die indiwidu. Daarom sê sy reeds met die eerste gedig dat die mening van buitestanders rakende hierdie saak nie vir haar belangrik is nie. (“Om’t ewe”, p.7). So gesien, moet Hierdie mens gelees word teen die agtergrond van die temas, simbole, motiewe en onderliggende betekenisimplikasies van intertekstuele verwysings in al haar vorige poësiebundels. Sodoende word ’n digte verwysingsraamwerk geweef en verkry die oënskynlik eenvoudige verse in Hierdie mens ’n dieper en meer omvangryke betekenis. Die bundel illustreer ook dat eenvoudige, verskraalde taalgebruik voldoende is om die essensiële aard van menswees bloot te lê.

Stockenström se eiesoortige kyk na dinge het sy oorsprong in haar eerste digbundel, Vir die bysiende leser, gepubliseer toe sy 37 jaar oud was. Saam met haar opvolgende bundels vergestalt dit ’n digterspersona wat intens bewus is van die lewe, die onafwendbaarheid van die dood, die verganklikheid van alles en die fisiese verval van die menslike liggaam wat met ouderdom gepaardgaan. So byvoorbeeld skryf sy in “Moedertjie-meisie” uit Die bysiende leser, p. 17:

....Doedoe,
poplapmoeder, jou semellyf is klonterig
uitgemergel van sensasie snags.
Toe maar, toe maar, net ek en my vaders, net ons
weet hoe jou liggaam onder jou nagjurk lyk.

Uit ’n Spieël van water drie jaar later, sit sy hierdie tema voort in “’n Borsspeld sy”, p. 25, 26:

Die vingers is ’n hopie stokkies op die skoot
.....
Nou hoor jy net sipresgesuis, jy hoor net
droëfluistering. Die seningnekkies swaai
die koppetjie, ’n stopkalbas met enkele
drade, wieg aanhoudend, aanhoudend
oor die memoriams van geskenkies.
Daardie oë, daardie geslypte oë van haar
wat die lig breek en die ganse ouetehuis
rooipienkpers laat vonkel van gistersheid!
Dan pryk sy in haar hoek, ’n borsspeld sy.

Dat geen beheer oor die onverbiddelike gang van tyd uitgeoefen kan word nie bevestig sy in “Die tyd loop katvoet”, uit Spesmase, p. 16:

Die dag stap luiters verby soos ’n kat,
stert omhoog
...
Elke dag loop daar
’n dag uit my lewe en gaan slaap
opgekrul en droom hom met bewende
snor binne-in my daaglikse handel.
Vorentoe, agtertoe loop die tyd
katvoet aan my verby en spin.

Saam met tydsverloop, ook seisoenale veranderings in die natuur wat die implikasie laat dat lewe/geboorte die begin is van ’n lewensreis wat onafwendbaar na die dood lei. Net soos wat die lewe inkrimp en minder word met seisoenale veranderings in die natuur, net so ook met die mens, waar die laaste fase gekenmerk word deur vernedering en ’n gebrek aan menswaardigheid. Al is daar ’n opstandigheid teen die dood, word die mens met geen ander keuse gelaat as om vrede te maak met hierdie proses nie. Sy verwoord hierdie aanvaardingsproses in gedig 52 uit Monsterverse, p. 63:

Om die dood lief te hê, is om sy land en volk
te aanvaar, sy distrikte en al sy vae dorpe,
hom te min soos hy dit wil op sy weë
hoog en swewend; om, geluksaligheid,
jou wys te maak jy hoef niks te weet,
voorwaar, om sy behoorlike handdruk om die hart,
ingryp in jou begrensing, glimlaggend te begroet.

In Hierdie mens word die digter-spreker ook met ligaamlike verval gekonfronteer, maar nou aan eie lyf en nie as waarnemer nie. Die tronk waarin die bejaarde digter-spreker gevange gehou word, is meer vreesaanjaend as die dood self en word laasgenoemde eerder as bevryding gesien. Die versugting na ’n melkweg waar ’n nuwe aarde wag, waar almal, of jy nou Rembrandt of Stalin, of net ’n gewone buurman was, mekaar met rus sal laat, terwyl jy maar net ’n niks kan wees, verlos van aardse kennis, inperkinge en frustrasies. (“Niks”, Hierdie mens, p. 36). Hierby sluit ook die digter-spreker se hunkering na eenvoud, rus en stilte aan. Vergelyk byvoorbeeld “Eenvoud is koning”, p. 39, “Heil die bladluis”, p. 10 en “Maanmal”, p. 45 in Hierdie mens.

