Foto: Francois Pistorius |
Sêgoed van Marita van der Vyver: Hoe maak ’n mens tyd om te skryf? "Iemand het op ’n keer gesê as jy ’n taak gou en goed gedoen wil hê, vra ’n werkende ma om dit vir jou te doen. Ek glo nogal daaraan. Dis ’n geval van nood leer bid. Of honger help skryf. Vandat ek kinders en stiefkinders het om te voer en te versorg, skryf ek met veel meer drif en dissipline as toe ek ’n selfsugtige alleenloper was. (Waarmee ek nie beweer dat alle alleenlopende skrywers selfsugtig is nie, maar ek was.) Voor die koms van my kinders kon ek skryf wanneer en hoe en waar ek wou, dwarsdeur die nag, enige plek in die huis. Ek het dikwels geskryf eerder as om te eet. Nou lei ek ’n lewe van kos wat op vaste tye geëet (en gekook) moet word – en woorde wat op vaste tye geskryf moet word. Ek het dissipline aangeleer. Ek leer steeds, elke dag. Dit kom nie natuurlik vir my nie. Maar dis óf gedissiplineerd skryf óf glad nie kans kry om te skryf nie. En ’n lewe sonder skryf is vir my ondenkbaar. Omtrent so ondenkbaar soos ’n lewe sonder my kinders." (LitNet) Oor lees en skryf: "Ek skryf nie vir ’n spesifieke mark nie. Ek skryf boeke wat ek self graag sal wil lees. Ek hou van die soort boeke wat toeganklik is, maar tog intelligent geskryf is en die leser uitdaag en ek sukkel om ’n gunsteling-skrywer uit te sonder, want ek is ’n ywerige leser. Als wat ek doen, word aan die vraag Shouldn’t I rather be reading a good book? gemeet. Dit is hoekom ek seker nooit ’n goeie tuinier of iets sal wees nie. Ek noem tog twee skrywers – Margaret Atwood en Joyce Carol Oates – vir hul werk van hoogstaande gehalte, maar wat tog ook uiters leesbaar is." (Volksblad, 22 Mei 2010) Oor die oorlewing van Afrikaans: "Wat ek te sê het oor die oorlewing al dan nie van Afrikaans, is ’n 'gut reaction'. Niemand kan voorspel wat met Afrikaans gaan gebeur nie, want dit kan nie met enige ander taal vergelyk word nie. [… ] Ek hou aan om in Afrikaans te skryf en te publiseer, ek lees Afrikaanse boeke en ek praat Afrikaans met my kinders (selfs met my dogter wat in Frankryk gebore is en ’n Franse pa het). Ek weet nie of hulle eendag met hul kinders Afrikaans sal praat nie. Ek weet nie of ons vir hulle ’n wêreld gaan agterlaat waarin hulle nog kinders sal wil hê nie – en dit is eerlikwaar vir my ’n veel groter probleem as watter taal hulle in hierdie opgemorste wêreld gaan praat, lees of skryf. Dit is die vernaamste rede waarom ek nie baniere wil swaai in ’n Taalstryd nie. Die ander, meer ongemaklike rede is bloot dat ek my nie tuis voel by baie van die Stryders vir die Taal nie. Ek wil nie soos ’n stom skaap in dieselfde kamp gejaag word as die jakkalse wat ek steeds nie vertrou nie." (Die Burger, 6 Oktober 2010) Oor ’n nuwe boek: "Ek meen ek is bly, ek is verlig dis klaar, dis gedoen, maar ’n mens is so blootgestel en weerloos en angstig oor hoe dit ontvang gaan word, dat dit die lekker op ’n manier oorskadu." (Die Burger, 28 Mei 2010) Wat is die ding wat sy die graagste vir haar dogter sal wil leer oor die jare van vrouwees wat nog vir haar voorlê? "Sorg dat jy sielsusters het om jou deur die lewe te help – nóg belangriker vir ’n meisiekind soos sy wat nie ’n bloedsuster het nie. Sielsusters is vriendinne en tantes en niggies en ander sterk vroue wat jou deur dik en dun sal bystaan terwyl die mans en die minnaars in jou lewe kom en gaan." (LitNet) Oor die humor in haar skryfwerk: "Al wat ek in al die jare oor humor geleer het, is dat dit nooit werk as jy te hard probeer nie. As ek gaan sit en probéér om ’n snaakse sin te skryf, gaan dit waarskynlik ’n flop wees. My mees suksesvolle humoristiese frases kom gewoonlik ongevraag op, soos onkruid, dikwels wanneer ek iets ernstigs of treurigs wil skryf. Dis ’n skans teen sentimentaliteit en hoogdrawendheid en pretensie, meen ek." (LitNet) "Dit is meer as blote vriendskap, die verhouding tussen my en die boek waaraan ek werk. Dis te emosioneel, te obsessioneel, om bloot as vriendskap voorgestel te word. Dus moet ek dit seker ’n soort liefdesverhouding noem." (Die Burger, 6 Desember 1993) Hoekom skryf sy nie in Engels nie? "Ek skryf joernalistiek – essays, rubrieke – in Engels, sonder enige moeite. Maar ek sê altyd fiksie kom uit ’n ander plek uit my lyf, uit my maag uit ." (Die Burger, 26 Julie 2000) "As ek dan ’n verantwoordelikheid het teenoor Afrikaans, is dit om te bly skryf daarin." (Die Burger, 26 Julie 2000) "En op hoërskool het ek vir Breyten Breytenbach en Antjie Krog ontdek. Liefde met die eerste oogopslag. Betowering en verwondering. Die besef dat jy sowaar ENIGIETS in Afrikaans kan sê." "Ek glo nie noodwendig aan gelukkige eindes nie, maar ek glo wel aan hoopvolle eindes. Ek glo in hoop. Iets om na uit te sien, hoe nietig ook al. Iets wat dit die moeite werd maak om aan te gaan." Maar kan jy iemand leer hoe om ’n kinder- of jeugverhaal te skryf? "Ek dink nie mens kan 'geleer' word om stories vir volwassenes óf kinders te skryf nie. Jy het skryftalent of jy het dit nie. Skryfskole kan wel beskou word as ’n soort kortpad deur ’n donker bos. Dit kan jou help om vinniger by jou bestemming uit te kom, sonder om op al die dwaalpaaie en ompaaie te beland – maar mens kan seker ook sê dat dwaalpaaie en ompaaie die reis net interessanter maak? Ek het op die stadige manier geleer skryf – met ompaaie en dwaalpaaie en 'trial by error' – en my reis is nog lank nie oor nie! Ek leer steeds elke dag." (Rapport, 5 November 2010) Hoe inspireer Suid-Afrika haar kreatiewe siel? "Ek voel soos ’n blom wat water kry as ek hier kom. Suid-Afrika voed my wortels, al is my blare en stingels heel tuis in ’n ander land." (Sarie, 25 January 2010) Oor hoe dit voel om 50 te wees: "Ek en my man, Alain, het al twee vroeër vanjaar 50 geword. Ons het ’n groot eeufeesviering gehad. Dit was nie vir my erg om die groot vyf-nul te begroet nie. It's all in the mind. Ek kan nog my tone raak en op my kop staan. Ek kan my voete agter my kop sit!" (Beeld, 4 Oktober 2008) "En sover dit die kop aangaan, is 50 fantasties. Maar jy't dit nodig, want jou lyf begin agteruitgaan. Teen daardie tyd weet jy darem stywe boude en perfekte tieties is nie al waaroor die lewe gaan nie. Dis al wat ek kan sê vir die jonger meisies: hang in there." (Beeld, 4 Oktober 2008) "Skryf is vir my ’n verslawing. Ek móét altyd met ’n storie besig wees, al is dit net in my kop. Maar daar moet ook ’n mate van obsessie wees, want dit is nie altyd lekker om te skryf nie. Wie kan daarvan hou om nagte om te werk en ure lank te sukkel om een sin reg te skaaf?" (Die Burger, 26 Mei 1992) "Nee, ek sal nooit ophou skryf nie. Op die ou end is dit ’n skans teen die dood." (Beeld, 4 Oktober 2008) "Genre is nooit ’n woord wat by my opkom wanneer ek ’n roman beplan nie. Ek skryf eenvoudig ’n roman wat ek graag sal wil lees: toeganklik, maar so dat dit nie die leser se intelligensie beledig nie." (Beeld, 4 Oktober 2008) "Iewers het ek die volgende raakgelees en ek dink dis baie waar: 'Daar's net vier soorte boeke: goeie boeke wat goed verkoop, goeie boeke wat swak verkoop, swak boeke wat goed verkoop en swak boeke wat swak verkoop.'" (Beeld, 4 Oktober 2008) Oor Calvinisme en kinders grootmaak: "Die arme jong meisies, die Afrikaner-meisies: Calvinisme sorg waarskynlik steeds dat hulle oor alles skuldig voel. Dis miskien in die Afrikaner se geheue. Dit gaan nie sommer net in ’n geslag of twee verdwyn nie. Ouers maak nog steeds hul kinders groot om skuldig te voel. Ek hoop ek doen dit nie. Ek probeer hard om dit nie te doen nie. Die ironie is dat ouerskap die een ding is wat my die heel skuldigste laat voel. Ek is lankal verby die stadium wat ek skuldig voel oor seks, drugs en rock ’n roll. Maar dis so maklik om jou kind op te bogger as ’n ouer. Dis baie moeiliker en scarier om ’n suksesvolle kind groot te maak as om ’n suksesvolle roman te skryf." (Beeld, 4 Oktober 2008) "Maar my hart se punt bly maar fiksie. Om stories te vertel. Ons almal leef stories; ons het elkeen ’n storie in ons." (Beeld, 4 Oktober 2008) "Reis doen baie meer vir my siel as ingevoerde rome vir my gesig." (Rapport, 29 Januarie 2006) "My gunsteling is die een waarmee ek besig is. Dan vergeet ek al die ander. Dan is als moontlik. Dis eintlik al deel van die hele proses wat lekker is: daardie begin wanneer alles moontlik is ... Álles wat ek geskryf het, cringe ek oor. Ek haat dit om enigiets te lees wat ek geskryf het." (Beeld, 4 Oktober 2008) "Ek glo geluk word gemeet in oomblikke, nie in weke of maande nie. Daarom kan ek selfs op die saaiste, treurigste dag ’n intense oomblik van geluk belewe. Dit lê gewoonlik opgesluit in alledaagse sensualiteit – kleure, klanke, geure, smake, teksture. Metafisika en ingewikkelde letterkundige tekste kan my diep bevredig, maar dit kan my nooit so intens gelukkig laat voel soos die reuk van reën op droë grond of die stem van ’n geliefde in my oor nie." (Rapport, 28 September 2008) "The most exciting part of a book is before I write one word on paper, when I’m thinking out the story. It’s like a game, playing God, inventing these lives and giving people names and ages and a personal history – it’s all in your head and everything is still possible, you don’t know where it’s going to take you." (Onderhoud met Vivien Horler) Oor haar ma: "My ma was soos die spreekwoordelike teesakkie: eers toe sy in warm water was, het ons agtergekom hoe sterk sy is. Sy was ’n verpleegster en het presies geweet wat die kanker aan haar gaan doen, maar sy het dit tog reggekry om aan te gaan met die lewe. Sy was al baie siek toe ek verwagtend geraak het met Mia, maar sy het dadelik ’n truitjie vir die nuwe baba begin brei. Sy het besef sy sal dalk dood wees voordat die baba kom, maar het gevoel daar moet iets vir die kleinkind van haar ouma wees. En toe sy daarmee klaar was, het sy gevoel my seuntjie moet ook iets kry. Sy is dood terwyl sy Daniël se trui gebrei het." (Rapport, 2 November 2003) "James Joyce het gesê: 'A writer needs three things: cunning, silence and exile'," skryf sy in haar 24.com-gesprek in 1999. "Die cunning en die silence kan ek hier (Suid-Afrika) ook vir myself skep, maar die geestelike exile is makliker in Frankryk." (Op LitNet en Die Burger, 21 Mei 1999) Aan Francois Smith: Weet jy, ek dink soms aan my lewe as VG en NG – vóór Griet en ná Griet. Die eerste paar jaar ná Griet het ek gevoel of die karakter my verswelg, of die boek die res van my lewe ’n albatros om my nek gaan wees. Van ek in Frankryk woon, het ek vrede gemaak met die Griet-etiket. Dalk het die fisieke afstand gehelp om ’n emosionele afstand te skep. Ek wonder soms of ek sou kon terugkeer na die karakter as ek nog in Suid-Afrika gewoon het." (Die Burger, 7 November 2001) Francois Smith wou weet of sy dink stories het ’n helende invloed? "Ja, ja, en nogmaals ja. En nou antwoord ek as skrywer en as leser. Om te skryf is vir my ’n manier om sin te soek in wat sinloos lyk, humor in wanhoop te vind, oomblikke van grasie in die alledaagse lewe. Om te lees is vir my dieselfde soort ervaring." (Die Burger, 7 November 2001) Francois Smith: Is dit moeiliker of makliker om in Frankryk in Afrikaans te bly skryf? Sien jy die wêreld daar deur ’n ander bril? "Dis vir my altyd moeilik om te skryf in enige taal. En dis nou een ding wat nie makliker word soos ek ouer word nie." (Die Burger, 7 November 2001) Jaco Jacobs wou weet wat beteken stories en storievertel vir haar? "Dis letterlik en figuurlik ’n manier om die dood te oorwin. Om sin te probeer maak van alles wat ons hier op aarde belewe. Met die klem op lewe." (Die Burger, 7 November 2002) Aan Jaco Jacobs: "Ek skryf stories van ek geleer het om ’n pen vas te hou en letters te vorm. Soos iemand slimmer as ek gesê het, it’s not a gift, it’s a burden . Dis of ek hierdie vrag woorde in my ronddra, en die enigste manier om die vrag ligter te maak, is om te skryf." (Die Burger, 7 November 2002) "Skryf is vir my ’n allesoorheersende passie. Wanneer ek skryf, voel ek hoe dieper ek in die boek betrokke raak, hoe verder dryf ek weg. Alain sê hy weet wanneer ek amper klaar met ’n boek is, want ek raak vaag. Ek is nie heeltemal dáár wanneer ons byvoorbeeld aan tafel sit nie." (Die Burger, 4 November 2003) "Romanskryf is nou eenmaal nie ’n spansport nie. Dit word soms vergelyk met die eensaamheid van die marathonatleet, maar glo my, dis erger. Dis meer soos om stoksielalleen in ’n klein bootjie om die wêreld te seil. G’n toeskouers wat langs die pad staan en wuif nie." (Rapport, 2 Maart 2014)" "Die werk aan ’n kosboek het my aangenaam verras. Met die twee kookboeke het dit gevoel of ek uit my eensame seilbootjie gepluk is om op ’n enorme plesierboot te vaar. Nie dat skryf ooit vir my ’n plesier was nie – nie eens die skryf van ’n kosboek nie – maar die kook en die proe van die kos kan wel erg plesierig word." (Rapport, 2 Maart 2014) Marita verduidelik aan Mariana Malan (Beeld, 22 Julie 2014) wat haar idee van die ideale maaltyd is: "Die belangrikste vereiste is slim en snaakse geselskap – want die kop moet saam met die lyf gevoed word – en ’n kok wat met liefde kook. Liefde vir kos en liefde vir die mense wat die kos moet eet. Dan kan selfs ’n omelet en ’n glas wyn ’n koningsmaaltyd word. As dit boonop op ’n mooi plek geniet kan word, buite onder ’n boom in die somer of voor ’n kaggelvuur in die winter, met mooi eetgerei, ’n mooi tafeldoek en mooi servette, wat meer wil ’n mens hê?" Daar is ’n verskil tussen kinderliteratuur en jeugliteratuur. Wil jy verduidelik hoe jy dit sien? "Ek glo jy kan enigiets sê, maar in kinderboeke moet jy dinge versigtiger sê as in jeugboeke – en in jeugboeke moet jy dinge weer versigtiger sê as in volwasse boeke. Dis maar my baie basiese onderskeid." (aan Izak de Vries op LitNet) As jy eendag ’n ouma gaan wees, watter soort ouma gaan jy wees? "Daar’s een ouma in my boek, Die coolste ouma op aarde, 'met ’n wilde bos spierwit hare en vreeslik baie boeke'. Sy lê in die bed, nie omdat sy siek is soos Rooikappie se arme ouma nie, maar omdat dit die lekkerste plek is om te lees. Ek hoop nogal dat ek so ’n ouma sal word, maar omdat ek ’n skrywer is wat nie beplan om ooit af te tree nie, sal ek seker meer agter ’n rekenaar sit en skryf as in ’n bed lê en lees!" (aan Izak de Vries op LitNet) Skryf ’n jeugboek vinniger en makliker as ’n boek vir volwassenes? "In my geval is dit moontlik vinniger bloot omdat my jeugboeke gewoonlik dunner is as my volwassene-boeke. Maar dis beslis nie makliker om ’n goeie jeugboek te skryf as om ’n goeie volwassene-boek te skryf nie. Ek dink die rede waarom soveel literatore steeds jeugboeke onderskat, is dat hulle ongelukkig steeds onder die wanindruk verkeer dat dit 'makliker' skryfwerk is." (LitNet) |
Gebore en getoë
Marita van der Vyver is op 6 Mei 1958 in die Kaap gebore, die oudste kind van Danie en Yvonne van der Merwe. Sy het ’n jonger broer en suster.
