Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 2

Die troebel tyd
Ingrid Winterbach
Human & Rousseau
ISBN: 9780798177665

“Seeing is not as simple as it looks”[i]

Die troebel tyd, Ingrid Winterbach se nuutste roman en wenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd, 2018, is ’n kragtoer. ’n Roman vir die fynproewer.

Die storie handel oor die emosionele ineenstorting van dr Magrieta Prinsloo een oggend vroeg in Januarie.[ii] ’n Groot donkerte, ’n woedende bedruktheid pak haar beet. Sy verwerp haar man se toenaderings, beledig en vervreem vriend en vyand, en verwoes eiehandig ’n belowende loopbaan as gerekende soöloog en akademiese navorser van formaat. Uitgewerp in die buitenste duisternis, is sy genoodsaak om ’n administratiewe pos by die Buro vir Voortgesette Onderwys te aanvaar. Met Markus Potsdam aan die stuur van sake is dit gou duidelik dat alles hier nie so kosjer is soos wat dit met die eerste oogopslag lyk nie. Werksaamhede geskied onder ’n dekmantel van geheimhouding en sake word maklik onder die mat ingevee. Magrieta kan nie mooi uitpluis waarom daar van haar verwag word om agente (medewerkers) op vreemde en dikwels geheimsinnige plekke te ontmoet nie.

Tantra-kunswerke (bron: wikipedia)

As matriks vir haar roman gebruik Winterbach Japannese tantraleerstellings en mitologiese simboliek. Hierdie filosofiese denkrigting is nie ’n eenvormige religieuse tradisie nie, omdat tekste esoteries en polisemies is. Die inhoud, rituele en praktyke is vloeibaar en onderhewig aan voortdurende verandering, ’n idee wat aansluit by die oorkoepelende tema van Die troebel tyd.

’n Kunswerk van hierdie omvang vereis veelvlakkige tematiese ontledings. In hierdie bespreking word gefokus op aspekte wat bydra tot die interpretasie van die roman, wat meesterlik opgebou is tot ’n hegte eenheid uit verskillende betekenislae en verstrengeling van ’n netwerk verwysings. Elke verwysing vervul ’n pasklaar funksie binne die tematiese ontwikkeling van die roman en oorontginning belemmer nie die ontwikkeling van die storielyn nie.

Die verwysings na die terrible deities[iii] en ’n bekende seksuele ritueel, integraal deel van die esoteriese tantraleerstellings, dien as algemene raamwerk waarteen die roman tematies ontleed behoort te word. Die ritueel verwys onder andere na die gewelddadige, sadistiese en genadelose wyse waarop mense met hulself en die omgewing omgaan. Hiermee saam ook die kosmiese proses, evolusie, reïnkarnasie en die opwekking van transenderende energie. Die tantra beklemtoon dat hierdie energie, verbind met begeertes en instinkte, mooi en noodsaaklik is. Dit word destruktief wanneer dit óf ontken, óf as die enigste faktor of doelwit in die lewe en ervaringswêreld gesien word. Die rede waarom die mitologiese godinne so ’n belangrike plek in die roman inneem, is om te illustreer dat negatiewe energie en emosies positief getransformeer kan word.

Binne bogenoemde raamwerk skilder die skrywer die verskillende karakters, benoem of onbenoem (bl 26), wat hulleself, net soos Magrieta, in ’n troebel tyd bevind en metodes vir emosionele oorlewing probeer vind. Sommige laat hulle vrywillig opneem in psigiatriese inrigtings (Markus Potsdam), ander gaan sit in sak en as langs ’n huisie by die see en oorweeg selfdood, terwyl eksistensialistiese teorieë of die insigte van skrywers as ’n bron vir oorlewingstrategieë ondersoek word. Al die boeke op Markus Potsdam se boekrak hou verband met die mens se soeke na homself (78). Jerry Olivier, paleoklimatoloog, bestudeer die insigte van Heidegger (13), terwyl veel meer oplossings te vinde is in sy eie spesialiteitsgebied. Heidegger gaan van die veronderstelling uit dat bestaan in die wêreld integraal deel is van die wêreld self.[iv] Om die wêreld te verstaan, is om jouself te verstaan, en dit is juis op hierdie punt dat die arme man besef dat een van die belangrikste Westerse filosowe van die 20ste eeu ook geen antwoord bied vir sy probleme nie. As hy hierdie uitgangspunt aanvaar, beteken dit dat ook sy eie lewe in ’n chaotiese toestand is. Die beperkende rol van eksistensiële teorieë word weerspieël deur die feit dat Olivier se bewegingsvryheid aan bande gelê word deur die rolstoel waarmee hy oor die weg moet kom.

Die roman daag Westerse psigiatriese praktyke uit, want, gee die psigiater toe wat Magrieta met ’n verkeerde dosis antidepressante behandel het, psigiatrie is veel eerder kuns as wetenskap. Om die hele tyd te fokus op die pad wat agter jou lê, gaan geen permanente oplossings bied nie[v] en Die troebel tyd stel nuwe terreine voor waar oplossings van ‘n meer permanente aard gesoek kan word.

Tantraleerstellings benader die bestaanswerklikheid van die mens vanuit ’n unieke perspektief en fokus op die innerlike psige van waar alle aksies, gedagtes en interaksie met ander gemotiveer word. Oplossings lê nie in omstandighede buite die mens nie, maar binne-in sy eie psige (69). Daar is net een manier waarop rus en vrede, selfs geluk, bewerkstellig kan word, en dit is deur ’n reis na die innerlike sfeer van die gees. Slegs in hierdie ruimte kan die ware essensie,[vi] die primordiale oorsprong van dinge, weer opnuut as nuwe vertrekpunt ontdek word. (Vergelyk die verwysing na William Blake se gedig “The mental traveller” (1803) uit ’n aanvanklik ongepubliseerde versameling, The pickering manuscript.)