Spanning in die werk van Stockenström word geskep deur die jukstaposisie van uiterstes, mens en kosmos (die natuur en diere), ruimte en tyd, hede en verlede, jeug en ouderdom maar veral lewe en dood. Sy ontlont hierdie spanning, die presiese oorgangsmoment tussen die twee uiterstes, op ’n sonderlinge wyse en dikwels deur die gebruikmaking van spesifieke simbole. In Hierdie mens word isolasie, vervreemding, weerloosheid, verlies ensovoorts gebalanseer met “’n nuwe aarde” aan die ander kant van die spektrum. Die moment waarop hierdie oorgangsproses (rite dé passage) van een uiterste (lyding) na ’n ander (nuwe aarde) plaasvind word met die sterwensoomblik gelykgestel. Daarom dat die maan, geleë tussen twee uiterstes, son en aarde as liminale simbool so ’n belangrike rol in die bundel speel. As teenpool van die doodstema, simboliseer die volmaan rypheid en volwassenheid, terwyl ander simboliese betekenisse wat met die maan verbind word soos onder andere siklisiteit, seisoenale veranderings, lewe en dood, ruimte en tyd belangrike aanknopingspunte in die bundel vind. (Vgl. De Lange,2013.)

Omdat simbole en betekenisdraende verwysings slegs op verskraalde wyse in Hierdie mens, aanwesig is moet daar des te meer aandag gegee word aan dié wat wel hul weg tot binne die bundel gevind het. Hiervan is die see, maan en klip waarskynlik die belangrikste. Die See is in talle gedigte in haar oeuvre aanwesig. (Vgl. bv. “See aan die woord”, Vir die bysiende leser, p. 27.) In Hierdie mens wil die see nou alles insluk, die hele wêreld vol loop, metafoor vir die feit dat lewe en dood, wat in mekaar ’n lewende teenwoordigheid is, oor alles heers – die een kan nie bestaan sonder die ander nie. Hierdie gedagte sluit ook by haar vorige werk aan, soos byvoorbeeld op p. 54 van Monsterverse:

Kyk, die kind is die dood wat kom, hy kry
sertifikate bymekaar en rus hom toe
om die lewe te verower ter wille van die dood.

’n Ander belangrike tema in Stockenström se werk is eensaamheid en isolasie. Al was dit vroeër te wyte aan die indiwidu self (isolasie van die natuur) of as gevolg van die eise wat skrywerskap stel, was aanduidings daar dat die digter-spreker isolasie en eensaamheid ook op intens persoonlike vlak ervaar het. In “Alleenloper”, p. 11 uit Vir die Bysiende leser,verwoord sy ’n gevoel van vasgekeer wees in die self en ’n soeke na bevryding:

Wie sal my so lei dat my voete nie verstrik
raak in die skaduwees van takke oor sypaadjies?
Wie sal my voorgaan? Die afskortings afbreek
vir my wat bots en miskyk en vassteek?

Ek soek die straat, aarselend soek ek die straat
wat uitmond in ’n plein vol woerende duiwe.
Tussen die weerskantegryns van vensters sal jy
wat ek is, my tussen die beloer kan deurlei?
In die steeg van vasgekeer wees met myself
gehoorsaam ek jou, gids in my gedaante,
wat wink as ek wik en besluiteloos staan
voor die uitnodiging van wandel in die donker laan.
Die pad punt waar die bome sluit.
Ek laat my lok deur die nagvoël se fluit.

Ten spyte van die vasgekeerde gevoel word die suggestie hier gelaat dat ’n ontsnappingsroete moontlik is omdat ervaring gesetel is in die innerlike bewussyn van die digter-spreker waaroor sy beheer het. In Hierdie mens egter, is dit eksterne omstandighede wat deur ouderdom teweeggebring word wat haar inperk. Dit is buite beheer van die digter-spreker en daarom moet sy eerder haar omstandighede aanvaar as om fisies daaruit te probeer ontsnap: “noem homself inskiklik mens”, p. 24 uit Hierdie mens”.

