Woordfees-onderhoud: Francois Bloemhof gesels oor misdaadfiksie

  • 0

Die aanvraag na misdaadfiksie neem wêreldwyd toe. Hoekom dink jy is dit so?

By misdaadfiksie is daar dikwels ’n boeiende storielyn. Iets moet elke nou en dan gebeur, wat jy nie sommer by alle ander genres kan verwag nie. Die meeste lesers wil eenvoudig vermaak word en al hoe meer skrywers is besig om dit te besef en hulle in dié rigting te begewe.

Vind jy dit nie vreemd nie, veral as mens in ag neem hoe baie jy alreeds van misdaad in die regte lewe hoor?

Dis glad nie vir my vreemd nie. Misdaadfiksie het baie raakpunte met liefdesverhale; een daarvan is dat jy redelike sekerheid het dat daar ’n “goeie” einde gaan wees – net soos wanneer die held en heldin mekaar vir 200 bladsye verkeerd mag opvryf, maar alles mooi sal uitwerk in die laaste twee bladsye. Misdaadfiksie kan amper ’n teenvoeter wees vir ons neerdrukkende koerantopskrifte – daar is misdaad oral om ons, ja, maar in misdaadfiksieboeke wag daar waarskynlik ’n reënboog aan die einde. Misdaadfiksie is baie meer voorspelbaar as spanningsverhale, waar jy glad nie so ’n versekering het nie. Dit is ’n soort regstelling en bied struktuur midde-in die onsinnige alledaagse geweld. Baie lesers soek juis ’n mate van voorspelbaarheid, want laat dit jou nie veilig voel nie?

Is daar ’n spesifieke formule wat ’n skrywer moet volg indien hy ’n misdaadroman wil skryf?

Dit is altyd vir my interessant as ’n skrywer die moed het om van die gebaande weg af te wyk, en ons loop reeds gevaar om in ’n groef vas te val, soos lankal oorsee gebeur het. Ja, daar is ’n formule. Klink die volgende internasionaal-beproefde bestanddele byvoorbeeld bekend? Daar is ’n speurder of polisieman (amper altyd ’n man) met die een of ander eksentriekheid of hebbelikheid of swakheid; hy kry te make met burokratiese rompslomp en korrupsie in eie geledere; hy het moeilike persoonlike omstandighede en dalk nog ’n verslawing ook; die een of ander terugslag uit sy verlede kom by hom spook tydens die huidige saak ... en natuurlik is daar die amperse sekerheid dat reg en geregtigheid aan die einde sal seëvier. In misdaadfiksie is daar baie meer sprake van ’n resep as in ’n spanningsverhaal, en die uitdaging is om jóú melktert anders te laat proe as die ander bakkers s’n.

Watter internasionale misdaadfiksieskrywers kan jy aanbeveel en hoekom?

Ek is nou uitgekuier met die Swede; het te veel van ’n goeie ding ingekry! John Harvey is uitstekend. Oorwegend kies ek skrywers wat nie sukses met ’n spesifieke hoofkarakter behaal en dan dié arme kreatuur in ’n ellelange reeks boeke aanhou melk nie. Maar skielik mis ek vir Agatha Christie – daardie soort misdaadroman is vir ewig verlore. Die ware “deduction and detection skills”. Nou voer soveel DNS- en forensiese en prosedurele besonderhede die botoon dat heelparty misdaadboeke voel soos ’n vertoonkas vir die skrywer se navorsing. Die probleem is, almal kry maar dieselfde navorsingsresultate en lesers kan self Google!

Wat kan ons verwag van jou gesprek met Chanette Paul en Deborah Steinmair by die opkomende Woordfees – watter onderwerpe gaan julle dek?

Nou vra jy my ’n ding. Dis in die hande van Karin Brynard, wat die gesprek gaan lei. Ek wil nie voor die tyd weet wat die vrae is nie! Ek verkies om dit onvoorbereid te kry – ek voel ’n mens kan eerder ’n bietjie vashaak, selfs ’n bietjie stamel of jouself onderbreek of weerspreek, as om te weet wat alles kom en dan te klink asof jy ’n resitasie opsê.

Waarmee is jy tans nog besig?

Meestal met agteroor sit! My skryfwerk vir vanjaar is in 2011 voltooi; ek loop ver voor. Daar verskyn deur die jaar boeke vir verskillende ouderdomsgroepe by verskillende uitgewers. Dit is natuurlik ’n lekker fase wanneer jy sien hoe jou geesteskinders vorm aanneem – of sigbare vorm, moet ek sê. Mense het al gedink dis dalk nie meer vir my opwindend as daar ’n nuwe een uitkom nie, maar nee, elke nuwe boek is Die Boek. My belangstellings is egter uiteenlopend en ek skep tans goete vir radio en die verhoog – en as iemand my nader vir TV- of filmprodukte, sal hy my aandag hê ...

 

Ondersteun die Skrywersfees by die US Woordfees  

Skrywersfees 2012
Waarom misdaad?

Aangebied deur Lapa
Die aanvraag na misdaadfiksie neem wêreldwyd toe. Ook in Afrikaans kan lesers nie genoeg kry nie. Karin Brynard gesels met drie Afrikaanse misdaadskrywers: Chanette Paul, François Bloemhof en Deborah Steinmair oor dié verskynsel, en oor die ontlading wat spanning kan bring.
6 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R40


Keer terug na die program-indeksblad.  

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top