As riglyn vir hierdie transenderende reis stel die tantra vier bardo-fases[vii] voor om die mens op sy reis te begelei, waarvan elkeen ’n unieke rol en betekenis in die kosmiese orde van die mens se bestaan vervul. Die eerste fase, bekend as “die natuurlike bardo van hierdie lewe”, oorspan die tydperk tussen geboorte en sterfte en is bedoel as ’n oorgang, ’n brug[viii] na die bardo’s wat na die dood intree. Dit is die periode waarin die individu gedurende sy lewe op aarde homself moet voorberei vir die bardo van karma[ix] en opvolgende bardo van dharmata.[x] Die laaste fase, die bardo van wording, tree as laaste oorgangsperiode in en duur tot die individu se hergeboorte.

Die rede vir hierdie “in-die-lewe”-voorbereiding is dat die mens, wanneer hy sterf, oor dieselfde karaktereienskappe, foute en tekortkominge beskik as wat hy gedurende sy leeftyd gehad het. Dit is daarom noodsaaklik dat hy reeds gedurende die natuurlike lewe hiervan bevry moet word. Gedurende hierdie fase verkry die individu transendentale insig uit direkte ervarings wat met die werklikheid voor die dood verband hou (Rinpoche 2002).

Oorgangsperiodes word altyd met tye van groot onsekerheid, onstabiliteit en emosionele verwardheid[xi] geassosieer. Hierdie konstante onsekerheid laat alles bleek en eintlik hopeloos lyk, maar as daar vanuit ’n nuwe perspektief na die omstandighede gekyk word, is daar tog ruimtes of geleenthede (bardo’s) waarin veranderings moontlik word. Die “bardo van die natuurlike lewe” is dus ’n brug, ’n rite de passage tussen twee vaste punte (lewe en dood), die oue en die getransendeerde nuwe.

Hoe meer onstuimig die wêreld en omgewing word (53), hoe meer gefragmenteerd die individu. Uit voeling met sy eie innerlike psige en ontneem van emosionele kontak met ander,[xii] is die mens angstig, rusteloos en heel dikwels paranoïes[xiii] (14). Klein krisisse neem epiese afmetings aan en ’n enkele oomblik van paniek bewys hoe haglik en onstabiel alles is.

Mense, dus ook Magrieta en trouens feitlik al die ander karakters in die boek, bevind hulle simbolies voor die poorte van die hel, in ’n angswekkende ruimte:

Midway this way of life we’re bound upon
I woke to find myself in a dark wood,
Where the right road was wholly lost and gone.[xiv]

Hierdie woorde van Dante onderstreep presies wat die bardo is: ’n voortdurende, ontstellende ossillasie tussen helderheid en verwarring, verbystering en insig, sekerheid en onsekerheid, gesonde verstand en waansin. Die mens word dus voortdurend gekonfronteer met ’n keuse tussen twee uiterstes en alles hang af van watter keuse uitgeoefen word. Om die regte keuse te maak, moet ’n individu periodes van afsondering of stiltes beleef. Dit is alleen moontlik as alledaagse take en verpligtinge vir ’n tydperk agterweë gelaat word. ’n Siekte, en opname in ’n psigiatriese hospitaal (Markus Potsdam) of volledige afsondering (die wit vrou van die wingerde), is daarom van kardinale belang.

Alvorens die individu met sy soeke na permanente oplossings begin, moet probleemgebiede geïdentifiseer word. Visie speel daarom ’n belangrike rol in die tematiese ontwikkeling van die roman. Nie alleen het een van die mitologiese godinne na wie in die roman verwys word, drie oë om metafories in alle verskillende rigtings te kyk nie, maar verskeie prehistoriese diere het oor evolusionêre sintuie beskik wat noodsaaklik was vir oorlewing. Vergelyk byvoorbeeld verwysings na die Opabinia[xv] met vyf oë, die Anomalocaris[xvi] (31), beskryf as die gevaarlikste en grootste roofdier van sy tyd, met buitengewoon groot oë waarmee sy prooi nader gelok is, terwyl ander gediertes weer deur middel van hul oë elektriese skokke uitgestuur het om hul prooi te verlam. Die boodskap is dus duidelik: Die mens sal by die ware essensie van dinge uitkom slegs as hy met insig en begrip na nie net homself nie, maar ook die omgewing rondom hom kyk. Vergelyk byvoorbeeld die drama Endgame deur Samuel Beckett, waar een van die akteurs ’n teleskoop wat na die gehoor wys na homself terugdraai sodat hy ’n teleskopiese blik op omstandighede binne sy eie bestaansfeer kan kry.[xvii]

Die tantraleerstellings beklemtoon dat die natuur en mens uit dieselfde elemente bestaan en integraal deel is van dieselfde kosmiese proses.[xviii] Daarom word hulle deur dieselfde prosesse beïnvloed en is hulle vir hulle voortbestaan van mekaar afhanklik.[xix] Gesien teen hierdie agtergrond, is dit te verstane dat die aarde vanuit sy diepste kern die bedrywighede op sy oppervlak dophou. Dit geskied deur die beeld se oë waarvan daar in Jakob se boek op bl 102 van die roman sprake is. Die obsidiaan van die irisse is gevorm uit harde glinsterende swart rots, bekend as lawaglas. Dit is ’n soort natuurlike glas wat deur vulkaniese werking[xx] ontstaan. Die irisse van die oë wat sien, kyk uit die diepste kern van die aarde. Die oogwit, gemaak van skulp, verwys na die ander landskap waaruit lewe ontwikkel het, naamlik die see. In hierdie toneel kyk die beeld as metafoor van ’n verwoeste aarde na ’n woestynagtige landskap, ’n dawerende stilte en die groot oop niks wat gaan agterbly. Die aarde as lewende organisme sien reeds die eerste tekens van sy eie vernietiging en kan, net soos die mens, niks verander aan die uitkoms van die kosmiese proses indien daar nie teruggekeer word na die primordiale, fetale beginfases van die evolusieproses nie.

