’n Glimp op François Bloemhof se oeuvre: ’n skrywersonderhoud

  • 0

François Bloemhof in die kring van kreatiwiteit. Sy werk – met ’n oeuvre wat na 100 tittels uitkring – ontgin onbekende avonture. In sy skryfwerk speur hy waarheid in die werklikhede van verstommende ontvlugting na. (Foto: Christiaan J de Swardt)

François Bloemhof in die kring van kreatiwiteit. Sy werk – met ’n oeuvre wat na 100 titels uitkring – ontgin onbekende avonture. In sy skryfwerk speur hy waarheid in die werklikhede van verstommende ontvlugting na.

Hy het ’n voorliefde vir katte. Daar was al ’n hele paar met wie hy ’n woning moes deel – onder meer Fernando, ’n baasspelerige Siamees; Rosebud, ’n nukkerige Birmaan; Katinka, ’n Noorweegse boskat en nie ’n diep denker nie; en Emma, ’n dierbare kat van twyfelagtige afkoms. Hulle het egter almal reeds die ontplooiing na die kattehemel ervaar. Hy dreig gedurig om tog weer ’n katkroos te verwelkom, maar kom weens persoonlike verpligtinge net nie daarby uit nie. “En dis verskonings! Dit keer my nie om ’n nuwe kat te kry nie – of twee op een slag, soos ek beplan. Ek hou aan wag vir die regte tyd, maar dit kom mos nooit nie. Ek sien ’n Lorenzo en ’n Patrys in die nabye toekoms, maar dit sal afhang van hoe die katjies lyk. Ek is mal oor katte se misterie, die verrassingselement, die sagtheid en die gevaar.”

G’n wonder dat een van sy opwindendste karakters juis ’n kat is nie! Dit was vir die eerste Afrikaanse strokiesreeks: Agent Snoet. Oor ’n onbeholpe geheime agent met ’n té groot neus wat nie sy karige vermoëns eggo nie. Die eintlike speurheld is sy intelligente metgesel Felino – wat alles waarneem en oplossings vind. Hy is die ware noir-speurder: net met vier pote.

Die omvattende Bloemhof-oeuvre kan soos volg gekenmerk word: “Party mense skep slices of life. Ek het nog altyd slices of cake verkies.” Daarmee eggo Bloemhof vir Alfred Hitchcock – wat ’n stomend-deursigtige stortgordyn skielik kon laat deurklief, gevolg deur bloedstollende angs.

“Geloof is om nie die waarheid te wil weet nie,” vertel die bekroonde skrywer François Bloemhof aan Christiaan J de Swardt in dié onderhoud oor sy indrukwekkende, dikwels omstrede, vernuwende oeuvre.

DIE LEWE IS ’N DRAAIBOEK: VOORSPEL

In hierdie skryfstuk verken ons die mens in die skrywer.

Hy skep ’n volhoubare loopbaan uit spanning, die bonatuurlike en gevolglike uitvloeisels. “Ek hét ’n voorliefde vir die bonatuurlike, omdat daar enigiets kan gebeur – en behoort te gebeur. Dit is per definisie nie voorspelbare stories nie. Maar ek skryf eintlik verskillende goed; wat ook al volgende in my kop kom.”

VEELSYDIG

Dié gebore Paarliet, wat nou in Durbanville woon, was al / is ’n taalpraktisyn, ’n kopieskrywer, ’n verhaleredakteur, ’n boekredakteur, ’n rolprentresensent, ’n joernalis, ’n komponis, ’n dramaturg en ’n draaiboekskrywer – alles spruit uit ’n meestersgraad in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Jonk en oud verslind sy gedagtes: van kleuters tot bejaardes. Sy stempel is nie in ’n genre gesetel nie, eerder in sy benadering daarvan: spanningsgedrewe, donker en met ’n vinnige tempo, goties en bonatuurlik, sielkundig en populêr: dikwels onklassifiseerbaar. Hy breek dikwels vorm en norm; was ook al omstrede en opspraakwekkend. Hy skep ’n vernuwende, soms selfs ongemaklike toeganklikheid: altyd met ’n effens aweregse, onvoorspelbare, onthutsende en byderwetse angel.

