Titel: Verkleurmannetjie
Skrywer: François Bloemhof
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780639608136
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Toe Marco sy biologiese pa ontmoet, is dit die antwoord op baie vrae. Die regte antwoord, want Dirk du Toit is iemand soos wie hy graag wil wees. Die eintlike vrae kom egter nog. Wat nou van die mense wat Marco in die stad agtergelaat het? Wat is sy halfbroer se probleem? En Dirk se vrou s’n? Word hy agtervolg? Alles is reg aan Dirk, maar soveel is verkeerd óm hom … Soos die titel belowe, is Verkleurmannetjie nie net een soort storie nie. Hier is meer ratverwisselings en onthullings as in ’n hele TV-reeks, deur ’n skrywer wat weet hoe werk ’n tiener se kop – en hou van hoe dit werk! Hierdie boek is fiksie wat spoke en raaisels insluit.[1]
Bederfwaarskuwing: LitNet waarsku dat hierdie persoonlike indruk nié bedoel is vir diegene wat nog nie die roman gelees het en graag deur die verwikkelinge verras wil word nie.
Inleiding
As lesergerigte leser van Verkleurmannetjie wil ek meld dat hierdie leesproses vir my ’n groot voorreg was, omdat die verhaal uitstekend gekonstrueer is en ek baie min kritiek het. Ek is seker dat die adolessente leser deur die lees van hierdie jeugroman ’n liefde vir lees kan aankweek en dat die skrywer ’n aktiewe aandeel daaraan het. Dit was ook ’n uitdaging omdat die verhaal definitiewe literêre waarde het – uiteraard het ek genoop gevoel om hieroor meer te kommunikeer. Omdat die roman baie slim geskryf (gekonstrueer) is, wil ek die skrywer salueer deur dit so deeglik as moontlik te bespreek.
Die skrywer
François Bloemhof het 17 jaar gelede op die literêre verhoog verskyn met die De Kat-prys vir sy debuutroman Die nag het net een oog. Dit is spoedig opgevolg met ewe populêre boeke, almal spanningsverhale van een of ander aard, totdat hy sy hand gewaag het aan moeilik klassifiseerbare werke soos Storieboek, Hostis en Klipgooi. Jong lesers het van sy werk gehou en uitgewers het hom oorreed om ook vir jong volwassenes te skryf, wat hy só suksesvol gedoen het dat hy ’n ruk lank daarop gefokus het. Hy het gou ’n hele versameling ATKV-Veertjies (’n kompetisie waar jong lesers self die wenboeke kies) op sy rak gehad, langs die pryse wat reeds daar versamel het – vir Slinger-slinger en Nie vir kinders nie die Tafelberg/Sanlam Jeugliteratuur-prys.[2] Verkleurmannetjie was op die kortlys in LAPA se jeugromanwedstryd van 2019.
Die jeugverhaal
Soos die titel al belowe, is Verkleurmannetjie nie net een soort storie nie. Hier is meer ratverwisselings en onthullings as in ’n hele TV-reeks, deur ’n skrywer wat weet hoe werk ’n tiener se kop – en hou van hoe dit werk![3]
As oorgangsliteratuur[4] is die verhaal ’n tipiese psigologiese novelle[5] – ’n spanningsverhaal met hewige emosies, konflik tussen karakters en belewenis van trauma. Met psigologiese novelle bedoel ek dat daar ’n doelbewuste verskuiwing van die blik van buite na die blik op die binnelewe van die hoofkarakter is. Saam met die hoofkarakter, Marco Pienaar, kan die leser telkens bewus word van sy innerlike monoloog[6] en intuïtiewe gevoel dat hier onheil is wat wag om te gebeur. Dit dra by tot spanning en veroorsaak dat ’n (dapper) leser verder sal wil lees om te sien of hierdie vermoede bevestig word.
Die titel laat die leser onmiddellik vermoed waarop dit dui, en hierdie vermoede word versterk deur die buiteblad, wat met helderrooi, swart, fel geel en ’n skeur in die jongman se gesig dalk voorspel dat daar onheil en/of iets bloedigs is wat gaan gebeur en tweespalt behels. Aan die einde gebruik die hoofkarakter self die woord verkleurmannetjie vir die eerste en enigste keer. Nog iets wat my as leser laat wonder het, is wat die funksie van die grafika by die begin en einde van hoofstukke is – die oplettende leser sal waarskynlik dieselfde ervaar.