Wanneer die mens deur middel van waarneming begrip ontwikkel vir die korrelasie tussen oorsaak en gevolg, is hy ook in staat om op ander vlakke verbande raak te sien. Noukeurige waarneming lei die individu tot ’n verhelderende insig in en begrip van sy eie psigiese omgewing, én ook ten opsigte van die ruimte waarbinne hy hom bevind (98, 170). Hiervolgens skep elke individu sy eie bestemming deur middel van sy gedagtes, woorde en dade. In breë verband beteken dit dat aksies kulmineer in enkele saamgevoegde gevolge met verhoogde intensiteit (Blavatsky in Humphreys 1948). Die impak is dan soveel meer intens en katastrofies. Dit is in hierdie sin dat die konsep van oorsaak en gevolg wat so integraal deel van tantraleerstellings is (Kelly 2007), toepassing vind in die roman.

Om ’n hoër bewussyn te ontwikkel vir die belangrike posisie wat die “die bardo van die natuurlike lewe” binne die persoonlike bestaansverband inneem,[xxi] beteken dat die individu ’n begeerte moet hê vir transendering. Begeerte in hierdie sin sluit ook aan by die gedagte dat transendering deur middel van die evolusieproses noodsaaklik is vir oorlewing. Die walvis moes verander en aanpas by omstandighede (150). Ook die mens moet transendeer, aanpassings maak, sekere dinge aflê en ander aanvaar.

Die betekenis van begeerte, deur baie interpreteerders van tantraleerstellings primêr verbind met seksuele behoeftes, strek veel wyer, veral as dit in verband gebring word met drie ander konsepte, naamlik kamā, śakti en kundali.

Volgens kamā sluit begeerte nie alleen alles in wat plesier verskaf nie, maar is dit ten nouste verbonde aan primêre doelstellings, naamlik artha (mag en rykdom) en dharma (religieuse en sosiale pligte). Hierdie drie lewensdoelwitte, naamlik begeerte, mag en religie, is intiem en onlosmaaklik met mekaar verweef. Kamā word verbind met ’n begeerte om die energie wat binne-in die liggaam en die kosmos opgesluit is, te ontsluit en te kanaliseer na daardie doelwitte waarna die mens streef. Begeerte beteken niks sonder die vermoë om bevoeg te wees tot daadwerklike optrede nie, en dit is presies wat met die begrip śakti bedoel word (Urban 2010.)

Seksuele eenwording deur beoefening van die kundalinī sakti-ritueel wek energie (innerlike vuur of mag) op wat binne-in elke liggaam opgesluit lê. Dit word voorgestel deur ’n opgerolde voorwerp in die vorm van ’n slang aan die basis van die rugstring. In gewone mense is die krag van hierdie opgerolde slang rustend, maar deur die tegnieke van die kundalinī joga word hierdie krag opgewek en styg dit deur die liggaam en herenig met Sjiva. Hierdie kragtige energie, verbind met die instinkte binne-in die individu, is noodsaaklik en mooi. Dit word destruktief wanneer hulle óf ontken óf as die enigste dryfveer vir die lewe en ervarings gesien word. In terme van die tantra word hierdie energie in die eerste instansie gebruik as begeerte tot dharma. Insig wat op hierdie manier verkry word, lei tot groter insig in die werkinge van die kosmos. Hierdie uitgangspunte sluit aan by die tantraritueel op die eerste bladsy van Die troebel tyd.

Daar word verskeie kere in die roman na hierdie bron van primordiale energie (shakti[xxii]) verwys (96). Ontsluiting hiervan is nodig omdat slegs ’n geweldige elektriese skok[xxiii] genoeg impak sal hê om Magrieta uit haar dodelike torpor te lig,[xxiv] maar dit is eers na verskeie elektriese skokke deur haar hele liggaam dat hierdie waarheid tot haar deurdring. Elke mens vind ’n unieke manier om tot sy persoonlike psige deur te dring en dit word bevestig deur die feit dat die wit vrou van die wingerde uit eie beweging besluit om stilte en afsondering op te soek (140). Hierteenoor weier Markus Potsdam om uit sy eensaamheid verlos te word. Dit beklemtoon die feit dat hierdie reis op niemand afgedwing kan word nie. Dit moet uit eie inisiatief begin word, en hierby sluit ’n verwysing na An episode in the life of a landscape painter van César Aira aan. Die hoofkarakter verloor tydens ’n besoek aan die Pampas byna sy lewe. Weerlig laat die perd waarop hy ry, skrik, César val af en word in die dier se ontsnappingspoging agter hom aangesleep. Die voorval het hom afskuwelik vermink. In César se herstelproses om liggaamlik te herstel, sien hy nou die landskap op ’n heel ander manier, uit ’n veranderde visie.

Die gevolge van al die ellendes[xxv] bou Winterbach uit met ’n verwysing na William Blake se gedig “The mental traveller” (1803). Dit is ’n feit dat negatiewe persepsies of optredes onder sekere omstandighede so in gemeenskappe geïnternaliseer is dat dit as die norm aanvaar word. Voorbeelde hiervan is diskriminasie[xxvi] en die ontkenning van menswaardigheid. Hierdie praktyke hou verband met etnisiteit,[xxvii] patriargie (geslagsverhoudings en ouerskap)[xxviii] en religieuse konsepte soos hemel en hel[xxix], sowel as onderdrukkende ideologieë soos Naziisme.[xxx]

Die prokureur op Johannesbaai is, ten spyte van slegs ’n eenmalige verskyning in die roman (127), juis belangrik omdat sy gesprek met Magrieta die mensdom daaraan herinner hóé vinnig barbaarse optredes wat mense teenoor mekaar pleeg, vergeet word. Dit ten spyte van die feit dat die gevolge vir geslagte nadat die onreg gepleeg is, steeds bly voortleef in die geheue van die betrokke gemeenskap. (Vergelyk ook die verwysing na die skildery van die Medusa-skeepsramp in Magrieta se kombuis (174) tydens Barry Oberholzer se laaste besoek aan haar voor sy selfdood.) 'n Wit Afrikaanse vrou versoek dat die Duitse liedjie “Audieu, mein kleiner Gardeoffizier” tydens ’n versoekprogram op die radio gespeel moet word, blykbaar sonder om die ware betekenis van die lied in die breër konteks van die wêreldgeskiedenis te verstaan. Die roman wys uit dat ideologieë 'n rakleeftyd het.[xxxi] Dit laat ondersteuners met rooi gesigte wanneer omstandighede verander, daarom die ironiese opmerking op bl 161 van die roman.

