As die Cape Flats kon praat: Gewone mense in ’n uitstekende debuutbundel

  • 0

As die Cape Flats kon praat
Brian Fredericks

9780798180917
Human & Rousseau
2020

Laas keer toe ek gemang het, was ons in Pollsmoor se maksimum. Dit was die dag wat die tronk se hoof vir die kameras gesmaail het en vir almal gesê het dat die gangs nie in die tronk regeer nie. Dis net stories. Ek kyk toe so om my na die manne in oranje; hulle lyk so skaam vir dié nonsens, dis amper asof iemand poep gesê het voor die dominee.

As jy vir die Cape Flats ’n stem sou gee daai oggend, sou jy stories hoor van die gangs se invloed binne én buite die tronk. As Cape Flats daardie oggend agter die mikrofoon kon staan, sou dit feite gooi waarvan die regering en die ryk ouens in die suburbs nie hou nie. Dit is dalk hoekom mense dink die Cape Flats kan nie praat nie, want ons wil nie hoor wat die mense daar sê nie.

Hier kom Brian Fredericks en hy gryp die mikrofoon. Hy vertel ander goed oor die tronk en die gangs. Hy praat groot prate.

En hoe.

Die stories lees maklik. Almal kan dit verstaan.

Die verhale meng Standaardafrikaans, Kaaps en die unieke kodes van die nommers in die tronke op só ‘n manier dat selfs buitestanders dit sonder probleme kan volg. Dit is bitter min dat ’n debuutwerk só goed afgerond is.

Leeskringe, hier is die regte boek om 2021 mee af te skop. As die Cape Flats kon praat is ’n uitstekende debuut. Hettie Scholtz het nie verniet na hierdie bundel verwys toe sy gesels het oor volgende jaar se kykNET-Rapport-boekpryse nie. 

kykNET-Rapport-boekpryse: 2020-kortlyste is hier!

Daar is groot verwagtinge vir dié een.

Die struktuur

Die boek bestaan uit nege kortverhale. Hoewel elke verhaal op eie bene staan, vorm hulle ’n hegte eenheid wat maak dat daar ’n verhaalprogressie deur die boek is.

Die eerste verhaal, “Die drie musketiers”, is die langste. Dit is byna ’n novelle en lê die fondament neer vir die res van die stories wat volg.

Michael, die verteller, is ’n joernalis wat skryf vir ’n Kaapse poniekoerant, Die skandaal. Uit die bloute kontak Angelo hom eendag en sê hy wil kom inloer.

Die joernalis besef dat Angelo die boetie van Emile moet wees. Saam-saam het hulle op laerskool bekendgestaan as die drie musketiers.

Michael was brandarm en altyd sonder kos. Angelo het sý toebroodjies met Michael gedeel. Só het hulle bevriend geraak.

Hulle was tien jaar oud toe Angelo en Emile eendag verdwyn het.

Wat daarna gebeur het, maak die wêreld van die Cape Flats vir die leser oop.

Michael het hard gewerk. Danksy toewyding en ’n ondersteunende gesin kon hy ’n sukses maak en leef in die hede ’n relatief goeie lewe, apartheid en die Flats ten spyt.

Angelo is, danksy ’n baie ligte vel, na sy wit pa gestuur waar hy wit grootgeword het, kon gaan studeer en is in die hede ’n suksesvolle skrywer van sepies.

Emile moes, weens ’n donker vel, by sy ma en dié se familie bly.

Aan die begin van die storie is Emile in die tronk vir die brutale moord en verkragting van ’n jong meisie van Vishoek, Jessica Leigh.

Angelo smeek dan vir Michael om vir Emile in die tronk te gaan besoek – hy sien nie kans nie.

Die verhoor vir Jessica Leigh se moord, die gruwels van die misdaad, en die alledaagse probleme van ’n bestaan in desperate armoede word vervleg deur Michael se skrywende hand.

Die res van die storie moet julle self lees, want dit ontsluit temas wat regdeur die boek geknoop word:

  • Broederskap het niks met genetika te doen nie.
  • Bevoorregting word soms deur ’n vloek van geluk of ongeluk van jou weggeneem; of aan jou gegee.
  • Jou rolmodelle op die Cape Flats is hulle wat suksesvol is in die onderwêreld; dit is ook die onderwêreld wat aan die jongelinge liefde en geborgenheid bied, in ruil vir lojaliteit.

Danksy Michael, die joernalis, se werk, leer die leser ook die rol van die poniekoerante ken; daardie publikasies gee ’n stem aan mense wat andersins nooit gehoor sal word nie. Daar is die ma wie se kind tik. Sy wil hê die joernalis moet hieroor skryf, want sy wil hê haar seun moet in die koerant lees hoe moeilik dit vir haar is. Die skandaal moet namens haar praat, want sy kan nie.

Ek werk gereeld in Kaapstad se armer dele. Ek het al baie gehoor: “In watter koerant gaan jy my foto sit?”

“Die drie musketiers” kan op sigself ’n bespreking of twee by ’n leeskring werd wees, maar dit is wanneer dit as bloudruk vir die res van die res van die stories gelees word dat Brian Fredericks se slim werkswyse begin duidelik word. Leeskringe kan elke scène in die daaropvolgende stories terugplot na die eerste teks en kyk hoe hulle mekaar toelig.

Op ’n sosiolinguistiese vlak sou ’n mens ook kon kyk hoe hierdie verhaal ruimte gee aan Standaardafrikaans, Kaaps en Tronktaal; iets wat ook in later verhale gebeur.

Die ander verhale

Elkeen van die ander agt verhale in die bundel vertel ’n storie wat tematies terugwys na die eerste verhaal.