Marco is in matriek en op pad om sy biologiese pa (Dirk de Wet) te ontmoet en te leer ken. Die verhaal handel primêr oor Marco se probleem dat hy worstel met die gevolge daarvan dat hy ’n dubbele lewe lei – dié van “die beste akteur in matriek” met ’n vraag wat hy reeds aan die begin vir homself vra: “Hoekom skep ek so probleme vir myself, hoekom soek ek meer as wat ek het? Is dit dalk iets wat ek van hom gekry het – is dit hoe hý is?” (7). Tienerlesers wat ’n soortgelyke probleem met selfkennis en oorerflikheid het (nl wat is waar en wat is die drama waarvan hy self die skepper, akteur en regisseur is), sal hiermee kan identifiseer.
As sodanig kan hierdie jeugverhaal in dieselfde asem genoem word as ander bekende Afrikaanse psigologiese jeugverhale waar die belewing en verwerking van trauma die hooftemas is en wat oor die gevolge en verwerking van trauma handel, soos: Die pro (1997) deur Leon de Villiers; Skilpoppe (1998) deur Barrie Hough; Fanie Viljoen se BreinBliksem (2005) en Pleisters vir die dooies (2014) waarin hy sy lesers skok; Derick van der Walt se Lien se lankstaanskoene (2008) en Bambaduze (2015); Asem (2016) en Baster (2020) deur Jan Vermeulen; Dis ek, Anna (2004) en Die staat teen Anna Bruwer (2012) van Anchien Troskie (skuilnaam: Elbie Lötter), en Blou is nie ’n kleur nie van Carin Krahtz (2018).
Die verhaal is toepaslik vir die ouderdomsgroep rondom 18 – veral seuns, omdat die belangstellings en optrede van die Marco, Adri en Neville min of meer daarmee ooreenstem. Of meisies van hierdie ouderdom hierin sou belangstel, is nie waarskynlik nie, maar wel moontlik – hulle sal dalk kan identifiseer met die selfondersoek van karakters in psigologiese jeugnovelles. Miskien weerspieël hierdie indruk my eie stereotiepe siening van seuns en meisies se belangstellings.
Dit is duidelik dat die leser deur die lees van Verkleurmannetjie kennis maak met die samelewing se vooroordele, gedragspatrone, waardes en norme (spesifiek Dirk de Wet se vroom godsdienstigheid, die kerk op Steynsdrif)– veral in terme van verskillende geslagte (manlik, vroulik, lesbies, homoseksueel), beroepe (Dirk die prokureur en sy inligtingsbron, Michael die privaatspeurder), en van oud (volwassenes) en jonk (adolessente).
Die leser se analitiese denke kan by die lees van Verkleurmannetjie geoefen word omdat die lees van so ’n ongewone teks hom[7] stimuleer om te soek na die samehang of logiese opeenvolging van gebeurtenisse – lewe, emosionele wonde en dood (al is dit van dié van sy ma en stiefma Juanita wat albei in slegte omstandighede in motorongelukke voor ander karre ingery het, en ook dié van sy pa), die optrede van verskillende karakters (sowel Marco, Adri en Neville as jong volwassenes; ook die volwassenes in sy lewe – die Pienaars, sy aanneemouers, sy ma en pa en Juanita).
Ons weet dat Marco die kaptein van die rugbyspan in sy skool is en graag wil gaan drama swot na skool. Hy het ’n intuïtiewe aanvoeling vir gebeure (soos wat sy ma Marcelle ook gehad het en wat hy in ’n soort telepatiese verbinding met Adri deel). Verder is daar sprake van homoseksualiteit (Neville en Adri) en gesinsmoord, gesinsgeweld en aggressie – almal tipiese kontensieuse sake wat in die hedendaagse lewe aan die orde van die dag is en waarmee tieners gekonfronteer word – tuis, by die skool, op TV, in films en videospeletjies.
