Tuin van Digters 2020, ’n fotoberig

  • 2

Die jaarlikse Tuin van Digters, wat gewoonlik so na as moontlik aan die verjaarsdag van Breyten Breytenbach val, is vanjaar weens COVID-19-regulasies uitgeskuif na 27, 28 en 29 November.

Die Breytenbach Sentrum op Wellington was steeds die ruimte waar digters gevier is.

Johan Conradie was een van mense wat die tuin om die Breytenbach Sentrum van ’n parkeerterrein na ’n digtuin help omvorm het.

Manie Rust was ook ten nouste betrokke by die stigting van ’n verwelkomende ruimte op die perseel van die Sentrum. Hier is hy saam met die skrywer en wetenskapjoernalis, Engela Duvenage.

Deon Meiring, wat baie onlangs sy nuwe langspeler Grensbewoner bekendgestel het, was eerste op die verhoog met sy poëtiese lirieke. Hy sing, onder andere, ’n liedjie oor iemand wat musiek skryf op so ’n strepieshemp.

Meiring en Almero Oosthuizen. Oosthuizen is voorsitter van die Breytenbach Trust, wat die geboue besit.

Anne-Ghrett Erasmus bestuur die kunsgalery in die Breytenbach Sentrum. Sy is self ’n digter. Die galery het ’n aantal kunstenaars gevra om werke te lewer om die temas wat die naweek aangespreek is.

Die tema van 2020 was “grendels, slotte, sleutels”. NP Van Wyk Louw het in sy eerste reël van Tristia, XIVb geskryf: “Slotreëls is altyd sleutels meer as slotte.”

Covid het heelwat mense laat dink aan hulle eie eindes, en 2020 was ook die jaar waarin Ampie Coetzee, ’n gewaardeerde inwoner van Wellington en ondersteuner van die Breytenbach Sentrum, op 15 Oktober oorlede is.

Elza Miles het die openingsrede geskryf, maar kon die geleentheid weens die gevaar van Covid nie bywoon nie. Daniel Hugo het haar stuk toe voorgelees.

Estelle Marais is een van die feeskunstenaars wat oor die “einders” gewerk het in haar landskapskilderye van die wye Groot Karoo.

Sandra Hanekom het deur haar kuns gesoek na sleutels tydens die grendeltyd, toe sy en haar gesin agter slot en grendel was in Frankryk.

Joubert Stander se werke het gefokus op gedigte van die feesdigter, Daniel Hugo.

Jacques Dhont fokus op die herbegin, die vernuwing in die natuur.

Danie Marais was die seremoniemeester wat almal op hulle plekke gehou het tydens die naweek.

Daniel Hugo is as feesdigter gehuldig. Bernard Odendaal, Yves T’Sjoen en Nicol Stassen het oor Hugo se werk gesels.

Bernard Odendaal aan die woord

Nicol Stassen, van Protea Boekhuis, waar talle van Hugo se werke verskyn het.

Yves T’Sjoen kon weens die verskerpte Covid-maatreëls in Europa nie na Suid-Afrika reis nie, maar hy het via Zoom sy huldiging gelewer.

T’Sjoen het spesifiek verwys na Marlene Malan se ondersteuning aan Hugo en die Afrikaanse digkuns.

Chris van Niekerk het van Hugo se gedigte voorgelees.

Daniel Hugo het in Februarie sy 65ste verjaardag gevier. Hy is reeds 41 jaar betrokke by die letterkunde as digter, uitsaaier en vertaler.

Shané Kleyn, wat heelwat van Hugo se tekste geredigeer het.

HemelBesem bring hulde aan Daniel Hugo, en talle ander woordkunstenaars wat met Afrikaans ’n pad gestap het.

Gerard Scholtz het sy haikoebundel Stipstaar bekendgestel. Kobus Geldenhuys het met Scholtz gesels.

Ampie Coetzee se rol in die studie van ons letterkunde is ondersoek. Louise Viljoen het met Jolyn Phillips, Gerrit Olivier en Steward van Wyk gesels.

Phillips het vertel hoe Coetzee se vroeë navorsing na stylaspekte soos metrum in poësie haar vandag nog help.

Olivier het veral uitgewei oor die belangrike werk wat die uitgewery Taurus gedoen het. Taurus het dit moontlik gemaak om Afrikaanse tekste te laat verskyn wat andersins nooit die lig sou gesien het nie. Baie van Taurus se werk is inderdaad verbied onder die sensuurwette, maar dan was hulle reeds in die hande van lesers. Ampie Coetzee, John en Elza Miles en Gerrit Olivier was van die vroeë dryfvere agter die uitgewery.

Steward van Wyk het vertel hoe Coetzee se ideologiekritiek die herbesinning van tekste moontlik gemaak het. Die status quo, gedryf deur die regering se agendas, het na die vorm van tekste gekyk en gesê ’n politieke lees daarvan is verkeerd. Coetzee het daarop gewys dat juis dít ’n politieke daad is en dat ’n Marxistiese herlees van tekste baie waardevolle sleutels aan die leser bied.