VERRASSING

Die meeste boekliefhebbers vereenselwig François Bloemhof met spanningsverhale en rillers vir volwassenes, en grillers vir die jeug. Heel tereg. Inderdaad, in graad 9 het hy al ’n allemintige 97% vir sy kortverhaal “Murder by the number” behaal, wat hy as die begin van sy skryfloopbaan beskou. En in graad 11 word hy as die medewenner vir sy teaterstuk A social gathering met die Amstel Playwright of the Year Award bekroon.

Skrywersroem was vir hom bestem.

Sy aangrypende wenresep in sy ril-en-gril-boeke, speurverhale en misdaadromans is die spanningsdrama en ingewikkelde intrige wat in ’n meevoerende vangnet van verrassing verstrengel – en ontrafel – word. Hy verskaf pret en plesier, woeker met melodrama, tragedie en komedie, en skok elke nou en dan met ’n gruwelikheid wat tot in die murg kerf.

Hy is nie bloot ’n genreskrywer nie; hy is ’n storieverteller wat verskillende mediums soos ’n ware avonturier afwissel.

GRENSVERSKUIWENDE BAANBREKERSWERK

Hy is uiters talentvol en veelsydig. Volgens bronne woeker hy na die honderdtal gepubliseerde werke – wat hy, beskeie, nie ontken nie! Hy word beskou as een van die min skrywers ter wêreld wat werklik geslaagd en uitgebreid vir die volwasse-, kinder-, tiener- én jeugmarkte skryf.

Hy het baanbrekerswerk in verskillende skryfgenres verrig. Tussen sy talle wêreld-eerstes is ’n boek met ’n oorspronklike selfgekomponeerde CD-klankbaan (Hostis), ’n boek met sy eie rekenaarspeletjie (Die speletjie), ’n Flipom (dubbele omdraaibare boek met twee voorblaaie en twee titels: Projek Zero en Die spring-ding), ’n interaktiewe vervolgverhaal in die koerant Rapport (“Almal se storie”), die eerste Afrikaanse strokiesreeks (Agent Snoet), die eerste Afrikaanse geheime agent in die Rooi luiperd-reeks, die eerste vrouespeurder – Alma van der Pool – in ’n Afrikaanse reeks en die eerste e-boek in Afrikaans (Spinnerak). Sy Spooksoeker-trilogie was uiters gewild, veral nadat hy dit self as draaiboekskrywer vir TV verwerk het.

Daar is ook kabarette (Die wêreld wil weet, Vurige diva), radiodramas (onder meer die wenstukke Sê-my-alles en Vyftien minute van roem), die RSG-sepie van 174 episodes Susters en skandes, kunstefees-verhoogproduksies (onder meer Die dae toe ek Elvis was en die plekspesifieke ril-ervaring vir KKNK Hel op Hemel-en-Aarde), asook ’n rolprentdraaiboek (Double echo, gegrond op sy boek Doodskoot) op sy kerfstok.

En moenie sy grieselrige vertaling van Roald Dahl se Revolting rhymes – ses bekende sprokies met donker, snaaks-vreemde kinkels in Afrikaans oorvertel as Vreeslike versies – vergeet nie.

As samesteller was hy onder meer by die boeke Donker veld, Die boek van spoke en Donker plekke betrokke. Hy het die boeke Dinge met tande en Sprong onder die skuilnaam Leo Bekker en talle tydskrifverhale onder die skuilnaam Frans Bruwer geskryf.

Van sy boeke het ook in Engels verskyn en van sy kortverhale, verse en radiowerk is op RSG voorgelees en opgevoer. Sy toneelstukke is by die KKNK, Suidoosterfees en Aardklop opgevoer, wat gehore geniet en resensente gunstig ontvang het.

TOEKENNINGS

Sy lys van toekennings is gruwelik indrukwekkend.

Dit het in 1991 begin met die eerste Afrikaanse gotiese riller Die nag het net een oog, wat met die DEKAT-prys – destyds SA se aansienrykste literêre toekenning – bekroon is. Gerekende handelsname stempel sy toekennings, soos Tafelberg/Sanlam, FNB/Kagiso en Maskew Miller Longman. Hy het vier jaar agtereenvolgens ATKV-Veertjies vir sy jeugwerk gewen. Daarvoor stem jong lesers oor kultuurgrense heen self vir hul gunstelinge in die onderskeie ouderdomsgroepe. Hy onderskat nooit sy lesers se intelligensie nie.