Ná die publikasie van Marita se kinderboek Die coolste ouma op aarde in 2015 vertel sy aan Izak de Vries op LitNet ’n bietjie meer van haar oumas: "Hulle was nie cool nie. Maar dis nie hulle skuld nie. Daai tyd was Afrikaanse oumas nie veronderstel om cool te wees nie. My pa se ma het soos ’n storieboekouma gelyk met spierwitgrys hare en ’n sagte, ronde lyf so lank terug soos ek kan onthou. Ek het nou die dag met ’n skok besef dat sy baie jonger as ek was toe sy al so gelyk het!"
"My ma se ma het hare op haar ken gehad wat ons gesteek het – my sussie het altyd weggehardloop as sy haar moes soen – en spatare wat soos blou slange om haar kuite gekronkel het en waarvoor ek my morsdood gegril het. Maar sy’t die lekkerste tjoklitkoek gebak wat ek ooit geproe het en sy't my ma se ou papierpoppe in ’n plat boks gebêre en my toegelaat om daarmee te speel, so dit was vir my heerlik om by haar te kuier. My dogter het nou nog daardie verflenterde ou papierpoppe hier in Frankryk en hopelik sal sy dit eendag weer vir haar dogter, wie weet waar in die wye wêreld, gee. Dit is waar die papierpoppe in my roman Die blou van onthou vandaan kom – nog ’n storie oor ’n ouma en ’n kleinkind."
Marita kan baie goed onthou toe sy vir die eerste maal begin vrae vra het, vertel sy aan Bibi Slippers (Vrye Weekblad, 22 November 2019): "Ek onthou die eerste keer toe ek iets bevraagteken het wat gebeur het, was ek in standerd 5. Dit was ’n atletiekbyeenkoms by die Pilditch-stadion. Daar was ’n swart roomysverkoper, en daar was ’n volwasse man wat waarskynlik ’n onderwyser was, nie by my skool nie, maar by een van die skole, want dit was onderwysers en skoolkinders, wat met hierdie roomysverkoper gepraat het op ’n manier wat ek gedink het mens sal nie so met jou hond praat nie. Minagtend. Net die toon het my as dogtertjie laat terugdeins het en laat dink 'Hoekom?' En ek dink as jy eers daai vrae begin vra, dan hou dit nie op nie."
Sy word groot en gaan skool in Bellville (Boston en Welgemoed) en Pretoria (Lynnwood en Menlopark). Die laaste twee jaar van haar skoolloopbaan spandeer sy as onwillige koshuiskind aan die Hoërskool Nelspruit. Marita skryf matriek in 1975 – Afrikaans se eeufeesjaar.
In ’n landwye digkunswedstryd vir matriekleerlinge word sy as een van die wenners aangewys en wen sy ’n studiebeurs vir vier jaar aan die universiteit van haar keuse. Sy kies die Universiteit Stellenbosch, omdat dit haar pa se alma mater was en omdat sy wou wegkom uit die Transvaal.
Verdere studies en werk
Marita verwerf haar BA-graad met tale en drama en in 1979 durf sy die nuwe honneurskursus in joernalistiek onder prof Piet Cillié aan. As deeltydse student verwerf sy later haar meestersgraad in joernalistiek met ’n tesis oor die groeiende rol van die vrou in die Afrikaanse pers. Na universiteit gaan sy vir ’n jaar oorsee om te reis, en werk sy as au pair in die suide van Frankryk en as skottelgoedwasser in Londen.
Sy begin haar joernalistieke loopbaan as verslaggewer by Die Burger, waar sy oor alles verslag moes doen – van moord en doodslag tot sport en teater. In 1987 begin sy met vryskutwerk – artikels, resensies, vertalings en proeflees- en subwerk vir uitgewers.
Marita skryf stories vandat sy kon skryf en toe haar eerste storie oor die radioprogram Siembamba uitgesaai word toe sy nog maar 12 was, het sy geweet dat sy ’n joernalis (en as alles goed uitwerk) en skrywer wil word.
Marita trou met David Bishop en in 1989 is hulle seuntjie Ian gebore en kort voor sy eerste verjaardag is hy oorlede. In die essay "Die begin van ’n storie" wat in Wreed én mooi is die dood (2019) opgeneem is, vertel Marita aan Willemien Brümmer (By, 9 November 2019) dat, die oomblik toe hy gebore is, het sy van hom begin afskeidneem: "Hy is eintlik doodgebore, maar met behulp van moderne masjinerie het hulle daardie blou babatjie van oorkant die water teruggebring na die land van die lewendes."
Maar sy breinskade was so erg dat sy hom nooit werklik kon huis toe neem nie. Met die essay bou sy "sin vir sin, woord vir woord, letter vir letter" ’n "heining ter herinnering" aan haar baba met die "seeblou oë en die swart seewierhare".
Haar eerste jeugromans word goed ontvang – Van jou jas ontvang ’n aanmoedigingsprys van Tafelberg Uitgewers en Sarie, en Tien vir ’n vriend is in 1987 onder die tien finaliste in Sanlam se jeugverhaalwedstryd. Eenkantkind is ook ’n Sanlam-finalis en word in 1992 bekroon met die ATKV-prys vir Jeuglektuur.
In 1992 beland Marita met ’n slag op die toneel van die volwasse Afrikaanse letterkunde met die publikasie van Griet skryf ’n sprokie. Dit was, soos die Engelse sê, ’n best-seller van die eerste dag dat dit op die rakke verskyn het – tienduisend eksemplare is ’n enkele maand verkoop. "Ek het dit nie in my wildste drome verwag nie. Dit is seker elke skrywer se ideaal om te sien dat die publiek jou skepping geniet, en ek is dankbaar oor die positiewe reaksie veral van die resensente. Maar ek voel nogtans baie blootgestel en weerloos. ’n Skrywer is nou eenmaal nie ’n rolprentster nie en die skielike fotosessies en onderhoude is ’n vreemde ervaring,'' sê Marita aan Una Nieuwoudt (Die Burger, 26 Mei 1992).Die karakters in Griet mag dalk fiktief wees, maar Marita het baie van Griet se ervaringe aan haar eie lyf gevoel. Sy moes, nes Griet, ’n egskeiding deurmaak en ook ’n kind aan die dood afstaan. "Ek het reeds lank voordat ek geskei is met Griet in my kop rondgeloop. Maar Griet sou aanvanklik net ’n gebroke verhouding gehad het. Toe ek skei, het ek besluit om haar ook te laat skei. Dis amper soos lewensgetroue kuns. Dit was eers suiwer fiksie, maar toe gebeur dít wat ek met Griet wou laat gebeur met my," vertel sy aan Una Nieuwoudt.
Daar is nie ’n duidelike boodskap in Griet nie omdat Marita wou hê Griet moet vir haarself praat. Aan Una Nieuwoudt verduidelik sy verder: "Dit gaan basies oor ’n vrou wat leer vlieg en haar eie stem kry. ’n Resensent het gesê Griet verteenwoordig elke vrou van tussen twintig en veertig wat grootgemaak word met sprokies soos dat ’n prins op ’n perd jou sal kom red as jy in die moeilikheid is. Soos die Grietjie van Hansie en Grietjie die heks in die oond gestamp het om haarself en Hansie te red, het Griet ook besef dat haar redding by haarself berus. Dis vir my baie belangrik dat Griet in die hele proses geleer het om van haarself te hou."
Skuldgevoelens oorheers Griet se lewe. Sy het ’n mislukte huwelik, twee miskrame en ’n doodgebore baba agter die rug en vir haar voel dit of sy gestraf word omdat sy verkeerd gedoen het. Sy wou skryf en ook dit was nie reg nie, want as getroude vrou met ’n man om voor te sorg, moes sy ’n beter huisvrou gewees het. En dan, die groot sonde, sy geniet seks en "goeie vroue" kan nie van seks hou nie. "Tot my verbasing lyk dit of baie vroue hulself met dele uit die boek kan identifiseer. Baie vroue wat dieselfde skuldgevoelens oor kinderloosheid of ’n egskeiding en inhibisies oor seks het, maar nooit daaroor praat nie, beskou dalk die boek as ’n openbaring. Hulle besef dat dié probleme universeel is dat ander vroue ook daarmee worstel," sê Marita aan Una Nieuwoudt.
Aan die einde van die boek vind Griet vrede in haarself en word sy van haar skuldgevoelens verlos. Een van die lekkerste dinge van Griet skryf ’n sprokie is die heerlike humor daarin en Marita dink dit is hoekom mans ook die boek geniet. "Ek dink dit gee mans ’n beter idee van hoe ’n vrou aanmekaargesit is. Een van die mans wat die boek gelees het, het agterna vir my gesê dis die eerste Afrikaanse boek vir vroue wat hom nie laat voel het daar word ’n vinger na hom gewys nie. Griet spot immers nie net met mans nie. Sy spot ook met haarself. En ná haar egskeiding herwin sy haar vertroue in mans in so ’n mate dat sy kans sien om weer by ’n verhouding betrokke te raak."
Griet het die Afrikaanse letterkundige wêreld aan die praat gesit omdat dit die eerste keer is dat ’n vrou so openlik oor seks in Afrikaans geskryf het. Griet het egter nie net in Afrikaans probeer selfmoord pleeg en seks gehad nie, maar ook in Engels, Nederlands, Duits, Italiaans, Frans, Hebreeus, Tsjeggies, Sweeds, Spaans en Sjinees. En die Portugese en die Yslanders volg ook.
Marita verower ook die ATKV-Prosaprys, M-Net-prys en Eugène Marais-prys met Griet. Boonop verskyn die boek vir ’n volle jaar op CNA se Top Tien-trefferlys vir Afrikaanse fiksie en oorhandig die CNA ’n spesiale toekenning aan Marita tydens die Afrikaanse Skrywersgilde se byeenkoms in 1993. Griet is ook later in Engels in Braille uitgegee.
Die ATKV het as volg oor Griet gesê: "Die sprankelende skryfstyl, lewendige dialoog en pittige humor, maak die roman Griet skryf ’n sprokie vir die fynproewer, asook die lekeleser toeganklik en is ’n unieke leeservaring. Dit is ’n boek wat vanweë sy openlikheid, eerlikheid en kompromislose oopskryf die Afrikaanse leserspubliek op ’n lesersvriendelike wyse bewus gemaak het van die mondigheid van die Afrikaanse letterkunde."
Joan Hambidge skryf in Die Burger (21 April 1992): "Griet skryf ’n sprokie is Van der Vyver se eerste volwaardige roman, en op die koop toe is dit ’n verfrissende, onderhoudende teks. Vir diegene wat moeg is vir die post-modernisme en al haar avatare, wees gerus: die tegnieke word nie in die teks selfbewus of intellektueel gebruik nie. Me Van der Vyver gebruik die basis van die sprokie, en ontluister dit telkens deur op ’n grappige manier die harde werklikheid te skilder. (…) Dis ’n goed geskrewe teks, met oortuigende dialoog van die karakters."
In 1997 is Griet skryf ’n sprokie by die Grahamstadse Kunstefees op die planke gebring. Dit is verwerk deur Pierre van Pletzen met Susan Coertzen, Christo Compion, Hannes van Wyk en Judy le Roux in die rolle. Hannes Muller en Lizz Meiring het die regie behartig. Vir Herman Wasserman (Die Burger, 11 Julie 1997) het hierdie verhoogweergawe nie gewerk nie en was dit vir hom ’n teleurstelling.
In 1994 besweer Marita die gevreesde tweede-boek-sindroom met die verskyning van Die dinge van ’n kind, wat ook in Engels, Duits en Nederlands vertaal is. Na die publikasie van Die dinge van ’n kind is sy en Daniël na Frankryk, waar sy aan haar volgende roman gaan werk het.
