Die duiwel maak my hart so seer deur François Bloemhof, ’n lesersindruk

  • 2

Die duiwel maak my hart so seer
François Bloemhof
LAPA
ISBN 9780639605982

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Misdaadfiksie. Ek is nie ’n akademiese kenner nie, maar hierdie boek is anders. Amper soos ’n 20ste-eeuse Afrikaanse inspekteur Jacques Clouseau. Die boek het genoeg kinkels om ’n paar s-draaie in enige leser se misdaadfiksiepad te gooi. Die speurder is die karakter wat jou laat wonder wat op aarde in die skrywer se kop aangegaan het om vir Ludo al dié lettertyd te gee? Hy is ’n nikswerd wat op sy ma se nek lê. As dit nie duidelik was dat hierdie storie in Januarie 1981 afspeel nie, kon ek my amper misgis het met die tipiese houding van ’n millenniër.

Of kon ek? Is ons nie dalk besig om alles te etiketteer sonder om na onsself te kyk nie? Ek is ’n produk van die laat ‘60’s en ‘80’s. My irritasie met Ludo het my lelik aan die agterstewe kom hap. Ek was ook soos hy. Ek het met my eiesoortige sarkasme op- en aanmerkings gemaak sonder om te skroom. Die meeste mense het dit nooit gesnap nie, en nou kan ek in alle eerlikheid sê dat ek net mooi niks van kommunikasie geweet het nie. Twaalf jaar op skool en beperkte universiteitservaring is eintlik net mooi niks in die lewe se emmer nie. Ek het geglo dat ek die wêreld gaan verander, en gesweer (al mag ek nie) dat ek geen van my ouers se “foute” sal begaan nie. Ek was onstuitbaar! Ingelig en vol selfvertroue. Gee vir My die suurlemoene, en Ek maak limonade!

Vandag drink ek warm suurlemoenwater om alles wat moet buig en draai te help buig en draai. En ek lag my disnis oor die mens wat ek was. Ek dink nie ek wil ooit weer 20 wees nie, maar ek dink ek moet met meer deernis na ons eie 20-jariges kyk en luister. Om nou 20 te wees het beslis baie meer slaggate as wat 20-jariges in die ‘80’s gehad het. Maar daar is deurlopend kenmerke wat maar presies dieselfde is. Francois, jou boek het my meer as een keer die duiwel in gehad – of my hart seer was as gevolg van hom, weet ek nie. Jy raak so baie kwessies aan wat so ge-sugarcoat was dat dit geen wonder is dat ons tans met meer diabete as ooit sit nie. Al die moets en moenies wat so blatant op ons afgeskool is, en die dogmas van die voorste gestoeltes wat ons moes glo anders gaan jy reguit hel toe! Jy het maar jou mond gehou en gemaak soos die grootmense sê. Hulle weet van die dinge van die lewe wat nie vir kinders se ore of oë bedoel was nie. Dankie tog dat ons kinders vandag meer hulpbronne beskikbaar het. Die Kennis-ensiklopedie wat op ons boekrakke was, was goed gesensoreer voordat dit ons huise bereik het. En die ewige stryd om reg eerder as gelukkig te wees is tot op die been gevoer, teen al wat mens is. Genadiglik kry die meeste mense wysheid met die tyd saam, en kom ons tot die besef dat ons ’n bietjie moet ontspan. Die lewe is daar om geleef te word. Elke sekonde is kosbaar. Hou op lieg, en leer luister. Daar is musiek in elke oomblik, en miskien ’n moord of ’n motief.

As jy na Bonnie Tyler luister sal jy weet dat die tyd ontsaglik vinnig verby gaan – “faster than the speed of light”.

Lees ook:

Resensie van Die duiwel maak my hart so seer deur François Bloemhof

François Bloemhof (1962–)

  • 2

Kommentaar

  • Lekker gelees aan die resensie; nou sal ek een van Francois se boeke moét lees. Nie omdat ek nog nooit wou nie, ek het net te veel ander om te lees.

  • Baie dankie, Renie. Jy sal dit geniet. Kyk op my FB - hy kuier vandag saam met my in die ateljee. Hy is uitsonderlik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top