Kortlyste: 2021 se UJ-pryse

  • 0

Drie romans, ’n digbundel en ’n versdrama ding mee om die 2021 UJ-prys. Die kortlys vir dié prys sowel as dié vir die 2021 UJ-debuutprys is pas aangekondig.

Die boeke op die kortlys vir die UJ-prys, in alfabetiese volgorde volgens skrywer, is Skepsel – Willem Anker, Aanspreeklikheid – Jaco Fouche, Met die oog op môre –  Antjie Krog, Bientang –  Jolyn Phillips en Die heelal op my tong – Anoeschka von Meck.

Die vier titels wat die kortlys gehaal het vir die 2021- UJ-debuutprys, is (alfabeties volgens skrywer) As die Cape Flats kon praat  – Brian Fredericks, Uit die kroes – Lynthia Julius, Luistervink – Madré Marais en Pienk ceramic-hondjies – Ryan Pedro

Die UJ-pryse vir Afrikaans word sedert 2000 in twee kategorieë (een spesifiek vir debuutwerk) toegeken aan besondere en uitsonderlike Afrikaanse boeke wat in die voorafgaande kalenderjaar gepubliseer is. Albei pryse word sonder inagneming van genre toegeken, hoewel vertalings, jeugromans en kinderboeke nie vir inskrywing aanvaar word nie. Die inskrywings wat vir die 2021 UJ-pryse ontvang is, het ’n aansienlike aantal digbundels, enkele dramas, kortverhale, verskillende soorte romans en ook ’n hele aantal niefiksietitels ingesluit. Dit is opvallend en verblydend om die toename in debuutwerke, en ook die sterk kompetisie tussen hierdie tekste, te sien.

Sedert 2021 word die UJ-pryse deur die Universiteit van Johannesburg se Kantoor vir Meertalige Taaldienste geadministreer, met Marné Pienaar aan die stuur. Die Trust vir Afrikaanse Onderwys borg die 2021 UJ-pryse vir Afrikaans en ’n prysgeld van R70 000 vir die UJ-prys en R35 000 vir die UJ-debuutprys is op die spel. 

Vir die 2021 UJ-pryse is altesaam 71 titels ingeskryf en 27 hiervan is debute. Hoewel die totale getal inskrywings 12 minder was as dié van 2020, is nege meer titels van debutante ontvang as wat in 2020 die geval was.

Die paneel beoordelaars vir die 2021 UJ-pryse vir Afrikaans was Earl-Ray Basson (CPUT), Frederick J Botha (SPU), Karen de Wet (UJ) – voorsitter, Valda Jansen, Sonja Loots (UK), Johan Myburg en Marné Pienaar (UJ).

Die wenners word op 31 Maart aangekondig.

Lees ook:

Pienk ceramic-hondjies deur Ryan Pedro: ’n onderhoud

Skrywersonderhoud: Madré Marais oor Luistervink

"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"

As die Cape Flats kon praat: Gewone mense in ’n uitstekende debuutbundel

Zuid-Afrikahuis se gespreksreeks oor Afrikaanse skrywers en boeke begin met Jolyn Phillips se Bientang

Tuin van Digters 2020, ’n fotoberig

LitNet Akademies-resensie-essay: Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck

Antjie se oog op môre

LitNet Akademies-resensie-essay: Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché

Skepsel deur Willem Anker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top