- Anke Theron skryf ’n gereelde kinderboekrubriek vir LitNet.
Het jy geweet jou brein kan spiere bou deur net te lees? Mense wat goed kan lees se breine werk en lyk anders. Dit is volgens ’n artikel in Daily Maverick. Op die oog af mag dit dalk na ’n sensasionele onderwerp lyk, maar navorsing ondersteun en bewys hierdie stelling as geldig.
Kom ons kyk wat presies bedoel word wanneer daar gesê word dat lees jou brein kan verander.
...........
Lees is een van die vaardighede wat jou brein kan bemeester wat soms as vanselfsprekend aanvaar word. Ons verwag dit reeds van kinders vanaf sewejarige ouderdom om te kan lees. Maar wat presies gebeur in jou brein wanneer jy lees?
..............
Lees is een van die vaardighede wat jou brein kan bemeester wat soms as vanselfsprekend aanvaar word. Ons verwag dit reeds van kinders vanaf sewejarige ouderdom om te kan lees. Maar wat presies gebeur in jou brein wanneer jy lees?
Daar sal in breë trekke gekyk word na watter denkprosesse betrokke is by lees. Hiermee word bedoel vandat jy ’n teks sien, die letters interpreteer, dit sien en verstaan en interpreteer en ’n storie aanmekaar las. Die belang van voorlees vir kinder om hul breine te help ontwikkel sodat hulle vaardige lesers kan word, sal bespreek word, en ’n paar boekvoorstelle sal gemaak word.
’n Brein met leesspiere
Mikael Roll, ’n professor in fonetika aan Lund-universiteit in Swede, het in sy studie gevind dat lesers met verskeie vaardighede besliste verskille in die fisiese struktuur van hul breine het. Die studie was gebaseer op “oopbrondata”, dws openbaar beskikbare data, van meer as 1 000 deelnemers (Roll, 2024).
Volgens hierdie studie word die struktuur van twee dele in die linkerhemisfeer in die brein betrokke, wat deurslaggewend is vir taalverwerking. Die eerste deel is die anterieure (voorste) gedeelte van die temporale lob. Die temporale lob help met die kategorisering van verskillende tipes belangrike en betekenisvolle inligting. Hierdie gedeelte van die brein is verantwoordelik vir jou vermoë om ’n woord te verbind met visuele, sensoriese en bewegingsinligting, byvoorbeeld die woord “hand” – hoe dit voel, hoe dit lyk en wat dit kan doen. Dit kan beskou word as die organiseerder of sinchroniseerder van taal in die brein.
.......
Die wanpersepsie dat lees grootliks ’n visuele aktiwiteit is, is misleidend. Om te kan lees moet daar verskillende vaardighede aangeleer word wat ten einde bymekaargesit word om die proses van lees te voltooi.
.......
Die tweede gedeelte word Heschl se girus genoem. Dit is ’n spesifieke vou in witstof van die brein, in die boonste gedeelte van die temporale lob. Binne hierdie vou kan die ouditiewe korteks gevind word. Hierdie gedeelte van die brein is verantwoordelik vir die verwerking van ouditiewe inligting, dit wat jy hoor. Interessant genoeg is daar in Roll se studie gevind dat die agterkant van die temporale lob in die linkerhemisfeer aansienlik groter is as die regterkant s’n by mense met ’n hoë leesvaardigheidsvlak – wat logies sin maak, want om goed te kan lees met begrip, moet die gedeelte van die brein wat verantwoordelik is vir betekenisontleding, groter wees.
Wat verbasend was, is die rol wat die ouditiewe korteks in die leesproses speel. Die wanpersepsie dat lees grootliks ’n visuele aktiwiteit is, is misleidend. Om te kan lees moet daar verskillende vaardighede aangeleer word wat ten einde bymekaargesit word om die proses van lees te voltooi:
1. Letters moet met klanke verbind word. Dit verg fonologiese bewustheid wat ’n gevestigde voorloper is vir kinders se algehele taalontwikkeling en hul ontwikkeling ten opsigte van leesvaardigheid.
2. Daarna moet letters en klanke saamgevoeg word om woorde te vorm.
3. Betekenis moet aan woorde gegee word, wat, soos voorheen genoem, visuele, sensoriese en bewegingsinligting benodig.
4. Daarna word sinne van twee woorde gevorm, soos “ek lees”, en daarna langer sinne.
Volgens Roll is daar reeds genoegsame navorsing wat daarop dui dat ’n verdunde Heschl se girus verbind kan word met disleksie, wat verskeie leesprobleme insluit. Hy is oortuig dat sy navorsing, wat ’n variasie in die dikte van Heschl se girus aandui, nie ’n onderskeid tref tussen mense met disleksie en dié daarsonder nie. Dit wys egter dat in die algemene bevolking daar ’n korrelasie is tussen die dikte van die verbinding met die ouditiewe korteks en ’n verbeterde vermoë om goed te kan lees.
