VraNet: Jo Viljoen vra Marita van der Vyver

  • 0

Marita van der Vyver beantwoord Jo Viljoen se vrae omtrent die skryfproses

 Deelnemer   Veteraan
Jo Viljoen neem deel aan die Sanlam/LitNet prosa aanlynskryfskool, SkryfNet XI.   Marita van der Vyver was een van die inwonende skrywers van SkryfNet VII.
1. Hoe ontwikkel jou karakters? Ontwikkel hulle deur die storie en kom so te sê vanself tot lewe en "ronding" – of beplan jy hulle vooruit? 
 
Karakter is die begin en die einde van al my stories. Ek begin elke storie met ‘n biografie vir elke belangrike karakter. Hoe hy lyk, wanneer hy gebore is, waar hy grootgeword het, hoeveel broers en susters, elke moontlike brokkie inligting. Die meeste van die inligting word nooit in die storie gebruik nie – maar ek het dit nodig om die karakter vir myself lewend te maak voordat ek die storie begin skryf.
 
 
2. Verras sekere karakters jou soms met hulle optrede of besluite?
 
Ek moet die karakter so goed soos ‘n nabye familielid ken vóór ek begin skryf – maar terwyl ek skryf, leer ek die karakters selfs beter ken, en word ek dikwels verras deur hulle optrede of persoonlikhede. Wat seker net weer bewys dat jy nooit werklik iemand goed genoeg kan ken nie, nie eens jou naaste familielede nie, en beslis nie die karakters wat jy self geskep het nie.
 
 
3. Beplan jy vooruit en weet jy altyd hoe jou boek gaan eindig?
 
Naas karakter is struktuur vir my die belangrikste deel van my skryfwerk. Ek beplan dus ‘n raamwerk vir elke storie. Die tydsduur waarin dit afspeel (twee weke of twee jaar?) help om die regte raamwerk te vind. Dan besluit ek byvoorbeeld min of meer hoeveel hoofstukke daar gaan wees en min of meer hoe lank elke hoofstuk gaan wees. Dan eers kan ek behoorlik aan die skryf kom – maar ek weet nóóit vooraf hoe die storie gaan eindig nie. Ek het wel ‘n idee van waarheen ek mik, maar soms word die einde eers teen die laaste hoofstuk vir my duidelik. Soos baie ander skrywers skryf ek juis "om die einde te leer ken". Letterlik én figuurlik. Alle ernstige skryfwerk het met die einde / die dood te doen.
 
 
4. Het jy ‘n skryfroetine? 
 
Ja, ek is baie gedissiplineerd: skryf vier dae van die week van 9 tot 5, wanneer die kinders op skool is en die huis stil is. (Woensdae het die Franse skole dikwels vry, dan doen ek administratiewe werk.) Hierdie dissipline het beslis nie vanself gekom nie; ek moes dit met moeite aanleer ná die geboorte van my eerste kind. Vandag is ek dankbaar dat my kinders my gedwing het om gedissiplineerd te wees, want ek weet nou dat byna alle belangrike skrywers ‘n streng skryfroetine handhaaf.
 
 
5. Skryf en herskryf jy, of doen iemand anders jou redigering?
 
Ek skryf en herskryf – herhaaldelik! – want ek glo die moeilikste deel van skryfwerk is juis om dit maklik te laat lyk. Dan stuur ek die manuskrip na my redakteur en my agent en vra ook dat ‘n paar buitekeurders dit lees. Dan kyk ek na almal se kommentaar voordat ek die finale weergawe skryf. En hierdie finale weergawe word dan ook nog deur ‘n goeie redakteur geredigeer.  
 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top