Kortliks met Stefaans: 1 Julie 2024

  • 3

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Nie alle boeke loop in resensies of lesersindrukke uit nie. Daar is baie redes wat dit beïnvloed: van ander resensente wat reeds resensies aan Beeld, Rapport of LitNet voorgelê het, tot tyd. Dit beteken geensins dat die boeke nie in my maand se boeketoring uitgestaan het nie. Of nie dit werd is om te bemark nie.

Tog wil ek hierdie juwele ook onder lesers se aandag bring. Hierdie skrywe is nie resensies nie – dit is ’n in-die-hand-stop, asof ek jou in Bargain Books raakloop en sê: “Lees dit!” Die meeste is nuwe leesstof, en met een hoop ek om ’n ou skrywer aan jou voor te stel.

Skrywer: Sam Human
Titel: Maria’s keepers
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 978-1-77639-135-6

“Ek kan nie hierdie hoofstuk skryf nie! Ons het selfs seks in die kerk gehad.” Adelle (nie haar regte naam nie) se oë blink en haar vingers klem so hard om die beker chai latte, ek vrees sy gaan dit breek. Voor haar lê haar manuskrip by hoofstuk 9 oop.

Hiérdie hoofstuk handel oor haar eerste liefde as ’n graad 11-skoolmeisie met ’n biker. Hulle 11 jaar lange geheime liefdesverhouding, pastorale studies en ’n aborsie. Vandag is hy ’n gesiene leier in ’n megagemeente. Ontasbaar.

Wie gaan haar glo?

Ek wys vir haar die nuusberig wat my vrou gisteraand vir my aangestuur het. “Texas megachurch Pastor Robert Morris admits ‘inappropriate sexual behavior with a young lady’ after he’s accused of abusing 12-year-old girl” (New York Post, June 17, 2024).

Dit handel oor Cindy Clemishire se aantygings dat sy vanaf 12- tot 16-jarige ouderdom deur Morris mishandel is. Morris het in later jare die Gateway Church in Southlake gestig. Vandag besoek 100 000 aanbidders op ’n weeklikse basis die kerk.

Adelle skud haar kop; sy kan nie. Die trane vloei vrylik.

Maar sonder hierdie hoofstuk val haar boek uitmekaar.

Sy knik en ek skeur die papiere op, bid vir haar. Vir genesing en innerlike vrede. Dit is ’n alleen stryd.

Ek ry nie dadelik huis toe nie, sit in my bakkie. Ek verstaan nie haar besluit om langer te swyg nie. Sy raak aan 50 en is ’n gerespekteerde figuur in die dorp. Wat sou sy baat deur te lieg? Sy het reeds alles – buiten vryheid.

Of is predikers ontasbaar?

My gedagtes spring na ’n afgetrede predikant wat kort voor sy dood met aantygings deur ’n paar mans (tydens die voorvalle seuns) in die media was. Die polemiek rondom die bewerings. Soveel mense wou die mans nie glo nie.

By die huis sukkel ek om my resensie oor Jaco Strydom se debuutroman, Daka, af te rond. Ek gaan haal weer Sam Human se boek, Maria’s keepers, uit my boekrak. Kyk na my notas vir ’n moontlike resensie.

Ek voel steeds dat die agtergrond oor die Jehova Getuienis Maria se storie oordonder het. Dat ek meer oor háár wou lees as kerkgeskiedenis en hul binnewerk. Trouens, haal mens al die kerk agtergrond uit, is daar nie ’n boek nie. Net enkele hoofstukke.

Van die hoofstukke – met titels soos “Who are Jehovah and His Witness?”, “‘Knock knock who’s there?”, “Church or cult?”, ensovoorts – beslaan meer as 70 bladsye. Dit is die helfte van die boek. En wanneer Maria se storie vertel word, word groot gedeeltes steeds aan die kerk se binnewerking spandeer.

Dit is die rede hoekom ek nooit my aantekeninge in ’n resensie verwerk het nie. Met Adelle se verhaal voel ek lus om weer na Maria’s keepers te kyk. Dalk moet ek net die hoofstukke oor haar herlees.

Hierdie stories moet vertel word, maar volgens my was Maria’s keepers nie die manier om dit te doen nie.

Aangesien hierdie stuk nie ’n resensie is nie, maar net my gedagtes oor boeke wat ek voel dit werd is om te lees, wil ek dit sterk aanbeveel. Die kerkgeskiedenis het my gepla; jy mag anders voel. Die storie, Maria se storie, raak aan ’n mens se hart.

Nota: Nog ’n boek met ’n christelike inslag wat nooit op ’n resensie uitgeloop het nie, is Sy is veilig deur Emma van der Walt. Die skrywer het die niewinsgewende organisasie, Brave to Love, gestig om vroue wat in mensehandel vasgevang is, te red. Lees asseblief Anne-Marie Burger se lesersindruk op LitNet, dit is die rede hoekom ek nooit myne verwoord het nie. Burger sê als.

Skrywer: Melanie Grobler en Christiaan Diedericks
Titel: Vlindervreter
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978-1-991256-64-5

Skrywer: Riku Lätti
Titel: Taboek
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978-1-991256-79-9

Ek sal nooit ’n mening oor digbundels waag nie, daarvoor is ek te ongeletterd. Maar twee bundels wat my aandag getrek het, is Taboek (Riku Lätti) en Vlindervreter (Melanie Grobler en Christiaan Diedericks). Albei word deur Naledi uitgegee.

Laasgenoemde is een van die mooiste bundels wat ek nog vasgehou het. Dit word beskryf as ’n toonbeeld van kreatiewe samewerking tussen ’n drukgrafiese kunstenaar (Diedericks) en Eugène Marais-prys digter (Grobler). Temas soos verlies, dood, wanhoop en oorlog word ondersoek, maar dit is veral die 21 kunswerke en papier wat hierdie bundel vir my in ’n koffietafelboek verander.