Die rol van voorlees
Die klontjie goud vir kinderliteratuur en kinders word hier tot in die brein oopgevlek. As die vaardigheid om goed te kan lees in die brein verbind word met die dele wat verantwoordelik is vir betekenisgewing en die ouditiewe korteks (klankverwerking), dan is voorlees uiters belangrik. Voorlees sal kinders help om hul fonologiese bewustheid en vaardigheid om klanke te identifiseer en te gebruik, vergroot. Dit verklaar ook wat reeds in baie ander studies bevind is, naamlik dat kinders vir wie daar op ’n jong ouderdom voorgelees word, goeie lesers word. Dit is gegrond op wetenskaplike navorsing dat die aanleer van lees dus biologies en fisiologies lank voor skool of selflees begin en dat dit fisies die brein kan verander.
Daar is wel ’n waarskuwing omtrent die afleiding wat ons maak dat dikker beter is wanneer dit kom by die brein. Dit is ongelukkig nie ’n uitgemaakte saak nie. Die wetenskaplike sekerheid is dat die ouditiewe korteks in die linkerhemisfeer van die brein meer miëlien bevat in die meeste mense. Miëlien is ’n tipe vetweefsel wat as ’n isoleerder werk vir die neuronselle in die brein, amper soos die plastiekomhulsel by elektriese drade. Hierdie miëlien maak dat die kommunikasie deur middel van elektriese impulse tussen neurone vinniger en gladder kan beweeg. Wanneer hierdie neurone saamwerk as ’n eenheid, funksioneer hulle as klein prosesseringseenhede, soortgelyk aan dié van ’n rekenaar se SVE (sentrale verwerkingseenheid; Engels CPU).
Roll se navorsing veronderstel dat met ’n toename in die hoeveelheid miëlien daar ’n toename in isolasie van hierdie neuroneenhede sal wees. Dit kan lei tot ’n versnelling in kommunikasie tussen neurone, spesifiek in die linkerhemisfeer. Dit sal weer lei tot vinniger kategorisering en verwerking wat nodig is vir taal. In Afrikaans kan ons hier dink aan die onderskeid tussen “d” en “t” in woorde soos “bont” en “bond” of “f” en “v” in “fiets” en “viets”. Hoe vinnig kan jou brein onderskei tussen die verskil in betekenis wanneer jy die woord lees, anders gestel?
Roll verduidelik verder dat volgens die ballonmodel vir die groei van die korteks (witstofgedeelte van die brein), hoe meer miëlien uit die linkerhemisfeer gedruk word tydens ontwikkeling en groei, hoe platter sal dit wees, wat ’n groter oppervlak tot gevolg sal hê. Dit beteken dat alhoewel die ouditiewe korteks in sommige goeie lesers dikker is, dit ook dunner is met ’n groter oppervlak en sal dit dus ook groter wees as die regterhemisfeer s’n: “This hypothesis was corroborated in the recent research. The left hemisphere had generally larger but thinner cortical areas with a higher degree of myelin.”
Is dunner dus dan nou beter? Ook nie noodwendig nie. Omdat lees ’n komplekse proses is wat variasie in vaardigheid toon, moet dit nog verder bestudeer word.
Phonology is a highly complex skill, where different sound and motor features are integrated into speech sounds. It appears to correlate with a thicker cortex in an area near the left Heschl’s gyrus. While it is unclear to what extent phonology is processed in Heschl’s gyrus, the fact that phoneticians often have multiple left Heschl’s gyri suggests it is linked to speech sounds.
Die belangrikste bevinding wat Roll beklemtoon, is dat die brein buigbaar is en kan verander soos wat ’n nuwe vaardigheid aangeleer word. Hy noem dat studies bewys het dat in jong volwassenes wat ’n taal intensief bestudeer het, die dikte van die taalareas in die korteks van hul brein toeneem. Hy veronderstel dat dieselfde moontlik is met Heschl se girus en die temporale lob se taalmeganismes.
Kinders en lees
Scott Edwards het ’n interessante onderhoud met Nadine Gaab (PhD en MMChB) gevoer oor hoe ’n kind leer lees en hoe die proses van lees die brein beïnvloed (Edwards 2016).