As skrywer ontgin hy stemming, karakter, milieu en intrige. Daar is geen einde aan die avontuur nie. Altyd afwagting. Teenpole. Veelkantig. Vernuwend.

Hy roep duidelike prentjies op en skram nie weg van temas wat steeds tot ’n mate taboe mag wees nie.

TONEEL EEN: VOORBLAAIE EN TITELS

Hier gesels ons oor tegniek, titels en voorblaaie.

Jy skryf deurentyd vir volwassenes en die jeug. Hoe en met watter gereedskap en kreatiewe ingesteldheid timmer en vestig jy die verskil in die uitdagings en behoeftes van volwasse- en jeuglektuur? Daar is sekerlik ’n anderste denkpatroon en/of benadering nodig. Die voor die hand liggendste vraag is dus: Hoe werk dié balanseertoertjie?

Aanvoeling. Instink. Maar dit geld vir enige boek; ek pas aan by die tipe storie. As mense regtig gaan kyk, sal hulle sien my skryfstyl verskil met verskillende genres. ’n Mens moet vroeg besluit hoe jy die storie aanpak en dan moet jy daarby hou. Met skryfwerk vir jonger lesers sal ek terme vermy wat vir my as kind pretensieus of outyds sou gevoel het – maar noudat ek dink, probeer ek hulle maar altyd vermy! Dit bly ’n kwessie van register; dit werk maar soos dat jy nie ’n nar in ’n krematorium moet toelaat nie – en nie ’n begrafnisondernemer by ’n sirkus nie.

VOORBLAAIE

Die voorblad van ’n publikasie word meestal deur die uitgewer se ontwerpafdeling gebalanseer: Die uitleg, die tipografie, die kleurgebruik, die titel, die skrywersnaam en die visuele aspekte (foto of illustrasie) moet ’n eenheid vorm, sónder om die verhaalverloop te verklap. Dit gaan oor bemarking. Die uitgewer besluit. En met goeie rede: Die voorblad is nie ’n illustrasie van die storie nie; dis ’n verkoopspunt. Dit moet op ’n rak in ’n boekwinkel aandag trek, tussen talle ander boeke. Die skrywer, word aangevoer, is dikwels te na aan sy skepping om self te oordeel. Hoe betrokke is jy by die ontwikkeling van die finale voorblad?

Ek sal altyd ’n idee hê van wat moontlik kan werk, want ek skryf baie visueel – so sê hulle – en ek het heeltyd prentjies in my kop. Soms sal ek ’n voorstel maak, ander kere is ek al heerlik verras met waarmee ’n ontwerper vorendag kom.

Watter illustreerders se werk was vir jou werklik besonders en het jy dalk ’n gunsteling-voorbladontwerp?

Ek was al bitter min teleurgesteld oor ’n voorblad. Daar is soms drie opsies om uit te kies en dan sal ek nogal smeek en soebat en suur wees om die regte een te kry. Maar ek het werklik al te veel goeie kunstenaars se werk voor op my boeke gehad om iemand uit te sonder. Bygesê, dit was iets besonders om vyf keer saam met Alistair Ackerman aan die Agent Snoet-strokies te werk. Daar is Agent Snoet en die botterdiamant, Agent Snoet en die kattekwaad, Agent Snoet en die hondelewe, Agent Snoet en die groen genugtig en Agent Snoet en die windlawaai. Dié lotjie is later in ’n omnibus uitgegee. Dit was nuwe terrein om te verken en sedertdien verskyn daar nie meer sulke goed nie. Dit is bloot te duur, maar ek oorweeg dit tog; as daar net ’n goedkoper manier was ...

TITELS

Jou titels is soos wonde wat jeuk: soms kort, twee of drie lettergrepe (Rillers, Hostis, Flipom, Kamer 13, Doodskoot) wat byt en kerf. Dan stapel jy gedagtes wat die leser ’n bietjie langer laat wonder (Die nag het net een oog, Hel op Hemel-en-Aarde, Breinlabirint: ’n ver-volg-ver-haal). Dit tréf ook!