Poësie impliseer ’n ander manier van kyk na die werklikheid, maar in die werk van Stockenström is dit integraal deel van haar kunstenaarskap. Vir haar vind die uitdrukkingsvermoë van die mens uiting in sy omgang met taal/woorde, al worstel sy regdeur haar oeuvre met die ontoereikendheid daarvan omdat woorde nooit haar diepste emosies korrek kan uitdruk nie. In “Ek wantrou woorde”, p. 51 uit Die bysiende leser skryf sy in die laaste ses reëls van die gedig:

Al leef die digter-spreker elke dag saam met hierdie ontoereikendheid, kan sy nie ophou skryf nie. Sy word keer op keer gedwing om maar weer die pen op te neem, om gekonfronteer te word met die feit dat sy nie van die lewe of dood se banaliteite kan wegvlug nie. Sy moet dit konfronteer met al wapen wat sy het: verbouereerde woorde. (Vgl. Gedig 14 uit Monsterverse.) Al lei hierdie ontoereikendheid dikwels tot eensaamheid en isolasie, lees ons tog “by die groen kerse van die kiepersol/... klinkers van ’n nuwe menslikheid” (Gedeelte uit strofe II, “Vraetyd”, Vir die bysiende leser, p. 45.) Taal of woorde, die poësie self, bied vir haar ’n skans teen die pynlike oudwordproses met al sy pyn, eensaamheid en isolasie. Wanneer die mat van woorde waaraan sy sorgvuldig gedurende haar lewe geweef het onder haar uitgetrek word, is dit veel meer as net ’n fisiese handeling. Sy verloor haar enigste wapen waarmee sy staande kon bly in ’n toenemend vervreemende wêreld waarin sy en haar tikmasjien nie meer pas nie en as oudmodies beskou word (“Ode aan ’n tikmasjien”, p. 10 uit Hierdie mens). Die ironiese, satiriese styl van “’n Mat van woorde” (p. 20) verhoog die skrynende intensiteit van hierdie pynlike verlies net nog meer:

Wanneer jy so platsit,
voel jy hoe die aarde onder jou draai en draai
op al die woorde wat die aarde weef.
En om nie grommend te tuimel nie
klou jy, broos van ydelheid, kneukels wit,
aan betekenis en uitleg en vertolking en hoop
op dissertasies in dik geleerde boeke, leergebonde.

In hierdie uittreksel word die evalueringsproses van eie werk deur die digter-spreker self weereens aan die bod gestel. Sy besef toenemend dat, al bepaal die teenwoordigheid van haar werk in boeke of as onderwerp van gesprekke en geskrifte nie op persoonlike vlak haar menswaardigheid nie, is dit tog al maatstaf wat gebruik kan word om te bepaal of haar werk (en dus lewe) werklik die moeite werd was. Net soos wat rotstekeninge die vroegste beskawings in herinnering roep omdat dit nog steeds op die wande van rotse gesien kan word, net so, hoop sy om dieselfde rede dat haar bydrae die toets van die tyd sal deurstaan. (Vgl. “Die eland” p. 47 uit Van vergetelheid en van glans.)

’n Ander aspek van taal wat tot isolasie en eensaamheid bydra en ook by “Die eland” aansluit, is die statiese karakter daarvan. Self sê sy dat iets eers bestaan wanneer dit beskryf word (Gedig 5, p. 30 uit Aan die Kaap geskryf), maar in hierdie handeling word dit (objek) as’t ware vas geskryf en dus geïsoleer van die werklikheid waarin hy voorheen sy vryheid kon uitleef. Beide skepper/Khoisan en eland/kunswerk word in ’n statiese toestand vasgevang waaruit ontsnapping onmoontlik is. Dit is in wese die probleem wat Stockenström met taal het: dit ontneem vryheid en maak staties, dus vereensaming en isolasie. Net soos wat die eland, groot, wilde en vrye dier wat hy is, ingekerker word in ’n statiese rotstekening, net so maak taal dit wat vry en ongebonde is vas en juis dit is die dilemma van die kunstenaar. Hulpmiddels wat veronderstel is om die bestaande realiteit waarin die bejaarde digter-spreker vasgevang is meer draaglik te maak, het inherent die teenoorgestelde kwaliteite. Dit is dan ook geen wonder dat die digter-spreker in “Skatpligtig” (p. 9, Hierdie mens) skryf dat sy eerder ’n punt wil plaas nie.

