Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé

  • 0


LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre Naudé is op 27 Augustus 1958 in Kokstad gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Grens in Oos-Londen. Charl-Pierre verwerf ’n honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch. Ná sy studies het hy as joernalis gewerk en onder meer resensies en artikels vir Vrye Weekblad gelewer. Sy eerste bundel, Die nomadiese oomblik, verskyn in 1995 by Tafelberg, en word in 1997 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Charl-Pierre se tweede bundel, In die geheim van die dag, ontvang in 2005 die M-Net-prys vir Afrikaanse poësie en die Proteaprys vir poësie.


Opsomming

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
Charl-Pierre Naudé
Tafelberg
ISBN: 9780624084341 

Op ’n dag in die vroeë sewentigs bemerk ’n afgeleë Noord-Kaapse gemeenskap ’n gebou in hul midde waar voorheen net ’n stuk braakgrond was. Drie weke later verdwyn die gebou . . . 

Lees ook oor die vreemde werklikheid van mense wat meer as een maal lewe, oor die jong man wat so skaam is dat hy nie op foto’s kan vertoon nie, en oor die intense liefdesverhouding van ’n paartjie wie se lewenspaaie net vir ’n paar sekondes gekruis het. 
                                ---
Die roman het gedien as ’n voorlegging vir die verkryging van ’n MA-graad in literêre teorie, kritiek en skeppende skryfkuns, gedoen aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, aan die Universiteit van die Vrystaat, in 2016.


Uittreksel

Boer moes so stadig soos met ’n ampsmotor bestuur, omdat die saamdrawwers soos ’n vlieënde miere, in sy woorde, om die kar gehou het. Die honde, half verveeld, was ook in die gevolg. Kort-kort het een van hulle grasieus vooruit gebokspring.

Slegs Dirkie was nie by nie, hý, die oorblywende seun. Hy was nooit meer by enigiets betrokke nie. “Die honde is nou my seuns,” was glo Boer se selfbejammerende woorde aan Alwyn.

Mevrou Verwey se ruit was oopgedraai en sy het haar gesig geïrriteerd getrek elke slag as een van die meelopers per ongeluk naby haar oor skree van die opgewondenheid.

Uiteindelik het entoesiastiese krete en ’n verskeidenheid wysvingers die ligging van die verskynsel aangedui: ’n pienkerige, lang gebou met annekse. Die flitsende blou lig van ’n polisiewaentjie was reeds daar.

Boer was kriewelrig. Hoe dié terrein voorheen gelyk het, kon hy nie op daardie oomblik onthou nie, hy kyk selde daardie kant toe. Maar dit het hy geweet: die gebou wat daar staan, het hy nog nooit gesien nie.

Die optoggie het van die hoofpad se kant, wat ’n hoek maak met die stofpad wat plaas toe loop, ingedraai. Die netjies uitgelegde terrein was slegs van die hoofpad bereikbaar, nie van die sypad se kant nie.

Boer en sy vrou het uitgeklim en mekaar se hande vasklem soos jare tevore voor die kansel. Hul blikke was vasgenael op die gebou.

Op die kennisgewingbord naby die gebou langs ʼn netjiese grasperkie het gestaan Hide Out en net daaronder die woord Motel. Op ’n neon-inritbord langs die hoofpad het dieselfde woorde in elektriese letters gebrand. Niemand wat die woorde afgeskakel het nie, net soos in die nagklubgedeelte van Durban. Die twee dienaars het nader gestaan.

Die ander aanwesiges het onophoudelik en opgewonde bly babbel. Die polisiemanne het hulleself intussen voorgestel. Steyntjie en Lemmer. Maar Boer het hulle skaars raakgesien. Sy vrou het gepaai: “Boer, ek dink dis die Indiër.”

“Seejay’s …? Wat dink júlle?” vra Boer die dienaars. “Is dit Seejay wat hier staan en bou het sonder toestemming?” Die dienaars het nie geweet nie.

“Is dit moontlik dat ons nie … ons grond besit nie?” het Ans gevra.

“Onmoontlik,” het Boer haar verseker.

***

Toe ek later dieselfde dag die gebou gaan bekyk, het ek dadelik besef dis dieselfde soort verskynsel as die paartjie in die kerk. Daar kon ook foto’s van geneem word. Daar kon selfs aan die geboue gevat word. Alles was so goed as werklik. Maar tegelykertyd was dit onwerklik.

’n Kriewelgevoel het my beetgepak: dat ek my dalk op meer as een plek bevind en deur ’n sameloop van omstandighede die mengsel daarvan ervaar. Daardie beskrywing deur Maria soos aangehaal deur vader Appel in sy joernaal som dit inderdaad op: soos ’n foto wat oor ’n ander foto geneem is.

Aan die ver regterkant van die terrein was daar ’n versaakte petrolstasie wat die kompleks waarskynlik bedien het. Dit was langs ’n laning palmbome. Palmbome is heeltemal uitheems vir die streek. Voor jy by die voorportaal inloop, het jy darem by drie plataanagtige bome verbygestap. Dié was darem Suid-Afrikaners.