Omdat “die bardo van die natuurlike lewe” transendering veronderstel, is daar voorbeelde in die roman waar individue losbreek uit die “swaddling bands” waarvan Blake in sy gedig praat. Een voorbeeld hiervan is moederskap, wat beide moeder en kind vasbind. Die skrywer onderstreep die noodsaaklike feit dat die emosionele naelstring tussen moeder en kind deurgeknip moet word (58, 99) sodat laasgenoemde bevry kan word uit die toegespinde kokon van moederliefde en oorbeskerming.

In ooreenstemming met die tantra se oorheersend feministiese aanknopingspunte, neem nie net diskriminasie en onderdrukking van individue ’n belangrike posisie in nie, maar veral ook die magsverhouding tussen verskillende geslagte. As die matriks van mag, die lewegewende moeder wat lewe gee aan die heelal en sorg vir die “goddelike” energie wat alles onderhou en instandhou (Urban 2010), word die veranderde posisie van die vrou teenoor die man veral op seksuele gebied voltrek. Daarom neem vroue (godinne) die inisiatief by seksuele tantrarituele en skakel hulle op hierdie wyse by veranderende magsrolle tussen mans en vroue in.

Waar Willem voorheen daaraan gewoond was dat Magrieta soos ’n gewillige lam ter slagting skaars deelgeneem het aan die opeising van sy huweliksregte, is sy die een wat nou die inisiatief neem. Trouens, hy bevind hom in ’n ondergeskikte posisie met sy vrou wat bo-op hom sit en hom feitlik geen beweegruimte toelaat nie[xxxii] (99–100). Barry Cilliers se bewerige buitelyn (94) en Willem se kwesbare oë met emosies wat ondergronds loop (170) dui daarop dat vroue[xxxiii] nou na die sentrum van verskeie lewensterreine beweeg, tradisionele rolle oorboord gooi en nie meer vir lief neem met ’n ondergeskikte rol nie. ’n Verdere grens in die magsverhouding tussen mans en vroue word oorgesteek wanneer Magrieta uit ’n onbekende oord uitgenooi word om as beskermvrou vir die Vereniging van die bewaring van walvisse op te tree, ’n posisie voorheen uitsluitlik as manlike domein gereserveer (153).

Benewens die inisiatief by seksuele aktiwiteite betoog prostitute openlik – ’n insident op die oog af heel onbenullig, maar op breër vlak binne die troebel tye van die samelewing, ’n unieke gebeurtenis, omdat vroue nie alleen teen bepaalde ideologiese uitgangspunte en ’n bepaalde lewenswyse betoog nie, maar ook teen dominasie en misbruik (110–1). Hierdie beeld sluit ook aan by die feit dat misbruik van die aarde self, na aanleiding van die konsep van oorsaak en gevolg, in opstand kom en op allerlei wyses in die natuur sy misnoeë te kenne gee. Al het vroue uitgebreek uit die patriargale kokon, dra sommige, net soos die aarde, lewenslank blywende letsels.[xxxiv]

Mans wat nog altyd gedink het hulle is in beheer, is nou die gestremdes en moet met rolstoele oor die weg kom (19, 21). Gewoond daaraan om onder groot geheimhouding bende-bende te speel (135), hou ’n vereniging vir die behoud van walvisse, met uitsluitlik mans as lede, hulself met beuselagtighede besig. Verkyker in die hand, mis hulle die objek van hul missie. Magrieta wat, sonder enige hulpmiddel, rustig op ’n rots oor die see sit en uitkyk, word die enigste getuie van ’n natuurwonder: reg voor haar oë spring ’n reusebaleinwalvis drie[xxxv] maal hoog uit die see.

Dat alle mans nie dieselfde is nie, word uitgebeeld deur die karakter van Joshua, Markus se broer. Hy aanvaar homself net soos hy is. Sy Joodse etnisiteit is nie meer vir hom ’n probleem nie en hy gaan orals in die wêreld om oor kultuurgrense heen en ongeag ideologiese of religieuse oortuigings hulp aan te bied. Hy behandel Magrieta soos ’n gelyke – respekvol en met menswaardigheid (137).

Die tipe navorsing waarmee wetenskaplikes besig is, is ’n ander aspek in die roman wat die veranderende rolle van mans en vroue uitbeeld. Voor Magrieta se emosionele ineenstorting is sy besig met navorsing oor die evolusionêre ontwikkeling van die filum Annelida (erdwurm) uit die Ordovisium-periode,[xxxvi] ’n diertjie wat nie sy skakel met sy akwatiese voorouers verloor het nie (150) en ’n onontbeerlike rol speel in die kosmiese siklus en evolusionêre proses. Anders as haar manlike eweknieë,[xxxvii] besef Magrieta dat wetenskaplike navorsing ’n terugkeer na die primordiale ontstaansperiodes[xxxviii] vereis. Dit is die enigste manier om weer die kernelemente as basis te isoleer waarvandaan wetenskaplike eksperimente en navorsing van stapel gestuur behoort te word. Sodanige vertrekpunt sal sorg vir die formulering van ’n werkbare hipotese en wetenskaplike navorsingsresultate. Dit is om hierdie rede dat sy spesiale moeite doen om twee keer na die selekant te gaan kyk (94–5), omdat die dier die eerste voorbeeld is van afsplitsing waaruit landdiere ontwikkel het (103).