Hoe kies jy ’n titel: tydens, gedurende of ná voltooiing van ’n manuskrip?

Ek het die titel van ’n boek in my kop voordat ek begin skryf. Al het ek self al ’n hele paar eenwoordtitels gebruik, voel ek daar is meer as genoeg van hulle in die Afrikaanse romanwêreld en mense raak maklik daarmee deurmekaar. As jy ’n langerige titel het, het ek nog altyd geglo, neem dit jou dalk ’n rukkie om dit in te neem – maar dan bly dit by jou. Die titel en jou voorblad is die eerste twee dinge waarmee lesers te make kry. Ek is fanaties oor albei.

Byskrif: Omdat François Bloemhof se oeuvre van 1991 strek en oor die 80 titels bevat, is baie van sy boeke ongelukkig nie meer geredelik in druk beskikbaar nie. (Lees aan die einde van die artikel.) Onlangse werke is natuurlik wel, soos die twee Een keer om die son-romans en twee omnibusse wat van sy vroeëre Rillers byeenbring. Foto: Christiaan J de Swardt

TONEEL TWEE: HERVERBEELDING VAN SKERM NA PAPIER

Tussen alles deur het Bloemhof rolprentdraaiboeke in romans omskep: onder meer Vir die voëls, Vir altyd en Pad na jou hart.

Uiteraard moes daar nog volg. Helaas, verklap hy: “Ek besit nie ’n TV nie en daarom het ek nie die Een keer om die son-reekse gekyk voor ek dit in prosa herskep het nie.”

Daardie twee romans is gegrond op die gelyknamige kykNET-reekse. Die oorspronklike draaiboeke is deur Ivan Botha, Donnalee Roberts en Liani Jansen van Rensburg geskryf.

In die eerste boek kry dié gegewe asem: Die aarde hou aan met draai. Dit neem ’n jaar vir die aarde om een keer om die son te wentel. In dié tyd kan geweldig baie gebeur, bitter én soet. Dit is ’n aangrypende verhaal van ’n gesin wat op die oog af gelukkig is ... Maar dan vind ’n tragedie plaas wat tergende vrae tot gevolg het – en alles verander oornag. Want menseverhoudinge is kompleks. Dié verhaal beeld dit in volle geskakeerdheid uit.

As jy iemand verloor, gaan die lewe voort. Jý moet ook. Dit is wat die Van Wyk-gesin leer met een van hulle gesinslede se dood. Op ’n manier moet hulle sin maak uit wat gebeur het – en uit wat volg. Daar is Ruan, die chirurg-pa wie se werk altyd eerste gekom het. Markus, die matriekseun van wie almal groot verwagtinge het, wat bots met sy eie. Die drie jaar jonger Leandri, wat besef sy het nooit haar ma geken nie. En Sophia, wat met haar eerste skooljaar begin.

In die tweede roman kom dié besef: Tyd staan nooit stil nie. Net so min kan die Van Wyks stagneer. Hulle het ’n reis van groei en genesing om voort te sit. Ruan en sy drie kinders is steeds besig om ’n gedeelde tragedie te verwerk. Dit is egter nie ál waarmee hulle vanjaar te kampe sal kry nie. Liefde is deel daarvan. Daar is die kwessie van identiteit. En die ou-ou vraagstuk: wanneer om vas te hou en wanneer om te laat los in ’n reis met nog uitdagings, tweede kanse, nuwe eise – en veral hoop.

François Bloemhof se eerste herverbeelding van die gelyknamige TV-reeks was ’n reuse- kritiese en kommersiële sukses. Die tweede een ook!

En hier draai die aarde 360 grade om ...

DIE OPDRAG

Hoe het jy by die aanpassing van Een keer om die son na romanformaat uitgekom? Was dit jou idee of dié van die uitgewer/uitsaaier? Wat was die riglyne wat jy gekry het? Hoe getrou moes jy aan die draaiboeke bly? Het jy enige direkte kontak met Ivan Botha, Donnalee Roberts of Liani Jansen van Rensburg gehad tydens die proses?