Ek hou van die andersheid in die digkuns, dink Bibi Slippers (Fotostaatmasjien, NB-Uitgewers, 2016) en Imke van Heerden se eerste KI-digbundel in Afrikaans (Silwerwit in die soontoe, Naledi, 2023).

Oor Lätti se poësiedebuut sing onder andere Danie Marais, Koos Kombuis en Dana Snyman lofpsalms.

Op bladsy 9 daag die sanger en liedjieskrywer, met sy gedig “terugflits”, my uit om stil te staan en eers te dink voordat ek verder lees. Hier sit ons met meer as gedigte, hier word ons uitgedaag om ’n selfondersoek na binne te loods. Juis waarom sy gedig, “geloof”, my gunsteling is.

Lätti waarsku in sy openingsgedig “die onpopulêre opinie”: “[...] die mense wat hierdie boek nodig het / gaan dit nie lees nie [...]”. So, moenie hierdie bundel koop as jy vrees om vrae oor godheid te vra nie. Wees egter getroos, soos die digter in sy slotgedig, “die punt”, uitwys: “ek vind dit onnodig / om ander te oortuig [...]”. Hy val niemand se geloof aan nie – hy skilder net wat hý glo, “[...] want / selfs die ongelowige / glo in iets” (“die punt”, bladsy 113).

Hierdie boek is ’n reis deur iemand anders se oë. Jy hoef nie saam met hom te stem om die bundel te geniet nie. Ons groei immers ook wanneer ons na ander luister.

Die eerlikheid waarmee hy sy siel aan lesers openbaar, herinner aan Koos Kombuis se Andrew Murray-nominasie, deur die tonnel van twyfel (Naledi, 2023) en Abel Pienaar se kop-en-hart-reis, God se oë is blou (Naledi, 2014).

Alwyn Roux, vir LitNet oor Silwerwit in die soontoe.

Skrywer: Marnus Kok
Titel: Op die kantlyn
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978-1-991256-84-3

Die kort-kortverhale is net te kort.

In sy resensie vir Beeld (24 Junie 2024) oor Marnus Kok se debuutbundel, Op die kantlyn (Naledi, 2024), lig Frederick Botha ook hierdie punt aan die hand van Hennie Aucamp uit. Aucamp, wat in 1991 sy eie bundel kitsfiksie, Die helfte is jou nie vertel nie, uitgegee het, het gewaarsku dat ’n kort-kortverhaal ook te kort kan wees.

Dit is die enigste klippie in die skoen met die skrywer se voorlegging vir sy meestersgraad in kreatiewe skryfkuns. Die res was pure genot. Veral Afgeskrik, my gunstelingverhaal uit sy keur van 82. Twee sinne, 14 woorde. Afgeskrik herinner my aan ’n Vonkfiksie-kompetisie wat LitNet ’n paar jaar gelde geloods het, waar skrywers ’n storie in 10 woorde of minder moes vertel. Ek het aanvanklik gedink dis onmoontlik, na dese is dit ’n persoonlike uitdaging.

Tot op hede was Ons Klyntji my enigste kennismaking van kitsfiksie, maar Kok het vir die skrywer ’n nuwe wêreld oopgemaak om te ontdek. Vir lesers wat ook belangstel: In genoemde resensie wys Botha ander Vonkfiksie-bundels uit. Ek gaan dit beslis opsoek.

Onthou dat Ons Klyntji se kompetisie op 14 Julie 2024 sluit. Mag Kok se waagmoedigheid jou aanspoor om in te skryf.

Ons Klyntji-inskrywing.

Frederick Botha, Beeld.

Skrywer: John Katzenbach
Titel: Just cause
Uitgewer: Putnam
ISBN: 978-0-8021-2326-8

Onlangs het ek en my vrou Just cause gekyk. Die 1995-film, met Sean Connery, Laurence Fishburne, Ed Harris en Blair Underwood in hoofrolle, is op die voormalige misdaadverslaggewer John Katzenbach se 1992-blitsverkoper met dieselfde titel gebaseer. Ek sal vir beide die film en boek 5/5 sterre toeken.

Ek het ongelukkig nog nie The mean season en Hart’s war, wat ook op sy boeke gegrond is, gekyk nie, maar ek het die Edgar Allan Poe Award for Best First Novel, In the heat of the summer (verfilm as The mean season), geniet, asook The shadow man. Van die drie boeke bly Just cause my gunsteling. As ek my lys van 100 beste boeke ooit moet saamstel, sal hierdie boek beslis daarop verskyn. Lesers wat Thomas Harris se The silence of the lambs en George Dawes Green se The juror verslind het, sal van Just cause hou.

(Nota: Ek weet dat die film The silence of the lambs alombekend is, maar indien jy nog nie die boek gelees het nie, is dit beslis die moeite werd om nader te trek. So ook The juror, wat ook op my top-100-lys sal pronk. Terloops, The juror is ook verfilm.)

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 3

Kommentaar

  • Stefaans, ek hou van wat jy hier doen.
    Ek het gewonder hoe maak mens waar daar reeds baie lesersindrukke/ resensies geskryf is? Mens wil immers steeds aanbevelings maak..

  • Petro Pienaar

    Ek wonder wat Crito se kommentaar gaan wees. Nie dat dit belangrik is nie, want Crito se anonieme fascisme is meer lagwekkend as enigiets anders. Asof net sy weet wat goeie letterkunde en goeie resensies is. LOL.

  • stefaans coetzee

    Dankie Surene. Ek is bly dit werk vir LitNet ook. Hoop om gou weer iets van jou te lees!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top