Hierdie insig gaan egter by Magrieta se manlike kollegas verby. Hulle gebruik duur wetenskaplike toerusting en finansiële hulpbronne (148) om nie alleen ’n nuttelose meganiese eend te skep nie, maar ook ’n bioniese rog, nogal by een van die wêreld se toonaangewende universiteite.[xxxix] Geeneen van hierdie eksperimente sal ooit ’n blywende bydrae lewer tot die voortbestaan van die kosmos nie. Hier, in die klein ruimte van ’n laboratorium, hoop Swiegers om ’n wetenskaplike deurbraak te maak, terwyl die heelal waarvan die aarde maar ’n klein onderdeeltjie vorm, reeds besig is om af te stuur op ’n ramp as gevolg van “dark energy”. Die “berekende oog” van die meganiese eend hou die ingeperkte, kunsmatige wêreld wat die mens vir homself geskep het, dop. Die hele wetenskaplike oefening is tot mislukking gedoem en dit word bevestig wanneer die eend verwoes word.

Dis ’n vrou wat die eerste tree in die “die bardo van die natuurlike lewe” gee. In volkome afsondering,[xl] met net ’n tent as tydelike woning, bevind sy haar in die wingerde, seker een van die beste plekke om die veranderende fases in die kosmiese siklus te aanskou. Vergelyk ook die verwysing na die herfsblaar (64), die winterreëns wat weer begin val en die nuwe druiwetrossies. Hierdie siklus word verbind met die verskillende fases in die vrou se lewe en die verskillende handelinge en gepaardgaande gevolge uit haar eie lewe waardeur die vrou reeds geworstel het. Sy besef die besoekinge tydens haar aardse reis is opgeefsels van haar eie gees (63). Haar ontdekkingstog, weg van aardsgebonde hindernisse, het dit vir haar moontlik gemaak om die ware essensie wat binne-in haarself opgeberg was (56), opnuut te ontdek en die verbinding met haar psige te herstel. Sy klop reeds aan die deur van die volgende bardofase. Die dooie kind van haar drome is niks anders as ’n verpersoonliking van haarself nie. Uiteindelik word Maria Stoffels, die bruin vrou wat sterf, ’n personifikasie van die wit vrou en simbolies verbind met die voltooiing van haar periode in “die natuurlike bardo van hierdie lewe” (63).

Transendering binne ’n bardofase is slegs moontlik deur bystand van ander wat reeds die reis suksesvol voltooi het (65). Daarom is die wit vrou van die wingerde in die posisie om vir Magrieta by te staan. Om dieselfde rede kan Magrieta weer vir Markus Potsdam help, maar die uitkoms van sy reis bly onseker. Die gate-motief wat in die roman met verskillende subtemas verbind word, onderstreep die gedagte dat ’n individu wat nie na oplossings op die regte plekke soek nie, homself in ’n gat, ’n doodloopstraat, bevind. So byvoorbeeld sien Barry Oberholzer geen uitkoms uit die gat waarin hy hom bevind nie en pleeg selfdood. Hierby sluit ook die prostituut van Babilon aan, en haar ooreenkoms met Rome, op ’n stadium beskou as die sinkgat van die Romeinse Ryk.

Anders gesien, kan gate ook deurgangsroetes wees. Die gate in die wingerde waar Magrieta die wit vrou kry, is aanduidings dat laasgenoemde figuurlik gesproke reeds op pad is na ’n ander wêreld. Vergelyk ook die feit dat sy na haar ontmoeting met Magrieta op bl 59 in ’n ander rigting en op haar eie pad wegstap.

Magrieta begin stadig maar seker bewus word van die verskillende stadiums binne “die bardo van die natuurlike lewe”, soos telkens aan haar opgedring word deur die leviatian-boodskappe agter toiletdeure.[xli] Laasgenoemde is metafoor vir die feit dat sy haar in ’n ruimte bevind waar van onsuiwerhede ontslae geraak word, maar die essensie van hierdie boodskappe dring eers veel later tot haar deur.

Die walvis, metafories verbind met die leviatan en die drie boodskappe, speel in aansluiting by die evolusieproses ook ’n belangrike rol in Magrieta se transendering in “die bardo van hierdie lewe”. Hierdie reis impliseer verlies en transendering, op beide fisiese en psigiese vlak.[xlii] Sy begin begryp dat die angswekkende drome deel is van die skadelike karma van hierdie lewe en dat sy daarvan ontslae moet raak. Sy is uitgelewer, sonder verweer, en staan simbolies naak soos ’n slak sonder dop (140) aan die begin van haar reis. (Vgl Endgame, Samuel Beckett.)

Gewapen met die begeerte om weer in kontak met haar eie psige te kom met ’n reis deur “die bardo van die natuurlike lewe”, kyk Magrieta in die melkerige oë[xliii] van die dooie walvis. Sy besef dat dit ’n vergestalting van haar eie ellendige emosionele toestand is (53).[xliv] Wanneer die dier se oorskot op ’n oneerbiedwaardige wyse op ’n stortingsterrein gegooi word, ontstel dit haar só, omdat sy nog nie oor genoeg begrip beskik om verbande te lê nie. Sy ontdek die ware essensie, die primêre aard van dinge eers in die vorm van ’n volledige walvisskelet. Sy verstaan dat transformasie, beide in die onderhoud van die natuur en fisiese toestand van die mens, die enigste onveranderbare sekerheid in onseker tye is. Hierdie insig en begrip sluit ten nouste aan by die verwysing na Jona en die walvis wat telkens in die roman opduik. Hy het sy reis, “die bardo van die natuurlike lewe”, oorleef binne-in die vis en kan nou hergebore word deurdat hy teruggebring word na die wêreld van lig en suurstof.