“Green eyes” verduidelik hoe onmoontlik dit is om weg te stap van die bendes – al is jy al lank uit die tronk.

“Moenie mense judge nie” wys hoe maklik dit is om betrokke te raak by die bendes – selfs al beplan jy dit nie. Ook wys hierdie verhaal op ’n wrang manier hoe mense wat uit die Cape Flats wegbeweeg het, soms familie gebruik om hulle gewetens te sus oor diegene wat hulle agtergelaat het.

“Nadine en Elton” vertel die leser hoe bitter moeilik dit vir gewone mense is om te volhard met hulle studies. Dit wys ook hoe mense soms bitter keuses moet maak om seker te wees hulle kinders kry genoeg kos.

“Gister se mistakes” vertel hoe ’n kind van ’n pa weggeskeur word.

“Die cowboy” het jare terug in die US Woordfees se bloemlesing verskyn. Dit ondersoek die afwesige pa en die moeilike keuses wat ma’s moet maak om hulle kinders ter wille te wees.

“Die vierhoeke” vertel die verhaal van ’n gewoontemisdadiger, ’n lid van die 26’s, wat op pad is om vir sy seun in die tronk te gaan kuier voor hy self weer vir vyftien jaar weggesluit word. Die ouer man is besig om homself op te werk in die bendes; hy kan nie meer buite die vierhoeke regkom nie. Die broese is nou sy familie. Die seun hoop nog op ’n ander lewe en dit irriteer die pa dat sy seun nie in sy voetspore wil volg nie. Wat ek hier sê, is nie ’n spoiler nie, want die leser besef baie gou waarnatoe die verhaal jou neem. Dit is nie die bestemming wat hierdie een so besonders maak nie, dit is die reis; en om dít te verstaan, moet jy die storie lees.

“Die gevangene” gee die leser ’n wrang insig in die hoop wat aan sommige mense gebied word op ’n beter lewe, maar hoe dit dan van hulle weggeraap word deur die regstelsel.

Met die laaste verhaal, “Baksteen vir baksteen”, eindig die bundel op ’n pragtige, hoopvolle noot. Die leser weet egter nou al hoe baie dit van die jong man gaan verg om sy belofte gestand te doen.

Daar is al oor die Cape Flats geskryf – dink maar aan Nathan Trantraal se Wit issie ‘n colour nie, wat baie goed is. Vele lesers sê egter hulle sukkel met die Kaaps. Daar is leeskringe wat juis moeite doen om sulke boeke te lees; kyk gerus na die artikel deur Monica Hammes.

Fredericks skryf só dat die verskillende tale vervleg en sonder groot moeite gelees kan word. ’n Mens kan dus op die storie konsentreer.

Wie is Brian Fredericks?

Daar is min bekend oor die mens agter hierdie bundel.

Hy was destyds in Nuwe Stemme 2 en Naomi Bruwer het ’n onderhoud met hom gedoen.

Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Brian Fredericks

“Die cowboy” is ook saam met gróót name opgeneem in die US Woordfees se eerste bloemlesing van 2016, en verlede jaar is twee van Brian se verhale opgeneem in Die nuwe Afrikaanse prosaboek.

Wie Brian Fredericks ook al is, hy skryf al jare lank. Dit is ’n deurleefde en fyn afgewerkte teks hierdie.

Die strak eenvoud waarmee hier vertel word, laat my dink aan Bertolt Brecht se kortverhale oor die werkersklas.

Om ’n stem te gee

Jare gelede het Elsa Joubert in Afrikaans ’n stem gegee aan ’n swart vrou. As daardie vrou met wit mense sou kon praat in daardie tyd, wat sou sy gesê het? Tafelberg, tans ’n druknaam van NB-Uitgewers, het Poppie Nongena se stem in ‘n geel boek verpak.

’n Mens sou hoop dat die kenteken van Human & Rousseau, tans ook ’n druknaam van NB-Uitgewers, hierdie boek in die hande van lesers sal plaas wat nie sommer in die Cape Flats sal gaan sit en luister, of in ’n derdeklaskompartement in een van die Kaapse treine sal wil sabela nie.

Dié boek gaan nie oornag die Cape Flats verander nie. Die swerfjare van Poppie Nongena het beslis nie ’n vinnige einde aan apartheid gebring nie, maar dit het begin insae gee in die onreg van die sisteem.

Dit was maklik om destyds te sê: “Ek kan niks aan apartheid doen nie.”

Dit is nou nog makliker om die vinger na die ANC te wys en te sê: “Húlle moet die probleem oplos.” As die Cape Flats kon praat, sou dit dalk saamstem, maar meer nog, dit sou dalk sê: “Ek wil van geweet wees, Ma, ek wil nie vrek soos ’n hond nie, ek wil van geweet wees.” Let veral op hoe mense in die eerste verhaal hierdie woorde van Tiemie uit PG du Plessis se Siener in die suburbs subtiel eggo.

Die laaste keer dat ek gemang het, is ek, soos die ander joernaliste, later daardie dag weer vrygelaat; ons mae vol tronkkos, kopskuddend oor die regering se houding jeens die bendes.

Dalk kry Fredericks dit reg om ánder stories rugbaar te maak, die kleiner narratief teenoor die meesternarratief. Dalk sal meer mense dan begin lees aan die ander uitstekende werke wat reeds oor die bendes geskryf is.

Daar bestaan ’n mite dat kortverhale moeilik is om te lees. Ek wil enigeen uitdaag om dié bundel te probeer. As jy ’n Huisgenoot-artikel kan lees, sal hierdie stories met jou praat. Dit gaan oor mense. Gewone mense. Mense wat van geweet wil wees.

Lees ook:

Korona is erger na rook

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top