Grensgeval deur Marita van der Vyver: ’n resensie

  • 3

Titel: Grensgeval
Skrywer: Marita van der Vyver

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903796

Marita van der Vyver se jongste roman, Grensgeval (2019), word aangekondig as ’n roman “waarin sy Suid-Afrikaners se aandeel in die Grensoorlog onder die loep neem”. Dit skep die verwagting dat sy met dié roman haar bydrae lewer tot grensliteratuur – ’n versameling tekste oor wat as die Grensoorlog bekendstaan. Hierdie oorlog het in die eertydse Rhodesië, Suidwes-Afrika (nou bekend as Zimbabwe en Namibië) en Angola gewoed en die (literêre) tekste daaroor is meestal deur mans geskryf. Verwonderlik is dit skynbaar nie, want dit is veral mans wat van die vroegste tye af as soldate aktief by oorloë betrokke is. Vroue speel weer gewoonlik ’n geringer rol in die representasie van oorloë, asof hul minder daardeur geraak word, hoewel Afrikaanse literêre werke oor die Tweede Vryheidsoorlog, geskryf deur vroue, in die afgelope dekades toegeneem het (sien Van Coller 2009:50–55). Die meeste van hierdie werke is toeganklik en stel eerder menslike verhoudings as historiese feite, dikwels ’n liefdesverhaal, op die voorgrond.

’n Mens hoef slegs aan die Tweede Vryheidsoorlog, die Tweede Wêreldoorlog en die Balkanoorlog van die jare tagtig en negentig te dink om te besef dat vroue dikwels verál die slagoffers van oorloë is – deur verkragting, ontberings én psigologiese druk (byvoorbeeld die verwagting dat hulle “sterk” moet bly en hulle kinders en mans daadwerklik moet onderskraag). Dit is opvallend dat vroue literêr gesproke veel eerder hulle hand gewaag het aan die niefiksionele representasie van oorlog en dan dikwels in werke soos dagboeke wat as ego-dokumente bestempel sou kon word. Voorbeelde is die talle dagboeke van Afrikanervrouens ná die Vryheidsoorlog (soos dié van Anna Barry, Nonnie de la Rey en Alida Badenhorst) en heelwat dagboeke – waarvan enkeles eers later bekendheid verwerf – ná die Eerste Wêreldoorlog, soos dié van die Vlaamse Virginie Loveling, die Britse Enid Bagnold en die Amerikaners Mary Borden en Ellen la Motte. Nóg bekender selfs is die dagboeke van die Nederlandse Anne Frank en Etty Hillesum ná die Tweede Wêreldoorlog.

Daar bestaan wel Afrikaanse tekste deur vroue oor die Grensoorlog, onder meer Maretha Maartens se ietwat soetsappige Verste grens (1991), die oorskatte Die heidendogters jubel (1995) van Riana Scheepers en Van der Vyver self se roman Die dinge van ’n kind (1994). Inderwaarheid bestaan daar baie raakpunte tussen hierdie werk van Van der Vyver en haar jongste roman deurdat Van der Vyver nie in een van die twee romans werklik die “Suid-Afrikaners se aandeel in die Grensoorlog onder die loep neem nie”. So ’n beskrywing skep die verwagting van ’n deeglik gedokumenteerde relaas vol feitelikhede oor die Grensoorlog met ’n oorsigtelikheid. Dit is nie die geval in die twee genoemde romans nie. Albei romans speel af (in die geval van Grensgeval net ten dele) in die sewentigerjare van die twintigste eeu en adem dieselfde atmosfeer van stil ontnugtering, geheimhouding, onderdrukking, onvryheid en paternalisme. Sentraal staan die argetipiese Van der Vyver-Afrikanerman wat outoritêr, magsbehep en aggressief is en in sy optrede (ook seksueel) en vroulike behoeftes minag. In die eersgenoemde roman is Pine Pienaar en in die jongste roman Waldie vergestaltings van dié tipe man. In albei die romans is die teenpool van hierdie man (ook versinnebeeld deur Broederbonders, NP-politici en militêre leiers) die sensitiewe, kunssinnige man met sy liefde vir kuns, protesmusiek en letterkunde. Dikwels rook hy dagga, is ’n pasifis óf dienspligontduiker; kortom staan hy in voorkoms en optrede buite die rigiede verwagtingspatroon van destyds.