Jona en die walvis (bron: https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Pieter_Lastman_-_Jonah_and_the_Whale_-_Google_Art_Project.jpg)

Wanneer Magrieta sien hoe die grootse baleinwalvis triomfantelik uit die water spring, kyk sy in die glansende oë van ’n nuwe, lewende dier. Die emosionele wanbalans in haar psige is herstel. Sy neem nie net die werklikheid rondom haar waar nie, maar is ook in staat om verbande te lê tussen oorsake en gevolge. Sy kyk nou na ’n veel dieper vlak van bestaan, nie net na die oppervlakkige nie, maar ook op emotiewe vlak, met veel meer empatie as voorheen. Sy besef dat daar binne-in elke mens wêrelde van stiltes en diep ellendes verskuil is wat net met aanraking op ’n dieper vlak binne-in hom- of haarself, maar ook op intieme vlak tussen mense blootgelê kan word. Willem is deel van haar lewe, haar beskermer, en as hy nie daar is nie, voel sy onvolledig en soos ’n dobberende blaar (104). Sy bevestig haar eienaarskap oor hom deur sy boud aan die einde van die roman met ’n vaste greep vas te vat.

Agter die toiletdeur is die boodskappe van die leviatan vervang met “You can stay as you are for the rest of your life, or you can change to Mainstay.” Magrieta kies verandering, en aan die einde van die roman lê sy en Willem saam in ’n fetale posisie. In haar hand rus sy agterkop soos ’n halfskedel, gevul met bloed, essensiële elemente vir lewe.

Op dieselfde wyse as wat mense op mekaar aangewese is, net so is die natuur ook op die mens aangewese vir sy voortbestaan. Die roman spel duidelik uit dat die aarde geen hulp uit daardie oord kan verwag nie, omdat mense self worstel met bestaansvrae sonder antwoorde. Intussen word die aarde as beperkende ruimte[xlv] (’n kloostersel, 91) niks anders as ’n “death trap” (19) nie. Die mensdom misbruik die planeet[xlvi] asof dit ’n prostituut is, maar betaal nie die rekening vir dienste gelewer nie.[xlvii] Die hele omgewing word ’n vullishoop; niemand gee meer om nie (24). Die verwysing na die strate van die verwoeste Pompeji (74) wat Magrieta tydens ’n oorsese reis so oninteressant vind, voorspel niks goeds vir die mensdom nie. Die apokaliptiese vooruitskouing van die roman lê verskuil onder die oppervlak in die vorm van “dark energy”[xlviii] waarvan die uiteinde voor die hand liggend is.[xlix]

Die hoogtepunt van die evolusieleer is bereik, maar orals heers chaos. Net soos die hoer van Babilon,[l] het mense dronk geword van geweld, bloedvergieting en allerhande gruwels.[li] Selfs die graftombe van Jona in Mosul, waar volgens oorlewering ’n tand van die walvis wat die profeet ingesluk het, uitgestal was, is verwoes. Wanneer Magrieta en Willem gaan stap, sien hulle die graffiti teen die skoolmure wat allermins daarop dui dat begrip en insig vir ’n nuwe bestaanswerklikheid gekweek word. Selfs die oë van die dooie haas wat hulle op hierdie staptog raakloop, is verstar, asof hierdie werklikheid ook tot hom deurgedring het.

Die prehistoriese Hallucignia se ronde mond, vol skerp, naaldagtige tande, is vertrek in ’n permanente grinnik. Alles dui daarop dat die negatiewe apokaliptiese voorspelling van die roman ’n werklikheid is. Die ganse skepping sal eindig met ’n oorverdowende “tiensekondegammastraaluitbarsting” en ’n ewigdurende stilte. Al oplossing is die begin van ’n nuwe evolusieproses uit die primordiale elemente van die skepping. Die werklike ontdekkingsreis van nuwe dinge bestaan nie in die waarneming van nuwe landskappe nie, maar in nuwe maniere van sien. Dit is slegs moontlik as die mens weer nuut na homself kyk en met insig en begrip terugkeer na die essensie van sy eie bestaan en psige.

Die troebel tyd van Ingrid Winterbach is ’n meesterlike roman.

 

  • Marietjie Lambrechts, Navorsingsgenoot in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans Universiteit van die Vrystaat

 

Bibliografie

Alexander, P. en D. Alexander (reds.). 2002. Handboek by die Bybel.  (Derde uitgawe) Kaapstad: Lux Verbi.

Alighieri, D. 2001. Vertaal deur Sayers, D.L. Hell. Londen: Penguin Books.

Beckett, S. 1957. Endgame. Teks aanlyn beskikbaar. https://www.unc.edu.eng.PDFs (17 November 2018 geraadpleeg).

Brits, E. 2018. Is ons by 6de (en finale) uitwissing? In: Volksblad 3 November 2018:8.

Du Rand, J. 2007. Die A-Z van Openbaring. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Edgecombe, E. 1980. Luli Callinicos, Gold and Workers 1886–1924. A people’s history of South Africa. https://www.sahistory.org.za.archive (2 November 2018 geraadpleeg).

Hering, D. 2010. Consider David Foster Wallace. Critical essays. Los Angeles: Sideshow Media Group Press.

Humphreys, C. 1948. Karma and rebirth. Londen: Butler en Tanner Ltd.

Kaufmann, W. 1967: The portable Nietzsche. New York: The Viking Press.

Kelly, A. 2010. David Foster and the new sincerity in American fiction. In Hering (2010).

Kelly, T.L. 2007. Core beliefs. A creedal summary of Hinduism and Buddhism. What is Hinduism? From the editors of Hinduism today magazine. 144 Kapaa: Himalayan Academy.

O’Brien, B. 2017. Types of wrathful deities of Buddhism. www.thoughtco.com/wratful-deities-of-buddhism-450162 (1 November 2018 geraadpleeg).

Olson, C. (red.). 2007. Hindu primary sources. A sectarian reader. Londen: Rutgers University Press.

Pappas, S. 2015. 500-million-year-old “smiling” worm rears its head. https://www.livescience.com.5.

Pistorius, H.G. 2013. Behemot en Leviatan as paradoksale simbole van God se beskerming en sorg vir die skepping. Journal for Semiotics, 22(2):502–21.

Rinpoche, S. 2002. The Tibetan book of living and dying. San Francisco: Rider.

Rosen, S.J. 2006. Essential Hinduism. Londen: Praeger Publishers.

Urban, H.B. 2010. The power of Tantra. Religion, sexuality and the politics of South Asian studies. Londen: I.B. Tauris.