Jonathan Ball Publishers het gevra of ek dit sal doen. Ek het ’n gaping in my eie skryfprogram gehad en toe is dit boonop ’n lekker storie wat ek gemeen het verdien om op ’n heel ander manier vertel te word. Enige verdere onderhandelings was tussen hulle en kykNET. Met Ivan en Donnalee het ek al vantevore saamgewerk, maar dié keer het ek met Liani geskakel. Omdat dit nie die eerste keer is dat ek ’n draaiboek tot roman verwerk nie, was dit nie nodig vir voorskrifte en riglyne nie.

Wat kan prosa doen wat TV nie kan nie – en wat was die eerste element wat jy bygevoeg het wat nie op die skerm moontlik was nie?

Met prosa kan jy ’n direkte blik in karakters se koppe kry. Jy hoef nooit te raai wat iemand se gedagtes, gevoelens of motivering nou eintlik is nie. Met ander woorde, die storie kry ’n sterker interne komponent.

Is jy met ’n aantal woorde beperk en wat moes jy uitlos of inkrimp om die reeks in daardie lengte te kry, wat dalk beteken dat sekere TV-tonele of subplots nie die skuif na die bladsy oorleef nie?

Ek het my beperk tot so 60 000 woorde. Dan deel jy dit deur 12 (vir die aantal maande/episodes) en dan weet jy hoe lank elke hoofstuk moet wees. Dis wiskunde! Ek kan nie eens begin opnoem watter tonele noodwendig in die slag moes bly nie – maar terselfdertyd kon ek aansienlik uitbrei op sommige temas wat in die reeks net ligweg aangeraak kon word, maar wat my geprikkel het. In ’n TV-reeks is daar baie meer herhaling as in ’n boek, omdat die gemiddelde leser meer stip fokus. Dit het beteken ek kon soms drie of selfs vier tonele saamsnoer. Waar daar plek-plek subplots gesneuwel het, het ek gevoel die belangrikste is dat die geheel moet saamhang.

TV maak staat op tempo, musiek en beeld. Hoe het jy dit met taal, struktuur en innerlike monoloog vervang toe jy die storie van die Van Wyk-gesin vertel?

Dis nie net my werk nie; dis ook die leser s’n! Lesers is daaraan gewoond om meegevoer te raak, sonder daardie addisionele hulpmiddels. As die storie sterk is, het ek nog altyd geglo, het dit nie meer as die geskrewe woord nodig nie. Laat ek dadelik byvoeg: Dit is ’n kuns om vir TV te skryf. Daar is in werklikheid meer balle om in die lug te hou. Omdat ek dit egter al self gedoen het, verstaan ek die twee mediums en kan ek maklik van die een na die ander oorbeweeg.

KARAKTER EN STEM

Met die verwerking van die Van Wyk-gesin se storie van beeld na prosa, hoe het jy hul innerlike stemme en sielkunde vir die roman ontwikkel?

As ek sê “instinktief”, klink dit dalk asof ek die vraag wil ontduik! Maar dit help as ’n mens empaties is. Wanneer ’n sekere karakter in ’n sekere situasie is, weet ek byna outomaties hoe hy of sy sal reageer – of ten minste sal voel – al sou ek self dalk anders optree.

Het jy ’n spesifieke vertelperspektief vir die boek gekies, of het jy die meervoudige benadering van die reeks behou?

Ek het in verskillende gedeeltes verskillende karakters as fokalisators gebruik – en het elke keer besluit wie staan nou eintlik sentraal. Nie net laat dit die leser toe om hulle makliker en vinniger te leer ken nie, maar daar was ook nie een of twee karakters wat so alomteenwoordig was dat ek dit anders kon aanbied nie.

Was daar ’n familielid aan wie jy in die boek beter reg kon laat geskied as wat op TV kon gebeur?

Kyk, ek het my witbroodjies! Tog is dit vir my interessant dat lesers, ook resensente, gehou het van hoe ek sekere karakters uitgebou het – en dan was dit soms iemand aan wie ek gedog het ek minder aandag gegee het as aan party ander. Ek dink wel nou aan Erika in die tweede boek, aan wie ek ter wille van sterker karakterisering eienskappe toegedig het wat ek nie glo die draaiboekskrywers in gedagte gehad het nie. Op TV kan ’n akteur se spel en die regie en musiek sorg vir maksimum impak, maar in ’n boek moet jy sorg dat een karakter net soveel vlees aan die been het as die res.