Die leser kan in Marco se skoene staan, en sodoende kan sy empatie gewek word vir die soort maatskaplike probleem wat aan die orde van die dag is (gesinsgeweld) en Marco se worsteling om te weet watter rol om te speel. Die leser se verbeelding kan ontwikkel – veral omdat die verhaal oop eindig en dit nie duidelik is hoe Marco dit verder regkry om homself te wees nie. Dit kan die leser se verwagtingshorison uitbrei en hom intellektueel ontwikkel omdat hy in die fiktiewe teks meer inligting hieroor en deernis daarvoor kan vind, en ook subtiel gelei word tot moontlike oplossings en/of hoop. Nog ’n kontensieuse kwessie waarvan die leser bewus word, is Marco se psigologiese stryd en hoe hy deur die traumatiese konfrontasie met sy pa (psigopaat of iemand met ’n obsessiewe gesplete persoonlikheid) tot die begrip en aanvaarding van homself en ander (Neville, selfs ook Juanita) groei.
In Verkleurmannetjie is Marco se verhouding met sy pa (en gesin in Steynsdrif) die hooftema en hy leer algaande meer van homself (deur sy oë, gevoelens en die gebeure wat hy in sy innerlike monoloog en innerlike dialoog uitdruk) en van sy biologiese pa in die ervaring waar hy sy pa gaan opsoek en ’n paar dae saam met hom en sy gesin leef. Die perspektief van die verteller (Marco) is betroubaar en sy innerlike monoloog en dialoog verstaanbaar omdat hy nie sy pyn en worsteling met ander mense (behalwe Adri) kan deel nie.
Die karakters is in konflik met die ervaring en verwerking van trauma uit hulle afsonderlike verledes. Hier leer ons die basiese konflik van die verhaal ken, wat geïntensiveer word deur die feit dat beide te make het met die aanvanklike (opwindende) ontmoeting van Marco met sy biologiese pa en latere (verbysterende) insig in verband met Dirk du Toit. Daarna word ander konflikte uit die verlede bekend gemaak deur middel van terugflitse (van sy lewe in kinderhuise en saam met sy aanneemgesin, die Pienaars). Die primêre konflik is Marco se selfondersoek en dan is daar as sekondêre konflik sy verhouding met ’n sterk manlike karakter (sy pa), wat hy vir die eerste keer sien, en wat hom voordoen as iemand anders as wat hy in werklikheid is. Die konflik lei tot ’n traumatiese gebeurtenis, insig oor sy verlede (ook die ongelukke van sy ma, Juanita en Neville), en hy kry krag en moed om besluite te neem, om homself te wees en nie meer die maskers te dra in die rolle wat hy speel nie.
Elemente van emosionele spanning vind plaas wanneer gebeure veroorsaak dat Marco aanvanklik nie sy eie oordeel kan vertrou nie omdat hy besef hy dra maskers en speel rolle omdat hy ’n goeie akteur is. Tog volg hy toenemend sy intuïsie (die aanvoeling van gebeure en die betekenis daarvan deur dieper te kyk, soos sy ma en Adri) en streef die waarheid na, en dit lei tot die ontdekking van sy eie identiteit wanneer hy homself in sy pa geëien het, maar nie kan saamleef met die monster wat hy blyk te wees nie. Die leser kan dalk onwillekeurig vermoed dat sy pa selfs slagoffer of moordenaar was van sy eie ouers wanneer hy vertel hy “woon al sy lewe lank op Steynsdrif, het aangebly in die huis nadat sy ouers verongeluk het” (15) – dus nog ’n “ongeluk” – die leser wonder of hier dalk al ’n voorspelling is van die traumatiese eindes wat hy veroorsaak het.
Verkleurmannetjie bevat verskeie intriges soos wat dit deur verhoudings tussen karakters se woorde en handelinge gemanifesteer word. Verder word die gewone Griekse dramatiese struktuur gevolg (wat onderbreek word deur terugflitse wanneer ander konflikte uit die verlede bekend gemaak word – van Marco se lewe in kinderhuise en saam met sy aanneemgesin, die Pienaars). Die verhaal begin waar die eksposisie of kennismaking gebeur soos wat ons as lesers Marco, sy pa, tot ’n mate sy ma, Adri en die Pienaars, en ook sy pa se gesin, leer ken. Hier maak ons veral kennis met die protagonis Marco, saam met hom ook tot ’n mate Adri, later ook Neville, en die antagoniste is uiteindelik Marco se pa (hoewel die leser aanvanklik kan dink dit is Juanita en Neville).