’n Aangepaste uittreksel uit Smeltkroes, ’n NATi-ondersteunde produksie wat in 2021 ’n volle debuut sal maak, is deur PEN Afrikaans en PEN International na die Tuin van Digters gebring. Nicole Holm  is die regisseur. Bekende musikante soos Luna Paige, Ramon Alexander en Frazer Barry het die produksie help vorm gee.

Luna Paige

Ramon Alexander

Frazer Barry

Devonecia Swartz

Breyten Treurnicht

Jolyn Phillips

Shirmoney Rhode

Annemie Nel

Shaun Johannes

Muneeb Hermans

Henry Steel

Buite die tent het die stof gestaan soos mense gedans het.

Mooi trap!

Binne die tent was dit nie baie anders nie.

Ná die joligheid het ’n teatergroep, ondersteun deur die Breytenbach Sentrum, ’n versoberende stuk opgevoer oor jongmense se stryd teen geweld, veral as hulle vroue is en/of uit die LBGTQI+-gemeenskap kom.

Daarna het ’n paneelbespreking oor vertaling plaasgevind. Nicol Stassen het met Daniel Hugo en Kobus Geldenhuys gesels.

Nicol Stassen, besturende direkteur van Protea Boekhuis

Daniel Hugo, digter en vertaler

Kobus Geldenhuys is die vertaler van talle kinder- en jeugboeke in Afrikaans.

Alfred Schaffer het met nuwe stemme in die poësiewêreld: Jolyn Phillips, Lynthia Julius en Ryan Pedro gesels.

Jolyn Phillips se tweede bundel, Bientang, het vanjaar verskyn.

Lynthia Julius se debuut, Uit die kroes, het ook verskyn.

Ryan Pedro het vanjaar gedebuteer met Pienk ceramic-hondjies.

Ronel de Goede het daarna met Daniel Hugo, Danie Marais en Louis Esterhuizen gesels oor die geskiedenis van die Ingrid Jonker-prys wat vanjaar 55 jaar oud is en jaarliks beurtelings aan ’n Afrikaanse of  ʼn Engelse debuutdigbundel toegeken word. Al vier paneellede is of was al voorsitters van die prys.

Ronel de Goede, die huidige voorsitter

Daniel Hugo

Danie Marais.

Louis Esterhuizen

Die 2020 Ingrid Jonker-prys is by die Tuin van Digters aan Saaleha Idrees Bamjee oorhandig vir haar bundel Zikr. Finuala Dowling het met haar gesels en het toe die prys oorhandig.

Bamjee is ’n Moslem en verskeie Arabiese woorde en terme word dus in die bundel opgeneem.

Die onafhanklike tydskrif Ons Klyntji het daarna digters wat in die nuwe uitgawe opgeneem is, genooi om hulle werk voor te lees. Toast Coetzer is een van die samestellers en het as programleier opgetree.

Erns Grundling, een van die ander dryfvere agter Ons Klyntji, het inderhaas opgedaag met ’n briefgedig deur niemand anders nie as Breyten Breytenbach; iets wat Breytenbach spesiaal vir die Tuin van Digters 2020 geskryf  het en daardie middag aan Grundling ge-e-pos het. Lees die brief hier.

Andries Bezuidenhout, digter, rockmusikant, skilder en akademikus het met Churchil Naudé gesels oor sy digbundel Drol innie drinkwater.

Andries Bezuidenhout

Churchil Naudé

Feesgangers ontspan in die digtuin.

Dié groepie het ’n Jaco Jacobs-pizza geëet.

Francois Lötter, die bestuurder van die Breytenbach Sentrum. Lötter en sy regterhand, Jessica Ruiters, se enorme bydrae tot die sukses van die  Tuin van Digters word dikwels misgekyk.

Die oop ruimtes en goedgeventileerde tente het die verspreiding van COVID-19 beperk, maar gaste is gevra om maskers te dra wanneer hulle in die geboue ingegaan het.

Die lekker weer het ook gemaak dat feesgangers buite die tente kon sit en die vertonings geniet.

Die Duvenage-gesin geniet die fees. Louis Duvenage is voorsitter van die Breytenbach Kultuursentrum-maatskappy, wat die programme van die Breytenbach Sentrum bestuur.

  • 2

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Hoe ry die trein ... die Afrikaanse trein. Hoor daar hoe stoom hy, die Afrikaanse trein.

    Geluk aan vanjaar se 'stoker' Daniel Hugo vir sy jarelange bydrae en bevordering van 'n nog relatiewe jong taal wat welverdiend is. Die fotobeeld wys op 'n kleurvolle 'tuin' in blom en 'tuiniers' wat bereid is om te spit. Dankie en welgedaan.

  • Bernard Odendaal

    Heerlike “fotoberig” deur Izak de Vries - ook een van die reusebydraers wat buite die kalklig bly!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top