Ludo het sy nering gevind: Kry vir jou deur Francois Bloemhof

  • 0

Titel: Kry vir jou:  ’n Ludo Labuschagne-wiedoenit #2
Skrywer: Francois Bloemhof
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776351695

Die eerste boek in dié reeks was Die duiwel maak my hart so seer (2021). Daarin het die wannabe-speurder Ludo Labuschagne ’n bietjie geploeter. Hierdie opvolg is beter en  beslis ’n wenner. Ludo het sowaar nou sy nering gevind. Dit lees lekker en is vol allerhande wyshede, navorsing oor die verlede, pittighede en lagwekkende gebeure. Dit is ’n speurverhaal sonder polisiebetrokkenheid en grusaamheid.

Die verhaal is in vier weke verdeel en alles speel af  in die jaar 1981. By elke deel is daar foto’s op legkaartstukke van mense en plekke van daardie tyd. Daar is beskrywings van wie of wat toe in die nuus was, die politiek, die kunste, restaurante, flieks, TV-reekse, musiektreffers (waarvan die woorde op verskeie plekke aangehaal word) en inryteaters. Die skrywer se ervaring van inryteaters byvoorbeeld is heel amusant. Baie mense wat ook dié ervarings gehad het, sal dit herken, hulle daarmee vereenselwig en die delwery in die verlede geniet.

...
Ludo se kombinasie van slimheid, naïwiteit en onsekerhede is vermaaklik. Die skrywer kom met allerhande oorspronklike menings, opmerkings en analises vorendag.
...

Ludo het ook sy diensplig gedoen, en sy minder lekker ervarings word in besonderhede beskryf. Dit is die tyd van die Angolese oorlog en diensplig is van een na twee jaar verleng. Ludo het ’n nare boelie vir ’n korporaal gekry en dié sadis laat hom les opsê. (Dis dié “jong korporaal Doos de Wet” wat onder meer vir hom skree: “Staan regop, jou fokken sleg ding!”)

Later in die boek blyk dit dat dié korporaal, Naas de Wet, ’n senior is in Dagbreek, ’n manskoshuis van die Universiteit Stellenbosch, waar hy ook eerstejaars met sadisme ontgroen en doop. Hier geld “tradisie”, en pa’s wat afgetjop het, stuur hulle seuns na hulle ou koshuis waar hulle ook aftjop sodat hulle as volwaardige inwoners aanvaar kan word en op hulle beurt die nuwelinge kan laat les opsê. Wat hier heers, is ’n boeliekultuur. Die eerstejaars word gevloek en verneder, net soos die jong troepies. Dit word so goed beskryf, mens glo die skrywer het dit self ervaar. Uitstekende sosiale kommentaar.

Staan op aandag, etter!

Jy moet houding kry, mannetjie!

Dit is juis dié boelie vir wie Ludo weer raakloop, wat sy hulp vra. Ludo adverteer mos in die Snuffelgids van Die Burger: Laat Labuschagne Ondersoeke die waarheid vir jou uitsnuffel. Daar is groot probleme op die plaas Dewetsdrift in die Stellenbosch-distrik. Die broers is haaks en hatig teenoor mekaar. Hulle wil mekaar bykom en benadeel. Ludo moet asseblief help om agter die kappe van die verskeie byle te kom. Naas moet help met oestyd voordat hy weer teruggaan universiteit toe en Ludo moet by hulle in die huis tuisgaan en sy snuffelwerk doen.

Naas se pa, Christiaan, wat hom Ignatius noem, is’n hardvogtige karakter in ’n rolstoel ná ’n ongeluk waarin sy vrou dood is. Hy klap die sweep oor almal se rûe. Dit is hý wat die uitdrukking “Kry vir jou” gebruik as hy iemand te na kom. Sy oppasser en verpleër is Willie Verwoerd met die opvallende groot oë en ’n allergie vir neute. Sy suster Tamara, ’n talentlose skilder met haar eie geheime, woon ook in die huis. Sy broer Jacobus, met wie hy ’n vete het, is ’n dosent aan die universiteit en woon in die dorp. Die wulpse Karin en haar man Renier die wynmaker, en hulle baba, woon in hulle eie huis naby die herehuis. Grietjie is die lydsame huishoudster.

Die toneel is ingerig en die spelers se interaksie vind plaas.

Ludo se eerstepersoonsperspektief word afgewissel met ander karakters se perspektief. Hy het sy swakhede en kan wulpse vroue nie weerstaan nie. Hy kry terugflitse na traumatiese gebeurtenisse in die verlede wat hom met vrees lamslaan en hom nagmerries gee. Hy het ’n skuldgevoel omdat hy sy beste vriend Hentie se vrou Yolanda swanger gemaak het en hy vrees die openbaring daarvan. Ook sukkel hy om dinge enduit deur te voer. Hy kon byvoorbeeld nie sy graad behaal nie. Van gewone werk hou hy ook glad nie, en as sy ma reël dat hy by oom Dippies se winkel gaan werk, is hy glad nie geneë nie. Ledig kan hy egter darem ook nie wees nie en hy gryp dié probleemoplossing aan soos ’n drenkeling aan drywende hout vashou. Hy sal die probleme uitpluis en een of ander tyd sal slim Felicity en spiertier Hentie se hulp weer ingeroep moet word. Hy kan darem nie heeltemal op sy eie alles regkry nie.

Op Dewetsdrift is tergende geheime. Wie het die swart werkers se een hostel aan die brand gesteek? Wie het die klip gegooi wat Christiaan die ongeluk laat maak het? Wie het die Familiebybel gesteel? Wie loop in die nag rond en waarom?

Hier en daar is goeie skeute seks. Die karakters het hulle begeertes en almal soek na vervulling.

Die openbaring van die skuldiges se sondes op verskeie vlakke, die groot verrassing oor wie die ergste haatdraer is wat almal wil straf, laat die verhaal bevredigend eindig. Ludo se kombinasie van slimheid, naïwiteit en onsekerhede is vermaaklik. Die skrywer kom met allerhande oorspronklike menings, opmerkings en analises vorendag.

Daar is baie sogenaamd eietydse geskiedenisfeite wat dalk vir sommige lesers te veel sal voel, maar die besonderhede en beskrywings verplaas die leser na ’n herkenbare vervloë tyd.

A luta continua, Ludo.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top