Die wille wetters van Wesrivier

  • 1

“Die wille wetters van Wesrivier” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Die wille wetters van Wesrivier

Net een mens sit hier oorkant my, maar ek sien twee: dié kêrel in die ontwerpersbaadjie en die tinktinkie met die dungestrykte hempies van destyds.

Alles wat hierdie nuwe weergawe van hom maak wat dit is, het hy vanoggend aangetrek. Aangespuit. Aangeplak. Elke kartelende haar is platgejel en sy wange glim van die bevogtiger.

Hoeveel kilometer suidoos van Wesrivier moet ons nou wees? Al blinkheid wat jy dáár op jou gesig gehad het, was eerlike sweet.

Toe ek netnoumaar instap, was ek verbaas om hom hier aan te tref en nie in die rokersarea nie. Hy wat my leer rook het. Wat buite skooltyd selde sonder ’n gekneusde pakkie Lucky’s was. Skywe was waarvoor hy uitgekyk het wanneer ons iewers inbreek. En lighters. Hy’t later ses gehad, hulle afgewissel soos die week aanstap.

Voor hy een vir Saterdag kon byvoeg, weg was hy.

As name werklik betekenis dra, sou ons mekaar met die eerste sien gehaat het: ek ’n bielie genaamd Dawid, hy gebuk onder dié van Goliat.

Hy’t stewiger geraak. Dit pas hom.

Ek het helaas seker net soveel aangesit.

Ek vat ’n sluk koffie om my mond besig te hou. Moet egter weer praat toe Evan met nóg ’n voor die hand liggende vraag uitkom.

Dis die kinders wat gemaak het dat ons hier is: Driesie en Evan junior. Die twee hardloop hier buite rond in Jungleland se nagemaakte groenigheid. Ek kon dit nie mis dat sý kind nie lyk asof hy met laventel besprinkel is nie.

Jungleland nogal. Hier is nie eens wat in ons jong dae ’n klouterapparaat genoem is nie. Niks wat tot ’n kneusplek en hofsaak kan lei nie.

Evan junior het hom glo ’n paar dae gelede by die huis kis gelag oordat ’n maatjie die van Uittenbroek het. Volgende wat ek weet, lui my foon.

“Ek dóg so! Ons moet gesig wys, my magtag! Woon wraggies so na aan mekaar. Kan jy glo ons het albei so jonk al kleingoed en hulle’s in dieselfde speelskooltjie?! Wat van ek kry jou Saterdagoggend iewers?”

“Wat van Heron Fields?” stel ek toe voor. “Daar is ’n koffieplek.”

Heron Fields nogal. Was die ontwikkelaars aspris toe hulle die sentrum noem na die terrein wat daarvoor vernietig is? As hier wel reiers was, waarheen moes hulle vlug?

Daai tyd, al was die Wesrivier partykeer vir lang ente so dor dat jy in sy loop ’n fietsresies kon hou, was daar op die kalkbank reiers te sien. In goeie geselskap. Voëls wat in skouspelagtige kleure voor ’n bleekblou hemel verbyflits. So gewoond daaraan, let jy dit skaars op, jou ken moerbeibesmeer en sakke bultend van gejompsde losskilnartjies. Deur bleekgeel grasse loer velddiertjies na jou.

Ons gaan deur die motions: Wat doen jy vir ’n lewe, bla-bla, kon geweet het jy sou ’n job kry wat met woorde te make het, Dawid, yadi-yada, en jy, Evan, rekenaartegnikus, mooi, man, jy lyk goed, gorrel-gorrel, dankie, jy ook.

Terwyl een die ander in daardie dae presiés gesê het wat hy dink.

Hy kon maar om my onthalwe in die rokersarea gesit het.

Vrek voor ek vra dat ons skuif.

Dis asof ons pa’s aan omwentelinge in die land moes gesig gee. Húlle pa’s: die baas van die plaas en sy arbeiders. Hulle self halfpad deur 1994: eienaar en voorman; vennote, behalwe op papier. Versigtig vir mekaar, dalk selfs nog wantrouig, maar hulle bewerk saam soveel-by-soveel hektaar van ’n nuwe Suid-Afrika en raak boonop albei in die jaar van oorgang ’n seun ryker – dae uitmekaar, asof so beplan. Ek dink nie een van hulle sou ooit heeltemal gemaklik raak met my en Evan se saam uithang nie; dit het dalk net te maklik gekom.