In albei die werke staan ’n bepaalde (liefdes)verhouding sentraal en word die historiese agtergrond met breë kwashale geskilder. Oor die oorlog self, die aanloop daartoe, die verloop daarvan en die redes vir Suid-Afrikaanse deelname word daar maar bitter min gesê. Ook ontbreek ’n deeglik gefundeerde samevattende evaluering van al hierdie aspekte. Daar is wel kritiese vermelding van die nuttelose sterwe van “wit seuns wat op die grens geskiet is vir volk en vaderland. Swart skoolkinders wat in die townships geskiet is, vir ’n ander volk en vaderland” (bl 12 van Die dinge van ’n kind) en gelykluidende uitsprake soos dienspligtiges wat beskryf word met “haarlose borskaste en dun arms van seuns wat nie genoeg kry om te eet nie”; “‘iewers aan die grens’ het haar toekomstige minnaar en man – en duisende ander dienspligtiges soos hy – mense doodgemaak, nie slegs ‘terroriste’ nie, maar soms ook vroue, kinders, bejaardes, babas” (Grensgeval, 8; 11). Verset teen verpligte diensplig figureer ook in albei die boeke.

Dit was (as ek goed onthou) Adriaan Roland Holst wat van sy medeskrywer en digter, Simon Vestdijk, gesê het dat dié vinniger skryf as wat die Liewe Vader kan lees. Marita van der Vyver staan wat haar gemengde oeuvre van vertalings, tydskrifartikels, radiodramas, kinder-en jeugliteratuur, romans en niefiksie (wat resepteboeke insluit) betref nie ver agter Vestdijk nie. Kwantiteit en kwaliteit is egter nie noodwendig teenpole nie, soos die omvangryke oeuvres van baie skrywers (soos Louis Couperus, WF Hermans én Vestdijk self) bewys. Desondanks is daar wel bepaalde opmerklike aspekte verbonde aan ’n groot oeuvre: werke is nie almal op dieselfde vlak wat gehalte betref nie en kenmerkende gemene delers (tematies, stilisties en struktureel) raak nie net opvallend nie; soms selfs voorspelbaar. Marita van der Vyver se debuutroman, Griet skryf ’n sprokie (1992), en Wegkomkans (1999) is vroeë hoogtepunte in haar oeuvre, terwyl Misverstand (2017) weer een van die dieptepunte in haar werk is.

Die kenmerke van Marita van der Vyver se werk is dat dit dikwels outobiografiese gegewens bevat. Soos by André P Brink toon haar vroulike hoofkarakters ’n vaste stramien: hulle is dikwels blond, buitestanders, teruggetrokke en onseker aan die een kant en hardekwas, onafhanklik, wilskragtig, sensueel, seksueel geëmansipeerd en selfs bykans promisku aan die ander kant. Hulle raak ook toenemend bewus van die aftakeling wat ouderdom meebring en die sterflikheid wat op die agtergrond huiwer. ’n Vaste gegewe is die feit dat hulle dikwels buite geykte verwagtings val. Soos gesê word ook die manlike karakters gestereotipeer en soms bykans karikaturaal voorgestel. Haar ideaal-tipes is selde Afrikaners; veel eerder Engels, Frans of Kubaans óf “alternatiewe” Afrikaners met min van die tipiese identiteitskenmerke wat Olivier (2006:490) aan Afrikaners toeskryf: “kulturele homogeniteit, eksklusiewe (letterlik uitsluitende) Afrikaner-nasieskap, blankheid (as rasse-eienskap), Afrikaanse kerk-georiënteerdheid, Afrikaanstaligheid en ’n politieke verbintenis met ’n eie kollektiewe grondgebied”. Daarom speel baie van haar werk ook in ander (eksotiese) ruimtes soos Frankryk of Kuba af en toon van haar werke ook die kenmerke van reisliteratuur. Intertekstualiteit speel ’n belangrike rol in Van der Vyver se werk en belangrike literêre werk speel telkens ’n rol in haar romans (soos Boccaccio se Decamerone in Wegkomkans).