“Die Klip”, p. 28 uit Vir die bysiende leser, is ’n vooruitwysing na hoe die digter-spreker ouderdom verwoord in “Ammoniet”, p. 41 en “Nostalgie”, p. 26 uit Hierdie mens. Die klip, net soos die bejaarde, het niks om homself mee te beskerm of weerstand te bied teen die omstandighede waarbinne hy homself bevind nie. Hy het nie hande om voor sy gesig te hou nie, hy is naak en weerloos, sigbaar vir dit wat hy is. In sy ouderdom is die mens ook aangewese op ander se genade. Maar, sê sy dan, die bejaarde is ’n skatkamer vol herinneringe en kennis, net soos ’n klip/fossiel. Die verskrompelende uiterlike van die bejaarde is nie ’n afspieëling van die mens in sy totaliteit nie, maar omvat ’n hele lewe se mooi herinneringe: “skatkamers van kristalle, vol splinterheerlikheid, gelaai met die kleur van woestyne en vygies” (Uit Strofe 3, “Die klip”, p. 28/29 uit Vir die bysiende leser.) En hierin kan die bejaarde digter-spreker ontvlugting vind en droom oor ’n ander werklikheid as die een waarin sy nou vasgevang is. Al is sy nou ingeperk en van haar vryheid ontneem, kan sy tot ’n groot mate deur middel van drome ontsnap en ’n nuwe vryheid en ongebondenheid ervaar deur middel van herinneringe. Tog besef sy ook dat daar aan die einde van ’n lewe nie altyd antwoorde op alle lewensvrae bestaan nie en daarom soek sy na ’n verlore legkaartstukkie in “Stukkende droom”, p. 11 uit Hierdie mens. Vgl. ook “Nagmens”, p. 17 uit dieselfde bundel.

Saam hiermee ook die digter-spreker se verskuilde oproep dat die reis tussen begin en einde (lewe en dood) daar is om volkome geleef te word sodat “verspieëlde kanse nie in die swart stilstand ophou nie” (“Antieke spieël, p. 7, Spieël van water). Die lewe is vlietend en gaan gou verby. (Vgl. “Waarneming en gevolgtrekking” p. 32, Hierdie mens.) As ’n bejaarde geen herinnerings van ’n vol en gelukkige lewe koester nie, is daar maar min waarmee hy homself deur middel van drome kan verskans:

En in “Mooier as”, p. 17 uit Spesmase”

Ons sal ons kwistige jare nooit vergeet nie.
Nou bewaar ons effe bitter heimwee. Hoeka
sit ons regop van onthou: bioskoop, groen
skoeisel, toevallige blik na buite en ’n klein
dammetjie waar ’n kind eensaam lag. Wie?

Wat is mooier as geesdriftige jongdae!
Dit stu oor rand en versperring en opeens
straal skaamteloos alles. Gee pad,
wêreld, die jeug kyk nie waar hy loop nie,
hy stamp jou ongeërg van die sypaadjie af.

Noudat haar lewensreis byna voltooi is staan die digter-spreker voor ’n spieël en kyk na haarself, sien sy die weerkaatsing van die mens wat sy eens was. (Vgl. ook Ernst van Heerden se gedig, “Weerkaatsings”, p. 3 uit Herfstelike lig.) Self skryf sy in Spieël van water, p. 26:

Welkom, vreemdeling vergetelheid. Skroom
nie om jou donker vakuum om my uit
te brei, vergroting van die duister agter
my ooglede. Die lewe wat ek soos ’n spieël
gevat het om ’n omgekeerde waarheid
op te teken, noukeurig in verhouding
tot die grootte van die raam, het gekraak,
uiteengespat in skerwe wat my mondhoeke
skeur. So heet ek jou welkom, goeie
dood, jou naam my laaste bloederige
woord, jou anonimiteit ’n vervulling.