Jaar op jaar slaan my pa my soos wat hy geslaan is. Hy haal graag die loesings van daardie tyd op. Karaktervormend glo. Skynbaar al wat hy van sý pa kan onthou.

Ek en Evan jag kitsgenot en blywende oomblikke. As oom Jan van Biljon met die perskeplaas dan nie weet om die sleutel saam te neem wanneer hy voor die koöp uit sy bakkie klim nie, spring ons in, al is dit net vir om die blok ry. Ons gooi ruite stukkend – maar net by leë huise. Ons sou dagga rook as ons dit kon kry. Is pal reg om klasmaats op te stry, never mind die issue. Jeuk om hulle op te neuk ook, of ek ten minste. Halfdronk onder ’n volmaan. Wie gooi beste kleilat? Burp- of poepkompetisies! Op weerligaande wieg ons arms-in-die-lug asof dit ons is wat die rammelings en blitse bring. Die goed wat ons uit huise neem, het geen inruilwaarde nie en dan is dit nie steel nie.

Wanneer my emosies inmekaarloop soos botsende kleure verf, judge hy my nie. As ek sê watse stuk kak my pa is, praat hy nie saam sodat ek dit later teen hom kan hou nie. Hy vryf dit nooit onder my neus hoe happy húlle is nie. Ek is selde in die middel: óf opgecharge oor nonsens óf teen die grond oor fokkol.

My rugbytalent beteken nie ek het ander pelle nie – as dit ’n talent is dat ’n ander span se ouens weet om uit jou pad te bly. Ek weet darem ook hoe om iemand van die veld af te kry sonder om uitgevang te word.

In my hoërskooljare verander my pa sy manier van doen. Ek hoef nie meer al die pad dorp toe te loop om in die Nels se erf ’n kweperlat te gaan kies nie. Bevordering: Hy gryp my voor die bors; twee stewige klappe deur die gesig; dié kant, daai kant.

Hy doen dit min met my ma; sy’s gou om te huil.

Uit die kloue van die een selfgeskepte krisissie, ontsnap ek en Evan Goliat na die kake van ’n volgende. As ons nie deur donker huise se vensters klim nie, spray-paint ons lelike woorde teen uitnodigend wit mure.

Ons baklei één keer.

Ek wil hom nie donder nie; ek wil hom vrekmaak. Seningrig en taai mag hy wees, maar ek het nie gedink hy sal so hard terugslaan nie. Die oorhand kry nie! Ek kry dit terug. Hy pot my op die ken, sneaky bliksem, en ek gryp hom vollyf; ons slat neer, lywe gly oormekaar en van mekaar af weg van al die sweet; ons rol in die voorskootveld en die stofsand koek aan ons soos fudge. Ons klou aan mekaar vas; elk gaan die ander vernietig oor hy so ’n moedswillige kak is, en ons steun en kreun en hyg lug in mekaar se gesigte in, mekaar se gehate gevrete, laaste asems wat ons in die ploeg en rondval en weer neerslaan en rondrol uitblaas, maar vir ’n wonder is daar nóg asem, en dis lewensbelangrik om te wen. Hoe bevredigend om hom op die oogbank te klits, steeds stygende woede toe hy my skrams op die neus tref, fokker, fok jou, ek sal jou ...

Die volgende dag gaan ons net aan. Ek glo hy’t ook nie ’n idee waaroor die fight eintlik was nie.

En nou? Ons hou aan die korrekte geluide maak: In watter uitbreiding woon julle, Dawid, koeitjies en kalfies, nee, dis net ek, wharra-wharra, ag, het nie geweet nie, sorry om dit te hoor, man, ensovoorts-ensovoorts, en jy, Evan, nee, ons hou uit, daar is om die waarheid te sê nog ’n bulletjie op pad, great, geluk ook, man!

Een aand “loer ons in” by nog ’n huis. Ons dog die mense is na hulle seun toe vir die naweek. Lig wat meteens aanflikker, vrou in die deur so wit geskrik soos haar nagrok. Ons uit by die venster. “Julle …” begin sy agter ons aan skree, soek seker eers ’n term wat verdoemend genoeg is, vind net: “Wille goed!” Haar man het by haar aangesluit: “Maak dat julle wegkom, julle wetters!”