Straattoneel in Kuba (Foto: Unsplash)

Daar is narratologies gesproke by Van der Vyver ’n duidelike voorkeur vir ’n geringe vertelafstand (en interiorisering) deur gebruikmaking van ek- of personale vertellers, dagboeke en briewe. Stories word dikwels gekaats teen ’n herkenbare historiese agtergrond wat by tye karakters se lot bepaal. ’n Konstante aspekte van haar historiese representasie is die afkeer van apartheid, militêre optrede in townships en buurlande en van politici in die algemeen. ’n Geliefde (sub-)genre is die liefdesverhaal met al sy kenmerke van gefnuikte liefde en ontnugtering tot die moontlikheid van geluk. Stilisties wissel sy graag registers af deur byvoorbeeld die insluiting van Engelse woorde en veral skunnighede: “Nina het gelag en gevra of sy dan nie weet hoe die kruisvaders geplunder en genaai het op hulle soektogte na die Heilige Graal nie” (71). Trekke van die sprokie (die prinses wat vasgevang is in ’n toksiese verhouding of psigologiese trauma, die “held” en die bose skoonma) maar ook temas soos aborsie, miskrame, egskeiding en selfdood kom dikwels voor. Deurgaans word beklemtoon dat veral die woord en die taal (skryf) ’n amulet teen die vuur kan wees en redding kan bring; so ook vriende en vriendskaplike verhoudings.

Van der Vyver se werk is dikwels siklies gekonstrueer, omdat die (vroulike) hoofpersoon ’n individuasieproses – met liminale kante – voltooi. Nie alleen gaan dit hier weer oor peregrinasie nie; die hoofpersoon verkry insig en kan uiteindelik voortbeweeg. In die resepsie van haar werk val op dat kritici (en sy self) hulle by herhaling uitgelaat het oor een van dié kwessies in die Afrikaanse letterkunde: die verskil tussen esoteriese, elitêre en toeganklike literatuur. In Carstens en Raidt (2019:509) word Van der Vyver ingedeel by skrywers van verstrooiingsliteratuur (skynbaar selfs nie eers goed genoeg vir die kategorie “intelligente massalektuur” [508] nie). Verstrooiingsliteratuur is, volgens hulle definisie, “lekkerleesboeke (fiksie) oor mense en hulle dinge”.

Daar is weliswaar aspekte wat Van der Vyver se werk bestempel as behorende tot die “middelmaat”: blokkarakteriserings; stereotipering; oorduidelike skurke en helde; die neiging tot ’n bepaalde oppervlakkigheid (“gemoedelikheid”) en selfs naïwiteit wat betref indringende politieke kommentaar en kritiese historiese representasie (byvoorbeeld van figure soos Che Guevara en Fidel Castro in die jongste werk). Desondanks is Marita van der Vyver ’n rasegte skrywer wat skynbaar moeiteloos skryf, juis omdat sy haar vak tot in die puntjies goed beheers. Ook ’n verteller by uitstek, van boeiende stories met interessante karakters en ruimtes.

Che Guevara en Fidel Castro (Foto: Openbare domein)

Grensgeval is geen uitsondering nie. Theresa Marais is ’n middeljarige vrou wat skynbaar ’n ekwilibrium bereik het: woonagtig in ’n relatief aangename omgewing, redelik gelukkig in haar bestaan en met haar werk en rustig ná ’n traumatiese egskeiding en woeste seksuele avonture daarna. Nie verniet woon sy in Observatory nie; sy het haar mettertyd ontheg van die aktiewe bestaan en veel eerder die lewe (en mense) afstandelik begin betrag. Hierdie oënskynlik rimpellose bestaan word wreed versteur deur die ontdekking van ’n brief tussen ander briewe en foto’s in ’n boks wat aan haar gestorwe man Theo (van wie sy al vroeër geskei het) behoort het. Hierdie brief van ’n Kubaanse soldaat (wat tydens die Grensoorlog deur haar man gedood word) aan sy dogter is die motoriese moment wat nie net ’n reeks gebeure laat ontvou nie, maar ook Theresa se onderdrukte herinnerings aktiveer.