In “Vlug en aankoms II”, p. 37 uit Van vergetelheid en van glans dig Stockenström die vereistes wat volgens haar ’n suksesvolle lewe definieer:

Dit is genoeg om te gelewe het, een maal,
een maal in eenmaligheid van chromosome
wel te bestaan het van kroon tot toon.
Genoeg om te gelewe het, vol ontsluit,
Ook net eenmaal, genoeg om dalk
vreedsaam in ’n stille bemoeiing
met die eenmaligheid van doodgaan
dalk te dink: ek was eenmaal
eenmaal was ek ’n mens.

En in haar jongste bundel staan Hierdie mens dan soos ’n winterboom, gestroop en kaal, met net die essensie van haar menswees sigbaar en nooi die digter-spreker: oordeel self of ek mens genoeg was. Vir my is dit “Om’t ewe”.

 

 

Bibliografie

Adorno, G. en Tiedemann, R. (reds.) 2013. (Eerste uitgawe: 1997) Theodor W. Adorno. Aesthetic Theory. Londen: Bloomsbury.

Bekker, P. 2013. Atlas teen die vergeetrivier. Pretoria: Protea Boekhuis.

Beukes, M. 2013. “Eenmaal was ek ’n mens” In: Rapport, 31-08-2013.

De Lange, J. 2013. “Mens se grootsheid, sotterny uitgebeeld” In: Die Burger, 09-08-2013.

Grobler, S. 2011. “Die heengaanrefrein as eenheidsbundel”. http://www.woes.co.za/bydrae/artikel/die-heengaanrefrein-as-eenheidsbundel (11 Maart 2014 geraadpleeg)

Kannemeyer, J.C. 1998. “Die mens tussen vergetelheid en glans. Oor die werk van Wilma Stockenström” In: Ons erfdeel. Jaargang 41. pp 235-244.

Lombard, M en Viljoen, H. 1993. “Die verdonkerde spieël: Simbolistiese trekke in Wilma Stockenström se eerste drie bundels. In: Literator 14(3) November 1993. pp 21-36.

Pretorius, S.J. 1995. Amper postuum. Kaapstad: Human en Rosseau.

Renders, L.S.J. 2004. “Wilma Stockenström: tussen nietigheid en oneindigheid.” Afrikaans in Europa. https://aie.ned.unive.ac.at/node/124616. (15 Maart 2014 geraadpleeg)

Said, E.W. 2007. On Late Style: Music and Literature against the grain. Londen: Bloomsbury.

Said, E.W. 2004. “Art and architecture, ageing, literature en literary criticism”. In: Londen books review Vol26(15), August, 5, 2004.

Stockenström, W. 2013. Hierdie mens. Kaapstad: Human & Rousseau.

— . 1999. Spesmase. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

— . 1994. Aan die Kaap geskryf. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

— . 1988. Die heengaanrefrein. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

?—. 1984. Monsterverse. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

—. 1976. Van Vergetelheid en van Glans. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

?—. 1973. Spieël van water. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

— . 1970. Vir die bysiende leser. Kaapstad: Reijger-Uitgewers.

Van Heerden, E. 1996. Die herfstelike lig. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers Beperk.

Van Vuuren, H. 2013. “D.J. Opperman se laatwerk.” D.J. Opperman-gedenklesing. Gelewer op 26 September, Stellenbosch. www.academia.edu/...D.J.Opperman-gedenklesing. (12 Maart 2014 geraadpleeg)

Van Vuuren, H. 2013. “J.M. Coetzee se Summertime (2009) as laatwerk. In: LitNET Akademies, Jaargang 10(2), 2 Augustus. pp. 602-626.

Van Vuuren, H. 2011. “’n Almanak van klippe”: Laatwerk en Breyten Breytenbach sê die beginsel van stof (laat-verse, springkaanskaduwees, aantekeninge)”. In: LitNET-Akademies, Jaargang 8(3), Desember. pp. 462-487.

Updike, John. 2006. “A Critic at large. Writers and artists confronting the end.” In: The New Yorker. 7 Augustus 2013. www.newyorker.com/archive/2006/08/07/060807crat_atlarge (14 Maart 2014 geraadpleeg)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top