Marita van der Vyver oor idees, 'n skryfkamer van haar eie en Dis koue kos, Skat

  • 1

 

Marita van der Vyver (foto: Mia Claisse)

Marita van der Vyver hóú van uitdagings. Haar boek, Dis koue kos, Skat, is eersdaags op die groot skerm en sy het gehelp met die draaiboek. Misverstand, haar eerste volwasse roman met ‘n manlike hoofkarakter, verskyn vroeg volgende jaar. En Al wat ek weet, ‘n jeugboek met ‘n manlike karakter, word in Julie gepubliseer. Sy gesels met Yolanda Wessels.

Jou boeke is dikwels fiksie gekombineer met feite; is navorsing ‘n element wat jy geniet?

Dis beslis een van die beste dele van skryf. Ek is opgelei as joernalis en dis in my ingedril om alles waaroor ek skryf, te check en te double-check!  Terwyl jy navors, is al die hekke oop; jy kan enige paadjie kies vir die storie wat jy in gedagte het. As jy eers begin skryf, maak jy daardie hekke toe, blady vir bladsy, sin vir sin, tot daar uiteindelik net ‘n enkele smal, steil kronkelpaadjie oorbly. As die paadjie so steil raak dat omdraai onmoontlik raak, moet jy maar net aanhou en hoop jy kom iewers uit.

Waaruit put jy inspirasie?

Inspirasie is oral om ons, dis soos skulpe op 'n strand, dis daar vir enigiemand om raak te sien. Meeste mense loop bo-oor die skulpe, net sommiges buk om hulle op te tel. Skrywers is die optellers en die bekykers van idees waaroor ander mense elke dag loop.

Waar doen jy baie van jou navorsing?

Grotendeels op die internet, maar doodgewone outydse "voetwerk" bly onontbeerlik. Ek kan nie rêrig oor 'n plek skryf as ek nie fisiek dáár was nie. Ek moet met my eie twee voete deur die strate van 'n stad stap of die trappe van 'n gebou beklim voordat ek dit deel van my storie kan maak.

Dit help seker om toegang tot die wêreld anderkant Suid-Afrika te hê, in ‘n ander land te woon en al dié kennis te gebruik wanneer jy skryf?

Dis beslis 'n voordeel om 'n wyer verwysingsveld te hê. Maar as ek oor Afrikaanse karakters wil bly skryf – en ek wil – moet ek ook seker maak dat ek my nie afsny van my voedingsbron in SA nie. Die grootste voordeel van reis, vir my as skrywer, is dat dit my uit my gemaksone vat, veral as ek iewers kom waar ek nie die taal verstaan of selfs die alfabet kan lees nie. Dit laat my weerloos voel en met nuwe oë na alles kyk, die ideale toestand vir 'n skrywer.

Watter elemente verkies jy om as ‘n hooftema in te sluit in jou boeke?

Ek dink nooit aan 'n "tema" nie. Ek dink aan 'n karakter (of 'n groep karakters) met wie iets gebeur, en dan wonder ek hoe hulle daarop gaan reageer, en dan begin ek daaroor skryf om by 'n antwoord uit te kom. My temas, as ek so iets het, het altyd te doen met verhoudings tussen mense.

Het jou skryfaanslag verander vandat jy in Europa woon?

Ek glo nie my manier van skryf het veel verander nie. Ek het taamlik vroeg in my loopbaan al 'n herkenbare skryfstyl begin ontwikkel. Maar die onderwerpe wat ek kan aandurf, het veel wyer geword. My volgende roman, Misverstand, gaan byvoorbeeld oor 'n paar Suid-Afrikaners wat betrokke raak by die terreuraanvalle laas jaar in Parys. 

Marita van der Vyver en Alain Claisse (foto: Mia Claisse)

Vind jy dit moeiliker om in Frankryk te woon en te skryf vir mense wat duisende kilometers van jou af woon sodat hul steeds kan identifiseer met die karakters en storielyn?

Ek kan dit nie doen as ek nie fisiek in kontak bly met die land en die mense nie. Gelukkig word dit al hoe makliker om meer gereeld terug te keer na Suid-Afrika soos my kinders groter word en hulle eie lewes begin lei. Ek hoef nie meer skuldig te voel elke keer as ek my Franse gesin 'verlaat' om my wortels in Suid-Afrika te gaan voed nie.

Wat is die gemiddelde tyd wat jy uitsit om na te vors en ‘n boek skryf?

