Blaai deur die landskap van Provence met Marieta van der Vyver se Franse briewe

  • 0

Titel: Franse briewe: Pos uit Provence
Skrywer: Marita van der Vyver
Uitgewer: Tafelberg-Uitgewers
ISBN: 9780624046677
Prys: R150.00
Aantal bladsye: 224

 

Klik hier en koop Franse briewe: Pos uit Provence nou by Kalahari.net.

In Junie 2004 beland ek tydens ? blitsbesoek aan Skotland in die geskiedkundige Edinburgh. Weke se tipiese toeristebedrywighede word ingeprop in twee dae. Op die eerste oggend verloor ek egter heeltemal my woorde en sinne. Voor my verrys die eeue oue Edinburgh-kasteel uit vulkaniese klip - dieselfde kasteel wat volgens (waarskynlik onakkurate) oorvertelling die tuiste was van Arthur en sy ridders en ook beter bekend was as Camelot. Agter my in 'n tipiese Edinburgh-keistraat, op die hoek skaars 300 meter oorkant ? kasteel wat dateer uit 900 vC, pryk ? ander wêreldbekende ikoon, een met 'n groot geel M as kenteken - MacDonalds ...

So wat presies het dié bietjie nuttelose inligting te doen met Marita van der Vyver se jongste boek? Hierdie is buitendien veronderstel om ? resensie oor Franse briewe: Pos uit Provence te wees, dan nie?

Net soos ek sekere verwagtinge gehad het van die Edinburgh-trippie, het ek ook sekere vooropgestelde verwagtinge gekoester oor Franse briewe. En beide het my ietwat onkant gevang. Dalk het dit iets te doen gehad met die feit dat dié boek tydens ? wegbreek by die see in my hande opgeëindig het en die behoefte aan iets ligs groot was. Want kom ons erken dit maar, teen die tyd dat Woolworths sy Kersversierings opsit en Boney M deur die gange van winkelsentrums regoor die land weergalm, hang die meeste van ons se laaste senuwee en algemene geestesgesondheid reeds aan 'n dun draadjie. Al waarna ons smag, is ? bietjie ontvlugting - ? vakansie by die see sonder wind, onwelkome skoonfamilie oor Kersfees en ? stewige hopie boeke wat intellektueel nie te veeleisend is nie.

Franse briewe: Pos uit Provence is Marita van der Vyver se negende boek en bestaan uit verwerkte weergawes van rubrieke wat die afgelope jaar in Sarie verskyn het. Getroue lesers van die rubriek behoort dus te weet wat om van Franse briewe te verwag. Indien jy nié daarmee bekend is nie en ná ? uitputtende jaar ? bietjie ontvlugting soek - iets tussen 'n nuwe Wilna Adriaanse en ? André P Brink - kan Franse briewe dalk net daardie leemte vul.

Ek is sedert Griet skryf 'n sprokie 'n getroue Van der Vyver-aanhanger. Franse briewe en sy voorganger, Die hart van ons huis, wyk heelwat af van die vorige publikasies se formaat. Van der Vyver vertel self dat dié twee boeke haar verras het. Normaalweg "gebruik [haar karakters] nie altyd suiwer Afrikaans nie en sommige swets soos matrose". En dan is daar die sekstonele waarmee sy klaarblyklik goed is. Sy skryf 'n boek sonder 'n storielyn, met byna geen dialoog nie en in suiwer Afrikaans. Daar's nie eers 'n enkele vloekwoord of sekstoneel te bespeur nie. Met beide Die hart van ons huis en Franse briewe verras sy nie net haarself nie, maar ook haar lesers. In die proses wen sy ook 'n hele groep nuwe aanhangers wat moontlik nie andersins blootgestel sou wees aan haar werk nie.

Franse briewe bied aan die leser die alledaagse toegedraai in ? skynbaar "eksotiese" verpakking. Selfs die boekomslag roep die romantiese idee van die Franse platteland op in laventelblou, kompleet met artisjokke op die agterblad. Soos 'n groot geel M vang die skrywer haar lesers amper onkant met ? goeie dosis realisme in plaas van die verwagte escapism. As jy dus die boek optel met ? vooropgestelde idee (en nie die stofomslag se waarskuwing gelees het nie!) en dink sy gaan jou op 'n reis neem deur Provence en die romantiek van die Franse platteland uitbeeld, sou dit dalk wys wees om eerder een van LAPA se romanses in jou strandsak te gooi. Van der Vyver het dit nie verniet oorweeg om die boek Franse vlieë - en ander plae van Provence te noem nie.

