Misverstand deur Marita van der Vyver, 'n resensie

  • 0

Misverstand
Marita van der Vyver
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903505

Soos met al Marita van der Vyver se vorige boeke (op die agterblad: “tientalle romans, ’n bundel kortverhale, talle kortverhale, humoristiese essays” – die lys is lank), is haar nuutste, getiteld Misverstand, boeiend vanaf bladsy 1.

Dié skrywe is beslis geen misverstand nie, maar lê klem op soveel basiese lewenselemente, van liefde, vertroue, geloof, wanhoop, middeljarig- en sterflikheid, die vraag wáár ’n mens werklik hoort, wát sukses werklik is en beteken vir verskillende mense … Op ’n manier word dié kwessies onder haar vernuftige skrywerspen ontrafel. Van blote fiksie, tot ineenverstrengel met die alte werklike terreuraanvalle wat Parys se fondasie geskud het en almal wantrouig na mekaar laat staar het.

Weer eens is haar hoofstukke deurspek met vlymskerp humor en pittige vergelykings wat my soms laat wonder het hoekom ek nog nie vantevore hierdie pittighede elders raakgelees het nie. Asof Marita nie net swanger is en geboorte gee aan ’n karakter, emosies en ’n boek, ’n storie nie, maar die aardsmoeder is van soveel nuutskeppings, verwysings en vergelykings. Die feit dat sy Willem Prins, ’n man, lewe gee in Misverstand en subjektief spekuleer oor medeskrywers, oftewel teenstanders, bied dieper insae in die wroegings en worstelings van ’n skrywer, die kompetisie daar buite, die smagting na erkenning, sukses, trefferboeke en topverkopers, syfers, die droom om ná jou afsterwe steeds onthou en saam met die groot name genoem te word.

Soos met Marita se vorige boeke sal haar getroue lesers, volgelinge en bewonderaars weet jy kan maar regskuif dat ’n ding genoem word soos wat hy is. Of jou bril nou gaan opwasem of nie, dis ’n ander storie! Steeds laat dié seksuele verwysings my egter nie ongemaklik nie, nie toe ek ’n konserwatiewe hoërskoolmeisie was wat Dinge van ’n kind en Griet skryf ’n sprokie gelees het nie, en ook nie nou as volwasse vrou nie. Sy doen dit allermins platvloers, maar meer met ’n vonkel in die oog, ’n onweerstaanbare glimlag wat pluk aan ’n mondhoek en ’n rosige blos op die wange. Marita is ’n stylvolle vrou en skrywer en dié boek verleen hom merendeels aan die innerlike wroegings wat ieder en elk van ons die een of ander tyd ervaar. Sy kwyt haar goed van haar taak en laat mens self wonder oor die wie, wat, waar van jouself. Dinge wat Willem anders kon gedoen het, maar nie het nie, en nou loop die tyd uit vir waarna hy uitsien, ’n ander kontroversiële punt in die boek. Dit herinner ook sterk aan “carpe diem”, gryp die dag, want môre kan letterlik te laat wees of vir altyd verander wees. Soos ons aanstap, maak ons tog geskiedenis – en dít kan nie verander word nie. Jy kan wel regmaak, verbeter op keuses namate jy die toekoms instap; maak die beste van nou, gryp geleenthede aan, lééf. Omstandighede forseer jou soms om te móét leef, mét jou samewerking of daarsonder. Leef sal jy leef. Met of sonder sukses en flambojante boekpryse, Willem Prins.

Van die vertellings is melankolies en wikkel self hier aan die herinneringe in jou binneste – selfs dié wat vergete, lank-lank-gelede weggebêre is hier diep binne jou. Veral as jy kan identifiseer met die hoop van ’n klein dogtertjie dat haar ouers weer kan saam wees, jy weer jou kind se grootwordjare kan oor hê toe jy te besig was om ordentlik ouer te speel. “Om te wees of nie te wees nie”, Shakespeare se bekende woorde, nié net die hoofkarakter se wroeging nie – menige van ons sterflikes wonder een of ander tyd, of altans dié wat braaf genoeg is om te dink, vrae te vra, en nie net “te glo soos ’n kind nie”. Die hooftema, keuses … waarvoor leef jy, vir wie, wat is jou nalatenskap, Willem Prins?

Soos met haar ander boeke, het ek ál meer begin uitstel om voort te snel namate ek hoofstuk 23 (ironies nogal my gunstelinggetal) genader het. Want dan is nog ’n Marita-kunswerk voltooi. Nog een wat ek nie weer vir die eerste maal kan lees nie. En Marita hoef nie te wonder wat haar nalatenskap is nie, want haar naam sal generasies ná haar, na my en my kinders, steeds onthou word as dié van een van ons beste skrywers (en met ’n glinster in die oog).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top