Media24 Boeke 2019: WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie – motiverings

  • 0

MEDIA24 BOEKE LITERêRE PRYSE 2019

W.A. Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie (roman, kortverhale of drama)

Keurders: Francois Smith, Sonja Loots, Kerneels Breytenbach

WENNER

Lodewyk G. du Plessis: Die Dao van der Daan van der Walt (Tafelberg)

Die skryfhand waarmee Daan van der Walt, afgetrede Kalahariboer, briewe aan sy oorlede hond en vrou skryf, en waarmee hy sy lewensgeskiedenis neerpen, is ’n oumens se hand. Dit is ’n hand wat taai koeispene gemelk het dat die skuim drie duim dik in die emmer staan, wat draad gespan het en selfs ’n oproerige volstruismannetjie aan die nek gegryp en tot bedaring gebring het. Dit is die hand waarmee Daan ’n eed in die Hooggeregshof gesweer het nadat misdaad die rus en vrede van sy plaasbestaan vernietig het. Dit is ook die hand wat in die gong fu-instrukteur Songtao s’n tot ruste kom wanneer Daan, tydens ’n verblyf in ’n Daoïstiese klooster in China, moet leer om sy kos met stokkies te eet. Dieselfde hand wat Songtao in syne neem wanneer hy en Daan oor ’n besige straat stap. En ja, dit is die hand waarmee Daan veel later vir Songtao stiplees soos ‘n mooi boek, waarmee hy oor sy jong minnaar se rondings tas en by sy wegsteekplekkies inglip. Ten slotte raak dit die hand waarmee Daan in talle boeke rondblaai, en waarmee hy sy ou vriendin Sannie Coetsee s’n vashou terwyl sy sterf.

Al hierdie oomblikke is deel van die lang pad, die dao, wat Daan van der Walt stap. En dit is slegs maar ’n klein skerfie van die verbluffende veelfasettigheid waarmee die roman Die Dao van Daan van der Walt, gepubliseer onder die skrywersnaam Lodewyk G. du Plessis, nog talle lesers hul hande sal laat saamslaan.

..................................

KORTLYS

Charl-Pierre Naudé: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (Tafelberg)

Dat ʼn digter dit durf waag om ʼn roman te skryf, en dan ʼn roman soos Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Maar die eintlike verrassing is Charl-Pierre Naudé se verbeeldingsvlugte, die onthutsende vermenging van historiografie en wetenskapsfiksie, van speur- en liefdesverhaal, van reportage en magiese realisme, van ongelooflike onskuld en geloofbare skuld. Naudé gebruik die kwantumfisika se konsep ewewêrelde, oftewel die moontlikheid dat jy in meer as een wêreld kan bestaan, om hierdie lywige roman se uiteenlopenhede bymekaar te hou.

Charl-Pierre Naudé is byvoorbeeld bloot die eweskrywer van ene Hermanus Verdomp, ʼn plattelandse joernalis wat ʼn roman nagelaat het oor ʼn reeks gebeure in die apartheidstyd op die Lyksovlakte. Hier het voorkoms altoos bedrieg; niks was voor die hand liggend of eenduidig nie. Hier is Dirkie Verwey een nag, terwyl hy in salige onskuld in sy bed lê en slaap het, deur die koster betrap waar hy hom op ʼn kerkbank oorgegee het aan sy skuldige begeerte vir Anna Bandjies. Dirkie word heen en weer geruk tussen ʼn wêreld van volkome onskuld en een van magsmisbruik, moord, verkragting en die ontugwet. Apartheid, die ganse Suid-Afrika, word ʼn absoluut geloofbare konglomeraat van ewewêrelde, en Charl-Pierre Naudé se prosadebuut word ʼn gedurfde, ambisieuse en aangrypende ontginning van die bestaan as ʼn komplekse naasmekaarbestaan van ʼn veelvoud van waarhede. 

..................................

Ingrid Winterbach: Die troebel tyd (Human & Rousseau)

Ingrid Winterbach se roman Die troebel tyd benut die eenvoudige gegewe van ’n vrou, Magrieta Prinsloo, wat haar werk bedank, ’n nuwe baan inslaan, en dan tydens ’n wandeling ’n ontmoeting het met ’n vreemde vrou wat haar bystaan in die oorgangsproses van haar lewe. Dit is ’n roman met  ’n ensiklopediese reikwydte, maar Winterbach ondermyn dié groter visie op kenmerkende manier deur te wys hoe moeilik dit is om antwoorde op alle vrae te vind in ons tydsgewrig. Winterbach se skryfstrategie is meersydig: die dubbele kodering van Japannese tantrastellings en mitologiese simboliek, ironie en pastiche in die speurverhaal-elemente, kognitiewe kartering van die wêreld soos Magrieta dit leer verstaan, en die soeke na die ontologies dominante element in Magrieta se Stellenbosse omgewing. Dit alles terwyl dinge soos klas, ras en gender-problematiek op eg-Winterbachiaanse wyse ingeweef word in die digte tekstuur van genres, vertelstrategieë, toespelings en parodie. Van die resensente van hierdie werk het dit as ’n kragtoer beskryf, met reg.

Lees ook

Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2019 bekend

Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis: ’n resensie

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé: ’n resensie

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé

Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach: ’n resensie

Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top