'n Volwasse roman kos my so drie jaar. Dis waarom ek nie net volwasse romans skryf nie, maar ook ander genres tussenin aandurf, want met 'n enkele boek elke drie jaar sou ek nie my en my gesin se pot aan die kook kon hou nie.

Gaan daar melankolie gepaard met die voltooing van ‘n projek?

Ek voel móég. Elke keer as ek klaarkry met ‘n boek, is ek móég. Te uitgeput vir ekstase of opgewondenheid of skeidingsangs.  Dis eintlik 'n verskriklike antiklimaks na soveel weke, maande, selfs járe van werk aan ‘n projek.

Is daar ‘n spesifieke plek waar jy verkies om te skryf?

Ek het jare lank gedroom oor Virginia Woolf se "room of her own", en noudat ek eindelik my eie werkkamer het, benut ek dit behoorlik! 'n "Kantoor" met 'n muur vol boeke en 'n deur wat ek agter my kan toetrek. En hoewel my gesin helaas die toe deur ignoreer as hulle my aandag of hulp of raad nodig het, is dit die enigste plek waar ek darem 'n mate van stilte en afsondering in 'n raserige huis vol mense kan vind.

Wat het jou die idee gegee vir Dis koue kos, Skat?

Jaloesie. Ek was gefassineer deur die verwoesting wat jaloesie in mense se lewens kan saai – veral in die lewe van die een wat aan die jaloesie ly – en het begin dink aan 'n boek oor 'n jaloerse vrou wat wraakplanne smee. Dit lei my toe na die ou gesegde, "Revenge is a dish best served cold", en dis hoe dit gekom het dat die hoofkarakter 'n kosskrywer geword het en kos so ‘n belangrike rol in die boek speel. In Nederland is dit onlangs gepuliseer deur 'n uitgewer wat in "kulinêre romans" spesialiseer. Ek het nie eens geweet daar bestaan só 'n genre nie!

Jy het saam met Etienne Fourie die draaiboek geskryf; hoe het jy die ondervinding ervaar?

Dit was 'n heerlike ervaring om as deel van 'n hele groot span aan so 'n projek te werk. Ek was van kleins af 'n alleenloper eerder as 'n spanspeler, maar dit was 'n welkome afwisseling om sáám met iemand te skryf en daarna op die rolprentstel te wees en te sien hoe die akteurs lewe blaas in karakters wat voorheen eintlik net in my kop bestaan het.

Jy hou van uitdagings in jou boeke; hoe gaan jy te werk om jou storielyn en karakters te ontwikkel sodat elkeen uniek is?

Ek probeer met elke boek iets aandurf wat ek nog nie voorheen gedoen het nie, iets wat my uitdaag en bang maak. Dit kan bloot die lengte van die boek wees (Wegkomkans is my enigste laaang boek van meer as 600 bladsye) of die tydsduur waarin die storie afspeel (Die blou van onthou is my enigste boek wat oor meer as 70 jaar van Suid-Afrikaanse geskiedenis strek) of soos in die geval van Misverstand, die feit dat ek vir die eerste keer 'n volwasse roman met 'n manlike hoofkarakter geskryf het. Ek het onlangs ook vir die eerste keer 'n jeugboek met 'n manlike hoofkarakter aangedurf (Al wat ek weet, wat in Julie gepubliseer word), wat net so 'n groot uitdaging was.

Jy noem dat die Afrikaan in jou smag na Afrika wanneer jy in Europa is en die Europeër in jou wanneer jy in Afrika is – beplan julle om dié twee wêrelde te kombineer?

Dis my en my man se plan vir ons "oudag", wanneer die kinders almal uit die huis is. Ek vermoed ons vier kinders, soos vele van my vriende s'n, gaan ware wêreldburgers word. Dalk het ons eendag een in Europa, een in Asië, een in Amerika, en dalk selfs een aan die suidpunt van Afrika? 

Watter advies het jy vir voornemende skrywers?

Wees bereid om te bloei. Of, soos Hemingway dit gestel het: "There is nothing to writing. All you do is sit down at a typewriter and bleed."

Foto's: Mia Claisse

  • 1

Kommentaar

  • Goeie vrae saamgestel en goed uiteengesit in maklike skryftaal deur Yolanda Wessels. Dus kan jy skryf en droom oor enige plek en van uit enige land. Just let it bleed through your mind, pen and typewriter.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top