Gaab is ’n professor in pediatrie en die hoof van ’n navorsingseenheid in kognitiewe neurowetenskappe by die Boston-kinderhospitaal in die VSA. Sy verduidelik dat verskillende dele van die brein moet ontwikkel en vaardighede moet aanleer om ten einde die leesproses moontlik te maak.
Eerstens moet ’n kind klank leer verwerk, en teen kleuterskool tot graad R-ouderdom (3–5 jaar) behoort ’n kind fonologiese verwerking te bemeester (Edwards 2016). Dit behels die suksesvolle manipulering van taalklanke, byvoorbeel om in Afrikaans te begryp wat ’n “kamer” teenoor ’n “badkamer” is, al is daar by die twee woorde klanke bygevoeg of weggeneem. Daarna moet ’n kind leer om individuele woorde te lees en ’n woordeskat ontwikkel om betekenis aan daardie woorde te gee. Dit beteken rondom graad 1 (6–7 jaar) begin kinders leer om met begrip te lees, en dit word gedoen deur woordeskatuitbreiding wat geleidelik vorder, vanaf kort sinne na langer sinne, na paragrawe. Ten einde is die mikpunt dat ’n kind teen ’n redelike pas en met goeie vloei kan lees.
Gaab beklemtoon ’n belangrike punt omtrent die leesproses: dat die aanleer van lees (die verwerking van visuele inligting, integrasie met ouditiewe kennis en taalkennis) en leesbegrip gelyktydig moet ontwikkel. Dit beteken dat ’n kind leer lees en terselfdertyd leer om met begrip te lees.
Dit klop logies wanneer ons holisties kyk na watter dele van die brein almal betrokke is wanneer ’n persoon “lees”:
… the temporal lobe, which is responsible for phonological awareness and for decoding and discriminating sounds; Broca’s area in the frontal lobe, which governs speech production and language comprehension; and the angular and supramarginal gyrus, which link different parts of the brain so that letter shapes can be put together to form words (Edwards 2016).
Weer eens kom Roll se navorsing ter sprake oor die belangrike rol wat Heschl se girus in die breinanatomie speel. Hierdie enkele area in die brein sinchroniseer en orkestreer al die verskillende take wat gelyktydig in die brein moet gebeur.
In ’n 2012 het neurowetenskaplikes by ’n kongres by die Universiteit van Stanford in die VSA (Proceedings of the National Academy of Sciences) bevind dat die vermoë van ’n kind om goed en met begrip te kan lees, verwant is aan die groei van die groewe of voue in die witstof van die brein (Edwards 2016). Volgens hulle navorsing, “[s]trong readers […] start out with strong signals in both tracts that get stronger over a period of years. The opposite pattern occurs in weaker readers” (Edwards 2016).
Wat besonders is omtrent hierdie verskillende navorsingstudies, is dat die eintlike teikennavorsingsvraag was hoekom kinders of mense met disleksie sukkel met lees en of daar fisiese areas of gedeeltes in die brein is wat kan aandui hoekom hulle met hierdie vaardighede sukkel. Die witstofgroewe in die taalareas van mense met disleksie se breine, spesifiek Heschl se girus, is nou, beknop of hobbelrig en hinder die aanleer van lees en leesbegrip.
Gaab is egter optimisties dat met ingryping en remediëring daar wel veranderinge en verbetering kan wees in die lees- en leebegripvaardigeheid asook die breinstruktuur (Edwards 2016).
Wat om te lees
Noudat dit wetenskaplik ondersteun word dat lees asook voorlees jou brein kan verander, kom ons kyk na ’n paar lekker boeke wat kan help. Hierdie lys is slegs ’n seleksie, en daar is hope mooi en interessante boeke om vir kinders voor te lees wat hulle brein sal help ontwikkel.

Alle boekomslae: Pan Macmillan South Africa; Moenie die boek eet nie (Penguin Random House South Africa, LAPA)
- Jy is wonderlik deur Tshwanelo Serumola (2022). Hierdie boek is deel van ’n reeks boeke wat die unieke talente en potensiaal van meisies van kleur vier. Dit verteenwoordig die diversiteit van Suid-Afrika en is ook beskikbaar is in Zoeloe en Engels.
- Die baie, baie snaakse boek deur Jaco Jacobs (2021). Met sy kenmerkende Jaco Jacobs-styl is hierdie boek, soos die titel beloof, baie, baie snaaks. Sommer net ’n lekker lawwe storie wat enige kind se aandag sal behou. Die perfekte boek om lees ’n lekker aktiwiteit te maak. Moenie hierdie boek eet nie (2021), met rympies vir elke dag van die jaar, en Hierdie is nie ’n boek nie (2023) is twee rympiebundels, propvol rympies, lank en kort vir elke dag van die jaar. Gaan loer gerus watter rympieverrassing op jou en jou maats se verjaarsdae te vinde is.