KREATIEWE VRYHEID TEENOOR NABOOTSING

Die eerste boek fokus op ’n tragedie en ’n jaar van verlies. Waar het jy jouself toegelaat om van die reeks af te wyk? Omgewing, agtergrond, toon, einde?

Vir my was die idee om soveel veranderinge te maak as wat nodig was, maar om getrou te bly aan die aard en gevoel van die reeks. Wat toon betref, sou ek sê die enigste afwyking is dat ek die humoristiese gedeeltes ingekort het. Op ’n skerm kan dit binne sekondes verbygaan en dan neem die “dominante indruk” weer oor, maar in ’n boek kan te veel ligte oomblikke die vertelling laat ontspoor en dan sukkel jy om die eintlike toon te herwin.

Het jy hoofsaaklik vir bestaande aanhangers van die reeks geskryf, of vir lesers wat dit nooit gesien het nie?

Ek het albei in gedagte gehou. Suiwer boeklesers moes ’n volledige storie kry, terwyl aanhangers van die reeks die tipe dimensies moes bykry wat jy net met die geskrewe woord kan bereik. Dan glo ek wel ook dat mense wat eers die boek lees, iets waardevols sal bykry as hulle daarna die reeks begin kyk.

As jy een ding aan die Van Wyk-gesin se storie kon verander, wat sou dit wees?

Daar is so vreeslik baie dinge wat die draaiboekskrywers rég gedoen het, dat die paar goedjies wat ek self anders sou aangepak het, werklik nie belangrik is nie.

PROSES EN REGTE

Hoe het die tydraamwerk en proses vergelyk met die skryf van ’n oorspronklike roman? Was die draaiboekstruktuur van hulp of beperkend?

Dit het net so lank gevat soos om van nuuts af ’n boek te skryf. Dit was ook nie makliker of moeiliker nie. Ek beplan in elk geval met elke boek alles vooruit; dan het ek net so ’n volledige riglyn soos ek hier gehad het. Gratis raad vir voornemende skrywers: Beplan jou hele storie vooruit, dan brand jy nooit halfpad vas nie!

Het jy die reeks weer gekyk terwyl jy geskryf het, of net van die draaiboeke gewerk om jou eie stem te behou?

Ek het nie die reeks gesien nie, omdat ek nie ’n TV het nie! Ek het wel “die boks” waarop ek omtrent elke aand ’n fliek of reeks kyk wat ek van oorsee af bestel het. Eers was my plan om elke keer die betrokke episode te kyk nadat ek daardie hoofstuk geskryf het – om details by te voeg – maar ek het gou besluit dit sal my visie inperk. Dit is nie meer jou eie interpretasie as jy eers jou indrukke begin afwater nie. As ’n ander skrywer dit geskryf het, was dit ’n heeltemal ander boek.

Wie besit tans die regte op die roman, en hoe verskil dit van die TV-regte in ’n Suid-Afrikaanse konteks?

Die helfte van die regte is myne, die ander helfte kykNET s’n. My pa was ’n bankbestuurder, maar dit is waar my kennis van besigheid ophou!

INKYKTYD

Die storie handel oor verlies, rou en uithou: “As jy iemand verloor, gaan die lewe voort. Jy moet ook.” Het die aanpassing verander hoe jy daardie temas self verstaan?

Ek vermoed ek het eerder my begrip daarvan aan sommige karakters opgedwing ...

Wanneer die oorspronklike draaiboekskrywers jou boek lees, wat sou jy wou hê hulle moet van jou weergawe van die Van Wyks sê?

“Wel, hy het dit darem nie heeltemal opgemors nie!”

Wat was die moeilikste deel om van iemand anders se draaiboek na jou eie prosa te beweeg?

Net om aan die skryf te kom. Eers het ek gedink dit kan nogal ’n uitdaging wees om die toon reg te kry. Maar toe het ek myself herinner, soos altyd: Vertel net jou storie. En dis mos ’n sterk storie. Soos ek al laat deurskemer het, was daar enkele gevalle waar ek nie met ’n karakter se besluite of optrede saamgestem het nie, maar dan was dit my taak om dit te regverdig ... of weg te praat.

