’n Engel onder ons, queer en divers: ’n bespreking van Goodbye June

  • 0

Goodbye June, wat tans te sien is op Netflix, is ’n film wat jou eers laat dink dit gaan net oor familie en verlies. Soos die storie ontvou, ontdek jy egter subtiele en betekenisvolle lae van queerverteenwoordiging en die hantering van diversiteit.

Teen die agtergrond van hul ma, June, se terminale siektetoestand, kom vier volwasse sibbe van die Cheshire-gesin bymekaar en is daar onmiddellik konflik wat voortspruit uit die onopgeloste griewe en wedywering van baie jare.

In die dinamika tussen die gesinslede word diversiteit veral uitgebeeld deur die uiteenlopende persoonlikhede, lewenskeuses en waardes van die broer en drie susters. Die broer, Connor, is byvoorbeeld ’n alleenloper wat sy gay-identiteit grotendeels verberg en daarom dikwels onseker en teruggetrokke voorkom. Tog vervul hy ’n belangrike rol binne die familie, aangesien hy op ’n manier die een is wat die gesin bymekaarhou en konflik probeer hanteer.

Julia, die oudste, verteenwoordig die suksesvolle beroepsvrou wat die spanning van ’n veeleisende loopbaan met gesinsverantwoordelikheid moet balanseer. Haar jonger suster, Molly, is ’n neurotiese ma, met haar obsessie oor organiese kos en streng besoekroosters. Dit simboliseer ’n poging om deur beheer en orde stabiliteit te skep, terwyl die derde suster, Helen, se betrokkenheid by alternatiewe geneesmetodes en spiritualiteit, sowel as die feit dat sy op die punt staan om ’n enkelma te word, ’n meer spirituele en onkonvensionele lewenspad aandui.

Die queerteenwoordigheid in die film word subtiel en geïntegreerd uitgebeeld. Die twee gay karakters, die broer, Connor, en die verpleër, Angeli, word nie uit die staanspoor as gay bekend gestel nie, maar hulle verhouding ontwikkel geleidelik en organies, deur klein, betekenisvolle oomblikke: die stil gedeelde kyk wanneer Connor sy frustrasies met die familie uitdruk; die ligte aanraking van hande wanneer Angeli Connor in die hospitaal se kapel bemoedig. Dis eers aan die einde, ’n jaar na die ma, June, se dood, dat ons by die familie se Kersete sien dat Angeli en Connor intussen lewensmaats geword het.

Maar Angeli se invloed strek verder as net sy verhouding met Connor. Hy tree ook op as brug tussen die ander lede van die familie en help om deur sy stil teenwoordigheid en gepaste opmerkings die spanning te bestuur. Deur hierdie interaksies verander hy byna ongemerk die emosionele landskap van die familie: Hy ondersteun nie net die sterwende June nie, maar help ook om die hele familie se versoeningsproses aan die gang te sit.

Die naam Angeli kry geleidelik ’n dieper betekenis en moet waarskynlik as ’n narratiewe metafoor verstaan word: die engel as boodskapper wat mense lei en begelei en ’n nuwe begin aankondig. Betekenisvol is die rol van Angeli in die Kersspel wat die gesin teen die einde vir June in haar hospitaalkamer aanbied. Hy is nie deel van die familie nie en neem ook nie deel aan die Kersspel nie. Hy bly die buitestaander, maar as stille toeskouer word hy as ‘t ware die oog waardeur die filmkyker die toneel betrag en wat sodoende die betekenis van die gebeure onthul.

Waar die Kersspel ’n nuwe begin vir die familie inlui en die konflikte van die verlede klaarblyklik agtergelaat word, is dit ironies dat dit juis ’n queer (én swart) karakter met die naam Angeli is wat ’n bemiddelende rol in die gebeure speel. Dit kan gesien word as ’n subtiele leidraad wat daarop dui dat genade, begrip en versoening nie net uit tradisionele bronne kom nie, maar dikwels juis van die kantlyn van gemarginaliseerdheid en sosiale uitsluiting.

In die slottoneel, waar die familie ’n jaar later saamkom vir ’n Kersete, simboliseer Angeli nie net die vreugde van die seisoen nie, maar ook die vervulling van elke gesinslid se emosionele behoeftes en die eenheid van die familie. Die buitestaander het intussen ’n wesenlike deel van die gesin geword.

In sy geheel is Goodbye June ’n sensitiewe en diep ontroerende studie van familie, verlies en versoening. Die fliek impliseer (soms eksplisiet, soms subtiel) dat familie nie net ’n biologiese feit is nie, maar iets wat aktief onderhou en gekies moet word. Diversiteit en konflik staan nie teenoor gesonde verhoudinge nie, maar kan juis ’n versterkende en verrykende bydrae lewer om erkenning te gee aan die unieke identiteit van uiteenlopende mense wat kies om daar te wees vir mekaar.

Lees ook:

Zubayr Charles se Haram is ’n waarskuwing aan almal, gelowig of nie: ’n lesersindruk

’n Jaar in my lewe deur Louis Pretorius, ’n resensie

All the saints deur Wesley Roodt: ’n lesersindruk

Om krities te wees oor queer

Robert – a queer and crooked memoir: ’n onderhoud met Robert Hamblin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top