Ná die publikasie van Dinge van ’n kind sê Marita aan André le Roux (Die Burger, 17 November 1994) dat die twee jaar na Griet tot en met die publikasie van Dinge van ’n kind vir haar niks lekker was nie. "Dit was twee jaar van hel, ja. Daardie oë wat wag, kritici wat wag to cut you down to size. Maar nou’s die boek klaar, ek kan niks meer daaraan doen nie. Nou’t ek net ’n soort fatalistiese angs."
In 1997 verower sy ’n internasionale beurs van die Stigting vir Skeppende Kunste wat haar in staat stel om na Iowa City in Amerika te gaan waar sy aan die plaaslike universiteit se School of Letters ’n International Writing Program volg. Sy neem ook saam met ander skrywers deel aan ’n program waarin die skryfkuns bestudeer word.
Intussen moet Marita ook vir Daniël gelukkig hou en in 1996 verskyn Olinosters op die dak – geïllustreer deur Piet Grobler – wat spesiaal vir Daniël geskryf is. Dit word ook in Engels uitgegee en verower die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterlektuur.
In Olinosters gaan kuier Daniel by sy oupa en ouma en slaap oor in ’n vreemde bed. Hy hoor baie vreemde geluide en dan moet oupa of ouma hom kalmeer dat dit net ’n "olinoster of ’n krokokoei, of ’n blouwildekameel of ’n bobberilla is". Hulle is almal goed waarvoor hy nie bang hoef te wees nie.
In 2015 verskyn ’n tweede uitgawe van Olinosters op die dak met Dale Blankenaar as die illustreerder. Die nuwe illustrasies gee ’n splinternuwe voorkoms aan die kinderboek en Marita was baie in haar skik daarmee. Oor die nuwe illustreerder en illustrasies vertel Marita aan Elna van der Merwe in Huisgenoot van 7 Mei 2015: "Ek is versot op die nuwe voorkoms wat Dale Blankenaar geskep het. Dit maak die boek toeganklik vir ’n nuwe geslag kinders van die 21ste eeu. Hy het nie net geïllustreer nie; hy het die hele boek herontwerp. Dale het byvoorbeeld klompe woorde op sekere bladsye ingepas sodat die monsters in die kind se verbeelding elke keer op ’n volle dubbelbladsy sonder enige woorde uitgebeeld kan word – wat hulle rêrig skrikwekkend maak.
"En die swart agtergrond met wit lettertjies op sekere bladsye om die donkerte en die vrees vir die donker te wys! Die lang voorkoms van die boek pas by die lang, dun huis waarin die oupa en ouma woon. Dale het nie eens geweet ek het so ’n lang, dun, ongebruikte graansilo op my erf op die Franse platteland nie; dit was net heerlike toeval, wat die Engelse serendipity noem."
In Rapport (7 Junie 2015) skryf Lona Gericke: "Kinders leer in die boek om hul vrese in die nag te oorwin en die humoristiese aanslag help ook. Marita van der Vyver se teks lees lekker en gerusstellend."
"Dale Blankenaar se donker verbeeldingryke illustrasies versterk die gevoel van ’n donker nag met onheilspellende gedoentes wat die seuntjie bang laat voel. Sy dubbelvolblad illustrasies van elke spesifieke monster is indrukwekkend." [...]
"Die boek is werklik ’n kunswerk van begin tot einde. Kunsliefhebbers sal dit geniet, en kunsstudente kan leer by Blankenaar. Dit is ’n boek vir fynproewers."
Olinosters op die dak en spesifiek Dale Blankenaar is aangewys as een van IBBY se boeke van die jaar in 2015.
In 1999 word Wegkomkans gepubliseer en ook dit is ’n wegholsukses. Binne dae is die eerste druk uitverkoop en die tweede druk verkoop net so goed.
Ná die publikasie van Wegkomkans vertel Marita in ’n onderhoud aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 29 April 1999): "Met Dinge van ’n kind het ek vrede gemaak met goed uit my tienertyd en op ’n manier is Wegkomkans, met sy vraagstukke van die jare tagtig, ’n logiese verdere stap."
Wegkomkans handel oor vriendskappe. Die gebeure verloop oor ’n tydperk van tien jaar (1895 tot 1995) en die groep vriende kom gedurende hierdie tien jaar bymekaar vir ’n seevakansie om hulle vriendskapsbande te versterk. Deur die boek vind daar groei in die karakters plaas en verander hulle siening van die land en sy probleme van idealisme aan die begin tot ontnugtering en sinisme aan die einde. Ook is daar die erotiek waardeur baie van die karakters aan mekaar verbind is.
Marita het veertien jaar met die tien karakters van die boek en die tema van vriendskap in haar kop rondgeloop. "Ek sou nie toe die boek kon skryf nie. Ek was nie reg vir die logistieke verwikkeldheid nie. Ek moes eers meer eenvoudige goed skryf om die skryfkuns deeglik onder die knie te kry. Veertien jaar gelede het ek ook nie die guts gehad om uit mans se perspektief te skryf nie," sê sy aan Stephanie Nieuwoudt.
Ook in 1999 vertrek Marita en Daniël terug na Frankryk en word Marita en Alain Claisse se dogtertjie, Mia, gebore.
In 2001 verskyn Griet kom weer ten spyte van Marita se vroeëre uitspraak, "Nee, ek is bang om Griet kom weer te skryf …". Hierdie keer het sy stylgewys "met mites eerder as sprokies" gewerk. Ook hierdie Griet maak haar verskyning in Nederlands, net soos Marita se volgende romans, Vergenoeg (2003) en Stiltetyd (2006).
Op ’n vraag van Francois Smith (Die Burger, 7 November 2001) oor hoekom sy Griet kom weer geskryf het, antwoord Marita: "Die eenvoudige antwoord sou wees: Omdat ek nie anders kon nie. Soos met my vorige boeke het die karakter eenvoudig in my kop kom sit, omtrent soos ’n ongenooide gas in my huis, en geweier om pad te gee voordat ek haar in ’n storie verander het. Ek vermoed die meeste skrywers ervaar iets soortgelyks. Salman Rushdie praat selfs van ’n karakter wat hom 'aan die keel gryp' asof hy verwurg sou word as hy nie skryf wat hy moet skryf nie. My karakters is goddank meer passief. Hulle squat net eenvoudig daar, weke, maande, soms selfs jare, tot hulle uitgeskryf word. Griet het op hierdie ongenooide manier ’n herverskyning gemaak in Wegkomkans, net so ’n kameerolletjie gespeel, maar dit was genoeg om my van voor af te laat wonder oor haar."
Elmari Rautenbach skryf oor Griet kom weer (Die Burger, 24 Desember 2001): "Griet kom weer is ’n roman oor die liefde. Nie die vroeë blos van kalwerliefde nie, soos ’n vriendin tereg opgemerk het, maar ’n ryp liefde wat volwasse vrae stel. Nou gaan dit nie meer oor 'Is hy lief vir my?' nie, maar 'Het ons liefde ’n toekoms?' (…) Griet kom weer is ’n toeganklike boek met geloofbare karakters. En ja, die dubbele betekenis van die roman se titel kan inderdaad gesien word as ’n verwysing na die 'oopskryf' van seks in die eerste Griet. Maar dit is tog of ek aan die einde van Griet kom weer ’n bietjie meer verwag het van die sterk, komplekse karakter; die survivor wat ek tien jaar gelede ontmoet het. Die ironie is dat die flagrant kommersiële voorblad die verskil tussen Griet I en Griet II onderstreep."
In Volksblad van 26 November 2001 skryf HP van Coller dat hier ’n "rasegte storieverteller aan die woord is".
In 2002 word Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom uitgegee en word dit bekroon met die goue medalje in die Afrikaanse afdeling van die Sanlamprys vir Jeuglektuur en verskyn dit ook op IBBY se ererol vir Afrikaanse jeugboeke. Marita vertel aan Jaco Jacobs (Die Burger, 7 November 2002) van die storie: "Hanna is ’n tiener wat van kleins af te veel vrae gevra het, daarom het haar mense haar dan ook sommer Hanna Hoekom begin noem. Sy lewe nou in ’n taamlik eksentrieke laslapgesin (ma is ’n skilder wat verfkwaste in haar hare druk, pa is ’n gay klereontwerper wat sy omtrent nooit sien nie, stiefpa is ’n akteur wat sukkel om werk te kry, en dan is daar nog twee stiefbroers en ’n halfbroer wat ’n proefbuisbaba was) en haar grootste begeerte is om ’n ’normale' kerngesin te hê. Soos in ’n ma wat koekies bak en ’n pa wat ’n aktetas in plaas van ’n handsak dra. Daarom maak sy vir haar ’n lewe op in haar (besonder vrugbare) verbeeldingswêreld en skep ’n 'alter ego' met ’n eksotiese naam soos Fabienne wat allerlei fantastiese avonture meemaak.
"Die idee kom seker maar uit die feit dat ek self deesdae in ’n laslapgesin lewe – darem nie heeltemal so eksentriek soos Hanna s’n nie! – en dat ek begin wonder het hoe dit voel om ’n kind in so ’n gesin te wees. Dalk is die hele storie net ’n poging om my kinders en stiefkinders beter te verstaan."
Marlene Wiggill skryf in Die Burger van 5 Mei 2003: "Die lewensgetroue uitbeelding van die karakters in Hanna Hoekom dra by tot die sukses van die verhaal. Deur gebruik te maak van ’n ek-verteller weet die leser eerstehands wat Hanna ervaar en hoe sy voel en kan goed met haar geïdentifiseer word. Die verhaal ontvou en karakters ontwikkel in goeie taalgebruik, meesleurende skryfstyl en realistiese dialoog. Van der Vyver beeld byvoorbeeld die homoseksuele Gavin sonder stereotipering uit as ’n interessante en menslike karakter. Dit is duidelik waarom hierdie jeugverhaal verlede jaar met die Goue Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon is – dit is ’n kontemporêre, lekkerlees-verhaal wat die leser met deernis en humor aan ’n 'alternatiewe' gesinslewe bekend stel. Dit kan beslis hoog aanbeveel word."
Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom is vir die grootskerm verfilm en is in 2010 in rolprentteaters vertoon. Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers was in die rolle van Hanna se ma en pa, met Anneke Weidemann as Hanna. Regardt van den Bergh was die regisseur. Die film is baie goed ontvang en Die Burger se resensent het dit 4/5 sterre gegee.
Marita se roman Vergenoeg is verwerk tot ’n musiekteater-stuk deur Alexa Strachan en is in 2010 by die KKNK opgevoer. Die twee aktrises was Sandra Prinsloo en Milan Murray. Herman van den Berg het die musiek vir die produksie geskryf. Oor hierdie nuwe verwerking van haar roman het Marita gesê dat dit vir haar lekker is dat haar boek nou ’n tweede lewe gekry het. "Vir ’n skrywer is dit iets besonders as een van sy of haar boeke vir die verhoog verwerk word. ’n Mens skryf so half in die niet en dis ’n besonderse ervaring wanneer jy saam met mense in ’n gehoor sit en die karakters word lewendig." (Die Burger, 12 Februarie 2010)
Vergenoeg gaan oor ’n sterwende vrou wie se twee dogters haar in haar laaste dae bystaan. "My eie ma is aan kanker dood. Ek het nie die geleentheid gehad om haar by te staan nie. Dalk is die boek ’n soort van boetedoening. Dit bekyk daardie ma-dogter-suster-ding." (Die Burger, 12 Februarie 2010)
In 2004 word sy aangewys as een van Rapport en City Press se tien inspirerende vroue en in dieselfde jaar verskyn Die hart van ons huis oor haar verblyf in Provence. Ook dit is in Engels vertaal.
’n Bundel kortverhale, Bestemmings (Short circuits) volg in 2005, waarin sy vir die eerste maal skryf oor die dood van haar eerste kind, Ian, in die verhaal "Kringvlug". Sy skryf agt jaar aan hierdie stories, waarvan die eerste een al in 1997 geskryf is. Van hierdie verhale is ook in ander tale vertaal selfs nog voordat dit in Afrikaans verskyn het.
In 2007 word die toneelstuk, Bestemmings, by die Woordfees en die KKNK opgevoer nadat Juanita Swanepoel dit verwerk het. Susanne Beyers en Joanie Combrink het daarin gespeel en hulle vertel aan Jeanne Hugo (Die Burger, 7 April 2007) dat in die verhale van Marita wat gekies is vir die toneelstuk word daar op gefokus hoe verskillende vroue verskillende soorte sin van hul lewens maak. En in 2005 maak Marita haar televisiedebuut toe sy in ’n episode van die sepie 7de Laan verskyn.
Voortrek mag Marita nie die een kind voor die ander nie en in 2005 verskyn haar boek vir Mia, Mia se ma, wat ook in Engels vertaal word. Marita is ook ’n bydraer tot Kagiso Uitgewers se Rimpelstories.
In 2006 verskyn Stiltetyd en soos meeste van haar boeke is dit baie gou ook ’n blitsverkoper. Die Human-gesin, Hester en André se dogter, Manon, word enkele weke voordat hulle na Provence sou vertrek om vir ’n jaar daar te gaan woon. Manon is doodgeskiet tydens ’n rooftog in Suid-Afrika. Hulle vertrek wel na Provence saam met hulle 13-jarige seun Emile.
Charles Malan skryf in Beeld (9 Oktober 2006): "Daar moet haar argitekman, André, ’n tuiste uit ’n bouval probeer skep en Emile probeer aanpas by ’n omgewing wat hy verpes. Die verhaal ontvou afwisselend deur dié drie se oë en ervarings. Haar gesin vind dit uiters moeilik om saam met haar depressie en morbiede stiltes te leef. Sy sê vir Emile sy moes liefs op haar eie gekom het en toe hy vra hoe lank, antwoord sy: 'So lank soos dit sou vat om weer mens te word?' [...]
"Die verwisseling van perspektief tussen die drie gesinslede is besonder oortuigend. Bloot hul onderskeie ervarings van die situasie gee aan elkeen ’n unieke profiel. Om dit te onderskraag, word boonop noukeurig aandag gegee aan die ruimtelike konteks en emosiewisselings. […]
"Die skrywer doen iets wat dringend vir die land en die kontinent nodig is: om stem aan die stemloses te gee. In die besonder die slagoffers van geweld en trauma. Selfs die dogtertjie wat doodgeskiet is, praat mee.
"Die roman is kort ná verskyning reeds ’n topverkoper, en geen wonder nie. Dit is een van die aangrypendste ontledings van die lot van slagoffers van geweld plaaslik en in Afrika wat nóg in Afrikaans verskyn het. Juis deur onderbeklemtoning en die wegstuur van sensasie word die roman só 'sensasioneel' dat dit deur alle Suid-Afrikaners gelees behoort te word, maar ook veel wyer."
Marita woon nog steeds in Frankryk saam met Alain, Daniël, Mia, en Alain se seuns, Thomas en Hugo.
