Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis: ’n resensie

  • 5

Die dao van Daan van der Walt
Lodewyk G du Plessis

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082521

Reeds van kleins af is Daan geleer dat daar sekere dinge is waaraan ’n man nie torring nie. Jy aanvaar bloot die sigwaarde daarvan omdat dit is soos dit is. Maar soos Daan ouer word, word die plek en ruimte waarin hy van kindsbeen af veilig en geborge gevoel het, bedreig. Sy magsposisie is hom ontneem, hy voel nie meer veilig op sy plaas nie, daar is groot fout met sy seun Jan-Willem en gevolglik geen vooruitsig op ’n erfgenaam of nageslag nie. Verder moet Daan gewoond raak aan ’n nuwe bedeling met kragonderbrekings, swak dienslewering, misdaad en gruwelike plaasmoorde. Oortreders stap helder oordag in strate rond sonder dat iemand hulle hinder, terwyl hy onskuldig en as ondergeskikte in ’n vuil, oorvol tronksel opgesluit word. Tog is daar ’n baie groter rede as die gewone irritasies van die nuwe Suid-Afrika wat Daan se rus en vrede versteur. Hy versteek sy ware self omdat dit nie inpas by die tradisionele manlike beeld wat juis sy identiteit tot nou toe onderlê het nie. Daarsonder is hy niks nie en nou word hy ook nog op ander terreine ontman: sy posisie as patriarg word uitgedaag, allerhande oumenskwale treiter hom, sy geheue is ook nie meer wat dit moet wees nie. Selfs sy seun kan nie meer vertrou word om die erwe van die vaders aan sy blonde blouoog kleinseun oor te dra wanneer dié eendag gebore word nie. Skielik is Daan, stoere Afrikanerboer en Dopper sedert geboorte, nie meer so seker wie en wat hy is nie, maar hy bly soek na daardie pilare wat hom aanvaarbaar in die gemeenskap gemaak het en nog altyd vir sekuriteit en dus ewewig gesorg het. Hy klou vas aan bekende sekerhede soos sy plaas, Bybel, kerk, waardes, tradisies en rituele om weer sin aan sy lewe te gee. Hy probeer sy manwees opnuut bevestig deur ’n voorskrif vir ietsie sterker as Viagra, doen inkopies by die plaaslike weduweeklub, gaan Sondag na Sondag getrou kerk toe, lees sy Bybel met nuwe ywer, maar al waarmee dit hom laat is ’n byna ondraaglike skuldlas. Uiteindelik verloor Daan sy ewewig en stort ineen. Jan-Willem gaan laai sy pa by ’n daoïstiese monnikeklooster in China af sodat hy “die weg” daar kan vind.

Aanvanklik wil Daan niks weet van dié volksvreemde instelling nie, maar hy sien ook geen lig in die eindelose donkerte waarin hy besig is om al hoe dieper weg te sak nie. Hier, in ’n gestroopte halfdonker sel, op ’n horrelpootstoel en by ’n onstabiele tafel, besluit Daan om sake in eie hande te neem: hy sal sy persoonlike Historia, as bevestiging van eie identiteit, opteken. Sekerhede uit die geskiedenis wat hom lewenslank op koers gehou het, sal weer sorg dat hy sy voete vind. Maar hóé hard Daan ook al probeer, dit blyk ’n futiele oefening te wees. Eers wanneer hy weg van die verlede na die toekoms kyk, besef Daan dat die pad wat agter hom lê, toe nie die enigste ware weg is nie. Geskiedskrywing word ’n lewensreis tot selfontdekking en Daan stel homself oop vir nuwe idees.