- My laaste twee Jaco Jacobs-aanbevelings is Net nie ’n hond nie (2023) en Moenie die melk vergeet nie (2020). Die illustrasies is treffend en van uitstaande gehalte. Dit mag dalk dun slap boekies wees, maar elke bladsy kan ’n kind vir ’n geruime tyd aan die gesels hou. En wie kan nou ’n tong-in-die-kies storie weerstaan oor ’n seun wat ’n hond vir sy verjaarsdag wil hê? Of hoe lekker klink ’n avontuur na die winkel, maar deur die oë van ’n dogtertjie wat ’n draak huis toe bring en dan word die belangrikste item op die lysie ... vergeet?
- Jakkals en Wolf deur Wendy Maartens (2023). Hierdie boek bevat die verwerkte weergawes van die Jakkals en Wolf-stories wat kleuters al vir generasies vermaak. Dit bevat ses stories, en hierdie fabelagtige stories is ook op Spotify beskikbaar soos dit destyds op die Afrikaanse radio uitgesaai is. Die illustrasies is uitstekend, kleurvol en het beweging. Dit moedig interaksie aan saam met die teks. Dit is wonderlik om met jou kleuters te gesels oor wat jy lees, wat hulle hoor en wat hulle sien en hoe die prente met die aksies verband hou. Arme ou Wolf en slinkse Jakkals kan hiermee help.
- ’n Interessante boek op die horison Pan Macmillan is: The atlas of languages deur Rachel Lancashire en geïllustreer deur Jenny Zemanek sal in April 2025 vrygestel word. Dit handel oor die verskillende tale en kulture oor die wêreld. Watter tale is daar in die wêreld en watter woorde kan deur almal verstaan word? Nog vele ander vrae oor tale word in hierdie boek bespreek. Dit is geskik vir laerskoolkinders wat nuuskierig is en hul woordeskat of taalhorisonne wil verbreed. Want in Suid-Afrika is dit ’n algemene verskynsel dat kinders meer as een taal praat, hoor, lees en skryf weens die veeltalige en multikulturele samestelling van Suid-Afrika se bevolking.
Ten slotte is dit fassinerend dat daar gerekende wetenskaplike bewyse is dat ’n aktiwiteit soos lees jou brein fisies kan verander en ’n vaardigheid kan verbeter. Hoe meer jy as kind of volwassene lees, hoe meer kan jy die struktuur van jou brein verander om selfs nog beter te lees. Jou brein kan dus “leesspiere” bou. Die potensiaal hiervan is ongelooflik, omdat dit beteken ons kan steeds kinders help om beter te lees, met beter begrip. Iemand se vermoë om leesvaardig te wees kan letterlik deur oefening verbeter word. En dit is beslis goeie nuus, veral ten opsigte van al die negatiewe resultate wat kinders in internasionale leesvaardigeheidstoetse in Suid-Afrika behaal. Dit kán verbeter word. Dit gaan bloot harde werk en sistematiese ingryping en remediëring verg.
............
Wie sou kon raai dat boeke toe so gevaarlik is soos daar in die donker eeue reeds vermoed is? Gaan soek nóú ’n boek en begin lees, want al wat kan gebeur, is dat jou brein spiere kan bou.
..............
Wie sou kon raai dat boeke toe so gevaarlik is soos daar in die donker eeue reeds vermoed is? Gaan soek nóú ’n boek en begin lees, want al wat kan gebeur, is dat jou brein spiere kan bou.
Bibliografie:
Edwards, S. 2016. The Harvard Mahoney Neuroscience Institute. “On the brain” lecture series: Reading and the brain. Harvard News Online. https://hms.harvard.edu/news-events/publications-archive/brain/reading-brain (4 Januarie 2025 geraadpleeg).
Pan Macmillan. 2025. Aanlyn boekwinkel. https://www.panmacmillan.co.za/genres/childrens (2 Januarie 2025 geraadpleeg).
Roll, M. 2024. People who are good at reading have different brains. Daily Maverick. https://www.dailymaverick.co.za/article/2024-12-18-people-who-are-good-at-reading-have-different-brains (18 Desember 2024 geraadpleeg).
Lees ook:
Goue lint, my storie begint: Die impak van tegnologie op kinders en boeke
Goue lint, my storie begint: Kinder- en jeugboeke – film of boek?