Marita skryf op ’n maandelikse basis briewe aan Sarie waarin sy vertel van haar en haar gesin se daaglikse lewe in Provence in Frankryk. Sy het ons in Die hart van ons huis bekendgestel aan haar lewe daar, en in Franse briewe: pos uit Provence wat in 2008 verskyn het, vertel sy verder.
Hierdie briewe lees soos die leser se persoonlike pos uit Provence, want Marita weet hoe om haar leser tot vriendin te verklaar en intimiteit te skep, meen Annamarié van Niekerk in Beeld (9 Februarie 2009). Die hart van ons huis het die leser bekendgestel aan Marita se huis in Frankryk met die blou luike oorkant die klipkerk uit die 12de eeu. In Franse briewe word die leser weer ingenooi, "want my boek gaan eintlik oor die algemene vrese en vreugdes van die lewe. Natuurlik is daar ook ietsie eg Frans in, soos Franse mans se waardering vir ouer vroue."
In Franse briewe lees ons meer oor die aanpassing in ’n vreemde land, oor histeriese situasies waar mense mekaar misverstaan, liefde en ma-wees. "Sy doen dit innemend en meesleurend, met ’n vonkel in die oog – deur selfspot, deur regdeur die fasades van mense om haar kyk, deur te midde van alledaagsheid momente van absurditeit, erns en skoonheid raak te sien en dit met ’n soepele taalvermoë tot heerlike leesstof te distilleer. En voor jy jou kom kry, sien jy die laventelvelde van die Provence deur jou eie kombuisvenster tot by die horison strek," skryf Van Niekerk.
Vir Theo Kemp (Rapport, 25 November 2008) is Marita "een van ons gewildste Afrikaanse skrywers met ’n breë lesersmark waarvan die meeste ander net kan droom. Franse briewe gee aan die leser, net soos Die hart van ons huis, ’n blik op haar lewe as Afrikaanse vrou, ma en skrywer in Provençe. Sy skryf nie feministies of vervreemdend nie, maar gemoedelik en verlei haar lesers met die bekendheid van haar 'prosa van potte en panne' (aldus Elisabeth Eybers), sonder om meer as net te raak aan die 'ernstiger' dinge onder die oppervlak. Van der Vyver kén haar teikengroep se leesluste deur en deur. En soos haar vorige boeke sal Franse briewe weer byval vind by dié groot groep lesers. Franse briewe kan met ’n geruste hart dus in vele Kerskouse gelos word. Tog hunker dié leser na die meer gedronge skrywer van die vroeë Dinge van ’n kind."
Aanvanklik het Marita gedink dat dit moeilik sal wees om elke keer "inspirasie" vir ’n nuwe rubriek te vind, maar, vertel sy aan Terésa Coetzee in Rapport (30 September 2008), "ek het gou agtergekom dit werk maar dieselfde as om fiksie te skryf. Ek wag nie vir 'inspirasie' nie. Dis eerder ’n heeltydse gemoedstoestand, a frame of mind, jy hou jou oop en ontvanklik, jy gee jou verbeelding vrye teuels en dan sien jy die hele wêreld lê besaai met stories."
Om ’n rubriek en ’n roman te skryf, is soos om ’n naelloop en ’n marathon te hardloop. Dis nie te sê dat dit maklik is om ’n rubriek te skryf of om ’n kort naelloop te hardloop nie, maar as jy kan en dan nog op ’n gereeld basis oefen, is dit gou verby, terwyl ’n roman of ’n marathon ure se alleen-wees beteken. Die pyn wat dit meebring, kan ’n mens partymaal skaars verduur en ’n mens wonder hoekom doen ’n mens dit en belowe jouself om dit nooit weer te doen nie. "Maar skaars het jy die wenpaal gehaal – of die boek gepubliseer – of jy begin jou voorberei op die volgende een. Niks logies daaraan nie, suiwer verslawing, meen ek," aan Terésa Coetzee (Rapport, 29 September 2008).
2010 was ’n baie besige jaar vir Marita. Haar volgende roman, Dis koue kos, skat is by Human & Rousseau gepubliseer en ’n kookboek, Somerkos in Provence, is ook uitgegee. ’n Nuwe weergawe van haar Grimm-sprokies, Die mooiste sprokies van Grimm (2002), het in 2006 by Protea verskyn met die titel Die volledige sprokies van Grimm.
Die mooiste sprokies van Grimm is deur Piet Grobler geïllustreer en Marita het dit self uit die Duits vertaal. In die voorwoord vertel sy dat sy al lank oor hierdie projek gedroom het en dan het sy Piet Grobler se illustrasies in haar geestesoog gesien, so dit was vanselfsprekend dat sy hom sou vra om die illustrasies te doen. Hulle het nie die boek gesien as een af ander akademiese dissertasie nie, maar as ’n bundel vir die hele familie wat elkeen kan lees en geniet. Piet het die kans benut om bekende sprokies soos Rooikappie, Die wolf en die sewe bokkies en baie ander wat bekend is en ander wat nie so bekend is nie, te illustreer.
"Sprokies is die argetipes van alle stories," vertel Piet (Die Burger, 6 November 2010), "alle narratiewe waarmee ons werk, stam daar uit. Sprokies was my deurtjie na verre plekke, na die donker woud vol geheime, die plek waar drome gebeur. Nou nog as ek ’n woud in my geestesoog oproep, is dit die Swartwoud."
Oor Dis koue kos, skat skryf Marida Fitzpatrick (Beeld, 7 Junie 2010) dat die kern van die verhaal gaan oor wraak. "Clara Brand is verpletter en wraaklustig nadat haar man en haar vriendin haar verraai het deur ’n skelm verhouding aan te knoop. (…) Die boek begin by wat vir die hoofkarakter lyk na die einde: Clara dobber tussen die wrakstukke van haar huwelik en wil-wil verdrink in ellende en jaloesie. Al wat haar déúrtrek, is whisky, sjokolade en opera. Oor ’n tydperk van tien jaar skryf sy aan haar vriendinne, haar gewese man, haar 'gewese vriendin wat my man gen**I' het en hier en daar ook aan haar kinders oor haar reis van die skeepswrak terug na die land, na ’n nuwe lewe toe. Dit is ’n briefroman en bestaan dus nét uit briewe. Dit maak ’n klomp dinge moeilik: dialoog, aksie, konflik, ’n spanningslyn, die ontwikkeling van ander karakters. Vir ’n minder ervare of talentvolle skrywer kon hierdie hindernisse fatale slaggate geword het, maar Van der Vyver kry dit reg om dié uitdagings te oorkom en om ondanks die beperkings wat ’n briefroman bied, ’n hoogs vermaaklike, toeganklike en roerende storie te vertel."
Riana Scheepers se resensie van Dis koue kos, skat op Die Burger se Boekeblok (Die Burger, 28 Junie 2010) het die vorm van ’n brief aan Marita aangeneem waarin sy aanvanklik vir Marita gelukwens met die feit dat sy haar storie in die vorm van ’n briefroman gepubliseer het – iets wat ’n uitstekende keuse was, aangesien dit ’n genre is wat Marita se skryfstyl uitstekend pas en die gebeure wat oor tien jaar strek, met ’n polsende pas aangee. Maar die omslag van die boek – pienkerig en koekerig – lyk vir Scheepers aan ’n hygroman s’n.
Scheepers gaan voort om op die goeie punte, sowel as die slegte punte in die boek te wys en sy sluit dan haar resensie af deur te sê: "Marita, jy het ’n boeiende boek geskryf, jy gaan die lesers lekker laat lees. Ongelukkig is daar ’n Ander Vrou in jou boeklewe wat jou ’n lelike streep getrek het: Meryl Streep. In die fliek, It's Complicated, waarin Streep en Alec Baldwin die hoof karakters vertolk, word jou verhaal bykans punt vir punt herhaal. Toe ek die uiteensetting van die film aanlyn bestudeer, het ek geskrik. Bykans alle aspekte daarvan word in jou boek gedupliseer: die 10 jaar, 3 kinders, die jonger, ander vrou wat soos jou Anaïs vrugbaarheidsbehandeling kry, selfs die kosmakery is daar én die selfoon-onthulling van die eks-getroudes se ontrou (’n webkamera in die film). Ek dink allermins jy het die regisseur Nancy Meyers se verhaal oorgeneem, die film is Kersfees 2009 uitgereik. Die ergste ding wat egter kon gebeur het, het gebeur: Meyers se verhaal was eerste. Maak dit jou nou die Tweede Vrou? Al is dit onregverdig teenoor jou, is jou boek se kos nou koud. Of kan ’n mens wel glo dat die Tweede Vrou (soms) die oorwinnaar is?"
Op hierdie "briefresensie" het Marita (ook op die Boekeblok) geantwoord dat sy nie normaalweg op resensies antwoord nie, maar aangesien hierdie een in die vorm van ’n brief is, voel sy dat sy – as deel van goeie maniere – wel daarop moet antwoord. En verduidelik Marita, dat toe It's complicated in Suid-Afrika begin vertoon is, was haar manuskrip al by die uitgewers.
Oor hierdie polemiek, asook oor resensies – negatief én positief – vertel Marita dat sy beide op dieselfde manier hanteer: "Deur vir myself te sê dis die mening van één persoon wat op ’n bepaalde tyd in sy/haar lewe ’n bepaalde boek gelees het, niks meer nie. Venynig is iets anders. Die venynigste resensie wat ek ooit gekry het, was meer as 15 jaar gelede vir Die dinge van ’n kind, deur ’n resensent (wat naamloos sal bly) wat my voorkoms en kleredrag in die resensie aangeval het. Dit was vir my so erg dat ek dit vlugtig oorweeg het om nooit weer enigiets te publiseer nie. Maar soos die oumense altyd gesê het, wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker. Daardie soort bitsigheid so vroeg in my skryfloopbaan het my taf gemaak."
Oor haar nuwe roman vertel Marita dat die gesegde lui: "Revenge is a dish best served cold." "Die boek is baie humoristies, vol seks en sonde. Daar sal baie vroue wees wat met die boek kan identifiseer. Die meeste vroue word die een of ander tyd bedrieg. Almal wil wraak neem, maar almal is te ordentlik," aan Mariana Malan (Beeld, 12 Februarie 2010).
Na die publikasie van Dis koue kos, skat het Marita op Facebook aangekondig dat sy haar uitgewers belowe het sy sal haar vuvuzela blaas totdat sy blou in die gesig is die dag waarop sy meer boeke as Stieg Larsson verkoop. En toe gebeur dit. In Julie 2010 het Dis koue kos, skat volgens ’n lys van fiksie van Nielsen BookScan, bo-aan hierdie lys vir Suid-Afrika verskyn. Meer as 15 000 eksemplare is plaaslik verkoop sedert dit in April verskyn het. Marita het aan Nadine Petrick op LitNet vertel dat sy een stryk deur geblaas het, want in dieselfde tyd was Koue kos ook voor John Grisham en Ena Murray se Omnibus op Nielsen se lys. "My tone krul van lekkerkry."
Oor haar skryfwerk vertel Marita van der Vyver aan Adéle Dempers in Volksblad (22 Mei 2010) sy probeer om elke dag vir ’n spesifieke paar uur te gaan sit en skryf as haar man by die werk en die kinders in die skool is. "Skryf is ’n eensame werk – jy kan nie regtig saam met iemand skryf nie." Skryf is nie soos musiek maak waar jy op jou eie werk en dan saam met ander musiek maak nie. Sy maak meestal van die rekenaar gebruik om te skryf, maar sal wel so af en toe die eerste deel van ’n hoofstuk met die hand skryf net om die gevoel te kry. Sy noem haarself ’n "tegnofoob" wat nie baie hou van dinge soos rekenaars en selfone nie, maar besef dat daar wel waarde in hulle steek. Sy hou van en benut wel haar Facebook-profiel wat haar seun Daniël vir haar opgestel het en ook gebruik sy haar e-pos op ’n gereelde basis, veral as sy lank van die huis af is, soos wat taamlik gereeld gebeur.
Met Somerkos in Provence, wat Marita in medewerking met haar man Alain Claisse geskryf het, begewe sy haar op terrein waar sy nog nie vantevore was nie, naamlik die kombuis en die kookkuns. Voordat sy en Alain getroud is, het sy nie eintlik veel in die kombuis gekom nie, terwyl hy van jongs af by sy ma geleer kook het.
Vir Herman Lategan is Somerkos in Provençe (Rapport, 9 November 2010) veel meer as net ’n resepteboek. Hy het dit ook geniet om dit te lees, want die stukke lees soos kortverhale oor kos en kook. "Van die hoofstukke se titels is kosbaar: 'Aspris met aspersies', 'Moenie skrik vir koue (murg)pampoen nie', 'Somer, son ... en sop', en nog baie ander'." Lategan sonder ook die foto's van Lien Botha en die kosfotograaf Jan Ras uit.
Oor haar karakters en hulle ontwikkeling vertel Marita aan Jo Viljoen op LitNet dat karakters die belangrikste deel van haar boeke is. "Ek begin elke storie met ’n biografie vir elke belangrike karakter. Hoe hy lyk, wanneer hy gebore is, waar hy grootgeword het, hoeveel broers en susters, elke moontlike brokkie inligting. Die meeste van die inligting word nooit in die storie gebruik nie – maar ek het dit nodig om die karakter vir myself lewend te maak voordat ek die storie begin skryf.
"En ek moet die karakter so goed soos ’n nabye familielid ken vóór ek begin skryf – maar terwyl ek skryf, leer ek die karakters selfs beter ken, en word ek dikwels verras deur hulle optrede of persoonlikhede. Wat seker net weer bewys dat jy nooit werklik iemand goed genoeg kan ken nie, nie eens jou naaste familielede nie, en beslis nie die karakters wat jy self geskep het nie. [...]"
"Naas karakter is struktuur vir my die belangrikste deel van my skryfwerk. Ek beplan dus ’n raamwerk vir elke storie. Die tydsduur waarin dit afspeel (twee weke of twee jaar?) help om die regte raamwerk te vind. Dan besluit ek byvoorbeeld min of meer hoeveel hoofstukke daar gaan wees en min of meer hoe lank elke hoofstuk gaan wees. Dan eers kan ek behoorlik aan die skryf kom – maar ek weet nóóit vooraf hoe die storie gaan eindig nie. Ek het wel ’n idee van waarheen ek mik, maar soms word die einde eers teen die laaste hoofstuk vir my duidelik. Soos baie ander skrywers skryf ek juis 'om die einde te leer ken'. Letterlik én figuurlik. Alle ernstige skryfwerk het met die einde / die dood te doen."Marita skryf haar skryfwerk baie maal oor en stuur dan die manuskrip na haar redakteur. Sy verkies ook dat buitekeurders ook lees. En dan, net voor sy dit finaal oorskryf, bestudeer sy almal se kommentaar en hierdie laaste weergawe word dan ook nog deur ’n goeie redakteur deurgelees en geredigeer.
