
Breinlabirint deur François Bloemhof (Lapa, 2025)
Titel: Breinlabirint
Skrywer: François Bloemhof
Uitgewer: Lapa (Maart, 2025)
ISBN: 9780637008006
François Bloemhof is ’n gewilde en veelbekroonde Afrikaanse skrywer, dramaturg, komponis en draaiboekskrywer. Sy oeuvre oorspan romans vir volwassenes sowel as die jeug – as meesterverteller slaag hy daarin om kinders so jonk as ses tot twaalf jaar, maar ook tieners, te vermaak. Hy ondersoek temas binne die bonatuurlike, skryf rillers, en het ook ’n jeugroman geskryf: Flipom: Projek Zero / Die spring-ding, ’n “dubbele boek” met twee verhale, waar – soos die titel aandui – jy eers die een lees, en dan die boek omdraai om die ander verhaal te lees. Die verhale dra ewe veel gewig en die leser kies self waar om te begin, hetsy by die spanningsverhaal of by die wetenskapfiksieverhaal. Die voorblaaie beloof “die eerste ter wêreld” en “jy het nog nie so ’n boek gelees nie.” En dit is inderdaad so. Aan verbeeldingskrag en vernuwende denke het dit Bloemhof nog nooit ontbreek nie. Hy is ook die skrywer (of vader) van die eerste Gotiese roman in Afrikaans, te wete Die nag het net een oog (1991), wat die debuutprys in De Kat/Antenne/Sanlam se romanwedstryd verower het.
En wanneer Bloemhof ’n boek publiseer, kan jy maar weet: Dit vlieg van die winkelrakke af. Sy jongste jeugverhaal (wat volwasse lesers ook sal geniet), heet Breinlabirint.
........
In ’n wêreld waar tieners toenemend aangetrokke voel tot die onmiddellike bevrediging van die visuele effekte van hulle skerms, voer fiksie ’n mededingende stryd om die jeug se aandag. Die uitdagings vir skrywers lê in die skep van stories wat só uitsonderlik is dat dit deur die digitale “wit geruis” kan dring om ’n plek in die verbeelding van jong lesers te herwin.
........
Skrywers van jeugfiksie staar unieke en veelvuldige uitdagings in die gesig: die skep van oorspronklike en vernuwende tekste in ’n era wat versadig is met die glans van Hollywood-films, stromingsreekse, sosiale media en die opwindende wêreld van rekenaarspeletjies. In ’n wêreld waar tieners toenemend aangetrokke voel tot die onmiddellike bevrediging van die visuele effekte van hulle skerms, voer fiksie ’n mededingende stryd om die jeug se aandag. Die uitdagings vir skrywers lê in die skep van stories wat só uitsonderlik is dat dit deur die digitale “wit geruis” kan dring om ’n plek in die verbeelding van jong lesers te herwin.
Die digitale era het onteenseglik ’n impak op lesers se leesgewoontes gevorm. Terwyl toegang tot digitale vermaak en inligting ’n revolusie ondergaan het, kan die volgehoue aandag wat nodig is om lang(er) narratiewe te lees, ’n uitdaging bied aan ’n generasie wat gewoond is aan skermtyd – blitsvinnige inligting en konstante stimulasie. Die aanloklikheid van sosiale media, kort video’s soos dié op TikTok, en kitsboodskappe het ’n kultuur geskep waar mense (veral tieners) se aandagspan al korter word. Die lees van ’n verhaal word ’n belegging in – of is dit opoffering van? – tyd.
Hoewel alle vorme van vermaak ’n unieke plek beklee, bied die lees van fiksie waardevolle voordele vir die kognitiewe, emosionele en sosiale ontwikkeling van jeugdige lesers, wat verder strek as blote vermaak. Dit help hulle om in die skoene van verskillende karakters te staan, met uiteenlopende agtergronde, ervarings en emosies. Deur hierdie karakters se gedagtes en gevoelens te verken, ontwikkel jong lesers ’n beter begrip van perspektiefwisseling, wat deur fokalisering geskied.
Die lees van fiksie help ook om empatie te ontwikkel; om die komplekse nuanses van menslike verhoudings beter te verstaan; om jong lesers se verbeelding te verryk en te voed; en om kritiese denk- en taalvaardighede te verbeter.
........
Anders as die visueel gedrewe media, vereis fiksie dat lesers hul eie weergawe van narratiewe in hulle gedagtes vorm. Dit stimuleer hul verbeelding en kreatiewe denkvaardighede. Fiksie stel ook lesers bloot aan ’n wye verskeidenheid woorde en sinskonstruksies, wat hul woordeskat en taalbegrip verbeter.
........
Anders as die visueel gedrewe media, vereis fiksie dat lesers hul eie weergawe van narratiewe in hulle gedagtes vorm. Dit stimuleer hul verbeelding en kreatiewe denkvaardighede. Fiksie stel ook lesers bloot aan ’n wye verskeidenheid woorde en sinskonstruksies, wat hul woordeskat en taalbegrip verbeter. Hulle leer nuwe uitdrukkings en ontwikkel ’n meer gesofistikeerde begrip van taal.