EN NOU, BOEK TWEE.

Hoe het jou skryf van ’n tweede jaar van rou verskil van die eerste reis?

Dit is ’n les wat ons almal al moes leer – dat min dinge ooit oor en verby is. Jy wen met atletiek, maar nou sal jy moet aanhou oefen. Jy kry die oulike meisie om met jou te trou, maar nou gaan julle saam die klein jakkalsies moet leer onderkry. In die eerste boek maak die karakters dit deur ’n moeilike jaar – en in die tweede boek blyk dit dat die nuwe jaar sy eie, heel onverwagse eise stel.

........
In die eerste boek maak die karakters dit deur ’n moeilike jaar – en in die tweede boek blyk dit dat die nuwe jaar sy eie, heel onverwagse eise stel.
.........

Die tweede reeks bring temas soos verslawing en mediese krisisse onder die loep. Wat kon jy in Boek twee in prosa wys wat TV net kon suggereer?

Ek is gelukkig genoeg dat ek self nog nie deur verslawing en mediese krisisse moes gaan nie. Maar ek kan my maklik in mense se skoene plaas – nie altyd ’n goeie ding in die werklike lewe nie – en saam met ’n bietjie navorsing en gesprekke met die regte mense, kon ek aanvoel hoe om sulke karakters se stories te vertel.

Watter karakters se identiteitsreis het jou die meeste verras in Boek twee?

Sien, ek wil nooit met ’n opvolgstorie té veel verras word nie. Sodra ’n karakter in ’n TV-reeks ’n totale ommeswaai maak, weet ek die draaiboekskrywers het nie meer geweet wat om met hom aan te vang nie. Ek was tevrede dat die Van Wyks aangehou het om op te tree soos wat hulle aanmekaargesit is.

Wat het jy van jouself in albei verwerkings geleer?

Ek haak vas! Kan dit wees dat ek niks geleer het nie? Gits.

Dink jy daar is rede vir nog ’n reeks en roman?

Ek kan my indink dat kykers nog baie lank graag elke tweede jaar by die Van Wyks sal wil kuier. Die maand-per-episode-konsep is stimulerend en iets anders. In ’n roman is dit minder goed gemotiveer; net ’n paar bladsye verder kry jy die gedeelte waarvoor kykers ’n week moes wag. Ek het ’n kontrak vir twee boeke gehad. Nou het ek talle idees in my kop vir eie skryfwerk en daar is drie boeke op volgende jaar se publikasielys. Ek weet nie of ek die tyd sal hê om nog ’n Son-boek te skryf al hou ek van die volgende klomp gebeure nie – en dis natuurlik glad nie te sê ek sal gevra word vir nog een nie!

NASPEL: DIE LEWE IS ’N FLIEK

Ons gesels oor kritiek, nabetragting, die seisoene van die lewe – en vooruitsigte.

KRITIEK

Kritiek is onvermydelik: van stroopsoet-opheffend en kleinerend-verdoemend. En, soms, koordfluweeltuitjies tussenin. In my raaklees tref ek onder meer iets soos die volgende aan: “’n Roman wat die literêre konvensies van hoe die roman behoort te lyk, deurmekaarkrap en heerlik ondermyn. Dit is iets waaraan die literêre puris heel moontlik sal stik.” En: “Dis ’n newelwêreld tussen sielkundige riller en ware gruverhaal.” Daarteenoor uitlatings soos die volgende: “Dit is net jammer dat die styl en timbre van die woorde soos ’n pap hart sonder gô en pê klop!” Ook is jy al van “selfvoldane verbale masturbasie” beskuldig. Hoe hanteer en verwerk jy as mens en as skrywer kritiek wat verby die punt van basiese ordentlikheid beweeg?