In 2011 het Elsabé Zietsman Marita se Dis koue kos, skat as ’n eenpersoonsvertoning by die KKNK op die planke gebring. André Odendaal was die regisseur en Alexa Strachan het die verwerking vir die verhoog gedoen. Sy was ook verantwoordelik vir die verhoogverwerking van Marita se roman Vergenoeg. Elsabé het lank gesoek na ’n eenpersoonsvertoning waarin sy nie hoef te sing nie. Maar niks was ooit heeltemal reg nie. Toe kry sy Marita se roman in die hande en besef dit is die teks waarna sy al jare soek.
"Ek het destyds Marita se boeke Griet skryf ’n sprokie en Die dinge van ’n kind (’n boek oor ’n jong meisie wat haar onskuld in ’n tyd van verpligte militêre diens verloor) gelees en dit het ’n geweldige impak op my gemaak," vertel Zietsman. "Sy het iets vasgevat wat vir ons bepaalde geslag belangrik was. Ek het met Die dinge van ’n kind die eerste keer vir ’n skrywer ’n brief geskryf om dankie te sê. Nadat ek so lank gesoek het na ’n geskikte teks, is hier nou iets uit eie bodem wat 100% reg is vir ’n eenvrouvertoning," vertel Elsabé aan Stephanie Niewoudt in Die Burger van 18 Maart 2011.
Marita se volgende roman is Die blou van onthou wat in 2012 uitgegee is. Hieroor skryf Gerda Taljaard in Beeld (15 Oktober 2012): "Daar's mos dinge wat mens vergeet, selfs al wíl jy onthou, en dan's daar dinge wat mens onthou, al wil jy vergeet ?.?.?. 'Azul' is die Portugees vir blou, die tradisionele kleur van 'azulejos', oftewel teëls, waarvan teëlkuns in Portugal gemaak word. Net soos elke teël noodsaaklik is om ’n volledige 'teëlskildery' te vorm, so is die onthou van elke herinnering, hoe pynlik ook, belangrik om ’n volwaardige mens te maak.
"Hierdie motief van onthou, die teruggryp na die verlede voordat dit in die vergetelheid verdwyn, die oproep van die geskiedenis om genesing te bring, staan sentraal in Van der Vyver se nuwe roman. Dit is egter nie die enigste tema in hierdie ryk geskakeerde teks nie.
"Daar is ook die reismotief wat by hierdie tema aansluit, want die skrywer neem die leser as't ware op ’n bittersoet herinneringstog deur sewe dekades, vergesel deur drie merkwaardige vroue wat drie geslagte verteenwoordig – die weemoedige Colette Niemand, wat ’n brief ontvang wat haar dwing om te onthou wat sy probeer vergeet het, haar veglustige dogter, Nandi, en Nandi se weggeekind, Tina, wat soos haar ouma haarself in Lissabon probeer 'vind'."
Vir Taljaard is daar etlike "donker onderwerpe" in die storie, maar Marita se nou al bekende humorsin is altyd teenwoordig om te voorkom dat die boek te swaar raak. Sy voel ook dat die storie teen die einde dalk te voorspelbaar raak, maar die roman vermaak en laat jou terugdink aan al die dinge wat jy wil onthou.
Izak de Vries (op LitNet) wou by Marita weet hoe sy daaroor voel om as "populêr" beskou te word. "Elke keer as ek wil krapperig word oor ek nie 'ernstig genoeg' opgeneem word nie, troos ek myself met daardie wonderlike aanhaling oor engele wat kan vlieg omdat hulle hulself nie te ernstig opneem nie. Ja, ek werk doelbewus meer as een laag by my stories in, maar ek doen dit miskien bowenal om myself van verveling en frustrasie te red terwyl ek skryf, nie noodwendig om lesers te imponeer nie. En indien die odd leser sou oplet dat die karakters se name in Dinge van ’n kind nie sommer uit die lug gegryp is nie, of dat Griet kom weer gebou is op dieselfde struktuur met dieselfde aantal hoofstukke ensovoorts as Homer se The Odyssey, nou ja,dan is dit vir my, en hopelik ook vir die leser, ’n bonus."
En oor die misdaad in Suid-Afrika? "Ek ken heelwat ekspatriate vir wie misdaad miskien nie die belangrikste rede was om Suid-Afrika te verlaat nie, maar dis beslis een van die struikelblokke wat hulle keer om terug te kom. Die probleem is as jy nog altyd net in Suid-Afrika gewoon het, voel dit vir jou normaal om heeltyd bang en gestres te wees en obsessief al jou besittings toe te sluit en weg te steek. Maar as jy eers ’n ruk elders gewoon het, en gesien het daar ís ander maniere om te lewe, dan word dit bitter moeilik om terug te gaan na daardie abnormale toestand van vrees en obsessie."
Dit is nou al bykans vyftien jaar sedert Marita en Alain se verhouding begin het. Sy sê aan Terésa Coetzee (Rapport, 28 September 2008): "Party dae is ek nog meer verlief as toe ek hom ontmoet het. En ander dae weet ek nie wat soek ek saam met hom nie. Ek vermoed dis maar die patroon van enige eerlike, intense liefdesverhouding. Maar sy grootste aantrekkingskrag bly dat hy my laat lag. En solank ek meer kan lag as huil saam met hom, sal ek by hom bly."
Sy bly baie lekker in Frankryk en is gelukkig daar. "Maar wat my die meeste behaag, bly die aandag wat aan spys en drank bestee word. Die tydsame ritueel van goed en gesellig eet en drink saam met vriende en familie. Ek droom daaroor om eendag, as die kinders almal uit die skool is en Alain naby aftree-ouderdom, die helfte van elke jaar in Suid-Afrika te woon. Ek hoop met my hele hart dat dit teen daardie tyd moontlik sal wees om fisiek veiliger te voel. Ek het op die Franse platteland geleer dat dit nie normaal is om heeltyd in vrees te lewe nie."
Marita van der Vyver se eerste radiodrama, Bagasie, is op 7 November 2013 op RSG uitgesaai. (Volksblad, 7 November 2013). Margot Luyt het gesê dat daar min mense is wat weet dat Marita, benewens ’n baie gewilde skrywer, ook ’n opgeleide aktrise is. Sy het in haar jong dae toneelklasse geloop by onder andere Babs Laker.
In Beeld (7 November 20213) word die stuk beskryf as ’n interkontinentale liefdesverhaal. "’n Kaapse advokaat vertrek na Frankryk met sy nuwe liefde, kort ná sy onlangse egskeiding. Met sy eks-vrou in Amerika borrel die kompleksiteite van ou én nuwe verhoudings na die oppervlak."
Van die rolle is vertolk deur Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Martelize Kolver, Shirley Ellis, Roeline Daneel, Marius du Plooy en Anrich Herbst.
In 2016 verskyn daar nog ’n radiodrama uit Marita se pen getiteld Genade. Dit is bekroon met die tweede prys in RSG en Sanlam se radiodramaskryfkompetisie en nog ’n bewys van haar veelsydigheid as skrywer.
Genade vertel die verhaal van Kas Stuurman, ’n afgetrede koerantman wat lief is vir woordspeletjies, wyn, blokkiesraaisels en sy vrou Door, skryf Elretha Britz (Volksblad, 21 April 2016). Door, ’n afgetrede onderwyseres, is, behalwe vir haar man, lief vir lees, reis en dans. Hulle het een seun, Vic, in Kalifornië – ver van sy ouers toe Door stadig maar seker begin agteruitgang weens Alzheimer en nie net sy nie, maar ook hulle verhouding begin verbrokkel.
"Die beoordelaars het die radiodrama beskryf as "’n hartroerende verhaal en pragtige, pragtige teks wat die luisteraar op ’n slim manier deur al die fases van Alzheimer se siekte meen. Die skrywer neem ons op ’n reis, nie een waarop ons graag sou wou gaan nie, maar die gegewe bly nugter, raak nooit sentimenteel nie en is juis daarom so ontroerend. Dit is ’n meesterklas in die fassinerende aanbied van ’n storielyn met ’n voorspelbare en onafwendbare einde."
Die verhoogweergawe van Dis koue kos, skat met Elzabé Zietsman was in 2012 op verskeie kunstefeeste te sien. Aan die begin van 2019 is die toneelstuk ook in die Popart-teater in Johannesburg opgevoer met Alexa Strachan wat die verhoogverwerking gedoen het en André Odendaal as die regisseur.
In 2014 berig sarie.com dat Marita se briefroman, Dis koue kos, skat, verfilm gaan word. Anna-Mart van der Merwe sal die hoofrol, dié van die Clara, vertolk. Deon Meyer en Diony Kempen se rolprentproduksiemaatskappy, Karoo Film Company, het die rolprentregte van die boek bekom. Marita het self die draaiboek geskryf en Elzabé Zietsman sal die rol van Minette vertolk. "Ons is in finale onderhandelinge met ’n formidabele akteur om die rol van Bernard, Clara se eksman, te speel," sê Deon Meyer. Darrel Roodt is die regisseur van die fliek.
Marita het aan Laetitia Pople (Volksblad, 24 Februarie 2014) gesê dat sy met die herskryf van die storie vir die film Anna-Mart in haar geestesoog kon sien in die rol van Clara. "Anna-Mart is seker die naaste aan Meryl Streep wat ons in Suid-Afrika het. Sy kan enigiets speel: lief of boos, beeldskoon of vaal, skreeusnaaks of tragies."
Die rolprent is in 2016 vrygestel met Etienne Fourie as regisseur. Oor die rolprent raak Leon van Nierop, bekende rolprentkritikus die volgende kwyt (Rapport, 28 Augustus 2016): "Soms wil die rolprent ook na ’n roman met prentjies lyk, Natuurlik moet Clara van ’n verteltegniek gebruik maak, want die skerpste waarnemings lê hier binne-in haar agter die frons – dele wat net so uit die roman oorgeneem is en wat nie op die oog af in dialoog weergegee kan word nie, tensy jy ’n verbuftige draaiboek het. Maar baie van die tonele het nie altyd daardie verteliings nodig nie. Die dramatisering is snaaks genoeg."
"Maar tog [...] moet vroue ook die kans kry om hul sê te sê. ’n Mens lag hardop vir ’n klugtigheid wat strate beter is as die klugtigheid in Willie Esterhuizen-komedies wat slapstick bloot gebruik wanneer die draaiboek suf geraak het, maar ook om te skok. In Koue kos se geval is woordspelings nie moedswillig of kru nie, maar gesofistikeerd slim met volwasse subteks.
"Koue kos was lanklaas so warm. As jy moeg is vir kommin Afrikaanse komedies oor banale seks, sal hierdie een jou plesierspiere op die regte plekke kielie."
Marita vertel aan Gerrit Brand (Die Burger, 5 November 2005) dat haar ervaring as joernalis en kopieskrywer van groot waarde was. "Dit het my deadlines geleer – ek werk met ’n deadline in my kop, want ’n mens is mos nooit tevrede nie. En om te sny. Ek is nie precious oor ’n sub aan my teks werk nie; ek het ’n goeie verhouding met my redakteur."
En wou Brand ook weet, word dit makliker? "Ja, omdat jy meer dissipline kry, nie meer glo in die muse nie, ’n aantal ure per dag werk. Nee, omdat jy, en ander, hoër verwagtings het; jy's nie meer ’n beginner nie. Wat jou laat skryf, is die geloof dat jou beste boek nog voorlê."
In 2013 word ’n Fontein voor ons deur gepubliseer en hierin gaan Marita terug na haar man en kinders en hulle lewe in Frankryk. In hierdie bundel verhale word daar meer vertel van hulle verhuising.
In Beeld (7 Oktober 2013) skryf Dineke Volschenk: "Van der Vyver meander deur haar 'regte' lewe, begin dikwels iewers en kom by ’n heel ander plek uit soos net goeie storievertellers reg kan doen. Sy mymer, filosofeer bietjie, preek hier en daar, verlang soms huis toe, raak nostalgies, beleef en oorleef allerhande huishoudelike rampe. Dit alles in heerlike Afrikaans. Sy vermy clichés vernuftig. Maar dit laat jou veral met nuwe oë na jou eie lewe kyk.
"Jy besef jou lewe is ook stories – interessant, skreeusnaaks, sentimenteel, hartseer, die hele kaboedel. Van der Vyver maak die ordinêre spesiaal. Die boek is soos ’n vitamien B-inspuiting vir 'gewone' mense; jy behoort dit saam met die digbundels in die toilet te hou, soos Van der Vyver doen, en jou daar gaan toesluit wanneer die yskas breek of jy voel die kinders jou as vanselfsprekend aanvaar sodat dit jou weer kan opkikker."
Ná die sukses van Somerkos in Provence in 2010 word Marita en haar man Alain Claisse se volgende kookboek, Winterkos in Provence, in 2014 gepubliseer. Alain en Marita het die boek op ’n kostoer deur Suid-Afrika kom bekendstel.
Oor die nuwe wending wat haar skryfwerk aangeneem het, vertel Marita aan Anmi Honiball (Volksblad, 18 Julie 2014) tydens die Vrystaatse kunstefees: "My eerste boek was van ’n vrou wat haar kop in die oond wou druk. Nou skryf ek kookboeke. Ek was altyd bang vir kosmaak. En toe gaan staan en raak ek verlief op ’n kosmaker-Fransman.
"Met dié kookboek wou ons Franse gunstelinge vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor toeganklik maak. Ons probeer as ’n reël kos en bestanddele gebruik wat oor die wêreld heen beskikbaar is. Ek wil graag mense help om hul fobie vir kosmaak te oorwin en op die kleure en geure van kos verlief te raak."
Vir Marita is Somerkos en Winterkos nie kookboeke óf resepteboeke nie, maar kosboeke, vertel sy aan Maryke Roberts (Volksblad, 4 Julie 2014): "Ek kan nie ’n boek skryf net met resepte nie, want daar is baie beter kokke as ek. Ek kan wel stories vertel. Ons het probeer om met die boek iets anders as die gewone kookboek te bied, want nie alle kokke is storievertellers nie."
Vir Ilse van der Merwe (LitNet) is Winterkos ’n boek wat jy in ’n stil sonskynhoekie moet lees, "sonder haas, waar jy jou kan verloor in Marita se koswêreld. Jy gaan keer op keer na hierdie boek wil terugkeer, nie net vir die resepte en die foto's nie, maar grootliks vir die pragtige stories."