Die beweging tussen die begin, die einde en sentrale gebeure veroorsaak nie net spanning nie; hiermee word die hoofhandeling in die rigting van momente van rus en vrede gestuur, wat uiteindelik oop eindig daarmee dat Marco vry kom van die houvas wat sy biologiese pa op hom gekry het – ook Neville staan uit as die kreatiewe storiemaker wanneer hy as “betroubare” getuie vertel wat gebeur het en die blaam op ’n inbreker laat val.
Dit gaan in ’n jeugverhaal om die "vertel" van die lewenstorie, die transformasie van die data van ’n lewe in die vorm van ’n narratief: die skep van ’n narratiewe identiteit, ’n fiktiewe wêreld, al sou dit op die werklikheid gegrond wees. Die ruimte van Verkleurmannetjie is dan ’n fiktiewe ruimte, al sou dit teoreties direk kon verwys na ’n lokaliteit wat in die werklikheid net so bestaan. Tolkien[8] onderskei tussen die sekondêre wêreld van die verbeelding en die gegewe realiteit wat hy die primêre wêreld noem. Alhoewel die sekondêre wêreld van die skrywer en die leser in Verkleurmannetjie dieselfde aard het, is hulle nooit identies nie. Epiese ruimte kan ook ’n gepersonaliseerde ruimte genoem word.[9] Plekke en objekte bestaan in Verkleurmannetjie nie ter wille van hulleself nie (waarskynlik bestaan daar nie ’n plek soos die plattelandse dorpie waar die verhaal afspeel nie), maar ter wille van die betekenis wat dit vir die karakters het. Plekke van handeling en die ruimtelike kenmerke daarvan vorm daarom epiese speel- of belangeruimtes eerder as blote lokaliteit.
Goeie wêreldbou vind uitdrukking in Verkleurmannetjie deur die fiktiewe plekke in die storie se ruimte (Steynsdrif) en tydskrif (Paranoia Monthly) waarbinne die handelinge van die karakters op ’n bepaalde tyd gebeur en wat tipies van die hedendaagse samelewing is soos wat tieners dit ervaar. Daar is ’n menigte verwysings na plekke en items wat met die karakters en gebeure te make het en met die niefiktiewe werklikheid ooreenstem:
– Plekke: Mama’s Kitchen; apteek; “juffrou Lategan se klaskamer”; Pick n Pay; Kaapstad se noordelike voorstede; gesinsmoorde in Gauteng, KZN en die Kaap.
– Bekende mense en tekste: Oscar-akteurs; Romeo en Juliet; NP Van Wyk Louw; gesange wat in die kerk gesing word; akademiese skrywer van (Engelse) psigologiese artikel op Google oor gesinsmoord en health.iafrica.com.
– Items wat genoem word: Spirulina; Granny Smith-appel; die speletjies Monopoly en Trivial Pursuit. Virtuele elektroniese apparaat en sosiale media: Vape wat Marco en Adri rook; Apple-rekenaar; WhatsApp; Facebook; Marco en Adri se selfone; Google.
Die dialoog tussen karakters is oral funksioneel en outentiek aangebied om by die onderskeie karakters te pas. Wat veral opvallend is van die dialoog, is Marco se innerlike monoloog, ook sy innerlike dialoog (in skuinsdruk). Verder is die taalgebruik werklikheidsgetrou en nie kunsmatig nie. By die lees van hierdie verhaal het ek opnuut bewus geword van spesifiek formeel-godsdienstige, Standaardafrikaanse taalgebruik (by Marco se pa, Juanita en in die kerk) en tienersleng, die informele niestandaardvariante wat deur tieners gebruik word, alhoewel sleng nie net tot tieners beperk is nie. Heelwat kragwoorde kom voor, veral om Marco se irritasie, frustrasie en woede uit te beeld.