Hy begin sy lewe sien as ’n klein onderdeel van ’n groter geheel en leer ingevolge daoïstiese leerstellings dat die enigste sinvolle handelinge dié is wat in ooreenstemming met die gang van die natuur is. Sodanige handelinge impliseer dat idees of ideologieë wat mag lei tot te veel selfgeldende optrede of oordrewe toewyding aan ’n taak om wêreldse doelwitte te bereik, vermy moet word. Geweld en aggressie is die gevolg van onnatuurlike selfgeldende optrede, nie alleen in die groter opset nie, maar ook binne die individu self, met die gevolg dat sin en betekenis verlore gaan. Die weg van die natuur fokus op die spontane en eenvoudige. In plaas daarvan om krag te put uit die praktiese uitoefening van rituele en tradisies moet daar eerder gestrewe word na selfkennis, want alleen dan sal die individu se lewe sinvol wees. Die kernelement van Tái chi ch’üan as niereligieuse meditasie en spirituele praktyk is die aanleer van ’n metode tot selfkennis en -ontdekking sodat die betrokkene in kontak met homself en sy plek in die breër kosmos kan kom. Wanneer opponerende kragte op persoonlike vlak binne-in ’n individu geïdentifiseer is, word studente geleer om nie brute krag te gebruik om een van hierdie kragte te onderdruk of weerstand daarteen te bied nie, want in sodanige geval sal die uitkoms sonder uitsondering negatief wees. Die individu moet eerder met piëteit en sensitiwiteit die probleem aanspreek, want die weerlose “self” moet beskerm word. Daan leer dat hy die twee strydende magte binne-in homself, naamlik dit wat hy is en dit wat hy nog altyd probeer het om te wees (jin en jang) in balans moet bring. Selfkennis alleen is nie genoeg nie: daar moet ook eie aanvaarding en vergifnis wees; die stryd tussen goed en kwaad moet bygelê word; jin en jang moet in balans wees. Vir Daan beteken dit vergifnis, nie alleen van homself nie, maar ook deur sy vrou.

Kommunikasie, taal en woorde neem ’n belangrike plek in die roman in. Daan verstaan uiteindelik waarom Magrieta op sy vyftigste verjaarsdag vir hom ’n vulpen gegee het. Sy het veel meer begrip vir sy situasie gehad as wat hy ooit bereid was om te erken. Selfs nou, na haar dood, kan Daan steeds nie met haar kommunikeer nie, maar hy kan haar ook nie laat gaan nie. Hy is afhanklik van Magrieta, wat hy op soveel terreine te na gekom het, se vergifnis. Daarom probeer hy haar op verskeie maniere lewend hou: hy skryf briewe hemel toe en hoop dat sy iewers ’n leesbril te lene sal kry; hy praat snags met haar en gebruik ’n oormaat Latynse aanhalings in gewone gesprekke, want, sê Daan, wanneer ’n mens in ’n taal kommunikeer wat reeds uitgesterf het, wek jy dit tot nuwe lewe. Hier in die “Tempel van Ewige Vrede” ontdek hy die helende krag van woorde, verstaan hy waarom dit haar regop gehou het terwyl sy as gevolg van sy onbegrip vir haar behoeftes al hoe meer vereensaam het op sy dorre plaas in die Karoo met sy versengende hitte. Hy begin dit regkry om deur middel van woorde op papier stem aan die onsêbare te gee en vind heling.

Daan se eerste treë op “die weg” begin so ver terug as wat hy kan onthou. Hy stap getrou op eie voetspoor, verkry insig in sy foute en tekortkominge, alhoewel hy aanvanklik probeer om homself te oortuig dat hy ’n goeie landsburger en lid van sy kollektiewe groep was, ’n “ware Van der Walt van die plaas, Ystervarkfontein”. Hy delf diep in klassieke mitologiese verhale om vir hom te sê wat hy nog altyd geweet het. Daan begin wonder of hy nie maar nog altyd ’n kaartman aan ’n tou was nie (256). Hy leer dat waardesisteme, rituele, tradisies en religie wel ’n individu se kollektiewe identiteit bepaal, maar nie tot selfkennis, so noodsaaklik vir ’n sinvolle lewe, lei nie. Hy mag die stowwerige kombers van kollektiewe identiteit en die voorskrifte van die Dordtse Leerreëls en Gereformeerde Dogmatiek van sy skouers afgooi en homself verlos van versmorende skuldgevoelens, mensgemaakte wette en voorskrifte. So al skrywend begin Daan om sy leë bestaan met nuwe betekenis te vul. Hy leer dat ’n individu nooit te oud is om homself te aanvaar en te vergewe ten einde sy ware weg hier op aarde te vind nie. Kaalvoet is Daan Duiwelspiek oor, nou kan sy nuwe lewe begin.

