Retoer, Pretoria–Provence deur Marita van der Vyver: die begeerde lewe

  • 1

Retoer Pretoria–Provence
Marita van der Vyver
LAPA-Uitgewers
ISBN: 9780799384796)

“Wanneer fiksieskrywers ’n outobiografie skryf, word daar soms meer gelieg as wanneer hulle ’n roman skryf,” sê Marita van der Vyver in die voorwoord van haar nuutste boek, Retoer, wat rubrieke en essays van die afgelope jare in Suid-Afrikaanse tydskrifte saamvat. Dit is nie ’n reisjoernaal nie, maar stel dikwels twee bestemmings met hul auras teenoor mekaar: Suid-Afrika, waar die skrywer haar jeugjare deurgebring het, en haar aangenome tuiste, Frankryk se Provence-streek. Sy bedrieg nie doelbewus nie, skryf sy, maar “as ’n mens jou verbeelding moet gebruik om die pot aan die kook te hou, kan dit moeilik wees om daarmee op te hou en jou tot die vervelige waarheid te beperk”.

Met die subtitel van die boek, “Die ongelooflike avonture van ’n skrywende ma”, versterk sy haar vele aanhangers se fassinasie met haar beroep en lewe. “Deesdae vind my ongelooflikste avonture hoofsaaklik in my skryfwerk, kop en verbeelding plaas terwyl ek in my kantoor vol boeke op die Franse platteland sit en stories uit my duim suig.” Sy vertel dat ’n mens ’n saai, doodgewone lewe kan lei en nogtans die ongelooflikste avonture kan belewe as jy ’n goeie verbeelding het, maar sy en haar lesers weet dis vir min mense beskore. Lesers hou egter van die illusie dat niks verder nodig is om uit ’n saai bestaan te ontsnap nie en dat die droom vir elkeen moontlik is.

Vir gewone mense is dit al klaar ’n ongelooflike avontuur om jou gunstelingaktiwiteit op ’n geïdealiseerde plek te kan beoefen en dan nog die pot daarmee aan die kook te hou. Van der Vyver kultiveer dus doelbewus ’n publieke persona met die sesde sintuig van ’n goeie selfpromotor, en dit dra baie by tot haar gewildheid as skrywer. En watter skrywer het dit nie nodig nie? Sy weet waarskynlik intuïtief dat dit net soveel deel van haar sukses is as haar onbetwiste skryftalent.

Vir haar tydgenote is nostalgie en kritiese nabetragting te vind in haar herinnerings waarmee baie ouer lesers kan identifiseer. Haar rubrieke gee die leesbevrediging van ’n afgeronde klein geheel wat in ’n sirkelbeweging oop- en weer afgesluit word. In die stuk getiteld “En dan gebeur die lewe met jou” begin en eindig sy byvoorbeeld met John Lennon se uitspraak dat die lewe met jou gebeur terwyl jy ander planne maak. In hierdie essay het sy dit oor die destydse gebruik op Afrikaanse universiteite om van “dameskoshuise” te praat, maar hoekom dan nie “herekoshuise” vir die teenoorgestelde geslag nie? “Manlike studente het blykbaar die reg gehad om hulle soos doodgewone mans in hulle koshuise te gedra, maar die toekomstige moeders van die volk moes asseblief tog dames word,” sê sy tong-in-die-kies.

Die agtergrond van eietydse verskynsels kom aan bod, soos stedelike terreur in Europa en die moordtog op die redaksie van die Paryse tydskrif Charlie Hebdo. Hier vind ek toe uit Hebdo beteken nie “onhebbelik” soos ek heimlik vermoed het nie, maar doodgewoon “weekliks”. Van der Vyver stel die geldige punt dat Franse gewoond is aan ’n lang tradisie van vryheid van spraak, al sou selfs redelik vrydenkendes geskok wees oor hoe oneerbiedig die tydskrif veral maghebbers – op politieke, sedelike en godsdienstige fronte ingesluit – satiriseer. Toe Moslems aan die beurt kom, het dit ’n bloedbad ontketen. “Die redaksie van Charlie Hebdo het ons almal se reg om te sê wat ons wil sê, tot die dood toe verdedig, ongeag wie saamstem,” verklaar Van der Vyver. Sy sê tereg as jy dit hieroor met haar eens is, jy nie selektief mag wees nie.

En as die skrywer se gevatte besinnings – haar alliterasie is humoristies en beskrywend – vir lesers buite die kring van bewonderaars selfgesentreerd klink, wel ... aanhangers kan mos nooit genoeg kry van hul geliefde skrywers se persoonlike besonderhede nie. In die onwaarskynlike geval dat sommige van hulle nog nie al hierdie bydraes in tydskrifte gelees het nie, sal die bundel hulle beslis nie teleurstel nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top