Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Iemand merk op dat ons skrywers se heen en weer plasings oor mekaar se boeke op die sosiale media aankope bemoeilik. Die gevolg was dat ek my Facebook-plasings en Instagram-video’s ondersoek het.
Nou wonder ek steeds: Hoe kan ek hierop verbeter? Meer aandag op skrywers plaas? Veral dié wat nie soveel mediablootstelling kry nie?
Maar dan, ek gesels veral oor die boeke wat ek regtig geniet het, selfs ook van dié waarvan ek nie gehou het nie.
Smaak verskil mos.
Ek kan onmoontlik oor elke boek ’n resensie skryf.
Aan die ander kant, ek het byvoorbeeld geen resensie van Marie Lotz, Jaco Wolmarans, Deon Meyer, ensovoorts nodig om te besluit of ek hulle boeke wil koop, al dan nie.
As jy ’n dissipel van ’n sekere skrywer is, sal jy ook weet: Jy het nie ’n resensie nodig nie. Ek, en sekerlik jy, wil wel êrens sien dat iets nuuts verskyn, en ek dink dit is die idee agter my konstante deel van skrywers se boeke. Dit is asof ek, eintlik al ons skrywers, vir lesers sê: Kyk hier!
As jy meer wil weet, beveel ek resensies en indrukke op Goodreads, Lekkerleesboekrak, LitNet, en elders aan.
Ek hoop wel om “nuwe” skrywers – al is hulle oud – êrens aan iemand voor te stel.
Die beste kompliment wat ek die afgelope week ontvang het, was van ’n paar mense wat opgemerk het dat hulle my stem kan hoor in “Kortliks met Stefaans”. “Dit is asof ons kuier en oor boeke gesels.” Ek hoop dat ek hierop kan borduur – dit is immers die hart agter hierdie skrywes.
Skrywer: Bettina Wyngaard
Titel: Wat sê Bettina?
Uitgewer: Protea
ISBN: 978-1-4853-1557-5
Ek onthou my dae van oogklappe in die kerk, rondom politiek en seksualiteit – die gevolge van beperkte kennis. En my belofte om voortaan vir myself te dink. Dit is juis hoekom ek boeke lees van mense wat met my verskil. Hoe anders gaan ek weet dat dit wat ek glo, reg is? Om vir jouself te dink vra immers waagmoed, want jy moet jou tradisies eerlik ondersoek en jou geloof bevraagteken. Jy móét jouself uitdaag om self te kan dink – anders papegaai jy bloot net wat jy geleer is. Reg of verkeerd.
Hoe meer ek myself strek met ongemaklike vrae, hoe meer versterk my geloof. En ja, ek het oor die jare al heelwat tradisies afgewas. Die Bybel waarsku tog om nie God se gebooie ter wille van tradisie te veronagsaam nie.
Een van my gunstelingbundels vol tuimeldroërrubrieke is Jonathan Jansen se Oor bokdrolletjies en rosyntjies. Die rubrieke is voorheen in Die Burger gepubliseer en in 2011 deur Macmillan uitgegee. Ek lees dit soos Spreuke in die Bybel – lees, dink, word kwaad, groei. Fouteer. Herhaal: lees, dink ...
Wat sê Bettina? pronk ook in my Bybelstudierak, langs Jaco Strydom se Leef lig en Johan Pienaar se Die dag ná die rowers opgedaag het. Want net soos die twee Lux Verbi-boeke my geloof uitgedaag het, doen die Overbergse skrywer Bettina Wyngaard dit.
Haar 50-stuk-rubrieke (uit 420 artikels gekies) strek oor 10 jaar, so moenie dit in ’n week probeer opslurp nie.
Wat op die voorblad egter kort, is ’n plakker met die nota: Nie vir fyngevoelige lesers bedoel nie.