In Verkleurmannetjie word die tienerleser se aandag op die teks self gevestig – die genre, narratiewe lyn, fokaliseerder, milieu, intrige en spanning wat geskep word. Op hierdie manier word die tienerleser se verbeelding gestimuleer en só raak die leser bewus van die kreatiewe krag van taal. Ook hierin slaag die jeugverhaal uitstekend, want ek self kon nie die boek neersit nie weens die hoë spanning en intriges, asook die estetiese taalgebruik wat ’n ewewig skep en moralisering voorkom. Voorbeelde van laasgenoemde is die metafore, vergelykings en kontraste as jukstaponering in Marco se innerlike monoloog – dit was vir my as leser asof Marco se agterdog, sy obsessie oor hoe hy sal lyk, watter rol hy sal speel, uitgebeeld en gebalanseer word deur hierdie kreatiewe (soms ironiese of spottende) taalgebruik.
Temas wat voorkom, is die teater met akteurs wat rolle speel en dialoog wat ’n regisseur daarvoor skryf; ’n spieël en ruit waarin Marco homself en sy pa sien, en ook ’n spook. Vergelykings en metafore verlewendig die sintuiglike waarnemings van Marco en sy ideologiese fokalisering. Voorbeelde hiervan is die volgende: Sy hart hamer teen sy ribbes “soos ’n wilde ding wat wil uitbreek” (7); ’n vrou met “heupe wat swaai in ’n romp minstens een nommer te klein, kuite waarmee jy ’n Boeing sal kan kickstart” (8); die “kriewelrige gevoel wat jy soms teen jou ruggraat af kry asof die spook van ’n wêreldbekende pianis begin het om sy akkoorde daar te oefen” (18); die hotel is “so oud soos sonde” (20); die “bed in die hotel kreun soos ’n siek dier ... die hangkas wat muf ruik en met so ’n groot spinnerak in die hotelkamer in die een hoek dat jy ’n jas daaraan sal kan ophang” (23); liggroen mure “wat lyk soos alien-kots” (23); die kerk wat niemand kan miskyk nie met “die toring [wat] hoog bo die dakke uittroon, ’n streng vinger wat die dorpenaars maan om summier die sonde te laat staan as hulle die hel wil vryspring” (63); Neville se “rolstoelwiele maak skreeugeluidjies” (156). Voorbeelde van die kontraste en jukstaponering is: “Kere wanneer jy skielik iets omtrent die wêreld verstaan waaroor jy nog nooit mooi gedink het nie, of besef hier gaan iets dood wat jy nog altyd geken het” (10); hy voel “die helfte opgewonde. Die res vreesbevange” (23). Marco lewer kritiek op die kerk en die leringe; hy praat spottend van die “hout-ark waarin Noag en sy familie twee van elke soort dier versamel en die hele klomp toe saam rondgedryf het, sonder dat een ooit van die ander wou opvreet ... ’n regte welsprekende slang in die Paradys en die sondevrug was ’n Granny Smith-appel” (67).
Wat die psigologiese faset van fokalisering betref, word die karakters se optrede, voorkoms en woorde deur Marco se perspektief, gedagtes en emosies gefokaliseer. Dit sluit in kennis (bewussyn/wete/besef) dat hy verwerp is deur sy ma omdat sy hom vir aanneming gegee het en sy pa nooit in hom belanggestel het nie); vermoede (gissing en veronderstelling dat sy ma dalk ook nie kans gesien het om alleen saam met sy pa te leef nie); mening (geloof/oortuiging) aangaande die praktyke wat steeds in hierdie plattelandse kerk en dorpie gehandhaaf word; en geheue (herinneringe aan sy lewe in die kinderhuise en by sy aanneemouers). Meestal is die eerstepersoonsverteller met Marco se woorde en gedagtes subjektief betrokke in die emosionele (gevoelens) en ideologiese (wat is reg en wat is verkeerd) komponente van die teks. Die waardes word hoofsaaklik ideologies gefokaliseer vanuit die perspektief van die karakters (die volwassenes in Steynsdrif) en ook vanuit Marco se kritiek teen hierdie fossilering van standaarde en agter-die-tyd-heid. In Verkleurmannetjie is dit vanuit Marco se belewing van die momente van spanning en konflik in die verhaal wat intense emosionele en ideologiese ladings dra (aangaande Marco se waarneming en interpretasie daarvan).