Eindnota's

[i] Ad Reinhardt, Amerikaanse abstrakte skilder (1913–1967).

[ii] In ooreenstemming met die begin van die kosmiese siklus en bardo’s.

[iii] Al die godinne is tien verskillende reïnkarnasies van een en dieselfde godin, Mahāvidyās (letterlik: “omvattende kennis”). Elke godin, met 'n onderskeidende naam, word op grond van die een of ander betekenistoekenning integraal deel van die esoteriese tradisie van tantraleerstellings en in rituele vereer (Rosen 2006).

[iv] Heidegger, M. 1927. Being and Time.

[v] In Endgame (Samuel Beckett), 'n belangrike verwysingsbron binne Die troebel tyd, bevestig twee van die karakters dat niks van die lewe se aanvaarde hulpmiddels vir hulle van enige waarde is nie.

[vi] Om die werklike essensie van die psige te verstaan, word ’n beroep gedoen op een van die oudste grondliggende leerstellings van die Dzogchen. Dit fokus spesifiek op die bardo-fases soos hier bo uiteengesit. Daar word dikwels na Dzogchen verwys as “Great Perfection”, ’n einddoel wat aan die einde van ’n lang, moeisame en uitputtende reis bereik kan word en deur almal nagejaag behoort te word. Dit is die primordiale fundamentele staat, die essensie van alle spirituele paaie/reise en die hoogtepunt van die individu se spirituele evolusie wat altyd in alles teenwoordig is. Die bedoeling is nie net om die werklike aard van dinge te sien nie, maar ook om te weet dat die ware aard van die psige die absolute waarheid is. Om ware geluk te ken is om die ware essensie van jou siel te verstaan (Rinpoche 2002).

[vii] Volgens die Boeddhisme beleef die individu slegs ’n eenmalige bardo, in die siklus tussen afsterwe en hergeboorte, vergelykbaar met die vagevuur van die Rooms-Katolieke kerk.

[viii] Nietzsche sê in Thus spoke Zarathustra, waarna op bl 19 verwys word: Wat groots is aan die mens, is dat hy ’n brug is en nie ’n einde nie (Kaufmann 1967).

[ix] Karma hou verband met die mens se aksies en handelinge, maar ook gedagtes, in sy lewe op aarde.

[x] Dit is die naakte, onvoorwaardelike waarheid – die essensie van bestaan, die ware aard van dinge.

[xi] Vgl die verwysing na Bizarro-fiksie op ble 16 en 186.

[xii] Vgl die verwysing na Alt Lit, bl 186.

[xiii] Magrieta maak byvoorbeeld die aanname dat alle Nigeriërs misdadigers is, of verbind die mans in rolstoele met terroristiese bedrywighede.

[xiv] Openingsreëls uit The comedy of Dante Alighieri.

[xv] ’n Kreatuur wat bewaar gebly het in die ryk fossiellae uit die Burgess Shale-gebied, die rykste fossielgebied uit die Kambriumperiode in Kanada. Dit sluit aan by uitgrawings naby die Soutpansberge waarna daar in die roman verwys word.

[xvi] Dit is ’n uitgestorwe garnaaltipe-seedier, ongeveer ’n meter lank, wat gedurende die Kambriumperiode geleef het.

[xvii] Die mitologiese godin Chhinnamastā word ook dikwels uitgebeeld asof sy na haarself kyk, en moedig daardeur ’n inwaartse kyk aan.

[xviii] Vgl An episode in the life of a landscape painter deur César Aira waarna in die roman verwys word. ’n Fiktiewe gebeurtenis in die lewe van ’n landskapskilder wat daarna strewe om in sy kuns uitdrukking te gee aan van von Humboldt se wetenskaplike visie van ’n “geheel” word geskets. Elke skildery moet die werklikheid in sy geheel uitdruk en nie as ’n stukkie van die werklikheid nie.

[xix] Hierdie idee word binne die roman bevestig met die tantraritueel op ble 7–8. Die godinne (Chhinnamastā, Kali en Diva is inkarnasies van een godin en daarom is hulle integraal deel van mekaar; die een is in die ander.

[xx] Vulkaniese werking van die aarde sluit aan by die verwysing na die uitbarsting van die vulkaan Eyjafjallajökull in Ysland (bl 17 van die roman).

[xxi] Op bl 185 lees Magrieta From bacteria to Bach and back (Daniel Dennett). Die boek handel oor die ontstaansgeskiedenis van die menslike bewussyn, en die skrywer probeer ’n argument uitmaak dat die bewussyn net so misterieus is as swaartekrag.

[xxii] Shati beteken om bevoeg te wees om iets te doen, om te beskik oor ‘n bepaalde vermoë, mag, energie of krag, sowel as die mag van lewe en dood, skepping en verwoesting wat deur die heelal, die sosiale orde en die menslike liggaam gelyktydig vloei (Urban 2010).

[xxiii] Sluit aan by die verwysing na 'n bioniese rog wat 'n elektriese skok aan mense kan toedien (bl 69).

[xxiv] Chhinnamastā openbaar spirituele selfverwesenliking en die ontwaking van kundalini spirituele energie.

[xxv] Die godinne van die Hindoe-religie sluit hierby aan deurdat hulle simbolies verbind word met bevryding van enige verontregting as gevolg van mensgemaakte beletsels (O’Brien 2017).

[xxvi] Gold and workers 1886–1924 deur Luli Callinicos (1980). Verwysings op ble 92 en 98 van die roman. By hierdie verwysing sluit ook Kmart realism (bl 97), ook bekend as dirty realism,  aan. Dit is 'n literêre genre wat werkersklaskarakters in steriele, bleek omgewings uitbeeld.

[xxvii] Die innerlike oorlog wat Markus Potsdam met homself voer, hou direk verband met die Joodse uitwissing gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

[xxviii] Ook Magrieta rebelleer teen die tradisionele sienings van patriargie (ble 144, 145, 146) Vgl ook haar ma wat die tradisionele siening van vroue goedsmoeds aanvaar (ble 144, 146).