Ek het met albei my eerste boeke met ’n aaklige resensie weggespring – en dan was die volgendes goed, terwyl ek gedink het almal gaan so sleg wees. Dit het al gebeur dat ’n resensent ’n boek afkam, dan hoor ek later by mense hy het dit vir hulle aanbeveel. Dit het al gebeur dat ’n resensent my later om verskoning vra en sê hy was besig om deur ’n moeilike tyd te gaan. Ek het al ’n resensie gekry wat begin met: “Ek lees nooit hierdie soort boek nie, maar ...” en dan volg daar ’n snedige stukkie werk. Nou kan ek nie onthou wanneer laas ek afgetjop het nie! Wat ’n mens in elk geval moet onthou, is dat elke leser se mening ’n resensie is. Wanneer iemand sê hulle het baie van ’n boek van jou gehou, kom dit maar net nie op rekord nie.

Jy het nou al ’n goeie paar seisoene beleef en draaie om die son gemaak. Wat maak jou uitbundig opgewonde, gelukkig en tevrede en wat maak jou behoorlik die moer in, en wat verpes en verwerp jy?

Ek geniet verrassings, maar ook roetine. Dit is nie vervelig nie. Dit is goed vir die siel om jou klein rituele te hê. Maar iets wat ek verpes, verfoei, verwerp, is mense wat uit gewoonte ongemanierd is. Gaan vlieg, man!

Wat sal jy graag nog in jou loopbaan wil vermag wat eendag as ’n wesentlike bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat gerespekteer sal word?

Ek is goed met lirieke en wysies, daarom sou ek graag ’n musical wou skryf. Maar dan moet jy eers mense kry om mee saam te werk. Moeite! ’n Mens moet seker ook realisties wees en dink hoe min geld jy daarmee sou maak – en daar hoor ek my pa se stem ...

Waarna hunker jy nog as ’n mens in sy soeke na antwoorde in algehele, tevrede oorgawe?

Dis veel beter om tevrede te wees met die bietjie kennis wat jy reeds het. As jy terloops nog opdoen, is dit ’n bonus! 


  • Ná dié begeesterende onderhoud met die skrywer is ek opnuut nuuskierig. Dalk wil jy, soos ek, dáárdie boeke (weer) lees. Ek vra gou vir Google wat nog waar beskikbaar is – en kry dié ontnugterende openbaring:

Die meeste van sy vroeëre volwasseromans is lankal nie meer in druk nie. Hulle is net tweedehands by verkooppunte soos Select Books, Loot se out of stock-lys of Bookshop.org te kry.

Op die baie-skaars-lysie is Die nag het net een oog (1991); Die duiwel se tuin (1993); Koue soen (1994); Bloedbroer (1995); Storieboek (1996); Mooidraai basuin (1997); Nagbesoeker (1997); Hostis (1998); Klipgooi (1999); ’n Tweede asem vir Jan A (2001); die hele Alma van der Pool-reeks: Spinnerak (2006), Jagseisoen (2007) en Harde woorde (2009); die Mark Steyn-reeks: Rooi luiperd (2008), Afspraak in Venesië (2009), Die Genesis-faktor (2010) en Helse manier van koebaai sê (2011); Die onbekendes (2010); Jy-weet-wie (2012); Moord in die beloofde land (2013); Pad na jou hart (2013); Die vierde stem (2014); Vir altyd (2014); Vir die voëls (2016); Doodskoot / Double echo (2016); en Dieretuin / Feeding time (2017).

Van sy boeke vir jonger lesers is ook moeilik bekombaar: Slinger-slinger (1997), Die wit huis (1998), Die dae toe ek Elvis was (2002), Nie vir kinders nie (2005), Stad aan die einde van die wêreld (2007) en Moenie dat die grootmense hoor nie (2009).

Wel nog beskikbaar is sy Ludo Labuschagne-speurreeks Die duiwel maak my hart so seer (2021), Kry vir jou (2022), Blou moord (2023) en Oor jou dooie liggaam (2024), asook die onklassifiseerbare Die duisend en eerste nag (2021).

Sy jonger aanhangers word vanjaar en volgende jaar ook met Rillers-omnibusse bederf.

Anders weet jy nooit wat jy dalk by snuffelmarkte en boetiekboekwinkels kan raakloop nie!

Lees ook:

Een keer om die son deur François Bloemhof: ’n resensie

Breinlabirint deur François Bloemhof: ’n resensie

Die wille wetters van Wesrivier

Woordfees-onderhoud: Francois Bloemhof gesels oor misdaadfiksie

François Bloemhof (1962–)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top