Die ideologiese fokalisering van norme en waardes waarvolgens die gebeure en karakters uitgebeeld word, is sowel implisiet (wat betref die fokalisering van Marco en ander karakters) as eksplisiet (soos gefokaliseer deur Marco). Dikwels gebeur dit in vroeëre sowel as hedendaagse Afrikaanse jeugtekste se ideologiese konteks dat hierdie narratiewe stem die ideale geleentheid bied om waardes oor te dra. Dit gebeur egter nie in Verkleurmannetjie nie, waar die kerk (en die Bybelse preek) Dirk de Wet se egoïstiese selfgenoegsaamheid en waan dat “Die man ... hoof van sy huis” is (67), versterk. Inteendeel, as Dirk hierdie woorde gebruik om sy narsisme en vroom godsdienstigheid te verdedig en motiveer, dekonstrueer Marco sy ideologie en sê: “Jy kan in jou bleddie kleindorpie-moer vlieg ... En by the way, jou speech was up to shit. Jy moet definitief iemand kry om jou dialoog vir jou te skryf” (145). Marco se subjektiewe fokalisering van sy pa lig laasgenoemde se stereotipiese (amper argetipiese) houding van semigoddelikheid uit. ’n Verder voorbeeld van ideologiese fokalisering is dat beide Adri en Marco van die noodlot praat (20, 130 onderskeidelik).
Nog universele temas is die oplossing van emosionele probleme, en aanvaarding van die self en ander. Hiermee word bedoel die karakters (spesifiek Marco en sy broer Neville) se soeke na eie identiteit en uiteindelik ook hulle groei tot volwassenheid – Marco wat nie eintlik baie van homself dink nie en tog uiteindelik vry raak van sy narsisme, soos dit blyk uit sy innerlike monoloog wat ter wille van oorlewing ’n aksie kies en nie meer in ’n rol optree nie; ook Neville wat voorheen net oorleef het in sy rolstoel wat groei tot “die held” met sy storie oor die gebeure. Hierdie groei blyk uit hulle hantering en herstel van trauma wat hulle pa hulle aangedoen het. Verdere universele temas wat uitgebeeld word, is die belewing en verwerking van trauma en gesinsmoord en/of -geweld, onverwagte hulpbronne en steun (Neville) in moeilike omstandighede, ontwikkeling van Marco sowel as Neville se eie identiteite, chauvinisme en ideologiese oorheersing deur mans, (via) die kerk en die Bybel, die twee halfbroers se vryheid om nie meer in die skadu van hulle pa se onstabiele persoonlikheid te staan nie, en groei tussen karakters in verhoudings (Marco en Neville). Hoewel die teks morele waardes en etiese beginsels uitlig, kom dit nie as sedelesse of preke na vore nie – daar is eerder kritiek wat in Marco se innerlike monoloog na vore kom wanneer hy die huigelagtigheid, skynheiligheid en geveinsdheid van sy pa ontbloot.
Ek wil die skrywer gelukwens met die tekstuele aanbieding waarmee die vertelling aangebied is. In Verkleurmannetjie is daar twee duidelike intertekstuele verwysings – ’n teks-binne-’n-fiksieteks. Hier is dit eerstens ’n werklikheidsteks binne ’n fiktiewe teks, naamlik dat Marco inligting oor gesinsmoord in Google vind – MC Marchetti-Mercer se artikel en tipiese akademiese verwysings wat in die (niefiktiewe) werklikheid bestaan: Pretoria News, 16 Julie 2002, bl 3 en health.iafrica.com. Tweedens word ook Neville se storie as betroubare getuie aan die einde ’n metateks (’n storie-binne-’n-storie). Daar is ook in skuinsdruk moontlike verwysings na skindertonge in Steynsdrif om daarop te dui dat ’n fiktiewe vertelling geïmpliseer word; deur hierdie subtekste vestig die verteller-skrywer-karakter ook aandag op die aanbiedingswyse as sodanig – so verlewendig die karakter, en ʼn fiktiewe wêreld word gesuggereer wat omvattender as die betrokke teks is. Die karakter bestaan as’t ware ook buite die teks.
