Luistervink is ’n verrassende kortverhaaldebuut deur ’n jong skrywer van Bloemfontein. Marais is goed geskool in die klassieke Afrikaanse kortverhaal, maar bied vernuwing op vele vlakke. Elke verhaal bevat iets ongewoons, nie net wat betref taal en register nie, maar veral tov karakter en perspektief. Hoogtepunte sluit in "Brandoffer" (briewe aan ’n ma), "Sinker" (oor ’n seun wat op die rand van ’n damwal huiwer) en "Driehonderd-vyf-en-sestig en ’n kwart".
Remona Voges het met Madré Marais gesels.
Madré, baie geluk met Luistervink. Hoe het jy op die titel van jou bundel besluit? Wat presies is ’n luistervink?
’n Luistervink spits sy ore om dinge raak te hoor wat nie eintlik vir hom bedoel is nie. ’n Goeie luistervink hoor boonop dit wat nooit hardop gesê word nie.
Meer as een van die karakters in my verhale is op dié manier op die wêreld rondom hulle ingestel.
Moet dit tog nie verkeerd verstaan nie: Dis nie noodwendig ’n verkeerde en slegte ding om te luistervink nie. Die skrywer is ook ’n luistervink by uitstek, waarskynlik net ’n meer eerbare een as die gemiddelde agie. Hy versamel dit wat hy waarneem (deur hom aan die wêreld te verkyk en te verluister), bring los punte op onverwagse maniere bymekaar en vleg dit alles saam tot ’n storie.
Die titel sluit ook aan by jou gebruik van natuurbeelde en verskynsels in die bundel. Die bundel is ook opgedra aan die "landskap" waarin jy "mens geword het". Kan jy asseblief ’n bietjie hieroor uitbrei?
Die omgewing waarin ek grootgeword het, op ’n plaas in die suidwes-Vrystaat – met sy bossieveld en vlaktes en klipperige rante – het my manier van dink en voel gevorm. Ek het danksy dié landskap op ’n sekere manier mens geword, ’n spesifieke ingesteldheid ontwikkel.
My sin vir gewaarwording is geslyp op namiddae in die somer wat sidder van die blits en donder; skemertye wanneer die son aan die een kant van die hemelruim wegsink en jy in die ooste kan sien hoe die nag met sterre en al uit die horison sypel terwyl die koel lug uit die veld om jou enkels spoel en geleidelik opstoot tot oor jou ore; helder dae met los wit wolke wat weier om op ’n trop gejaag te word en welgeluksalig bo hul skaduwees staan en herkou; en die mees fantastiese stofstorms wat jy op ’n afstand kan sien aankom sodat jy deur die huis draf om die vensters betyds toe te maak.
Die verwondering hiervan het my onder die indruk gebring van hoe verwikkeld die natuur en, na analogie, die mens aanmekaargesit is. Dit het my geleer waarneem, en op ’n verlangse manier gegee wat ek nodig gehad het om die verwikkeldheid te verwoord.
Terloops, ek kan Bloemfontein net so maklik hierby insluit: dié stad wat nog nooit los kon groei van die veld om hom en die bergrant aan sy hart sodat hy bloot dooie teer en beton word nie.
Hierdie Vrystaatse landskappe waar jy grootgeword het, word in jou verhale verbeeld. Het jy miskien ’n paar foto’s van plekke of landskappe wat jou inspireer?
Hoe verplaas jy jouself in die vel van uiteenlopende karakters? Is daar ’n sekere proses wat jy volg of gebeur dit instinktief/natuurlik?
My verhale begin bitter selde by ’n karakter. Dit is liewer iets soos ’n toneeltjie wat afspeel of ’n oomblik tussen mense wat my laat wonder wat eintlik daar aan die gang kan wees (dit wat nie ooglopend is nie) en wat die storie daaragter sou kon wees.
Terwyl ek probeer om hierdie vraag te beantwoord, leer ek my karakters ken. Soos wat die storie ontvou, sien ek hoe hulle reageer en begryp ek hul motivering. Ek het dus nie ’n proses om hulle te skep en uit te bou nie. Ek laat hulle liewer uit die omstandighede en konflik van die verhaal ontwikkel.
Hoe gaan mens te werk met die skryf van ’n kortverhaalbundel? Skryf jy individuele kortverhale en snoer dit saam aan die einde van die proses? Of begin jy met die idee van ’n bundel in sy geheel?
Ek het Luistervink in geen stadium as ’n eenheidsbundel, waar die verhale onderling met mekaar verband hou, benader nie. Dit is ook nie die soort bundel wat deur ’n “tema” gebind word nie. Die stories is juis uiteenlopend.
Deur skryf en herskryf het elkeen van die verhale wat ek vir Luistervink afgerond het, ’n sterk genoeg stem gekry om tussen die res van hulle sy man te staan.
Daar is 13 verhale in die bundel opgeneem. Bygelowiges sou sê dit is ’n ongelukkige getal. Is daar ’n rede of ’n simboliese verklaring vir die getal stories in jou bundel? Of is dit blote toeval?
Daar is geen esoteriese verklaring nie. Nes enige skryfwerk ’n interne ritme het, het daar met die saamstel van die bundel ook ’n soort ritme vorm aangeneem. Dié 13 verhale het eenvoudig goed saamgeval.