Die krimiskrywer en aktivis teen boekdiewe, Sidney Gilroy, som dit so mooi in sy resensie op:
Wyngaard se woorde brand op plekke soos brandrissies en sy maak dit van die aanvangsparagraaf af duidelik dat jy jou nie nou in ’n eggokamer bevind nie. Dis háár speelveld en jy word genooi om met jou vooropgestelde idees, opinies en (wan)opvattinge by haar ter tafel te kom aansit vir ’n stewige dosis Bettina. Of jy dit nou laaik of nie, she is going to speak her bleddie maaind. En wie weet, iewers tussen die 200 bladsye val jy dalk net van jou stoel af of gaan jou mond oophang, hetsy van skok, ’n gevoel van verontregting of (hemele behoed die einste leser) openbaring.
In die voorwoord waarsku sy self:
’n Ware demokrasie kan net floreer as mense blootgestel word aan menings teenstrydig met hul eie. Demokrasie kan net gedy as stemme wat verskil van die meerderheid, of wat dinge anders uitdruk as wat die meerderheid sou, ook gehoor word.
As skrywers soos Jansen en Wyngaard nooit aan mense aanstoot gee nie, was hulle nie eerlik in hulle skrywe nie. Net so, as hulle – en in die geval Wyngaard – jou nie êrens ongemaklik laat voel nie, was jy nie eerlik met die lees van haar gedagtes nie. Sy self erken dan dat sy in sommige gevalle haar denke oor die jare verander en gekristalliseer het.
Skrywer: Jeffrey Archer
Titel: Traitors gate
Uitgewer: HarperCollins Publishers
ISBN: 978-0-00-847437-9
Many moons ago het ek Jeffrey Archer se debuut Not a penny more, not a penny less gelees. Daarna het ek sy boeke ingeryg: Kane and Abel, First among equals, A matter of honour, As the crow flies ... Ek het minder as 10 van die skrywer se boeke nog nie gelees nie en sy versameling kortverhaalbundels staan reg langs sy trio tronkdagboeke in my boekrak.
Toe ek eendag, seker nou al 10 jaar gelede, tot die besef kom dat ek gaan sterf voordat ek alle goeie boeke sal kan lees, het die besef my genoop om my leeslys tot die been te sny en ek het genre bo skrywers gekies. Archer, John Grisham, Michael Crichton was van die skrywers wat in die slag gebly het. Ek het besluit om net boeke in bestaande reekse te voltooi en niks nuuts te begin nie, anders kon ek nie plek maak vir nuwe stemme nie.
Terugskouend is ek nie seker of ek destyds die regte besluit gemaak het nie. Ek is alte bewus daarvan dat Archer ’n briljante skrywer is en Traitors gate verduidelik waarom die skrywer alreeds meer as 275 miljoen boeke verkoop het. Alles binne my skree om sy naam – of ten minste die William Warwick-reeks – terug op my leeslys te plaas. Dit is duidelik dat sy 754 dae agter tralies hom ’n diepte gegee het in omgang met misdaad en misdadigers. Voeg hierby sy politieke ondervinding en jy het ’n wenner.
Met 24 uur om die misdaad van die eeu te stop, is ek reeds vasgevang, want skrywers soos Deon Meyer (13 uur en 7 dae) en Lee Child (61 hours) het bewys dat ’n klok wat tik, die spanning ekstra verhoog. Archer het dit vir my ook vervolmaak met sy 1977-treffer Shall we tell the Predident, waarin Mark Andrews sewe dae het om ’n sluipmoord te stop.
Na Heat (1995) en Den of thieves (2018) is ek soort van verslaaf aan goeie “heist films”. In Traitors Gate word die kroonjuwele een keer per jaar vervoer; speurder William Warwick moet seker maak dat die transito seepglad verloop.
Die geloofwaardigheid van so ’n rooftog hang gewoonlik van die kriminele af, want solank hulle professioneel voorkom, bestaan die moontlikheid dat die roof suksesvol gepleeg kan word en dat hulle daarmee kan wegkom.
Die meesterkrimineel, Miles Faulkner, is oortuigend in hierdie roman.
Traitors gate is nou nie Kane and Abel nie, maar is beslis die moeite werd om te lees.
