Jong lesers: Swemlesse vir ’n meermin deur Marita van der Vyver

  • 1

Swemlesse vir ’n meermin
Marita van der Vyver
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624071044

Wanneer Hanna Minnaar se sussie, Ariel, gebore word op ’n verlate berg terwyl hulle vakansie hou, wens sy dat die babatjie nooit moet seerkry nie. Hanna besluit om vir Ariel ’n lewensgids te skryf wat haar deur haar lewe kan help. Sy skryf oor enigiets van eerste liefdes tot stieffamilies en natuurlik ook hoe om die tienerjare waarmee elke kind sukkel, te hanteer. Die uiteinde is ’n boeiende storie, Swemlesse vir ’n Meermin, deur Marita van der Vyfer. Dit het selfs vir my ’n paar dinge geleer oor hoe sommige tieners dink en voel.

Suid-Afrika het reeds die sestienjarige Hanna Minnaar en die “ups and downs” van haar lewe (soos sy dit stel) in die eerste Hanna-boek, Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom leer ken. Aan die einde daarvan word Hanna se sussie gebore. Vir my is die Meermin-storie die perfekte opvolg, want ek was net so geïnteresseerd daarin as in die vorige ene. Dit was ’n absoluut wonderlike boek en ek kon as gevolg van al die opwinding en spanning dit amper nie neersit nie. Daar was selfs vir my – en dalk ook vir Hanna – ’n klein verrassinkie in wat ek nie voorspel het nie.

Ek kan natuurlik nie vergeet om die hoofkarakters in die boek voor te stel nie! Daar’s dan so baie van hulle. Kom ons begin by die begin, en die karakters wat ons reeds ken. Eerste het ons vir Hanna. Haar bynaam is Hanna Hoekom en sy begeer ’n meer eksotiese naam soos Fabienne. Sy is 16 jaar oud en in graad 10. Dan is daar haar babasussie Ariel met die meerminagtige naam, ’n rooierige kuikendos en ’n liefde vir water. Ons kan nie vergeet van die twee tienjarige boeties, Tibo en Amos nie! Tibo glo hy kan toor en Amos hou van die Harry Potter-boeke. Hulle baklei gereeld en hulle ma en pa is dikwels bang hulle gaan mekaar vermoor.

Gepraat van hulle ma (of stiefma, afhangende oor watter boetie ons praat): Mana dring daarop aan dat hulle haar op haar naam noem. Sy is ’n kunstenaar wat bont aantrek en verfkwaste in haar hare ronddra. Dan’s daar Yann, die tienerbroer in die huis wat ook met Hanna se beste vriendin Sharon uitgaan. Hy het altyd sy iPod in sy ore en luister heeldag musiek. En hy’s gereeld in een of ander bui. Daar’s ook Beyers, die pa van die huis. Hy is ’n afgetrede akteur en was voorheen getroud met Yann en Amos se ma, Margot. Laaste maar nie die minste nie, het ons ’n nuwe karakter, Benjamin. Hy is Yann se vriend, nuut in sy skool en was deur ’n moeilike tyd. Hy’s ’n hartebreker en maak selfs Hanna se knieë lam.

Dis ’n heerlike boek wat ek in ’n oggend klaar gelees het. Volgens my sal die boek vir lesers van elf jaar en ouer reg wees. Ek weet ook dit sal geniet kan word deur ’n pa met dogters, want ek het my eie pa gevang dat hy rustig die boek op ons stoep sit en lees, met ’n heel tevrede uitdrukking op sy gesig!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top