Die mark vir kortverhaalbundels is relatief klein. Is dit nie vir jou vreemd nie, aangesien mense daaraan gewoond is om kort stukkies op die internet te lees en juis aanklank sal vind by kort stories? Wat dink jy is die rede vir mense se huiwerigheid ten opsigte van kortverhale?
Ek wil sowaar nou die wilde uitlating maak dat die kortverhaal niks met “kortheid” te doen het nie. Dis dalk die grootste rede hoekom dié genre misverstaan word.
Die kitsbevrediging van die netjies-verpakte stukkies inligting, lewensbrokkies en vertellings waarmee mense daagliks aanlyn te doen kry, is ver verwyderd van dit wat ’n kortverhaal doen.
Die leser neem die woorde dalk in dieselfde soort tydsbestek in, maar waar jy klaar is met die kort stukkie en sy inhoud sodra jy die laaste woord gelees het, begin die kortverhaal se invloed dalk eers by die laaste woord. Dis soms eers hier waar die leser werklik aan die dink gesit word, waar hy ’n waarheid kry om die hele verhaal van voor te interpreteer, waar hy met insig verras word wat iets anders in die wêreld of die menslike ervaring vir hom oopsluit.
Ek dink die meeste lesers is bang dat ’n kortverhaal hulle gaan koud laat – want, sê nou maar, hoe goed kan ’n mens ’n karakter werklik leer ken binne die bestek van sewe bladsye, of selfs ’n bladsy en ’n half? Dis dan juis hoekom ’n roman dié lesers so boei: Hulle raak geheg aan ’n karakter.
Gaan lees byvoorbeeld Brian Fredericks se “Nadine en Elton” in Die nuwe Afrikaanse prosaboek en heroorweeg dit wat jy nog altyd gedink het jy weet.
Wat is dit van die kortverhaalgenre wat jou aantrek?
My betoog as antwoord op die vorige vraag spreek dalk duideliker as enigiets wat ek hier kan noem.
Die kortverhaal het ’n sekere intensiteit, ’n vermoë om die menslike ervaring te distilleer tot iets wat die leser met ’n skok van herkenning laat. Met dié intensiteit karring hy aan jou, en bly hy aan jou karring – selfs ná verskeie kere se herlees, selfs jare later.
Wat die skryf van kortverhale betref, pas die aard van dié genre die manier waarop ’n storie by my aankom, en hoe ek verhale vertel. Ek bou elke verhaal rondom ’n enkele klein besonderheid, en die kortverhaal se skerp fokus laat my toe om dié besonderheid ten diepste te ontgin.
En watter Afrikaans en Engelse kortverhaalskrywers is jou gunstelinge? Kan jy asseblief ’n paar voorbeelde noem van kortverhaalbundels wat ’n invloed op jou eie skryfwerk gehad het?
In my antwoord oor Engels word ons deur die Amerikaners oorrompel. Raymond Carver en George Saunders, wat bekend is om hul kortkuns – maar veral ook Ernest Hemingway en Stephen King, wie se romankragtoere moontlik die aandag van hul meesterlike kortverhale kan wegrokkel.
Kom dit by die Afrikaanse prosa, is dit bitter moeilik om net enkeles te noem. Kom ek hou dit dan maar by vyf, sodat ons dit op een hand kan tel. Petra Müller, Jan Rabie, Riana Scheepers, Nicole Jaekel Strauss en Hennie Aucamp.
Ek sou nie kon sê dat daar bundels of skrywers is wat my skryfwerk direk beïnvloed het nie, maar as daar net ’n beduidenis van Rabie of Müller deurslaan, sou dit vir my besonders wees.
Watter boeke beoog jy om in die tyd van die COVID-19 te lees?
Ek herkou nog heerlik aan Die nuwe Afrikaanse prosaboek en al die verhale en prosastukke hierin wat ek nog nêrens anders onder oë kon kry nie.
’n Gesprek met my pa oor Marita van der Vyver se Grensgeval het gaan draai by die kortverhaalbundel Roofvis deur PJ Haasbroek, en ek leen dit nou by hom. Dis verhale wat ’n mens ruk, dié. Uiteraard moet Grensgeval dan ook aan die beurt kom.
Nog ’n heerlike verrassing waaraan ’n vriend my bekend gestel het, is Wisława Szymborska se digkuns. ’n Versameling van haar werk lê vir my en wag.
Laastens behou Stephen King se Doctor Sleep vir maande al ’n tergende teenwoordigheid op my bedkassie, waaraan ek net nie kans kry om gehoor te gee nie. Ons sal sien.
Kommentaar
Madré, ek sien uit om Luistervink in die hande te kry na die Lockdown. Ek het 38 jaar in Bloemfontein gebly en drie jaar deur die onder andere die Penhoekpas gery om my ouers in Bloem te besoek vanuit die Oos-Kaap. Jou foto's van Vrystaatlandskappe laat my diep terugverlang. Ook van Naval Hill; die woonstelblok waar ons gebly het is op een van jou kiekies. Geluk met jou bundel. Groetnis, van Gisela Ullyatt, 'n verloopte Vrystater.
Wat 'n voortreflike bundel en insiggewende antwoorde. Heerlik aan albei gelees. Welgedaan, Madré!