Die boustyl had ’n Indiaans-Amerikaanse of selfs Afrika-aspek, soos ek later agtergekom het deur te kyk na foto’s in die busbiblioteek se National Graphic-tydskrifte. Onder die pleister was daar rou kleisteen. Soos in die ou Karoo. Maar hier, pienkbruin geverf, nie wit gekalk nie.

Houtsparre het bo aan die fasades uitgesteek, waarskynlik spanbalke. Die bousels was platdakke. By Boer se voete was daar ’n pyltjie netjies in die gruisblad ingelê, letters wat Office spel.

“Ons moet gaan vra,” het Mevrou benoud gesê. Boer het vooruit gestap, die dienaars langs hom. Hulle het na ’n deur wat in ’n nis versink sit, gestap en aangeklop. Niemand het oopgemaak nie. Boer het die deur oopgestoot en die groepie het tot in ’n voorportaal gestap.

Wat hulle aanskou het, was die een stille openbaring wat op die ander volg, soos ’n strokiesprent uit die hel.

Die kasregister se laatjie was oopgetrek. Daar was selfs ’n paar note op die vloer wat Mevrou blitsvinnig opgeraap het voordat die bediendes ingeskarrel gekom het. ’n Omgegooide stoel en ’n baadjie oor ’n kapstok was ook daar.

’n Deur na agter, na die terras van die binnehof, dié het oop gestaan. Daar was houtbalies met vars gewasde linne in die binnehof. En vars koeëlgate aan die buitemure. Daar was ook wat vir my gelyk het na ’n vars bloedspoor.

’n Vrouesandaal met die sool na bo gedraai en met ’n gebreekte hakriempie het aan die voorkant by die stoep gelê. Die dienaars het dit met die heen en weer loop opgemerk en die besoekers is gevra om alles net so te laat staan. Die skoen se maat en ’n ligte damestrui is op die grasperk naby die leë swembad aan die agterkant van die gebou aangetref. Daar was sleepmerke by. ’n Entjie verder, die geskeurde rok. Die polisie het reeds douvoordag, voor Boer-hulle gearriveer het, die stuk grasperk waar die bloedspoor was met polisielint afgekamp.

Die plek was goed versorg en onlangs skoongemaak. Van die kamerdeure en -vensters het oopgestaan. In een van die eenhede was ’n bad met krale vars water nog teen die kante.

“Boer!" het sy vrou uitgeroep. “Iemand gee water. Die varings is nat.” Maar daar was nie ’n dooie siel in die omtrek nie behalwe hulle, die geselskap.

’n Eetsaal met gedekte tafels was daar. Enkele motors tussen die eenhede geparkeer. Maar geen oornaggaste in sig nie. En, baie ongewoon, televisiestelle in die kamers. Let wel, daar was nog geen televisie in Suid-Afrika in Desember 1974 nie.

Hulle het dit gesien presies soos wat ek self drie uur later namens Die Weekpos die verskynsel gadegeslaan het. Dit was ʼn paar dae voordat ek die storie gepubliseer het en daardeur my die gramskap van Veiligheid op die hals gehaal het.

Was dit ’n lugspieëling? ʼn Fata morgana, soos dit staan in die ensiklopedie? Maar dan was dit een van steen en sement en alledaagse boumateriale. Slegs Die Gemsbok, ’n streekkoerant op Uping, het my storie gedra. En later, so het ek uitgevind, ’n moeilikheidsoekerige anti-apartheidkoerant van Oos-Londen, Daily Dispatches, wat enigiets sou publiseer wat skrikmaak. Nie een van die standvastiger koerante het ’n woord gerep nie. Die Volksnuus, my ou koerant, het ʼn brok daarvan gemaak en dit ʼn gerug genoem.

Ek het instinktief na my baadjie se binnesak getas waar ek ’n foto’tjie van my Anna styf teen my hart gebêre het. Ek het aan die hoofpad se kant aan die oorkant van die pad, van die verskynsel gestaan en my foto’s geneem.

Die foto van Anna was my amulet teen die onbekende, waarmee ek haar daagliks in my gedagtes teruggeroep het na die Lyksovlakte. Anna in my binnesak. Sy was nou al tien maande uit die Lykso weg. Ek het dié kopie’tjie laat maak van die foto wat teen die muur by my drukpers gehang het. En ek het nog gedink: is daar by hierdie verskynsel ook aantrekkingskragte tussen pole betrokke wat vir die blote oog onsigbaar is,? Soos in die geval van my en Anna?

Daardie vroueklere … die sandale, die trui en die geskeurde rok. Die sleepmerke … Want min dinge sien ’n mens sonder ’n rede. En daar was die plek se verdagte naam: Hide Out. Dit het mos beteken “wegkruipplek” …

Die foto wat langs die eerste berig oor die motel in Die Weekpos verskyn het. Die uitleg en boustyl is duidelik sigbaar. Amper driekwart van die vooraansig kon inpas danksy my zoemlens. (Foto: Die Weekpos.)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top