Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé: ’n resensie

  • 0

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
Charl-Pierre Naudé

NB-Uitgewers
ISBN:  9780624084341

Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey is dié bekende digter se eerste roman. Dit word in die voorwoord aangebied as die manuskrip van ’n “amateurskrywer”, Hermanus Verdomp, wat een van die hoofkarakters en die vernaamste verteller in die roman is. Die verteltegniek is ongewoon, aangesien Verdomp duidelik die storie aan die leser vertel soos hy dit meegemaak het (in die voorwoord word dit ’n “dokumentêre roman” genoem), maar soms ander karakters se stemme/perspektiewe verbeel om gebeure wat hy tweedehands gehoor het, aan die leser oor te dra. As leser is jy dus deurgaans bewus van die feit dat jy ’n oorvertelde verhaal lees – via die “C-PN” ( ’n verwysing na Naudé?) wat oënskynlik die voorwoord, nawoord en verskeie voetnote skryf; Verdomp, die eensame oujongkêrel-joernalis; en/of een van die talle mense met wie Verdomp onderhoude gevoer het om die groter verhaal aanmekaar te stik. Soos dit maar met oorvertelde stories gaan, veral oorvertelde stories op ’n klein dorpie soos die (fiktiewe) Lyksovlakte, weet die leser dus instinktief dat ons hier moontlik met net soveel stertjies as stories te make gaan hê. Verdomp (wie se naam assosiasies oproep met woorde soos “verdamp” en “verdomde” – sy karakterisering deur die loop van die verhaal maak wel hierdie assosiasies helder) kom ook uit die verf as ’n man wat nie altyd die mees neutrale waarnemer is nie . Boonop speel die roman af tydens die hoogty van apartheid, waar veiligheidspolisiemanne enige geluide (in een geval, letterlik) kan uitluister wat die staat in ’n slegte lig stel. Rekords en bewyse word dan ook telkens in die roman verwoes om mense en geheime te beskerm. Die leser maak dus die afleiding dat die sprekers “die waarheid” nie sommer so kan oordra nie , maar as vervlegte stories vertel om hulleself te beskerm. Die duidelike impak wat die trauma van intimidasie op die betrokkenes het, veroorsaak natuurlik verder dat die leser nie altyd oortuig is aangaande die akkuraatheid van die verhale wat Verdomp opteken nie.

Dié metaroman (oftewel: ’n roman-binne-’n-roman waarin die skryfproses sentraal staan) speel met verskillende genres – wetenskapfiksie (reeds in die voorwoord lees ons dat die verhaal oor “ewelewens” of “doppelgängers” gaan waar “identiese weergawes van sommige mense gelyktydig in dieselfde omgewing gesien is”), die plaasroman of selfs die kontreiverhaal (die plattelandse milieu waar dit afspeel, staan sentraal in die storie), die liefdesverhaal (eintlik liefdesverhale), psigologiese roman (diegene wat bekend is met die psigoanalise sal gou agterkom dat die roman wemel van die argetipes, simbole en drome; asook ’n paar psigiaters), en les bes, as magies-realistiese verhaal ( ’n soort verhaal waar die bonatuurlike of magiese naatloos met die reële vervleg word).

Aangesien die kwessie van “ewelewens” duidelik ’n sentrale gegewe in die roman is wat in die voorwoord én op die agterplat vermeld word, kan die leser vooraf vermoed dat die roman wetenskapfiksie is in die trant van een van die boek se deurlopende intertekste, die ikoniese film Close encounters of the third kind (vermeld as Close Encounters in die roman, ’n tipe “ewefilm” van die een wat in 1977 uitgereik is), asook die onlangse wetenskapfiksietelevisiereeks oor parallelle wêrelde, Fringe. Soos ek hier bo probeer illustreer, is Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey egter nie “scifi” in daardie sin nie. Dit is in werklikheid ’n moeilike roman om te beskryf – in die eerste plek omdat dit met soveel genres skakel, maar ook omdat mens maklik te veel van die storie kan verklap deur die temas en intriges te belig. Miskien is die beste manier om dit te bespreek deur dit met ander tekste in verband te bring.