Haar staaltjies is eerder stewig gebaseer op die realiteit van die alledaagse - al is dit die Franse weergawe daarvan. Of in haar eie woorde: "'n relaas oor my dikwels onidilliese lewe in ? idilliese landskap". Die romantiese wanpersepsie word ingekleur (of dalk eerder verdof) met die werklike lewe op die Franse platteland. Sy wys haar lesers dat selfs die lewe op die Franse platteland sy klein jakkalsies het. Of in haar geval, 'n hele kolonie jakkalsies. "My familie, soos die meeste van my lesers, verkies steeds om te glo ek woon in ? buitewyk van paradys waar niks ooit onverklaarbaar wegraak, breek, of op enige manier beskadig word nie" (46).

Sy verwelkom haar lesers soos ou vriende in haar feilbare lewe en slaag tog daarin om hulle oor te wen deurdat hulle identifiseer met die alledaagse ten spyte van die skynbaar idilliese milieu. Op die ou end gaan dit oor universele sake waarmee elkeen te doen kry - of dit in Suid-Afrika of Frankryk is. Stakings is 'n alledaagse verskynsel in Frankryk, openbare vervoer is alles behalwe voldoende, telefoonlyne word per ongeluk afgesny en selfs die polisie is nie besonder suksesvol met die bekamping van misdaad nie. So sien - selfs Frankryk het sy probleme, probeer die skrywer ons oortuig. "Onbevoegdheid en swak openbare diens, soos motordiefstal, is nie noodwendig tot die Derde Wêreld beperk nie," vertel sy (46).

Ten spyte van die skoot realisme waarmee lesers gekonfronteer word, slaag Van der Vyver daarin om met kleurvolle woordgebruik en beskrywende teks steeds die skoonheid van Provence rakelings vas te vang. "Dis ook nou somer in Provence - en soos elke somer word al die poskaartprentjies oornag lewend. Lappe laventel so pers dat dit lyk asof derduisende kristalviolet per ongeluk uit ? vragvliegtuig geval het" (127). Dis net jammer dat Franse briewe nie meer van hierdie woord-geskilderde beelde bevat nie.

Franse briewe bring ook op 'n ander vlak opnuut bewuswording van die toenemende globalisasie wat deesdae al hoe meer plaasvind (soos 'n MacDonalds in Edinburgh). Kulturele verskille word toenemend kleiner soos tegnologie verbeter en kulturele kruisbestuiwing plaasvind. Ook Provence se romantiese reputasie word hierdeur bedreig: wingerde moet plek maak vir nuwe woonbuurte, en tot Van der Vyver se groot ontsteltenis verdwyn die tradisionele Franse bakkers ook stil-stil. Selfs die stereotipiese Fransman haal die bedreigde-spesies-lys. Van barette is daar geen teken meer nie en nuwe rookwette het die Franse se voorliefde vir rook in restaurante gekelder.

Hier en daar gee die skrywer 'n blik op 'n paar eg-Franse tradisies: die speel van boules op die dorpsplein, die ewige gesoengroet op beide wange, en die voorbereiding van allerlei tradisionele geregte soos pistou-sop. Maar sy trek die deur net op 'n skrefie oop en kort vlietende oomblikke word 'n lusmakertjie vir ons nuuskierige siele. Die rede hiervoor is natuurlik die rubriekformaat van die boek, aangesien dit tog oorspronklik geskryf is vir 'n tydskrif, nie as ? roman met 'n deurlopende tema nie (alhoewel daar gepoog is om ? mate van groepering te bewerkstellig deur die rubrieke in verskeie subseksies in te deel).

As leser moet jy jou afvra wat jy soek - romantiese lighartige leesstof of iets met 'n bietjie meer substansie gewortel in die soms onwelkome werklikheid. Wat jou antwoord op dié vraag ook al is, twee dinge is vir seker: jy sal nooit weer met dieselfde o? na Provence kyk nie en ook nie sommer 'n boek volgens sy omslag beoordeel nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top