Deur te lees, leer jong lesers om abstrak te dink, nuwe idees te genereer, en probleme op ’n meer vernuwende manier te benader.
Rekenaarspeletjies, films en stromingsreekse is hoofsaaklik passiewe vorme van vermaak wat nie regtig ’n beroep doen op die ontwikkeling van verbeelding en kritiese denkvaardighede nie.
Om ’n goeie jeugverhaalskrywer te wees, is ’n uitdaging. Dit is merkwaardig hoe Bloemhof Breinlabirint verpak: enersyds episodies, amper soos ’n Tarantino vir jong lesers, en andersyds die filmiese skryfstyl. Reeds met die subopskrif onderaan die voorblad, “’n ver-volg-ver-haal”, skep hy die antisipasie van die spanning wat volg. Die boek het ook reëls waarby ’n leser moet hou:
Omdat daar nog nooit so ’n boek was nie, moet jy dit op die regte manier lees!
[Dan volg die reëls ...]
En:
Ons weet waar jy bly. As jy nie die reëls gehoorsaam nie, sal die polisie aan jou deur kom klop.
OF ERGER … [Die outeur se vetdruk]
En natúúrlik werk hierdie Loerbroer-dreigement – jy wil terstond verder lees.
Groot lof ook aan die illustreerder, Peter-David Douglas wat die illustrasies om die episodes aan te dui, gedoen het. Hierdie episodes (in stede van hoofstukke) bied terugflitse op die voorafgaande – “Wat vroeër gebeur het” – wat die filmiese aanslag van die boek versterk.
Die gebruik om enkele woorde in vetdruk aan te dui (woorde wat dui op skok of verhoogde spanning), werk effektief. Bloemhof is terdeë bewus daarvan dat die jeug na analogie van die digitale media, meer visueel ingestel is as met byvoorbeeld ’n “standaard” bleek teks. As hierdie ’n film was, sou ek verwys het na die spesiale effekte – en op grond van die verhaal se filmiese inslag, waarom nie?
Maar meer oor die verhaal: Louw Erasmus word een oggend deurmekaar wakker. Alles in sy lewe voel vreemd, insluitend sy ouers. Hoewel alles normaal lyk in hul weelderige huis in Bangmanskloof, voel hy dat iets verkeerd is. Daar is gapings in sy geheue, en sy lewe voel soos ’n vervolgverhaal met ontbrekende hoofstukke. Hy is ’n gevangene in sy ouers se groot, koue huis, wat meer soos ’n kasteel as ’n huis voel. Hy het ’n merk om sy nek, en die verhaal van hoe hy dit opgedoen het, is net die eerste van vele skokke. Raaisels, geheime en gevare. Wat is werklik aan die gang? Hy kry eienaardige drome; sy ouers steek duidelik iets vir hom weg; en die man wat huis oppas, het twee aggressiewe honde wat hy met ’n toestel wat soos ’n afstandbeheer werk, hanteer. Louw besef gou dat hy doelbewus afgesny is van ’n rekenaar en selfoon, en sy pogings om dorp toe te gaan, misluk. Iewers is daar groot, groot fout …
........
Deur verhaalgegewens rondom ’n enigma of raaisel te laat draai dien as ’n sterk dryfveer in die skep van fiksie, wat veral jong lesers boei. Of dit nou ’n verborge identiteit, ’n misdaad of tergende geheim is, ’n enigma noop die protagonis en leser om sáám die leidrade te volg.
........
Deur verhaalgegewens rondom ’n enigma of raaisel te laat draai dien as ’n sterk dryfveer in die skep van fiksie, wat veral jong lesers boei. Of dit nou ’n verborge identiteit, ’n misdaad of tergende geheim is, ’n enigma noop die protagonis en leser om sáám die leidrade te volg. Die ontrafeling van geheime, die skep van moontlike oplossings (en ’n gesoute skrywer gaan die leser doelbewus verwar met moontlike “antwoorde” wat die leser op ’n dwaalspoor lei) – dit alles sorg vir spanning wat die leser ’n aktiewe deelnemer aan die verhaal maak. Raaisels en geheime du nie net die intrige voort nie, maar moedig ook kritiese en deduktiewe denkvaardighede aan, wat van die leesproses ’n intellektueel stimulerende avontuur maak en vir ’n gevoel van bevrediging sorg lank nadat die leser die onthulling gemaak het.
Maar François Bloemhof se intriges is waterdig. Die hoofkarakter, Louw Erasmus, is 13 jaar oud. En ongeag die ouderdom van die persoon wat Breinlabirint lees – dit is onmoontlik om die intrige te voorspel. Dit is ’n plot wat enduit boei – nóg ’n suksesverhaal op Bloemhof se kerfstok.
Lees ook:
Goue lint, my storie begint: Die effek van lees op kinders se breine
Goue lint, my storie begint: Kinder- en jeugboeke – film of boek?
Ludo het sy nering gevind: Kry vir jou deur Francois Bloemhof
Die duiwel maak my hart so seer deur François Bloemhof, ’n lesersindruk