Een keer om die son deur François Bloemhof: ’n resensie

  • 0

Titel: Een keer om die son
Skrywer: François Bloemhof
Uitgewer: Quellerie, 2026
Prys: R280
ISBN: 9780795803215
EPUB-ISBN: 9780795803222

...
Dit herinner ’n mens daaraan dat groei nie altyd sigbaar is nie, maar dat elke dag – elke draai om die son – tog iets in jou verander.
...

As jy iemand verloor, gaan die lewe voort. Jý moet ook. Dit is wat die Van Wyk-gesin besef toe een van hulle onverwags sterf. Hulle moet sin maak uit wat gebeur het en ook sterk staan vir dit wat kom.

Hulle is ’n herkenbare gesin van vyf, besig met allerhande dinge en drome, terwyl hulle dikwels dit wat reg voor hulle staan, miskyk.

Daar is Ruan, die chirurg-pa wie se werk altyd eerste kom; Markus, die matriekseun van wie almal groot verwagtinge het, maar wat sy eie planne het; Leandri, drie jaar jonger as haar ouboet, wat meteens besef dat sy nooit haar ma geken het nie; en die brose Sophia, wat met haar eerste skooljaar begin en die enigste een is wat met haar hart op haar mou loop en verwoord wat almal voel, maar te bang is om te erken.

Een keer om die son is gegrond op die gelyknamige TV-reeks wat die land se verbeelding aangegryp het. Die oorspronklike storie is deur Ivan Botha, Donnalee Roberts en Liani Jansen van Rensburg geskryf. Die veelbekroonde skrywer François Bloemhof het die reeks tot roman verwerk.

Bloemhof se vorige draaiboekromans sluit in Vir die voëls en Pad na jou hart. Onlangs het hy dit ook andersom gedoen met die gewilde TV-reeks gebaseer op sy eie Spooksoeker-trilogie.

Etlike weke voordat die eerste episode van die eerste seisoen uitgesaai is, sit ek in ’n koffiewinkel in Blouberg en gesels met Donnalee daaroor. Ek moet ’n onderhoud doen oor die reeks waarvan die vooraf publisiteit iets besonders belowe.

Sy gee die hooftrekke en moet haar inhou om nie te veel te verklap nie. Ek is opgewonde, veral nadat ek haar entoesiasme ervaar het.

Die reeks was ’n treffer, soos sy en Ivan gehoop het. Elke maand is ’n nuwe episode – interessante manier om ’n jaar se verloop te illustreer. Dit was eg en waar en teen die laaste episode het die karakters bekend gevoel – amper soos verlangse familie of vriende.

Aanvanklik wou ek nie die boek lees nie. Ek ken mos die storie. Maar dis 18 maande sedert daardie eerste episode uitgesaai is, en mens vergeet.

Die boek kruip stadig onder ’n mens se vel in – al het jy die reeks op televisie gesien en al het jy gedink jy het al die nuanses en subteks raakgesien. Die verhaal is bekend, maar anders. Dit skree nie; dit soek nie soos ’n kind met ’n vloermoer om aandag nie.

Terwyl ek gelees het, het ek myself meer as een keer betrap waar ek lank gepeins het oor my eie lewe, oor tyd, en oor hoe verandering soms gebeur sonder dat ’n mens dit onmiddellik raaksien.

Hoe mense persoonlik rou en verlies en afskeid neem. Hoe jy dink dat wanneer jy iemand verloor, dit die ergste is wat met jou kan gebeur.

Wat my die meeste opgeval het, is hoe slim die tema van tyd deur die hele roman geweef word. ’n Jaar klink kort wanneer mens dit sê, maar in die boek voel elke maand, elke seisoen, met eindelose betekenis gelaai.

Die idee van een keer om die son het vir my ’n nuwe betekenis gekry: Dit gaan nie net oor die verloop van tyd nie, maar oor wat met ’n mens gebeur terwyl tyd verbygaan. Soms verander jy sonder dat jy dit agterkom, en eers later besef jy hoe ver jy gekom het.

Bloemhof se skryfstyl het hierdie ervaring versterk. Die taal is eenvoudig en natuurlik, wat dit maklik maak om jouself in die verhaal te verloor. Daar was oomblikke waar ek gevoel het asof ek nie lees nie, maar luister – asof iemand vir my hul storie vertel. Hierdie eerlikheid in die skryfwerk het gemaak dat die emosies nooit gedwonge gevoel het nie.

Hoewel die boek moeilike temas aanspreek – almal herkenbaar in die meeste huise, maar dikwels agter toe deure weggesteek – het ek dit nie as depressief ervaar nie. Inteendeel, daar is ’n sagte goue draadjie van hoop wat deur die verhaal loop. Dit sê nie vir jou alles gaan regkom nie, maar wys dat dit moontlik is om aan te beweeg, al gebeur dit stadig en onvolmaak. Dit was vir my een van die mooiste boodskappe van die roman.

Dit herinner ’n mens daaraan dat groei nie altyd sigbaar is nie, maar dat elke dag – elke draai om die son – tog iets in jou verander.

En hoewel dit voel asof die wêreld sonder jou aangaan, kom daar later die besef dat jy tog opgestaan het, tog gegroei het en tog weer deel van die lewe geword het, al is daar ’n groot gaping in jou lewe.

Wat my die meeste beïndruk het, is Bloemhof se vermoë om soveel emosie in net 222 bladsye vas te vang. Hoe hy 12 episodes se intrige, drama en hartseer só goed kon saamvat, is bewys van sy talent as skrywer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top