Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach: ’n resensie

  • 0

Die troebel tyd
Ingrid Winterbach
Human & Rousseau
ISBN: 9780798177665

Ingrid Winterbach se heel eerste roman, Klaaglied vir Koos (1984), begin met die volgende sin: “Buite skop ek die tuinhek eers van binne af oop, dat hy ver verby sy normale swaai swáái, en toe skop ek hom van die ander kant af terug, dat sy skarniere ingee.” Winterbach se nuutste roman, Die troebel tyd, begin met soortgelyke woedende gedrag deur ’n vrou, Magrieta Prinsloo. Magrieta ondervind ’n vreemde sielkundige sensasie: “Daar styg ’n energie op vanaf haar kont tot haar kroon.” Sy snou haar departementshoof (sy is ’n dierkundige en hoof van ’n laboratorium by ’n akademiese instelling) allerlei toe en bedank haar werk nadat sy al haar skepe en brûe daar verbrand het.

Aspekte van omtrent al Winterbach se romans kan teruggevind word in Die troebel tyd. Die mens se verhouding met toeval (of bestendigheid) is byvoorbeeld weer eens ’n prominente tema, soos in Die boek van toeval en toeverlaat. Magrieta Prinsloo se ondersoek na die evolusie van erdwurms herinner aan die hoofkarakter van Karolina Ferreira se navorsing oor die mot. Magrieta se frustrasie en onvergenoegdheid beteken egter dat Die troebel tyd veral nou skakel met die woedende en sensuele vertellers van Klaaglied vir Koos en Winterbach se tweede roman, Erf.

In ’n onderhoud met Louise Viljoen (http://nb.bookslive.co.za/blog/2012/10/19/louise-viljoen-gesels-met-ingrid-winterbach-by-die-bekendstelling-van-die-aanspraak-van-lewende-wesens) by die bekendstelling van Die aanspraak van lewende wesens in 2012 het Winterbach gespekuleer dat sy, noudat sy weer in Stellenbosch woon ná jare in Durban, sal terugkeer na die “fynbostema” van haar sogenaamde fynbostrilogie, Klaaglied vir Koos, Erf en Belemmering. In Die troebel tyd, met sy Stellenbosse milieu,

word daar inderdaad na die toon, motiewe en temas van hierdie trilogie teruggekeer.

Een van hierdie temas is die etiese verantwoordelikheid (al dan nie) wat middelklas mense het teenoor ekonomies agtergeblewenes en veral hawelose mense. Die rede vir die verkenning van hierdie tema in Winterbach se romans wat in Stellenbosch afspeel, is waarskynlik die ekstreme ekonomiese ongelykheid in hierdie dorp. In Klaaglied vir Koos en Erf worstel die wit, middelklas, vroulike hoofkarakters met hoe hulle moet reageer op hawelose karakters wat eise teenoor hulle maak. Hulle oorweeg dit om self hulle bevoorregting agter te laat en by die haweloses aan te sluit. In Die troebel tyd kom Magrieta in die wingerde naby haar huis waar sy met haar hond stap, ’n vrou teë wat moontlik gelees kan word as ’n vergestalting van Klaaglied vir Koos en Erf se hoofkarakters wat besluit het om wel tot aksie oor te gaan en hulle gesinne en huise agter te laat.

Die troebel tyd gun die leser nie enige klaarheid oor of die vrou in die wingerd se optrede korrek is nie. Soos in al Winterbach se romans is die onvaspenbaarheid van betekenis nie net ’n eienskap van die verhaal nie, maar ook ʼn tema. Nadat Magrieta haar werk by die universiteit verlaat, aanvaar sy ’n werk by die geheimsinnige Buro vir Voortgesette Onderrig, wat behels dat sy met “agente” moet skakel en by verskeie raaiselagtige gebeure betrokke raak. Magrieta sukkel om sin van hierdie “web van verbande” te maak, en aangesien die roman begin met haar klaarblyklike senu-ineenstorting, is dit selfs moontlik om sommige van die gebeure as paranoïese verdraaiings te interpreteer.

Die opregte speurtog na antwoorde wat gerelativeer word deur ’n uitdruklike erkenning van hoe moeilik die vind van sulke antwoorde is, word in die roman self in terme van literêre tendense gesitueer wanneer Magrieta ’n gesprek voer met agent Green oor “New Sincerity”. New Sincerity is ’n estetiese beweging waarin daar wegbeweeg word van die sinisme en ironie van die postmodernisme. Terwyl die “nuwe” opregte kunstenaars die waarde van die postmodernisme se verkenning van die beperkings van finale waarhede erken, probeer hulle nietemin om die risiko van mislukking op hulself te neem en waarhede na te jaag. Die beweging word veral met die Amerikaanse skrywer David Foster Wallace se werk geassosieer, en hy het self ook oor die onderwerp geskryf in die opstel “E Unibus Pluram: Television and US Fiction”. In Afrikaanse letterkundige kringe word dieselfde tendens veral onder die vaandel van die “metamodernisme” bespreek (sien byvoorbeeld https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/31580 en https://www.sun.ac.za/english/Inaugurallectures/Inaugural%20lectures/InauguralLectureProfAndriesVisagie.pdf).

Terwyl omtrent al Winterbach se werk as voorbeelde van “new sincere” of metamodernistiese (oftewel protometamodernistiese, in die geval van haar vroeër werk) tekste beskou kan word, en omtrent nooit aan die lesers die antwoorde verskaf waarop hulle hoop nie, het onder andere Karolina Ferreira, Niggie en Die aanspraak van lewende wesens sterker verhaalstrukture waardeur lesers meegevoer word. Lesers wat hierdie aspekte geniet, sal moontlik minder beïndruk wees deur Die troebel tyd, maar ek verwelkom die terugkeer van die “pynlik opregte” fynbosstem en Winterbach se raak beskrywings van ervarings. Soos die bogenoemde “kont tot [...] kroon”-aanhaling aandui, is dié stem ook humoristies. ’n Vaardigheid waarvoor Winterbach nie genoeg erkenning kry nie, is haar besonder akkurate weergee van Afrikaanse dialoog. Die uitdrukking “fok sê die bok”, wat baie snaaks is, word wel ’n paar keer te veel herhaal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top