[xxix] Nie een van hierdie konsepte word deur tantraleerstellings ondersteun nie.

[xxx] Markus Potsdam se depressie is die direkte gevolg van sy Joodse afkoms (47), ten spyte van die feit dat sy genialiteit byna ongeëwenaard is (bl 159). Dit word versinnebeeld deur ’n spierwit hemp wat om sy lyf span (ble 53,159).

[xxxi] Sluit aan by die verwoesting van die meganiese eend.

[xxxii] Vgl die gesprek tussen Magrieta en Daan Swiegers oor die Hallucigenia, 'n vreemde fossiel wat in vroeë studies aanvanklik verkeerd-om gekonstrueer was (bl 70).

[xxxiii] Magrieta se ma aanvaar goedsmoeds haar ondergeskikte rol (ble 144, 146) en gaan sit op die slaanriem om haar dogter teen lyfstraf deur die vader te beskerm.

[xxxiv] Soos die vrou van die Uber-bestuurder wat vir Magrieta op die lughawe ontmoet se geskende gesig, haar een oordrom permanent beskadig.

[xxxv] Die getal drie het 'n belangrike simboliese betekenis binne die roman.

[xxxvi] Die Kambrium is die eerste geologiese periode van die Paleosoïese Era en het geduur van sowat 541 miljoen tot 485,4 miljoen jaar gelede. Dit is opgevolg deur die Ordovisium. Die vinnige diversifikasie van lewensvorme in die Kambrium met harde fossileerbare liggaamsdele, bekend as die Kambriese ontploffing, het die eerste verteenwoordigers van talle filums tot gevolg gehad waaruit moderne groepe spesies soos weekdiere en geleedpotiges ontstaan het.

[xxxvii] Vgl Magrieta se opmerking aan haar departementshoof dat hy niks anders as 'n stiksienige outokraat (bl 8) is nie.

[xxxviii] Die primordiale verwysings sluit onder andere die Kambriese ontploffing in (bl 13), asook selekante (ble 94-5), die Opabinia, (bl 20), Anomalocaris, eensellige Amoeba (bl 31) en Lucy, 'n genus met beide menslike en aapagtige eienskappe (bl 98).

[xxxix] Die ooreenkoms tussen die skepping van hierdie twee belaglike objekte word gelê deur die feit dat hulle uit dieselfde materiale geskep word (bl 69).

[xl] Die “Tronk Binne My” is 'n foptronk, opgerig in die noordooste van Hongcheon in Suid-Korea, waar mense onder hedendaagse onstuimige omstandighede 'n sel van afsondering kan koop (Volksblad, 26 November 2018).

[xli] Toiletdeure, metafoor vir ’n stortingsterrein en deel van die kosmiese sirkel waar oorskot simbolies deur erdwurms omvorm word tot grondstowwe wat weer nuwe lewe in stand gaan hou.

[xlii] Die leviatan, 'n primordiale seemonster, geassosieer met die walvis, kon op beide land en see leef, dus op die grens tussen die natuurlike en bonatuurlike (fases van die bardo); metafories 'n baie sterk vyand en in die roman verbind met die prostituut van Babilon (Pistorius 2013).

[xliii] In aansluiting by die titel van die roman.

[xliv] So byvoorbeeld sê Nietszche in Thus spoke Zarathustra (bl 19 van die roman): Jy moet chaos binne-in jouself hê om geboorte te skenk aan 'n dansende ster (Kaufmann 1967:129). Talle verwysings na konstellasies, ook verbind met die heelal, in die roman sluit ook by hierdie beeld aan.

[xlv] Magrieta kyk laat een aand terwyl sy terugry huis toe na die sterrehemel en besef hoe klein en onbenullig die aarde eintlik in vergelyking met die hele kosmiese ruimte is.

Vgl ook die inperkende ruimte in die drama Endgame (Samuel Beckett) waaruit die karakters nie kan ontsnap nie.

[xlvi] Die voetpaadjies loop soos letsels oor die landskap (bl 38).

[xlvii] Net soos die prostituut van Babilon, metafories verbind met ondergang van ’n oorheersende, gemaksugtige samelewing (Pistorius 2013), sluit dit aan by die apokaliptiese waarskuwing later in die roman.

[xlviii] Op bl 65 skryf Winterbach: “(D)ie wurm wat vlieg in hierdie huilende wind, op soek na die geurige nes van die roos ... is hy besig om die brose lewe daarin te vernietig met sy donker geheime liefde?” Vergelyk met die gedig “The sick rose” van William Blake (bl 53). Sien ook ble 147 en 181 en die verbande wat Winterbach lê.

[xlix] Magrieta stuur een aand laat ’n teksboodskap aan Potsdam (bl 95): “Het jy geweet the other world is leaky as a boat?”

[l] Die woord “hoer” kan ook metafories vertaal word met “verafgoding”. Haar apokaliptiese ineenstorting word geprofeteer (Du Rand 2007; vgl met die inploffing van die heelal) en haar ondrgang lê in die hande van die dier met sewe horings en sewe koppe. Laasgenoemde sluit binne romanverband aan by die terrible deities waarna op bl 7 verwys word.

[li] Alexander (2002) vergelyk die prostituut van Babilon met Rome as sinkput (vgl die betekenis van gate in die roman) van die Romeinse Ryk.

Lees ook:

Ingrid Winterbach (1948–)

Groot Romanwedstryd 2018: Ingrid Winterbach

NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2018: Wenners aangekondig

 

  • 2

Kommentaar

  • Dankie vir hierdie uitstekend nagevorsde en verhelderende lees van Die troebel tyd, Marietjie.
    Daar is soveel betekenislae in hierdie roman, ek gaan dit beslis weer lees met jou resensie as rigsnoer.
    Ja, beslis.

    The Sick Rose
    BY WILLIAM BLAKE

    O Rose thou art sick.
    The invisible worm,
    That flies in the night
    In the howling storm:

    Has found out thy bed
    Of crimson joy:
    And his dark secret love
    Does thy life destroy.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top