Resensie van Die duiwel maak my hart so seer deur François Bloemhof

  • 0

Die duiwel maak my hart so seer
François Bloemhof
ISBN 9780639605982
LAPA

Dis Januarie 1981. Ludo Labuschagne is ’n jong man, ietwat van ’n bleeksiel-losbol en ’n bedorwe brokkie: Hy hoef nie te werk nie, dus werk hy nie. Hy woon saam met sy ma en hulle huishulp, Felicity, in ’n Kaapse voorstad. Sy pa het reeds jare gelede die pad gevat en sedertdien is dit net hulle drie. En Hentie, sy beste vriend vanaf skooldae. Wat toe Hendrik was – maar nou is hy Hentie. En Yolanda. Altyd Yolanda. Dis ook by Yolanda dat hy hoor van die vreemde rampe wat die arme Van Biljons heeltyd tref: van gebreekte vensters tot ’n hond wat vergiftig is. En ’n kat wat wegraak. Maar ’n kind is ook dood; die duiwel is regtig los is in daardie gesin. Ludo het nog altyd geglo hy dink anders as ander mense, so wie is beter toegerus as hy om die tragiese gesin se raaiselagtige rampe te probeer oplos? Daar is net een probleem: Hy is nie ’n speurder nie. Hy het nie eers ’n werk nie; sy laaste poging tot werk as kelner het nie ’n vrolike einde gehad nie. Maar Ludo het sy brein – en dit gaan hy inspan.

Die leser besef gou dat Ludo nie die dapperste held is nie; hy is nie vreeslik betroubaar nie, is geneig tot verbeeldingsvlugte, word deur ander mense as “vreemd” ervaar, is beslis eksentriek en dra steeds swaar aan die trauma van die vermiste pa-figuur. Die ou liedjie “Toy train” is vir hom lewenslank simbolies van sy pa se weggaan. Sy ouderdom word nie pertinent genoem nie, maar hy was in 1963 in die destydse sub A, wat hom dus in sy vroeë twintigs plaas in die openingstonele van die roman, in Januarie 1981.

Die speurder as antiheld het ’n baie lang geskiedenis. Agatha Christie se Miss Marple is ’n klassieke voorbeeld. Daar was geen moderne tegnologie (geslotebaan-televisiekameras, DNS-ontledings, selfone, rekenaars of die internet) nie; ook nie dramatiese ontploffings, woeste jaagtogte met vinnige motors of ’n gespierde held wat alles fisiek kan reg timmer nie; net breinkrag. Die patroon was dus normaalweg dat die leidrade deurentyd subtiel ook aan die leser ook verskaf word soos wat dit aan die ondersoeker bekend word. Dit was die gewilde whodunit, of in Ludo se geval Wiedoenit#1.

Hierdie roman breek in verskeie opsigte weg van die stereotiepe spanningsromans in Afrikaans. Eerstens beteken die tydperk waarin dit afspeel dat verskeie moderne voorregte nog geheel en al ontbreek het: Karakters is afhanklik van openbare telefoonhokkies en landlyne – daar is geen selfone nie. Mense is ook meer vertrouend en misdaad is minder algemeen. Die internet bestaan nie en moderne uitgerekte ondersoekprosedures word nie gevolg nie. Tweedens maak die skrywer (spesifiek in die voorwoord, wat self baie interessante en vermaaklike leesstof is) ’n onderskeid tussen ’n spanningsroman en ’n speur- of raaiselroman. Hierdie roman is laasgenoemde – die fokus is deurentyd op die raaiselelement eerder as op spanning. Die stylaanslag pas baie goed hierby aan: Die eerstepersoonnarratief (met Ludo as verteller) word afgewissel met die gebruik van ander fokalisators, wat ’n baie breër perspektief aan die leser as leunstoelspeurder verskaf.

Die atmosfeer en agtergrond van die vroeë tagtigs word oortuigend geskets en ingekleur deur die aanhaling van liriekfragmente (“The tide is high”, “Super trouper”); verwysings na boeke (The name of the rose) en flieks (Halloween); kos (die gewilde KFC bucket); klassieke advertensies (“Lexington – thaaaaat’s the one!”) en TV-programme (Hart to Hart, The new avengers). Elke hoofstuk dek ’n paar dae in Januarie 1981 en foto’s van swart-en-wit legkaartstukkies wat bekende tonele, karakters en voorwerpe van die tydperk aandui, open elke nuwe hoofstuk.

Anders as by die meerderheid moderne spanningverhale is daar ’n baie sterk humor-element in hierdie roman. Die ironie, sarkasme, metafore en vergelykings was uiters vermaaklik. My gunstelingtoneel is ongetwyfeld die kroeggeveg in die Goodwood Hotel. “Daar stap ’n ou by die kroeg in … ’n cowboy op soek na ’n gunfight.” Sy meeloper word beskryf as “Met ’n onvergenoegde, geniepsige mondjie wat jou laat vermoed hy het nie aan sy ma gedrink nie, maar geknaag.” En Ludo self: “Op sulke tye moet mens jou bek hou. Veral as dit ’n bek is wat jou al vantevore in Kakstraat laat beland het ... in my kop ... is daar ’n klomp klein mensies met botsende persoonlikhede wat elke af en toe die stuurstang gryp. Nou is dit die onverskrokke kryger se beurt.” Dit eindig natuurlik sleg: “Ka-dwarra. Toe net swart.” En daarna: “Voel of ek al my asem vir die dag opgebruik het en reeds met more s’n besig is.” Selfs die bibliografie/erkennings is met sterk humoristiese ondertone geskryf.

Die roman is egter nie ligsinnig nie. Een van die emosionele hoogtepunte is ongetwyfeld die melankolie aangaande die wegloop van Ludo se pa wat deurentyd in die agtergrond huiwer. Wanneer hy vir sy lewe vrees, is dit weer die simboliek van die trein (“Toy train”) wat voorop in sy gedagtes is. Treffende dialoog word ook gevind in ’n gesprek oor die dood: “Kinders, dis die ergste. Met ouer pasiënte is dit meer ... Jy verwag dit op ’n stadium, en hulle het ’n vol lewe agter hulle. Ook baie teleurstellings. Met kinders is daar mos nog soveel hoop verteenwoordig. Alles kan nog vir hulle reg uitdraai, jy weet.”

Tipies van ’n raaiselroman is daar ’n hele paar verdagtes, moontlike motiewe, beide vals en subtiele leidrade, doodloopstrate en frustrasies. Die pas is vinnig (die roman speel in ’n bietjie minder as ’n maand af) en daar is nie kans vir die leser om verveeld te raak nie. Die skrywer slaag daarin om die leser op ’n nostalgiese reis te neem en ek wonder tog hoe jonger lesers, wat nie die tagtigs beleef het nie, dit sal ervaar.

Dit was lekker om te sien dat hierdie roman as #1 aangedui word, want ek sien uit na wat in Februarie 1981 gebeur.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top