In die res van die roman is daar struktureel ook sprake van ’n ekwilibrium: soos sy progressief vorder in haar soektog na die dogter aan wie die brief gerig is – selfs tot in Kuba – keer haar gedagtes retrospektief terug na haar jeugjare, veral tydens die jare sewentig toe die Grensoorlog in volle gang was én na haar ontmoeting en latere huwelik met Theo. Maar veral ook na sy toenemende aftakeling, ’n episode wat sy eintlik verdring het. Die roman se titel is weer eens meerduidig. In die eerste plek slaan dit op Theo, wie se siekte letterlik terug te voer is na sy ervarings tydens die Grensoorlog. Maar ’n grensgeval is ook iets wat nie duidelik klassifiseerbaar is nie en by die een of die ander rubriek kan hoort. In hierdie roman dien die Grensoorlog as voorbeeld hiervan: Is iemand ’n vryheidsvegter of terroris? Wie is die helde – die dienspligtiges of dienspligontduikers?

Struktureel werk die roman ook met doelbewuste parallelismes: Kuba en Suid-Afrika ten opsigte van die vroeëre onderdrukkende regimes; die onervare (en selfs onwillige) soldate aan beide kante; die magtige propagandaveldtogte in albei die lande, ensovoort. Op ’n ietwat melodramatiese wyse is Theresa se reis na Kuba ook ’n boetedoening vir haar man se optrede en “die grootskaalse bedrogspul waarmee die Suid-Afrikaanse regering besig was” (15). Tipies van peregrinasieromans is die letterlike reis terselfdertyd ’n innerlike psigologiese reis na verdronge en vergete aspekte van die eie bestaan.

Die besoek aan Kuba bied ruimskoots geleentheid om die liefdesverhaal en die reisverhaal te meng. Van der Vyver gee ’n interessante blik op ’n land wat steeds nie een van die hoofbestemmings van Suid-Afrikaanse toeriste is nie met veral uitvoerige beskrywings van mense, plekke, kos en kultuur. Oor die gewelddadige revolusie en die nagevolge daarvan (soos onteiening, armoede, sensuur en onderdrukking), asook oor die mislukte inval by Varkebaai en die Kuba-krisis, is daar bykans niks nie. Tog raak nog ’n parallel algaande duideliker. In beide Suid-Afrika en Kuba is die omverwerping van ’n regime begelei deur drome van ’n geluksalige én ’n suksesvolle toekoms. Algaande het ontnugtering ingetree en het misdadigheid, korrupsie, geweld en armoede die realiteit geraak.

Om die verloop van Theresa se soektog te beskryf, sou leesplesier bederf. Dis genoeg om te sê dat die soektog nie moeiteloos verloop nie en talle afdraaipaadjies op verskeie vlakke het. Boonop is daar weer die onwaarskynlike sprokiesprins en ander redders, asook mense en gebeure wat die soektog dwarsboom. En of daar ’n gelukkige einde aan hierdie sprokie is, sal lesers maar self moet vasstel.

Grensgeval is ’n onderhoudende boek met genoeg storiekinkels én diepgang om te boei.

Bronnelys

Carstens, WAM en E Raidt. 2019. Die storie van Afrikaans – Uit Europa en van Afrika: Biografie van ’n taal. Pretoria: Protea Boekhuis.

Olivier, B. 2006. Die kompleksiteit van identiteit in demokrasie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(4):482–497.

Van Coller, HP. 2009. Prosakroniek: 1998–2000: skrywers op die tweesprong. In Van Coller, HP. 2009. Tussenstand. Letterkundige opstelle. Pretoria: Van Schaik.

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Vir die eerste keer in jare is ek lus om een van haar boeke te lees. Natuurlik sal die boek die vroulike perspektief uitbeeld. Selfs die mans stem nog nie saam oor die hele politiek agter die oorlog nie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Rene professore maak seker maar omvattende studies wat lei tot laaaaang resensies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top