In die Boland soek mense bruin plaasbestuurders. Betaal glo goed. Boland – soos in Mars, Pluto en Jupiter. Vanselfsprekend sou sy pa so ’n geleentheid aangryp. Ek haat die opwinding in my verraaier-vriend se oë. Nog meer hoe hy dit probeer wegsteek.

Hy het nie eens gedínk aan agterbly nie. Wat het geword van daai ooreenkoms die dag voor ons skool toe is, met twee bloeiende polse teen mekaar gedruk?

“Dawie-boi, ek en jy face sáám die lewe se shit.”

My pols bly dae lank jeukerig voor die snyplek ’n litteken begin word.

En dis al wat bly, want vort is hý. Ek lê en sied in my kamer, omring deur posters van uitgespeelde rugbysterre. Os du Randt. Wayne Julies. Hulle is gevries in oomblikke van glorie, maar met die gesigte verbleik asof hulle vonk met die neem van die foto’s al aan die verflou was. Ek bestudeer opnuut die verbete uitdrukkings wat ek met wedstryde teen buurdorpe so goed eggo, en hoor hoe my pa my ma vloek. Sondag sal hy weer sedig op die diakenbank sit. Wonder hoeveel pelle Evan al daar anderkant gemaak het.

Ek doen dit nou maar op my ace. Breek in. Neem deesdae items wat jy darem iewers kan verkwansel. Maar dis nie sports as jy alleen van die scene of the crime af moet vlug nie. En nou vermoed ek hy’t dit hoofsaaklik gedoen om my te plesier.

Ek steek ’n leë huis aan die brand. Dit laat my nie beter voel nie. Vuisgevegte by die skool is afgesaag. Met die afloop ’n uitgemaakte saak, voel ek eers met ’n knockout dis ’n wen.

In my matriekjaar geepad my ma uiteindelik. Ek kan haar nie blameer omdat sy my nie wou saamvat nie. Ek lyk soos my pa. Ek praat soos my pa. Ek het dieselfde naam. En al haat ek hom, juis daardeur is ek nog meer soos hy.

Die egskeiding is skaars deur of ’n nuwe vrou trek in. Jonger. Sy versorg die huis beter as wat my ma het, haarself ook. Ek sou verkies dat sy haar voorganger se seun sleg behandel sodat ek haar kon verpes en klaar, maar nee, sy kyk na my met begrip. Erger nog: deernis. Met slapenstyd hou sy haar wang vir ’n soentjie. Ek hoor hoe hy haar skel, so gou weer die ou hy, en sy staar al hoe meer in die verte, wil haarself dalk oortuig sy het haar tog nie in liefdesverhale die belofte van vergoeding vir vasbyt verbeel nie.

Die laaste keer dat my pa sy hand vir my lig, kom een aand toe ek hom weer backchat. Hy kry my voor die bors beet dat ek die hemp t-r-r-r-r-r-r hoor maak.

Ek kyk hom in die oë.

“Jou móérskont.”

En hy? Laat los asof in stadige aksie. Tree terug. Stryk die geskeurde materiaal plat, sy mond soos ’n bars in een van die Van Biljons se perskes.

Lank daarna dink ek nog dit beteken ek het gewen.

En dan.

Ek, wat so kwaad was vir my voormalige kameraad wat van die bestemde weg afgedraai het, is klaar met skool, die plaas, my pa. Met die hele Wesrivier, al het die fout nooit by die dorp gelê nie. Ek ontsnap met ’n rugbybeurs en duimgooi. My pa het wragtig gedink ek gaan bly vir my erfdeel een mooi dag.

Gou genoeg besef ek wegkom behels meer as afstand. Hier is ek nog met myself, net op ’n ander plek.

’n Gladde bek kan jou egter ver bring. Tot by ’n reklame-agentskap, vryskutwerk, ’n pos as kopieskrywer, hóófkopieskrywer, vennootskap.

Maar tussendeur eers: ’n meisie. Sy is vol geite wat ek vir ’n verkennende ingesteldheid aansien. Met ons eerste baklei – jy kan nie heeltyd seks hê nie – span sy nog vloekwoorde in soos wat ’n onseker kok gryp na speserye. Later leer sy jy kan met die regte terme in ’n sagte stem dieper wonde toedien. Ek het my eie wapens. Ondanks alles, trou ons. Dis wat ’n ou doen wanneer hy hoor ’n vroumens is swanger.

