Misverstand – ’n gesprek met Marita van der Vyver

  • 0
Misverstand
Marita van der Vyver
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903505
You lost me
Marita van der Vyver
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903536

Skrywers oor hul nuwe boeke: Marita van der Vyver gesels met Naomi Meyer oor Misverstand, wat gelyktydig met You lost me by Penguin Random House verskyn.

Vertel asseblief waaroor die storie handel, sonder om te veel te verklap?

Dit gaan oor 'n paar Suid-Afrikaners wat in Parys vasgevang is wanneer die terreuraanvalle van Vrydag die Dertiende losbars. Die hoofkarakter is 'n middeljarige skrywer wat sukkel om sy middelmatigheid te aanvaar en selfmoordplanne beraam as 'n desperate poging om sy boekverkope te laat styg.

Jy het vanuit die perspektief van ‘n manlike hoofkarakter geskryf. Vertel mans nie genoeg stories nie? En verder: Hoe was jou manlike hoofkarakter anders as jou vroulike hoofkarakters?

Weet jy, toe ek meer as drie dekades gelede begin het om jeugverhale te skryf, is ek gewaarsku dis beter om 'n seun as hoofkarakter te hê, want “seuns lees nie boeke met meisies as hoofkarakters nie”, terwyl meisies wel stories met seunskarakters lees. En net daar het die rebel in my viervoet vasgeskop. (Ek was jonk.) Ek het besluit ek gáán oor meisies skryf – en as seuns dit dan nie wil lees nie, is dit hulle verlies. En dis min of meer hoe ek steeds gevoel het toe ek my volwassene-boeke begin skryf. Mans skryf al eeue lank stories oor mans, en selfs vroue het dikwels eerder oor mans geskryf (onder skuilname), daarom gaan ek oor vroue skryf. (Ek was steeds jonk.) Maar nou doen ek dit mos al lank genoeg – as ek 'n punt wou maak, is dit lankal gemaak. En ek soek nuwe uitdagings met elke stuk skryfwerk wat ek aanpak: 'n ander genre, 'n ander aanslag, iets wat my bang maak voor ek begin skryf. 'n Manlike hoofkarakter het my bang gemaak, uit my gemaksone geruk, al daardie dinge wat nodig is om beter te skryf. En op die ou end was dit nie so moeilik soos ek gedog het nie, omdat Willem Prins se menslikheid vroeg in die verhaal vir my belangriker geword het as sy manlikheid.

Terreur wêreldwyd: Hoe maak mens ‘n storie hiervan – en waarom? (Of is dit soos om te vra waarom iets skryf oor apartheid?)

Ja, dis soos daardie vraag oor apartheid. Ek dink terreur gaan vir skrywers wêreldwyd word wat apartheid vir Afrikaanse skrywers was: iets waarvan jy nie kan wegkom nie. Selfs al skryf jy nie doelbewus politieke boeke nie, as jy oor die 21ste eeu skryf, dan is die bewussyn van terreur deel van die tydsgees.

Om erotiek te skryf is iets waarmee jou manlike hoofkarakter sukkel, maar dis eintlik iets waarmee baie skrywers sukkel, of hoe? As jy, wat suksesvol (oor) seks skryf, kan verklap: Wat hou jy in gedagte – wat werk, wat werk nie?

Bly om te hoor jy dink ek skryf suksesvol oor seks, want ek weet nie of enige skrywer dit ooit rêrig regkry nie! Soos die Bad Sex Awards elke jaar weer wys, daardie aaklige “eerbewys” waaroor ook die skrywer Willem Prins in hierdie boek wroeg. Van die mees gerespekteerde skrywers se name het al op die befaamde Bad Sex-lys beland. Jy hoef net 'n enkele sin of twee uit konteks aan te haal en dan word dit grotesk snaaks. Humor kan help om seks beter te beskryf – maar daar is seker niks erger as om 'n ernstige sekstoneel te skryf wat onbedoeld snaaks word wanneer dit op die Bad Sex List beland nie. 

As mens lank met iemand getroud is, hoe behou mens die elektrisiteit? As mens ‘n stad soos Parys goed ken omdat mens dikwels daar is, hoe laat mens jou lesers iets van ‘n nuwe opwinding beleef?

Enige lang huwelik het maar sy donker kolle, nè. Soms is daar black-outs, soos in Suid-Afrika, maar as jy gelukkig is, is daar altyd nog 'n bietjie elektrisiteit oor wat bly flikker. Wat my gehelp het om Parys deur Willem se oë te beskryf, is dat hy aanvanklik so moedeloos en sinies is dat die befaamde stad hom nie meer kan ráák nie. En dan gebeur 'n reeks dinge, onder meer die terreuraanvalle in die Bataclan en in verskeie restaurante, en hy begin weer opnuut na Parys en na die reaksie van Parysenaars kyk.

Watter aspekte van Frankryk verras jou nog steeds?

Wel, die feit dat die “ver-linkse” Benoit Hamon pas gekies is as die Sosialistiese Party se presidentskandidaat was vir my 'n aangename verrassing. In hierdie Europa, waar vrees en vreemdelinghaat soveel skape na die regterkantse kampe dryf, is dit goed om aan die tradisionele linkse ideale van medemenslikheid en verdraagsaamheid herinner te word.

Jy skryf ook baie graag boeke oor kos. Wat is jou eerste liefde: suiwer fiksie of kosstories?

Ongetwyfeld fiksie. Maar in al my fiksie – selfs in my prenteboeke vir kinders! – is daar tonele wat om kos draai. Verjaardae en feeste en familie-etes, troues en begrafnisse, kos bly onvervangbaar belangrik. Dis nie toevallig dat die terreur in Misverstand juis in 'n restaurant losbars nie, net enkele minute nadat Willem 'n heerlike ete in daardie restaurant geniet het. Kos en seks was nog altyd deel van al my boeke. Wel, vir kleuters sal ek darem nou nie oor seks skryf nie, net oor kos. 

Die titel in Engels is You lost me. Wil jy iets van hierdie titel vertel of verduidelik?

Dit gaan oor die verlies van ideale en onskuld, oor middeljarige ontgogeling, maar ook oor die verlies van begrip tussen mense. Tussen groepe mense. Ons “verloor” mekaar in so 'n mate dat ons mekaar kan uitwis in oorloë en terreuraanvalle, dat daar geen empatie meer oor is vir mense wat anders as ons is nie. En op persoonlike vlak, tussen Willem en sy gewese vroue en sy kinders, wat mekaar langs die pad verloor het. 

En wát is die misverstand?

Daar is verskeie misverstande, sommige tragies en ander komies, deur die loop van die verhaal. Willem Prins se hele lewe voel vir hom soos een groot misverstand. Ek haal 'n reël aan uit 'n gedig van Danie Marais as motto vir 'n deel van die storie: “daar moet 'n misverstand wees, asseblief,/ dis nie my lewe nie ek woon iewers gelukkiger, skoner/ ek het 'n boekprys in sub A gekry.” 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top