Marita skryf in 2014 nog ’n kinderboek getiteld Die coolste ouma op aarde. Hierdie Ouma word bekroon met die ATKV-Woordveertjie vir beste kinderboek in die voorleeskategorie: graad RR-1 in 2015.
Sy vertel aan Izak de Vries op sy blog op LitNet dat haar oogmerk met Die coolste ouma was (behalwe om oumas te laat rock) om kinders te laat verstaan dat elke ouma op haar manier uniek is – "en dit maak nie saak hoe jou ouma lyk en wat sy doen nie, ’n regte, lewende ouma is beter as enige storieboekouma. Daar’s baie kinders wat sonder oumas grootword of wie se oumas te ver woon om ’n hegte verhouding met hulle op te bou. My ma is dood in dieselfde week as wat my dogter gebore is, dus het Mia nooit haar Afrikaanse ouma geken nie, en haar Franse ouma woon in die verste hoek van Frankryk. Ek het gesien hoe mis sy ’n ouma wanneer haar maatjies oor hulle oumas praat."
Marita raak baie opgewonde teenoor Izak de Vries as sy oor die Zinelda McDonald, die illustreerder van Die coolste ouma praat: "O, sy’s ’n vonds! Sy’s bloedjonk en nog onbekend, maar ek kan nie spog dat ek haar gevind het nie, dis die uitgewer, Miemie du Plessis, wat ons bymekaar uitgebring het. Al wat ek gedoen het, was om my neus op te trek vir ’n paar ander illustreerders se werk wat Miemie vir my gewys het. (Ek moet haar bedank vir haar geduld want ek’s vol fiemies as dit by illustrasies kom.) Maar jy weet, nes ’n versamelaar van goeie wyn nie sommer enige dooswyn sal drink nie, sal ’n versamelaar van goeie kinderboeke mos ook nie tevrede wees met illustrasies wat soos Disney of Pixar se animasiekarakters lyk nie! Maak nie saak hoe tegnies perfek sulke prentjies is nie, dit kort ’n eie karakter.
"Die groot illustreerders wat ek bewonder, se werk is onmiddellik herkenbaar as hulle s’n en net hulle s’n. Meesters soos Maurice Sendak het inderdaad verskillende style vir verskillende stories beproef, maar as jy eers wéét hy het die storie geïllustreer, kan jy jou nie voorstel dat enigiemand dit anders sou kon doen nie. Daar’s ’n soort onvermydelikheid aan goeie illustrasies. Presies hierdie prentjies pas by presies hierdie woorde. Dís die gevoel wat ek gekry het toe ek Zinelda se eerste proefillustrasie sien – van die ouma wat soos ’n rock-ster saam met ’n kleinkind konsert hou – en ek het dadelik vir Miemie laat weet: I think we got it."
Marita keer in 2015 terug na een van haar bekende en suksesvolle karakters, Hanna Hoekom, met die publikasie van Swemlesse vir ’n meermin. Hiermee palm sy die Scheepersprys vir jeuglektuur vir 2016 in.
Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2002) het geëindig waar Hanna se babasussie, Ariel, in die berge gebore is. In Swemlesse skryf Hanna al die lesse van die lewe wat sy geleer het vir haar babasussie neer. Omdat sy wel deeglik bewus is van die feit dat hierdie sussie van haar sal moet "sink of swem", noem sy dit "swemlesse", skryf Willie Burger in Vrouekeur (4 September 2015).
"Die lesse behels raad oor hoe ’n tiener ouers behoort te hanteer, oor die verwerkring van teleurstellings, oor skool, oor geld, oor klere, oor familie. [...] In die proses vertel Hanna ook weer van haar eie ervarings en daarom bly die boek ’n mens boei. [...] Die styl bly deurgaans die ligte, vermaaklike aanslag van Hanna, wat Van der Vyver so uitstekend doen en wat veroorsaak dat ’n mens die boek nie kan neersit nie. Die lesse is nooit prekerig nie, daarvoor bly dit te lig."
Marita vertel aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 30 Julie 2015) dat in die twaalf jaar wat verloop het tussen die publikasie van Hanna Hoekom en Swemlesse sy gewag het dat Hanna en haar gesin in "haar verbeelding moet vervaag, maar hulle het geweier om weg te gaan. Toe raak ek seker maar moeg van lesers wat wil weet wat van Hanna-hulle geword het – veral nadat die rolprent (2010) haar aan ’n nuwe geslag voorgestel het. Toe vra ek myself af: 'Wat het van Hanna-hulle geword? En toe kom hierdie storie."
Marita sê aan Van der Merwe dat dit nie suiwer briewe is nie, maar ’n oorlewingsgids: "Met ’n alfabetiese indeks agter, soos enige gids, maar dis ’n gids wat ’n ousus vir ’n kleinsus skryf om te lees wanneer sy die dag 13 word."
Op LitNet skryf Dewald Koen: "In Swemlesse beklemtoon Van der Vyver weer eens die universaliteit van aspekte wat met adolessensie gepaardgaan. In vergelyking met kinders soos Dalena en Mart in Die dinge van ’n kind (1994) ervaar tieners soos Hanna twee dekades later steeds soortgelyke uitdagings tydens hul storm-en-drang-jare."
"Van der Vyver moet geloof word vir die wyse waarop aspekte rondom gender in die roman benader word, Deur middel van Mana (Hanna se ma) se karakter word lesers bedag gemaak op stereotipes en veralgemenings wat daagliks in die samelewing voorkom. Mana se stem bied ’n alternatiewe siening van geslagsrolle en identiteit in die moderne samelewing. Alhoewel die roman op die oog af as ’n roman vir tienermeisies afgemaak kan word, bewys die narratief die teenoorgestelde. Ook tienerseuns sal by Hanna se interessante wedervaringe aanklank vind, aangesien hulle met karakters soos Benjamin en Yann sal kan identifiseer. Ook volwasse lesers sal die roman geniet, hoofsaaklik weens die humor wat tussen die reëls ingelees kan word. Van der Vyver skroom nie om die bul by die horings te pak nie. Geen onderwerp is vir Hanna se lewensgids taboe nie."
"Swemlesse vir ’n meermin is ’n voortreflike opvolger vir Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom. Dié tweeluik sal tienerlesers boei en selfs ’n paar volwasse lesers met nostalgie aan hulle tienerjare laat dink. Met haar jongste jeugroman bewys Van der Vyver weer eens dat sy in voeling is met haar lesers en weet wat in tieners se koppe broei."
Marita volg Swemlesse op met nog ’n verhaal vir die jeug – Al wat ek weet wat in 2016 by LAPA verskyn. Dit was in 2017 op die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse (filmkategorie), asook naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie in 2016.
Al wat ek weet vertel die verhaal van ’n tienerseun Gabriel met ’n wit pa en ’n bruin ma. Ná sy ma se dood word sy pa in ’n inrigting opgeneem en gaan bly hy by sy ouma Lenie wat vir Gabriel soos ’n "time traveller uit die verre verlede is". Omdat hy nie sy woede teenoor die wêreld kan verwerk nie, gaan sien hy ’n sielkundige en ontmoet daar vir Sasha wat ook emosionele probleme het. In die proses ontdek hy performance-poësie of rap en op dié manier slaag hy daarin om in woorde uiting te gee aan sy woede.
Vir Naomi Meyer (op LitNet) is Al wat ek weet ’n baie sterk titel en sy wou by Marita uitvind hoe sy op die titel gekom het: "By sommige van my boeke is die titel daar voordat ek die eerste sin skryf, en by ander kom die titel eers lank nadat die laaste sin geskryf is. Al wat ek weet val in die tweede kategorie. My voorlopige titels was variasies van Wegkyk en stilbly of Anderpad kyk of so iets. Eers nadat die manuskrip gekies is as een van die wenners in Lapa se kompetisie, het die redakteur, Miemie du Plessis, gevra waarom ek nie die titel van die eerste hoofstuk (en een van Gabriel se eerste slam-rympies) as titel vir die hele boek gebruik nie. En toe is dit so vanselfsprekend dat ek nie kon glo ek het nie vroeër daaraan gedink nie. Maar miskien moes ek juis eers die hele storie skryf om agter te kom wát Gabriel weet? En ek hoop elke leser sal ’n eie antwoord op die vraag vind."
Vir Marita gaan Al wat ek weet oor aandadigheid en dit is ook hoekom sy aanvanklik gedink het aan ’n titel wat skuld suggereer: "Stilbly oor onreg is ook ’n manier van saamstem en skuldig wees aan die onreg. Maar die verlies en die liefde, en veral die reddende krag van woorde en taal – eerder as musiek – het amper onmiddellik deel van die storie geword."
Sy vertel aan Meyer dat die impetus agter die verhaal ’n insident was toe sy saam met haar man in hul motor gery het en ’n onbeskofte fietsryer haar sleggesê het en haar man niks gedoen het om haar te "verdedig" nie: "Hy het my net probeer keer om nie die fietsryer verder uit te tart nie, want hy kon sien die man was irrasioneel en moontlik gewelddadig. My onmiddellike reaksie was om vies te wees vir my man – en dit het my aan die dink gesit. Ek sou tog nie wou hê Alain moet uitspring en in ’n fisieke geveg betrokke raak nie! Ek háát fisieke geweld. Dus was hy waarskynlik reg om my net te probeer kalmeer sodat ons kon wegkom. Maar sê nou een van ons kinders het agter in die kar gesit? Watse boodskap sou ’n kind oor so ’n voorval kry? En toe hardloop my skrywersverbeelding met my weg en ek dink: sê nou maar ek was só ontsteld omdat my man my nie verdedig het nie dat ek ’n ongeluk gemaak het ... En dis hoe Gabriel se storie begin het. Hy het die seun geword wat agter in die kar sit."
Marita het nie veel geweet van rap-musiek toe sy die roman begin skryf het nie, maar sy het baie vinnig geleer, vertel sy aan Meyer: "Dit was nie nodig om navorsing te doen nie, want ek is jare lank in my eie huis met rap-musiek gebombardeer! Veral een van ons drie seuns (Hugo) het niks anders geluister nie – en noudat hy 25 is, luister hy steeds meestal rap. Maar ek het begin luister omdat ek nie net blindelings wou veroordeel sonder dat ek weet wat ek veroordeel nie – en toe word dit vir die seuns ’n uitdaging om vir my te wys dat gangsta rap wat vol vloekwoorde en seksisme is, nie die enigste soort rap is nie, en toe kom ek van rap by slam uit en by spoken word poetry en ’n hele nuwe wêreld word vir my oopgemaak. Ek het heelwat navorsing oor praatpoësie op die internet gedoen, omdat dit nog so ’n nuwe ding in Suid-Afrika is, maar in Amerikaanse hoërskole word daar al lank slam-kompetisies gehou. Dit sal vir my fantasties wees as hierdie boek kan help om ook in Suid-Afrikaanse skole so ’n tradisie te begin."
In Rapport (18 September 2016) beskryf Lona Gericke Al wat ek weet as ’n "goed gebalanseerde verhaal wat nie oordrewe emosioneel is nie. Die hoofkarakters groei tot groter volwassenheid; die raprympies spreek boekdele en weerspieël Gabriel se emosies."
Marita van der Vyver se taalgebruik sleep die leser van die eerste paragraaf af in, skryf Willie Burger in Vrouekeur (14 Oktober 2016). "Soos Hanna Hoekom wat moeite het met haar gesin en dan in woorde troos soek, vind ook Gabriel troos in woorde. Anders as wat die sielkundige wat hom aanmoedig om te skryf dalk bedoel het, skryf hy rap-liedjies. Rap is immers dié genre wat by uitstek geskik is om woede te verwoord, en Gabriel word geleidelik deur Sasha – mooier as Sneeuwitjie – gehelp om ná sy ma se dood en talle ander terugslae weer figuurlik op die been te kom, Sy help hom ook om weer op die verhoog te rap. Sy lirieke is wonderlik. Kyk net na die begin van hierdie een:
Dis ’n ou-ou storie wat ek nou gaan vertel
Van ’n beautiful girl met ’n spierwit vel
En ’n mond moerig rooi soos ’n druppel bloed
En hare so swart soos die nag, so swart soos roet
Jy ken haar van kleins af, kom ons noem haar Snow White
Sy's mooi soos ’n prinses en boonop bright
Haar mense is ryk, sy woon in ’n paleis
Met ’n security gate, ja, daai soort huis..."
Marita se volgende roman vir volwassenes is Misverstand wat in 2017 gepubliseer word en ook in Engels vertaal is onder die titel You lost me.
Op LitNet beskryf Marita die storielyn aan Naomi Meyer: "Dit gaan oor ’n paar Suid-Afrikaners wat in Parys vasgevang is wanneer die terreuraanvalle van Vrydag die dertiende losbars. Die hoofkarakter is ’n middeljarige skrywer wat sukkel om sy middelmatigheid te aanvaar en selfmoordplanne beraam as ’n desperate poging om sy boekverkope te laat styg."
Jo Prins (Volksblad, 22 November 2016) wou weet hoe die storie homself by Marita aangemeld het: "Dit het iets met middeljarigheid en ontgogeling te doen. ’n Gevoelte wat ek in myself en vele vriende bespeur, en waaroor ek al meet begin wonder het. Toe besluit ek om oor ’n middeljarige kunstenaar te skryf wat uit sy gemaksone gevat word, in ’n onbekende stad en land en dis hoe Willem Prins in Parys beland het," vertel Marita.
"Eers wou ek hom ’n paar dae in Amsterdam laat deurbring, maar toe dink ek skrywers soos Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk het al Amsterdam 'gedoen', beter as wat ek sou kon. Terwyl nie veel Afrikaanse skrywers Frankryk beter ken as ek nie."
Marita was al druk besig met die skryf van Misverstand toe die terreurraanvalle van 13 November 2015 plaasgevind het. Willem, wat intussen onder ’n skuilnaam begin porno-boeke skryf het, was op pad Parys toe vir die bekendstelling van die Franse vertaling van die boek en die datum was klaar vasgemaak in Marita se kop. Toe die aanvalle plaasvind en dit op die presiese datum wat sy in haar kop gehad het, het sy besluit om dit as deel van haar storie te gebruik, vertel sy aan Willem de Vries (Volksblad, 4 Februarie 2016).
Een van die moeilikste dinge met die skryf van Misverstand was om ’n ernstige onderwerp soos middeljare-moedeloosheid te verlig "met humor, meestal nogal swart humor, sonder om laf te word en die swaartektrag van die storie te verloor."
"Ek was ook al lankal lus vir ’n manlike hoofkarakter – ek het al kortverhale en jeugverhale met manlike hoofkarakters geskryf, maar nog nie ’n volwasse roman uit ’n manlike oogpunt nie, so dis ’n lekker nuwe uitdaging."