Jammer dat ’n kind deel van die baklei moes raak. Hy bederf elke oorwinning.

Vir drie mislike jare sit Driesie ’n keel op. Ek neem aan sy ma huil net soos ek aan die binnekant.

Ek wonder nog soms hoe dit gaan met die ou wat my strooijonker behoort te gewees het. Hoop hy’t dit gelukkiger getref. Maar hét hy nie altyd nie?

Eendag slaan sy my. Eintlik net ’n klap. Maar dit registreer as slaan en my pa het my nie verniet geleer as iemand jou slaan, slaan jy twee keer so hard terug nie. Behalwe natuurlik as dit hy is.

Ons skei. Sy kry die kind, ek die voorreg om onderhoud te betaal en elke tweede naweek deur te bring met ’n seuntjie wie se sagtheid my laat wegkyk. Kon ek nie ten minste ’n meer uitsonderlike tragedie gekry het nie?

Ek besef ek moet iets doen. Terapie. Pille saans om my te laat afskakel, pille saam met brekfiskoffie om my weer op te rev. Ek is ’n hond wat moet leer hoe om op te hou grom, blaf, hap.

Ek bestry die woede wat al saam met my in die cot gelê het. Die Bybel kan nie help nie, want dit praat met my pa se stem. Ek gaan op in die Zen-dogma. Tem myself met karma, my sewe chakras en die vier soetras.

Wanneer ek Driesie vir ’n naweek gaan haal – ek sien gisteraand daar is ’n Jimny langs haar kar geparkeer – is ek verlig om nie die ou gramskap in my te voel opstyg nie. Selfs wanneer ek die fiefierige kleertjies sien waarin die outjie nou weer uitgedos is, is ’n sooibrandagtige irritasie die ergste wat deur my gaan. Dit heeltemal afweer, dit kan ek ook nie. Ek het dan so woke geraak, hoekom nie met hom ook nie? Is sy oriëntasie van eendag eens my besigheid? Wat maak dit saak as ek nie ’n oupa word nie? Neem maar my pa – kyk wat het hý bereik deur ’n nageslag te kry. Lyk my nie Driesie is ongelukkig wanneer hy by my is nie, en dis seker ook al iets.

Ek knip my oë en korrel weer na Evan. Dink dat daar in die gruwelikste horrorfliek nie so ’n bose gees kan verrys soos uit die karkas van ’n broederskap nie.

Maar het ek dan geen tegnieke aangeleer nie?

Diep vrede van die stil aarde vir jou. Diep vrede van die noordewind vir jou.

“Jy moet een aand kom inloer,” sê hy. Kan een mens so fokken vals wees?

“Klink goed.”

Net so ’n blink plan as om jou hand in ’n oop vlam te druk.

Diep vrede van die silwer maan vir jou. Diep vrede van die groenste gras.

En toe maar. My koppie is leeg. Nou-nou kan ek waai.

Skielik, ’n skrou van buite asof dit die oordeelsdag aankondig. Ek sien deur die ruit hoe Driesie sy wang vasklou, sy mond wawyd oop terwyl die ander knaap se hand nog in die lug hang.

En Evan? “Los dit,” sê hy.

Ek het klaar opgespring.

Hy glimlag. “Jy wil tog nie hê hulle moet sissies word nie.”

Ek gryp hom voor die bors. Ruk hom nader. Ons gesigte is so na aan mekaar dat, toe hy weer praat, ek tabak op sy asem kan ruik.

“Dáár is jy.”

Hy lag net so breed.

Ons kyk by mekaar se oë in. Ek kry nie ’n geluid verby die knop wat in my keel gespring het nie. Toe ek my hand wegtrek, sien ek op my pols die ou verbondsmerk. Val terug op my sitplek.

Ons bestel nog koffie. Gesels nou net, die verbinding al hoe helderder, ’n ou radio wat weer kon sein vang. Loer net af en toe hoe die twee klein wetters daar buite in die speeloerwoudjie rondhol. Kamma-stoei, krete gee wat sweerlik tot by die verre vlaktes van Wesrivier eggo.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top