Sonder om afbreuk te doen aan die verdienstelikheid van die roman, moet ek tog op ’n paar haakplekke wys. Dikwels swig skrywers, veral in debuutwerke, voor die versoeking om té veel stof aan te bied. Daar is net eenvoudig té veel in die roman. So byvoorbeeld vertel Daan vir Magrieta stories was sy duidelik behoort te ken uit hoofde van haar Latynse agtergrond en kennis van Engelse letterkunde. Ander opsies om hierdie inligting aan lesers oor te dra moes eerder ondersoek word indien die skrywer van mening was dat dit onontbeerlik is om die storie vorentoe te neem. Verder kry ’n mens die gevoel dat die skrywer nie sy lesers genoeg vertrou om tematies korrekte afleidings te maak nie. Op bl 218 verwys Daan byvoorbeeld na die storie van Gilgamesj wat “vir die dood kwesbaar gemaak moes word en op ’n lang reis moes gaan, die dieptes moes aanskou voor hy nederigheid geleer het”. En verder: “’n Verhaal wat ons sekerhede uitdaag, die rigiede grense tussen goed en kwaad bevraagteken, ’n soeke na balans.”

Die groot aantal metafore, vergelykings en vreemde woorde, veral in die begin van die roman (gluip, kanoeters, blaaskakerig, kleppermanspoëet, knittelryme) is nie altyd funksioneel nie en doen eintlik afbreuk aan die ander plekke waar hierdie stylfigure juis op meesterlike wyse aangewend is. Dit is juis onderspeelde metafore wat nie so voor die hand liggend is nie waarin ware trefkrag lê. Vergelyk byvoorbeeld die horrelpootstoel, lendelam tafel en half donker sel waarin Daan sit by die “Tempel van Ewige Vrede”, die oog van sy bokke wat hom gedurig dophou, Elsie met haar dubbelduimpie wat sy altyd wegsteek, die analogie tussen hogere letterkunde en Gereformeerde dogmatiek, die draaiende vliegtuigie bo Jan-Willem se bed, Daan wat as baba piepie oor die Heilige boeke in die konsistorie van die plaaslike gemeente en die feit dat beide Daan en dominee Flip lief is vir soetgoed.

Ander uitdrukkings is van die mooistes in Afrikaans, soos “Die nag spat aan skerwe” (98); “My somer het verflenter” (91); “Uitgeteer soos ’n lokasiebrak” (222); “Almal weet ’n getjie-tjie agter ’n bakhand is soos ’n wegholvuur” (185); en “Soos ’n koringkorrel in ’n graanmeul raak ek benoud” (255). Beskrywings van die liefde van ’n pa vir sy kind en veral die gedeelte waar Daan vir oulaas spore op sy plaas loop nadat dit verkoop is: “Ek het aanskou hoe my diere in trokke oor die paaie van my hart weggery word” (185) staan uit.

Lodewyk G du Plessis swem gemaklik saam met ander skrywers wat onlangs manlike identiteit en seksualiteit in Afrikaans ondersoek het (Eben Venter, Groen soos die hemel daarbo en SP Naudé, Die derde spoel). Die dao van Daan van der Walt voeg ’n ander dimensie by deurdat dit spesifiek fokus op ’n ouer Afrikaner-man vir wie dit as gevolg van institusionele handhawing van kollektiewe identiteit nooit voorheen nodig was om eie identiteit te bevraagteken nie. Die roman lewer op verskillende vlakke ’n bydrae tot die debat en verdien ’n plek op elke leser se boekrak. Op ’n manier is almal maar slagoffers van mensgemaakte wette en hierdie roman laat ’n mens met sagter oë na ander rondom jou kyk.