Die roman speel af in die ou Noordweste (ook genoem Noordwes-Kaap), die gebied rondom Brandvlei, Upington, Kimberley en die Namakwaland. Uit die staanspoor het ek nogal aan George Weideman se Draaijakkals gedink – ’n roman wat ’n bonatuurlike speling het in die vorm van die draaijakkals, ’n legendariese trieksterfiguur, en in dieselfde wêreld (Weideman se geliefde kontrei) afspeel. Talle van die verwysings – ek dink hier veral aan van die vroulike karakters (die “bibliotekaresses” Anna en Sterretjie) asook die sjamane/velddokters soos Reent en oom Willempie – herinner weer aan van André Brink se skepsels in spesifiek Duiwelskloof, maar ook, in die geval van Reent, aan Ma-Roos in Houd-den-Bek. (Terloops, soos by Brink, vind ek die seksualisering van hierdie vroulike karakters soms problematies. Die aantal klitorisse en buitelende boesems raak ietwat dik vir ’n daalder.) Naudé se interessante spel met kleindorpse sielkunde (en veral kleindorpse apartheid-sielkunde) het my weer laat dink aan Lettie Viljoen se Karolina Ferreira en Buller se plan. Lyksovlakte se perverse, grootdoenerige apartheidsersantjie Kleinschmidt (met sy ongelukkige naam), is tipies van die humor wat Viljoen ook inspan. Humor is inderdaad een van die sterkpunte van hierdie lywige roman – selfs al word gewigtige temas hanteer. Uiteindelik het ek egter besluit dat die roman wat genre betref, my die meeste aan Etienne van Heerden se magies-realistiese werke oor ’n ander droë wêreld, die Karoo, laat dink: Toorberg, wat die onteenseglike rassevervlegtheid van die kunsmatig-geskepte apartheidsbedeling ontgin, asook Die swye van Mario Salviati as dit kom by die verweefdheid van verskeie lewens en stories. Op hierdie wyse (deur intertekste, eggo’s en herhalings) kom die ewelewens in hierdie roman uit die verf – ek het die heeltyd gevoel asof ek ’n soort déjà vu ervaar terwyl ek die roman lees (met wat binne én buite die roman staan), en die karakters deel hierdie gewaarwording.

’n Soortgelyke spel vind met die vermenging van feit en fiksie plaas. Daar is reeds vermeld dat Lyksovlakte, die piepklein Noordwesterse dorpie waar die verhaal grotendeels afspeel, nie regtig bestaan nie. Lyksovlakte en sy mense is vir iemand wat hierdie omgewing ken, egter wel tot ’n mate herkenbaar – van die dorpies daar “lyk (inderdaad) só”. Sommige van die plekname, soos Pella (met sy sendingstasie), Gariep en Pofadder is meer herkenbaar, terwyl ander, soos “Uping”, net half bekend klink. Deurgaans verskaf C-PN voetnote oor besonderhede wat skynbaar nie klop in die narratief nie – Upington het byvoorbeeld nie die treinspoor gehad waarna Verdomp verwys nie. Hierdie spel met feit en fiksie word ook met talle verwysings na historiese werklikhede gespeel. So besoek “Eerste minister Vorster”, “PW Botha” en “doktor Diederichs” die dorpie tydens ’n landwye toer. Naudé se humoristiese (uiteraard gefiksionaliseerde) sketsing van die interaksies tussen hierdie politieke leiers is so onderspeel dat dit byna geloofwaardig is. Verder verander hy, soos in die geval van plekname, dikwels net so effens die eiename van ander Suid-Afrikaanse en internasionale bekendes sodat ek twee keer moes dink of ek reg lees – en reg onthou. Op ’n kol verskyn ’n leë motel, die Hide Out Motel, oornag op ’n plaas in die Lykso-distrik. Dit verdwyn dan ook weer sonder waarskuwing. Ek kon nie anders as om deur die beskrywing en foto’s (glo geneem deur Verdomp) aan ’n motel herinner te word waar ek self in die negentigs naby Springbok oornag het nie. Dít was vir my die bekoring van die roman – die verwewing van gegewes maak dit bekend, maar ook totaal onbekend, nes die dubbelgangers wat in dieselfde en parallelle wêrelde leef. Naudé gebruik die mooi metafoor van twee foto’s wat oor mekaar geneem is om hierdie verskynsel te beskryf. Die kyker is dus nie presies seker of die beeld wat hy/sy sien tot een of meer tonele behoort nie. Elders word die metafoor van ’n deurskynende smuktassie ook ingespan om oor die binne-buite-verhouding ten opsigte van die werklikheid te besin – wat bestaan binne die gedagtewêreld en wat bestaan daarbuite? Watter een van hierdie wêrelde kom eerste en is “die regte een”? Poëtiese seggenskap is dan ook een van die kenmerke van hierdie roman, en vir diegene wat Naudé se poësie-oeuvre ken, sal dit opval dat sy debuutroman ’n tipe omgekeerde refleksie van sy gedigte bied, aangesien Naudé veral bekend is vir die narratiewe struktuur van sy verse.

Hoewel die digterlike kwaliteit van die roman ’n sterkpunt is, bring dit mee dat dit stadiger lees en die teks redelik dig is. Ek het egter gevind dat dit juis ’n roman is wat nie oor ’n lang periode in veelvuldige sarsies gelees moet word nie, maar in enkele sittings. Daar is gewoon te veel besonderhede, asook te veel karakters en verwysings wat veroorsaak dat mens maklik die draad kan verloor. Hierdie faset skakel dan ook met my enigste werklike punt van kritiek: die roman kon sterker gewees het met die nodige redigering. Sekere tonele dra nie genoeg tot die verhaallyn of atmosfeer by om die bestaan daarvan te regverdig nie. Ander beklemtoon weer ’n waarheid/tema/idee wat reeds goed gekommunikeer is. Die roman is ryk en kompleks. Van hierdie toevoegings raak oorbodige vet wat eerder afgesny kon gewees het.

Ten slotte is Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey ’n fassinerende roman. Een wat lesers om verskeie redes sal bybly lank ná hulle dit gelees het.

Lees ook

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey: ’n onderhoud met Charl-Pierre Naudé

Video: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé word bekendgestel

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top