Om krities te wees oor queer

  • 0

Met die wegdoening van totalitaristiese staatspraktyke wat rondom die polisiëring van seksualiteit gesentreer het, word die woord queer al meer opvallend in akademiese werk en joernalistiek oor seksualiteit in Suid-Afrika. Dit is nie verrassend dat die woord ter plaatse oorwegend in ’n spesifieke sin gebruik word nie, naamlik om ’n positiewe bevestiging van dit wat voorheen as afbrekend gedien het, te signifieer. Hierdie gebruik van die woord spruit vanuit ’n dualistiese verstaan van die term: vroeër is die woord queer gebruik as ’n term waarmee verminderend na nieheteroseksuele seksualiteite verwys is; vandag is dit ’n term wat ’n Nietzscheaanse transvaluasie ondergaan het en nou deur nie-heteroseksuele diskoers opgeëien word om nie-heteroseksualiteit te vier.

In haar boek Bodies that matter (1993) vra Judith Butler egter ’n kritieke vraag oor bogenoemde transvaluasie: “How and where does discourse reiterate injury such that the various efforts to recontextualize and resignify a given term meet their limit in this other, more brutal, and relentless form of repetition?” (223). Butler vra of dit werklik moontlik is om die term queer as ’n Nietzscheaanse teken-ketting te verstaanen met verwysing na performatiewe soos “Ek verklaar julle ...” kom sy tot die slotsom dat ’n performatief (’n verklaring wat ook ’n daad is waardeur ’n band ontstaan) funksioneer in ’n domein waarin mag as diskoers optree.

Dit is die moeite werd om Butler direk aan te haal ten einde die probleem rondom die her-betekening van queer beter te verstaan:

Where there is an “I” who utters or speaks and thereby produces an effect in discourse, there is first a discourse which precedes and enables that “I” and forms in language the constraining trajectory of its will. Thus there is no “I” who stands behind discourse and executes its volition or will through discourse. On the contrary, the “I” only comes into being through being called, named, interpellated. (Butler 1993: 225)

Butler doen aan die hand dat die term queer juis ’n interpellasie is wat vrae laat ontstaan rondom die status van dwang en opposisie, stabiliteit en veranderlikheid binne die parameters van performatiwiteit. Histories is queer ’n vernederende interpellasie – dit is ’n interpellasie wat ’n sosiale band tussen homofobiese gemeenskappe meebring: “The interpellation echoes past interpellations, and binds the speakers, as if they spoke in unison across time” (226). Wanneer ’n nieheteroseksuele groepering in die samelewing hierdie woord toe-eien, verwerp sodanige toe-eiening die konstitutiewe geskiedenis van die term.

Die probleem is egter dat hierdie term ’n nuwe identiteitskategorie word wat uitsluit, verhinder en verminder soos die geval is met alle kategorieë van die identiteitspolitiek. Butler meen dat indien die herbetekening van queer die slagysters van identiteitspolitiek wil vermy, ’n kritiek van die queer subjek self deel is van die voortgesette demokratisering van queer-politiek (227). Die kritiek van die queer subjek verleen dus ’n selfkritiese dimensie aan queer-aktivisme. So kom Butler dan vorendag met haar idee van kritiese queer – ’n idee wat sy soos volg formuleer:

If the term “queer” is to be a site of collective contestations, the point of departure for a set of historical considerations and future imaginings, it will have to remain that which is, in the present, never fully owned, but always and only redeployed, twisted, queered from a prior usage and in the direction of urgent and expanding political purposes. (1993:228)

Butler wys daarop dat die term queer soms gebruik word as ’n term wat, in stede van ’n inklusiewe sentiment, ’n stel oorvleuelende verdeeldhede meebring: “[I]n some contexts it has marked a predominantly white movement ... in others the terms represents a false unity of women and men” (228).

Dit is egter nie slegte of betreurenswaardige nuus dat queer (soos enige ander identiteitskategorie) aan kritiese bevraagtekening onderwerp moet word nie. Butler sien in hierdie kritiese praktyk nuwe moontlikhede vir nieheteroseksuele alliansies. Die toe-eiening van terme wat voorheen gebruik is om nieheteroseksuele mense te brandmerk, is steeds kritiek in die stryd om vryheid, maar ons moet insien dat die ontplooiing van die term in sekere kontekste meer skade as goed kan aanrig. Kortom, hoe gesofistikeerd die nieheteroseksuele toe-eiening en herbetekening van queer ook al mag wees, dit sal altyd in spanning staan met die ouer, heteroseksuele, homofobiese gebruik daarvan. Ons kan queer nie met sukses ontplooi om aan daardie spanning te ontkom nie.

Wanneer ons dus Butler se werk wil aanhaal of die term queer wil ontplooi om aan te dui dat ons ’n sekere gegewe sonder heternormatiewe veronderstellings gaan lees, is dit (juis vir die voortgesette behoud van queer as ’n kritiese term) belangrik om voort te gaan met ’n kritiese selfbewustheid rondom queer ten einde te voorkom dat ons met net nog ’n essensialistiese kategorie van analise opgeskeep sit.

 

  • Jaco Barnard-Naudé doseer regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad.

     

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top