Skrywer: Dirk Jordaan
Titel: Arendsnes
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 978-0-624-05532-7
Ek wonder baie hoekom skrywers van Karin Brynard (Plaasmoord, Onse vaders en Tuisland), Dirk Jordaan (Die jakkalssomer, Arendsnes) en Beyers de Vos (Wrok) se kaliber nie meer skryf nie.
Dalk is dit pure nuuskierigheid, of dalk is dit leesgulsigheid, of iets van albei. Mag ek hulle kontak en hoor of hulle dalk kortverhale het wat in ’n laai lê? Of is dit onprofessioneel? Dalk moet een van die uitgewers hulle nader vir ’n “ou stemme”-kortverhaalbundel.
Die punt is, ek mis hulle stem só dat ek onlangs weer Brynard se boeke deurgedraf het.
Ek is doodseker alle krimilesers het saam met my gejuig met die aanhoor dat Martin Steyn (Donker spoor, Skuldig, Swartval en Losprys) binnekort weer uitgee. Ons is na ses jaar van stilte so uitgehonger vir nog ’n Steyn-boek, ek dink sy Donker water gaan op dag een uitverkoop.
Anyway, Arendsnes is in 2012 uitgegee, maar verdien om weer gelees te word. Met sy tweede boek volg Jordaan in Piet Steyn (Tou) se spore en ondersoek die vraag of dit eties korrek is om die reg in eie hande te neem wanneer ’n gebrekkige regstelsel landsburgers in die steek laat.
In Tou, Steyn se derde boek met superintendent Pine Pienaar aan die stuur van sy misdaadreeks, maak hy gebruik van die myner Kris Frieslich en sy gesin om die spanning van die Hof onder die Kruis se vigilantemoorde te breek. Jordaan draai die tou om sy leser se nek, en verslap vir geen oomblik gedurende die 270 bladsye die spanning nie.
In hierdie misdaadriller het die finalis van Insig en Sanlam se Groot Romanwedstryd (vir Die jakkalssomer) die web goed geweef. Ek het gesukkel om saam met luitenant Lydia Stander, van die Valke se afdeling vir prioriteitsmisdaad, ’n los draadjie te vind.
Wat vir my die meeste – selfs bo die lekker intrige – uitgestaan het, is die skrywer se sigbare skryfstyl. Veral as dit by die polisie kom. Net soos Deon Meyer is Jordaan ’n meester in polisieprosedure.
As jy nie weet wie Dirk Jordaan is nie, is sy boeke werd om ontdek te word. As jy sy boeke ook geniet het, is dit die perfekte leesstof om gedurende hierdie winteraande weer te lees.
(Dirk, asseblief, skryf tog net weer iets.)
Lees ook:
Wat sê Bettina?: ’n Gesprek tussen Bettina Wyngaard en Trisa Hugo
Kommentaar
Ek is nou weer presies andersom. Hoe langer ek leef, hoe meer kwyn die idee van enige god. Die dinosourusse het 66 miljoen jaar gelede uitgesterf. Spesies kom en spesies gaan. Ook ons spesie sal uitsterf. En saam daarmee al ons gode. Daar is niks wat daarop dui dat die mens 'n onsterflike siel of gees het wat sal voortbestaan nie. Wanneer ek sterf, dan gaan alles verby wees. Soos dit is vir elke ander plant en dier.
"Al die verdriet en vreugde en vrees
was dus ‘n hersenskim gewees?" - Elisabeth Eybers
Nietemin, ek gun andere hulle oortuiginge. Sal dit nie lekker wees as daar 'n dag aanbreek wat mense mekaar aanvaar, ongeag verskille in godsdiens nie? Nie in my en jou leeftyd nie, ongelukkig.
Oor Bettina, ja 'n mens het reuse waardering vir haar skryfwerk. Het onlangs haar boek GRIETJIE SE LOUTERING deurgelees, en dit werklik geniet en heel oortuigend gevind.
Jou kennis van misdaadfiksie is werklik indrukwekkend, Stefaans. Jy skryf dikwels van skrywers wat ek nog nooit van gehoor het nie. Dankie vir jou ook.