As parateks[10] kan gekyk word na die omslag, waar die illustreerder (Casper Schutte) in fel kleure van oranje, rooi en swart wat oorheers, die leser uitnooi om dit in ooreenstemming met die karakters se persoonlike optredes en gebeure te bring. Vir my lyk dit of die laaste hoofstuk se prent die jongman op die voorblad se geskeurdheid en gebrokenheid verander in voltooidheid. Verder beklemtoon die grafika binne die teks (heel aan die begin van hoofstukke, en ook hoe dit voor en aan die einde van die meeste hoofstukke is – sommiges is oop met onsamehangende lyne) moontlik die vrae wat die leser het aangaande die uitkoms van die verhaal. Dit was my indruk hiervan. Ander opvallende tekstuele elemente is Marco se innerlike dialoog in skuinsdruk, waar hy hom verbeel wat ander mense oor hom sê, ook waar hy vir ’n vlietende oomblik dink wat hy sou doen. Ook word die teks soms met vetdruk en hoofletters geskryf, ander kere in vetdruk, maar dit lyk soos wat ’n mens in rillers soos grafiese romans se illustrasies sou sien (asof bloed by die letters afdrup). Hier is dus nog voorbeelde van maniere waarop die adolessente leser (dalk) uitgedaag word om analities te dink, ooreenkomste en verskille te onderskei en sin te vind in alles.
Ek kan nie saamstem met die uitgewers se aanlyn advertensie op hulle webtuiste dat dit voorgeskryf sou kon word vir Afrikaans Huistaal graad 10 en vir Eerste Addisionele Taal graad 10–12 nie. Dit bevat soveel intense gebeure en emosies dat ek my nie kan indink dat ek as hoërskoolleerling die boek sou wou lees omdat dit voorgeskryf is nie – dit is bloot nie vir sensitiewe lesers bedoel nie. Dit is wel ’n interessante en spannende verhaal vir iemand wat kies om dit te lees. Verkleurmannetjie sou wel ’n verhaal met potensiaal wees wat deur middel van biblioterapie[11] gebruik word om ’n betrokke individuele leerder met soortgelyke trauma te begelei om dit te verwerk.[12]
Ten slotte wil ek meld dat vir my as leser die kreatiewe vergelykings en metafore, ook die outentieke taalgebruik, die gebruik van Marco se innerlike monoloog en dialoog, die digverweefdheid van karakters en gebeure uitsonderlik en verfrissend was. Dit is vir my asof Marco se agterdog, sy obsessie oor hoe hy sal lyk, watter rol hy sal speel, gebalanseer word deur hierdie kreatiewe (soms ironiese of spottende) taalgebruik – dit vorm ’n teenhanger vir die (fiktiewe) agter-die-tyd-wêreld in Steynsdrif. Hierdie verhaal dra by tot vernuwing in psigologiese jeugliteratuur in Afrikaans.
Eindnotas as verwysingsbronne
[1] https://lapa.co.za/kinder-en-tienerboeke/tienerboeke-15/verkleurmannetjie.
[2] https://lapa.co.za/Skrywer/francois-bloemhof.html.
[3] Agterblad van Verkleurmannetjie. Pretoria: Lapa Uitgewers.
[4] Steenberg, E. 2013. Jeugliteratuur. In TT Cloete, Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/17-j/78-jeugliteratuur.
[5] https://www.literaryterminology.com/index.php/r/204-roman.
[6] http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/16-i/72-innerlike-monoloog.
[7] Deurgaans word die manlike voornaamwoorde (hy, sy, hom) gebruik omdat die hoofkarakter (Marco) ’n seun is. Indien meisies hierdie boek lees, sou dieselfde identifikasie nie presies kon plaasvind nie, maar die groei in karakter wel.
[8] Combrink, L. 1990. Die rol van die leser in die literêre kommunikasiesituasie. Die Unie, 86, ble 7, 8, 9.
[9] Du Plessis, H. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies, 10(3):341–61.
[10] Greyling, Franci. 2009. Die skepping van die fiksionele wêreld in kinder- en jeugliteratuur deur middel van die kreatiewe gebruik van paratekstuele elemente. Mousaion, 27(2):209–26.
[11] https://af.wukihow.com/wiki/Use-Bibliotherapy.
[12] Van der Merwe, J. 2019. Traumateorie. In TT Cloete, Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by: http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/26-t/1584-traumateorie.
Kommentaar
Wat 'n uitstekende en onderhoudende ontleding van 'n duidelik uitsonderlike boek!