Yolanda Wessels is die resensent op LitNet en Misverstand het haar vasgenael laat sit van die eerste bladsy af: "Dié skrywe is beslis geen misverstand nie," begin Wessels haar bespreking, "maar lê klem op soveel basiese lewenselemente, van liefde, vertroue, geloof, wanhoop, middeljarig- en sterflikheid, die vraag wáár ’n mens werklik hoort, wát sukses werklik is en beteken vir verskillende mense … Op ’n manier word dié kwessies onder haar vernuftige skrywerspen ontrafel. Van blote fiksie, tot ineenverstrengel met die alte werklike terreuraanvalle wat Parys se fondasie geskud het en almal wantrouig na mekaar laat staar het."
"Weer eens is haar hoofstukke deurspek met vlymskerp humor en pittige vergelykings wat my soms laat wonder het hoekom ek nog nie vantevore hierdie pittighede elders raakgelees het nie. Asof Marita nie net swanger is en geboorte gee aan ’n karakter, emosies en ’n boek, ’n storie nie, maar die aardsmoeder is van soveel nuutskeppings, verwysings en vergelykings. Die feit dat sy Willem Prins, ’n man, lewe gee in Misverstand en subjektief spekuleer oor medeskrywers, oftewel teenstanders, bied dieper insae in die wroegings en worstelings van ’n skrywer, die kompetisie daar buite, die smagting na erkenning, sukses, trefferboeke en topverkopers, syfers, die droom om ná jou afsterwe steeds onthou en saam met die groot name genoem te word." [...]
"Soos met haar ander boeke, het ek ál meer begin uitstel om voort te snel namate ek hoofstuk 23 (ironies nogal my gunstelinggetal) genader het. Want dan is nog ’n Marita-kunswerk voltooi. Nog een wat ek nie weer vir die eerste maal kan lees nie. En Marita hoef nie te wonder wat haar nalatenskap is nie, want haar naam sal generasies ná haar, na my en my kinders, steeds onthou word as dié van een van ons beste skrywers (en met ’n glinster in die oog)."
Vir Willie Burger (Vrouekeur) is Misverstand ’n "vars hoogtepunt in Marita van der Vyver se oeuvre. Die humor en deernis, saam met die onverbiddelik eerlike blik op die wêreld en veral die ryk insig in menslike bestaan, word met haar bekende sprankel aangebied. Dit is ’n roman oor oudword, oor die moeite om met jou mislukkings tot ’n vergelyk te kom en om, in die woorde van die sentrale karakter, Willem Prins, ’n mens se eie middelmatigheid te aanvaar." [...]
"Al is daar baie somberheid oor die verbygaan van die lewe, die verspeelde kanse en misverstande, is misverstand natuurlik ook die kern van humor. Misverstand is daarom ook soms ’n skreeusnaakse roman. Maar dit is Van der Vyver-humor: die soort humor wat die weerloosheid van mense blootlê en wat deernis wek. Misverstand is die soort roman wat ’n mens met ’n deurleefde lewenswysheid in kontak bring, wat ouerword op meesleurende manier draagliker maak."
Hoewel Misverstand volgens Schalk Schoombie "deurgaans vloeiend in die mineurtoon van melancholie geweef" is, beskou hy nie Misverstand as Marita se boeiendste roman nie. "Tog bied dit pitkos oor ouer word, internasionale omwentelinge en eietydse kwelvrae. Daarom is dit ’n gevoelige tydsdokument wat die leser noop om wyer te dink en te lees."
In 2018 keer Marita terug na die genre van essays en rubrieke in die vorm van Retoer: Pretoria – Provence wat by LAPA gepubliseer is. Dit is ’n bundel van rubrieke, sketse en essays wat nog nie vantevore in boekvorm uitgegee is nie. Dit bevat die rubriek getiteld "Julle wat teister: Dis tyd om te luister" (in Rapport Weekliks) wat in 2018 bekroon is met die ATKV-Mediaveertjie in die kategorie beste essay, rubriek of opiniestuk.
Oor die samestelling van Retoer vertel Marita aan AJ Opperman (Die Burger, 20 Oktober 2018) dat dit vir haar moeilik is om haar boeke weer te lees, maar met Retoer was dit nogal vir haar "terapeuties".
"Met skryfstukke is ’n herlees anders. Dis nie naastenby so moeilik nie, want dis in tydskrifte, koerante en op die internet gepubliseer. Dis nooit vir my permanent soos ’n boek nie. Om dit in boekvorm te kan publiseer, het my die geleentheid gegee om nou aan die stukke te werk. Nie om dit noodwendig oor te skryf nie, maar by te voeg. As ek foute opgetel het, kon ek dit regmaak."
"In ’n sekere sin was dit terapeuties om stukke te gebruik wat in verskillende publikasies verskyn het en dit – ek wil amper sê – beter te skryf, om dit soms te verkort, om stukkies by te skryf. Om dinge duideliker te maak. Dit was vir my baie aangenaam."
Vir Marita is dit nie so moeilik om niefiksie te skryf nie, sê sy aan Opperman. "Ek kan nou baie filosofies klink en vra wat is die waarheid? Daar is nie net een waarheid nie. Ons het elkeen ons eie persoonlike waarheid. Dit is vir my moeilik om oor enigiets te skryf. Dis vir my moeilik om ’n inkopielys te skryf, maar fiksie is vir my die moeilikste omdat ek my verbeelding moet gebruik."
"Met fiksie begin ek met niks. As ek niefiksie skryf – rubrieke, essays, meningstukke – voel dit altyd vir my dat ek met iets begin. Daar is iets wat ek gesien of gedink het waaroor ek wil skryf, of iets wat met my gebeur het. Jy het ’n raamwerk, iets waarbinne jy skryf."
"Met fiksie, met ’n roman, is dit net daai oop papier, die wit skerm en jou verbeelding. En dis ’n angswekkende ervaring, dag ná dag. My fiksie bevat wel feite en feitelike navorsing en daar is in my niefiksie soms ’n bietjie verbeelding.
"Dis klein stukkies – die manier waarop jy die taal gebruik. Waar jy jou verbeelding moet gebruik om die taal te laat reg klink. Soms word daar bietjie oordryf om dit snaaks te maak. Soms word dinge verswyg om jou eie privaatheid of dié van mense na aan jou te beskerm. Dis die manier hoe jy werk met die sogenaamde waarheid."
Calri Niemand skryf in Beeld (31 Desember 2018): "Retoer is ’n kuier saam met Marita van der Vyver. Sommer met die verwelkoming maak sy dit duidelik dat hierdie boek nie haar memoirs is nie. Wat dit wel is, is ’n versameling kort skryfstukke wat in verskillende publikasies en op verskeie forums verskyn het. Op hul eie is elke stuk vermaaklik, nostalgies of ondersoekend. Maar saamgebind in hierdie bundel word die geheel baie meer as die som van die dele: Sy nooi die leser nader, skink vir jou ook ’n glas wyn, en raak aan die kuier en aan die gesels oor dinge wat verskillend, maar ook dieselfde, is van Pretoria tot Provence." [...]
"Merendeels is die trant egter lig: ’n viering van lewenservarings waaroor sy dankbaar is. In haar vorige niefiksieboeke het Van der Vyver breedvoerig geskryf oor daardie Franse lewe wat vir haar aanhangers altyd fassinerend sal bly: Provence, haar huis en familie en (onvermydelik) die Franse kos. Retoer is anders in die sin dat dit meer impulsiewe indrukke van die skrywer se leef- en gedagtewêreld gee omdat die bydraes (meestal relevante rubrieke) oor ’n paar jaar geskryf is en telkens 'in die oomblik' was. Ná só ’n lekker kuier sal sommige gesprekke ’n mens lank bybly."
Marita se jongste roman word in 2019 deur Penguin Random House uitgegee onder die titel Grensgeval met die Engelse weergawe Borderline wat ook in 2019 verskyn. Sy het die roman geskryf ter nagedagtenis aan haar eerste man, David Bishop.
Die vonk wat die verhaal van Grensgeval aan die gang gesit het, was die boek Another day of life (1976) deur die Poolse joernalis Ryszard Kapuscinski waarin hy oor die "onkommunikeerbaarheid" van oorlog geskryf het, vertel Marita aan Willemien Brümmer (By, 9 November 2019). Die volgende impetus vir die skryf van die boek was haar ontmoeting met die Angolees-Portugese skrywer José Eduardo Agualusa in 2006 by ’n skrywersfees in Durban.
Dit het haar aan die dink gesit: "My klasmaats is opgeroep om te gaan baklei daar (in Angola) en hierdie mense dood te maak en ons hou van dieselfde boeke, ons hou van dieselfde musiek, ons gesels asof ons ou pelle is, en toe begin ek dink, maar vir die Kubane was dit net soos vir ons – wat het hulle met Angola te doen? Hulle word uit ’n ander land gestuur om daar op ’n vasteland, ’n plek waar hulle nog nooit was nie, te gaan baklei oor die een of ander ideologie, soos wat ons soldate gestuur is – en dís waarskynlik wat ons laat kliek het.
"En dan draai dit mos maar in ’n mens se kop dat ek Kuba wil inbring op die een of ander manier, en toe begin ek dink ek wil in Kuba uitkom of so." En só begin Marita en Kitty Snyman, ’n Kaapse reisagent, reël aan ’n toer Kuba toe."
En toe, pas nadat sy teruggekeer het vanaf Kuba, is haar eerste man, David Bishop, in ’n Kaapse psigiatriese inrigting oorlede nadat "hy oor jare bietjies-bietjies weens depressie en smart" doodgegaan het, vertel sy aan Brümmer. Dít was die laaste vonk vir die skryf van Grensgeval.
Willemien Brümmer wou by Marita weet of Grensgeval nie ook ’n "heining ter herinnering" aan David Bishop is soos die essay "Die begin van ’n storie" aan hulle seuntjie was nie. Hierop antwoord Marita: "Ek moes afskeid neem van my eerste man. Deur fiksie kom mense soms nader aan 'die waarheid' as wanneer jy die waarheid probeer skryf. Dis in elk geval my ervaring."
Die hooftema in Grensgeval is ’n brief wat ’n Kubaanse soldaat, Angel Perez Gonzales, voor sy dood in die Angolese oorlog aan sy kind skryf. Gonzales het vir Theo van Velden gevra, nadat dié hom geskiet het, om die brief aan sy seun te besorg. Theresa Marais is die hoofkarakter in die verhaal en sy vind die brief tussen haar eks-man se besittings nadat hy oorlede is. Ná Theo se dood het Theresa net een missie en dit is om die brief aan Mercedes Perez Amat, die naam op die koevert van die brief, te besorg. En só bevind sy haar in Kuba waar sy tot die besef kom dat die meeste soldate doodgewone mense is wat doodgewone drome en vrese het, skryf Annemarié van Niekerk (Rapport, 17 November 2019).
Van Niekerk gaan voort: "Grensgeval is spannend en lees soepel en gemaklik. Met haar geoliede pen en vaardige verteltegnieke voer Van der Vyver ons geboeid heen en weer tussen die verlede (toe Theresa en Theo nog jonk was) en die narratiewe hede. So word haar begaafdheid as skrywer van heerlike good reads nogmaals bevestig: Sy weet hoe om ’n spanningslyn strak te hou en wanneer om skiet te gee; hoe om te speel met die suggestie van romanse; hoe om karakters tot lewe te toor, veral die intelligente, waaghalsige, rebelse en sensuele vrouekarakters wat die Van der Vyver-leser deur die jare leer ken het (hier as Theresa); en hoe om haar vertelling te balanseer tussen pole – pole van verlede en hede, jeug en volwassenheid, humor en erns, bekende en eksotiese omgewings (in hierdie geval Kuba en Suid-Afrika), en om die steeds ontwykende objek van die soektog telkens weer net-net te laat wegglip."
Marita is oorrompel deur Kuba, vertel sy aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 11 November 2019). En die boek loop oor van van ryk kleure en geure, skryf Van der Merwe.
Marita vertel verder oor die ou motors is Kuba: "Ek het gedink die ou motors is ’n toeristeding en het nie verwag dat die mense in die werklikheid met hulle rondry nie. Dit het kompleet gevoel of ek in ’n fliek uit die 1950’s is. Ek is nie ’n karmeisie nie, maar hier het ek gekyk en foto’s geneem."
Sy het altyd geweet dat sy nog eendag oor die Grensoorlog gaan skryf. Sy self was toe nog ’n skoolmeisie en het dit nie werklik beleef nie. In 1999 het sy in Wegkomkans geskryf oor ’n vrou wat só ’n roman wil skryf, omdat dit ’n "macho-ding" was.
"Tydens daardie oorlog was ek ’n skoolmeisie. Van my skoolmaats en universiteitsliefdes is stukkend geskiet aan die grens. Jy as vrou, ma of dogter sit eintlik met stukkende mans wat terugkom sonder dat jy verstaan. Hulle kon nie daaroor praat nie. Die skade wat ek in Kuba gesien het, was net so groot."
Op haar blog Woorde wat weeg skryf Joan Hambidge as volg oor Grensgeval: "Grensgeval is ’n boek oor die grensoorlog (Angola) en verwys ook na die sogenaamde borderline personality disorder. Dit verwys eweneens na paranoïese skisofrenie en bipolariteit. In hierdie boek – ’n onthouboek – beweeg die hoofkarakter Theresa Marais terug in haar verlede as ’n bevoorregte wit kind. Sy besef as ouer persoon hoe min sy geweet het van die bestaan van minder bevoorregtes en nie-wit-mense in die ou-Suid-Afrika. Met die roman wil sy dan probeer bepaal hoé dit gebeur het dat sy so oningelig was.
"Haar man – eintlik eksman Theo – se ervarings wat in ’n boks opgesluit word, is dan ’n Pandorakis vol geheime. Die ontdekking van ’n Kubaanse soldaat se brief aan sy kind neem haar na Kuba om die brief terug te gee." [...]
"Die besoek aan Havana is eg beskryf. Sy wil egter meer as ’n toeris wees en besoekers aan Kuba, soos hierdie reisigerleser, weet hoe outentiek sy die kos, die hotel en die ambiance van hierdie verruklike wêreld beskryf word wat vir soveel jare in jong Afrikaners se gemoed gedemoniseer is.
In die beskrywings van ouer Afrikaners is die gebruik van die woord opneuk erger as die k-woord (94), wat weer eens bewys op watter vasteland ons geboer het."
"Sommige ervarings word inderdaad nooit vergeet nie, net onderdruk (107). Hierdie goed geskrewe, hoogs leesbare roman navigeer die pynlike ontdekkingsreis van Theresa." [...]