Marietjie Lambrechts
Navorsingsgenoot in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Junie 2018

  • 5

Kommentaar

  • Die boek was vir my beslis lesenswaardig en gee blyke van ryk lewenservaringe en deurdagte inhoud. Ek het die teks beleef as "te veel" - asof daar te hard gewerk is aan formulering, temas en onverbloemde akademiese kundigheid - te direk. Die ontginning van identiteit as nimmereindigende lewensopgawe is indrukwekkend. Die resensent lewer gebalanseerde kommentaar.

  • Arrie de Beer

    Ons is nou al op pad na twee jaar nadat hierdie resensie geskryf is. Die enigste reaksie was slegs een paragraaf uit 'n letterkundige hoek en een sin van dank aan die resensent.

    As nie-letterkundige wonder ek hoe hierdie proses werk?

    Ons het hier te doen met wat van alle kante af bestempel is as 'n belangrike boek en 'n vir die leek, 'n stewige resensie.

    Maar geen bespreking op waarskynlik Afrikaans se belangrikste letterkundige platform nie.

    Hoe werk dit?

  • Marthie Labuschagne

    Ek stem saam, Arrie, waar is besprekings? Ons Bethlehem Leeskring bespreek Dinsdag 14/07 Die Dao met Marinda Bender as spreker. Ek het hom pas klaar gelees. Het my geboei veral met die styl, die uitbeelding van die ewige worstelinge wat in die mens se siel roer, en vloeiende skryfstyl met juwele soos deur die bg. resensent genoem. Ek stem saam dat daar gesnoei kon gewees het aan die “te veel”... Ek het fyn humor ook geniet. Daan as stoere Afrikaner met ’n fynbesnaarde siel is vir my goed uitgebeeld. Dankie vir resensie hierbo. En vir die interessante boek, Lodewyk G du Plessis.

  • Ek het gekou en swaar gesluk toe ek die eerste keer die boek gelees het. My uitspraak: Swak konstruksie, asof die skrywer nie weet hoe om 'n roman samehangend aanmekaar te sit nie. Maar rondom my het lesers gedink hulle hou van die STORIE. Maar maak dit 'n boek goed geskryf?
    Nou lees ek 'n tweede keer en word my vermoedens bevestig. Dit begin met terugflitse met terugflitse binne die terugflitse. Gesprekke met sy vrou wat 'n skadufiguur bly en wat behalwe melktert aandra nie lyf het nie. Gesprekke met sy hond wat lei na nog terugflitse van homself en wroeging oor Augustinius en Ovideus. Die here se bydraes is myns insiens net bygehaak om darem te wys die skrywer is belese. Vir 'n leser het dit nul of geen betekenis, net so min soos die Latynse frases wat soos pêrels laat val word, maar eintlik net gruisklippers is.
    Te min boer en te veel filosofeer, maak Daan soos 'n dwalende gees deur sy lewe.
    As hy eindelik in China in die kluisenaarsel beland, gaan hy nou sy lewe opteken. Hy begin sommer om te vertel hy gaan nou 'n brief aan Magrieta skryf en nou is dit alweer terugflits en Kaspaas kry ook sommer 'n kans, maar van die formele skryf kom daar niks.
    Die skrywer vat 'n ewigheid om te beken dat hy intiem met 'n man wil wees en langs die pad moet ons nog vele Dawid en Gilgamesh en Enkiduu o.a. verduur. Net soos lesers ook klassies Tai Chi moet aanhoor.
    Die einde is die tipiese Mills and Boone. Haai, hy kry 'n nag saam met 'n man, sy seun is toe nie gay nie, sy leermeester is die se skoonpa en daar is 'n kleinkind. Sou dit wees wat die bewonderaars van die boek so aangryp?
    Net 'n laaste krapperigheid. Hoekom sou Daan sy seun verwerp toe hy verkeerdelik dink hy is gay? Ou Daan is dan self in die kas, dan haat hy homself mos by implikasie.
    Die Chinese Van der Merwe is darem te dik vir 'n daalder en is sweerlik ingespan om vir die lesers te vertel hoe werk Chinese begrafnisgewoontes en eerbetoon. Is dit funksioneel vir die storie? Dit kon net sowel 'n rubriek vir 'n tydskrif gewees het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top