"Die roman wentel om verskillende opposisies: haar man se troostelose weermagervaring teenoor haar onskuldige ervarings; haar vriendin in Pretoria se ervarings teenoor ’n bestaan in die Kaap; hede teenoor verlede; die jeugdagboeke teenoor die man se 'swart joernaal' (ook ’n army boks) en die pa se brief."
"Daar is oomblikke in hierdie roman wat so pynlik is dat ’n mens eers die boek moet toemaak. Dit is ’n roman van boetedoening (’n brief wat gevind word en vergifnis wat begeer word) en ’n ondersoek na die letsels wat oorlog op ’n mens laat."
Op LitNet is Hennie van Coller die resensent: "Daar is weliswaar aspekte wat Van der Vyver se werk bestempel as behorende tot die 'middelmaat': blokkarakteriserings; stereotipering; oorduidelike skurke en helde; die neiging tot ’n bepaalde oppervlakkigheid ('gemoedelikheid') en selfs naïwiteit wat betref indringende politieke kommentaar en kritiese historiese representasie (byvoorbeeld van figure soos Che Guevara en Fidel Castro in die jongste werk). Desondanks is Marita van der Vyver ’n rasegte skrywer wat skynbaar moeiteloos skryf, juis omdat sy haar vak tot in die puntjies goed beheers. Ook ’n verteller by uitstek, van boeiende stories met interessante karakters en ruimtes.
"Grensgeval is geen uitsondering nie. Theresa Marais is ’n middeljarige vrou wat skynbaar ’n ekwilibrium bereik het: woonagtig in ’n relatief aangename omgewing, redelik gelukkig in haar bestaan en met haar werk en rustig ná ’n traumatiese egskeiding en woeste seksuele avonture daarna. Nie verniet woon sy in Observatory nie; sy het haar mettertyd ontheg van die aktiewe bestaan en veel eerder die lewe (en mense) afstandelik begin betrag. Hierdie oënskynlik rimpellose bestaan word wreed versteur deur die ontdekking van ’n brief tussen ander briewe en foto’s in ’n boks wat aan haar gestorwe man, Theo (van wie sy al vroeër geskei het), behoort het. Hierdie brief van ’n Kubaanse soldaat (wat tydens die Grensoorlog deur haar man gedood word) aan sy dogter is die motoriese moment wat nie net ’n reeks gebeure laat ontvou nie, maar ook Theresa se onderdrukte herinnerings aktiveer."
"In die res van die roman is daar struktureel ook sprake van ’n ekwilibrium: soos sy progressief vorder in haar soektog na die dogter aan wie die brief gerig is – selfs tot in Kuba – keer haar gedagtes retrospektief terug na haar jeugjare, veral tydens die jare sewentig toe die Grensoorlog in volle gang was én na haar ontmoeting en latere huwelik met Theo. Maar veral ook na sy toenemende aftakeling, ’n episode wat sy eintlik verdring het. Die roman se titel is weer eens meerduidig. In die eerste plek slaan dit op Theo, wie se siekte letterlik terug te voer is na sy ervarings tydens die Grensoorlog. Maar ’n grensgeval is ook iets wat nie duidelik klassifiseerbaar is nie en by die een of die ander rubriek kan hoort. In hierdie roman dien die Grensoorlog as voorbeeld hiervan: Is iemand ’n vryheidsvegter of terroris? Wie is die helde – die dienspligtiges of dienspligontduikers?" [...]
"Die besoek aan Kuba bied ruimskoots geleentheid om die liefdesverhaal en die reisverhaal te meng. Van der Vyver gee ’n interessante blik op ’n land wat steeds nie een van die hoofbestemmings van Suid-Afrikaanse toeriste is nie met veral uitvoerige beskrywings van mense, plekke, kos en kultuur. Oor die gewelddadige revolusie en die nagevolge daarvan (soos onteiening, armoede, sensuur en onderdrukking), asook oor die mislukte inval by Varkebaai en die Kuba-krisis, is daar bykans niks nie. Tog raak nog ’n parallel algaande duideliker. In beide Suid-Afrika en Kuba is die omverwerping van ’n regime begelei deur drome van ’n geluksalige én ’n suksesvolle toekoms. Algaande het ontnugtering ingetree en het misdadigheid, korrupsie, geweld en armoede die realiteit geraak."
"Om die verloop van Theresa se soektog te beskryf, sou leesplesier bederf. Dis genoeg om te sê dat die soektog nie moeiteloos verloop nie en talle afdraaipaadjies op verskeie vlakke het. Boonop is daar weer die onwaarskynlike sprokiesprins en ander redders, asook mense en gebeure wat die soektog dwarsboom. En of daar ’n gelukkige einde aan hierdie sprokie is, sal lesers maar self moet vasstel."
"Grensgeval is ’n onderhoudende boek met genoeg storiekinkels én diepgang om te boei."
Publikasies:
Publikasie |
Van jou jas |
Publikasiedatum |
1982 |
ISBN |
062401844X (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Tien vir ’n vriend |
Publikasiedatum |
1987 |
ISBN |
0624025322 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Eenkantkind |
Publikasiedatum |
1991 |
ISBN |
0624030091 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugverhale |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Griet skryf ’n sprokie |
Publikasiedatum |
1992 (1ste – 6de druk) |
ISBN |
0624031268 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die dinge van ’n kind |
Publikasiedatum |
1994 |
ISBN |
062403349X |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Olinosters op die dak |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Wegkomkans |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
062403755X (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Griet kom weer |
Publikasiedatum |
2001 |
ISBN |
062404048 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
0624037145 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugverhaal |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Vergenoeg |
Publikasiedatum |
2003 |
ISBN |
0624041263 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Boomklim |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
079866584X (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso Education |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die simpel dinge wat mens mis |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0798666080 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso Education |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die hart van ons huis |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0624042359 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Sketse |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Bestemmings |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
0624043274 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Hy bly my broer |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
0636063445 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Maskew Miller Longman |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Mia se ma |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
0798144955 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Stiltetyd |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0624044327 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Franse briewe: pos uit Provence |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
9780624046677 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Rubrieke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Somerkos in Provence, in samewerking met Alain Claisse |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9780624047223 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kosboek |
Pryse toegeken |
Internasionale Gourmand-prys vir beste Franse cuisine-boek 2010 |
Vertalings |
Engels Summer food in Provence 2010 |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die blou van onthou |
Publikasiedatum |
2012 |
ISBN |
9780624055181 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Huisgenoot se Tempo-toekenning as Afrikaanse Boek van die Jaar 2013 |
Vertalings |
Engels Forget-me-not blues |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
’n Fontein voor ons deur |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780624064305 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Winterkos in Provence. In samewerking met Alain Claisse |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780624057758 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kosboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Engels |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die coolste ouma op aarde |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780799367164 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
ATKV-Woordveertjie vir beste kinderboek in voorleeskategorie: graad RR-1 2015 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Swemlesse vir ’n meermin |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
9780624071044 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Scheepersprys vir Jeuglektuur 2016 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Al wat ek weet |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780799378856 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Jeugroman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Engels All I know 2019 |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Misverstand |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9781485903505 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Penguin Random House |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Engels You lost me, 2017 |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Een jaar koken in de Provence – Een culinaire memoire met recepten |
Publikasiedatum |
2018 |
ISBN |
9789492086709 (sb) |
Uitgewers |
Amsterdam: Uitgeverij Orlando |
Literêre vorm |
Kosboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
vertaald door Anne Roetman en Natascha van der Stelt |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Retoer: Pretoria – Provence |
Publikasiedatum |
2018 |
ISBN |
9780799384796 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Rubrieke, sketse, essays |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Vertalings deur Marita van der Vyver
- Beake, Lesley: Traff se reis. Kaapstad: Maskew Miller Longman, 1990
- Grimm, Jacob: Die volledige sprokies van Grimm. Pretoria: Protea Boekhuis, 2006 (Bespreking)
- Grimm:
- Die mooiste sprokies van Grimm. Kaapstad: Human & Rousseau, 2010 [ISBN 9780798151504 (hb)]
- Die volledige sprokies van Grimm. Pretoria: Protea Boekhuis, 2006 [ISBN 1869191290 (hb
Artikels oor Marita van der Vyver op die internet
- Aan die woord – vyf vrae aan Marita van der Vyver
- Author Marita van der Vyver launches a new book
- Beyers, Yvonne: Watter vraag word jy nooit gevra nie?
- Brand, Gerrit: "Beste teks lê altyd nog voor"
- Brits, Johan: "Gee só nuwe lewe aan ou gedigte"
- Bruwer, Ruan: Marita se boek doen praatwerk op die verhoog (Vergenoeg)
- Coetzee, Gert: Griet-skepper pleit vir Afrikaans
- Coetzee, Téresa: Marita wag nie vir inspirasie
- De Beer, Erika: Humor verlig werklikheid
- De Vries, Anastasia: Marita moet vuvuzela blaas tot sy blou is
- De Vries, Izak: Marita van der Vyver: A rose by any other name ...
- De Vries, Izak: E-briewe oor Franse briewe: Izak de Vries gesels met Marita van der Vyver
- Dempers, Adéle: Marita – ’n heel mens
- Eerste radiodrama vir Marita van der Vyver
- Engelbrecht, Theunis: "Afrikaners nog nie volwasse op seksuele gebied"
- Ewerts, Wyndham: Bekende skrywer inspireer leerders
- Fitzpatrick, Marida:
- Friis, Jens: 4 nuwe boeke
- Horler, Vivien: Interview with Marita van der Vyver
- Hough, Barrie:
- Hudson, Pippa: Marita van der Vyver on her new book Borderlines
- Hugo, Jeanne: "Bestemmings" kyk hoe vroue betekenis vind
- Jacobs, Jaco:
- Jacobs, Jaco: Vyf vrae aan Marita van der Vyver
- James, Sophie: The place that changed me
- Keyser, Gawie: "Griet" stof toe Nederlandse boeke goed uit
- Kruger, Jackie: Marita "ryp genoeg vir nuwe roman"
- Le Roux, André: Marieta en Griet-sprokie en daai dinge
- LitNet-lesers se vrae aan Marita van der Vyver
- Loots, Sonja:
- Lubbe, SJ: "Mens kan nie altyd lag nie, mens moet soms huil ook": Die verwerking van trauma in deur skrywende karakters in drie romans van Marita van der Vyver
- Luckhoff, Paula: Author Marita van der Vyver on her new book and writing about war
- Kwêla: Marita van der Vyver
- Malan, Mariana: Haar boetedoening kry lewe op verhoog
- Marais, Willemien: Die reise van Marita van der Vyver
- Marita van der Vyver
- Marita van der Vyver
- Marita van der Vyver
- Marita van der Vyver
- Marita van der Vyver besoek HS Punt
- Marita van der Vyver oor die dood van haar eersteling
- Migrerende Marita nou tuis in eie vel
- "My imagination is like a bed of glowing embers": an interview with Marita van der Vyver
- Neethling, Elsje: Bekroonde Marita praat by Bfn-skool oor skryfwerk
- Nieuwoudt, Stephanie:
- Nieuwoudt, Una: Marita se Griet het almal aan ’t praat
- Oor skryf, lees en tegnologie
- Petrick, Nadine: Nadine Petrick gesels met Marita van der Vyver oor resensies, die hittegolf in Provence en die wegholsukses van Dis koue kos, skat
- Potgieter, Marelize: Marita van der Vyver oor die bekoring van Frankryk, beskuit en wat sy die meeste van SA mis
- Pretorius, Willem:
- Pople, Laetitia: Zietsman dis Van der Vyver se roman op
- Rheeder, Mari: Skrywer kweek liefde vir lees in Pta
- Retief, Linette: O Griet! Daar is het einde niet h
- Sanlam VraNet: Jo Viljoen vra Marita van der Vyver
- Schoeman, Lynné: In die spore van terreur
- Schoeman, Lynné: Van kindsbeen af lief vir Frankryk
- Sinkins, Estelle: "Home isn’t just where your heart is. It’s also where your books are"
- Slippers, Bibi: Marita van der Vyver skryf ’n wond oop
- Smith, Francois:
- Smuts, Christa: Provençe: waar Marita skryf, leef
- Stehle, Rudolf: Van der Vyver-roman word fliek
- Torrance, Charis: Beyond borders
- Van der Merwe, Kirby: ’n Kardoes vol blou
- Van der Plank, Stephanie: Writing tips from bestselling author Marita van der Vyver
- Van nuwe boeke tot teater
- Van Wyk, Marguerite: Marita van der Vyver se 2010: 2 boeke, ’n rolprent, ’n toneelstuk
- Van Wyk, Marguerite: Dis koue kos, skat se Marita verslaaf aan stories
- Van Zyl, Johan:
- Van Zyl, Ronel: Marita van der Vyver in London
- Van Zyl, Ronel: Acclaimed author Marita van der Vyver meets South Africans in London
- "Vergenoeg" verwerk tot musiek-teaterstuk
- Visagie, Nadine: An interview with Marita van der Vyver
- Wessels, Yolanda: Marita van der Vyver oor idees, ’n skryfkamer van haar eie en Dis koue kos, skat
Artikels deur Marita van der Vyver op die internet
- ’n Allegaartjie van gevoelens oor "Dingaansdag"
- ’n Boek is ’n boek is ’n boek?
- Dít laat jou kekkellag, en dít gryp jou aan die strot
- Ek besit nie ’n pakkie van enige kleur nie
- Ek groet en verdwyn … na St Petersburg
- Die Franse kultuur by ’n Engelse kultuurpad
- Hoe maak ’n mens tyd om te skryf?
- In Frankryk besef ek hóé Suid-Afrikaans ek eintlik is
- Marita van der Vyver lewer repliek op Riana Scheepers se resensie van Dis koue kos, skat
- My pa is ’n pionier in sy eie kombuis
- The place that changed me (The London Independent)
- Rubrieke
- Sweet sin [kortverhaal]
- What I’m reading: Marita van der Vyver
’n Keur van biografiese artikels oor Marita van der Vyver
- NB-Uitgewers
- Stellenbosch Writers
- Universiteit van KwaZulu-Natal
- Cape Argus: Boeremeisie transplanted to the heart of France
- Blake Friedmann
- Children’s Literature Research Unit
Bronne
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Ek wil asseblief navraag doen oor die stuk "Tussen vriende". Ek benodig dit dringend vir my November-eksamen en rekord-eksamen.
Ek is op soek na iemand wat my kan help om twee joernale van 'n ma en 'n seun in 'n boekvorm te omskep en te publiseer. Die een joernaal bevat sketse, wat deel moet word van die boek, aangesien dit 'n groot rol in die ware verhaal speel. Ek sal dit waardeer as u my 'n naam kan voorsien met wie ek kontak kan maak, wat moontlik hierdie uitdaging kan aanvaar en uitvoer.