
Titel: Sy is veilig
Skrywer: Emma van der Walt
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637003438
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. LitNet het die skrywer nie versoek om dit te stuur en geen vergoeding is aan die skrywer betaal nie.
Met die intrapslag moet ek bieg dat ek die dikte van my skedel of vel oorskat het. Sy is veilig deur Emma van der Walt het ’n waarskuwing dat hierdie boek nie vir sensitiewe lesers is nie. Omdat ek wyd lees en al my man se skop-skiet-donder-en-bloei TV-reekse saam met hom kyk, het ek gedink dat ek nie ’n probleem gaan hê met die lees van hierdie boek nie. Ek was verkeerd. Toe die bladsye begin min raak na die regterkant toe, het my vermoë om geweld en teleurstelling te absorbeer verdwyn.
Emma is die stigter van die organisasie Brave to love. Sy is beeldskoon en laat my dink aan Sneeuwitjie, met haar donker hare en wit vel. Sy is ook ’n pastoor, ma en eggenoot. Dit is moeilik om die werk wat sy doen, met haar foto op die agterkant van die boek te vereenselwig. Die woord brave is egter nie om dowe neute die eerste woord van haar organisasie se naam nie.
Ek moes my persepsie, idee en opinie van sekswerkers, dwelmmisbruik en mensehandel geheel en al verander. Reg onder ons neuse floreer hierdie praktyke en daar sterf daagliks kinders en vroue wanneer hulle nie aan die eise van pimps en sekskopers voldoen nie. Dit is ’n verskriklike, gewelddadige industrie wat met die steun van korrupte wetstoepassers volhoubaar groei.
Daar is min prostitute wat hierdie beroep kies. Ek dink nie ’n kind gaan vir aanlegtoetse en word as ’n geskikte kandidaat vir die seksindustrie gekeur nie. As gevolg van werkloosheid, disfunksionele gesinne en die hunkering na liefde en goedkeuring, beland kinders en vroue in hierdie smerige web. Hulle word deur uiters bekwame mense gewerf. Eers is dit die belofte van ’n verhouding wat ’n meisie met sterre in haar oë pens en pootjies laat val vir so ’n operateur. Hy lei haar as’t ware op om ’n sekswerker te word. Dwelms is op hierdie stadium van die geveg deel van hierdie opwindende avontuur. Sy sogenaamde vriende word aan haar voorgestel en het mettertyd toegang tot haar liggaam. Sy word afhanklik van die dwelms. Hierdie middels is alles behalwe spookasem. Dit is hard drugs wat uiters verslawend is. Mettertyd begin sy die dwelms gebruik omdat dit die enigste manier is waarop sy sekskopers se fantasieë kan vervul.
........
Ek moes my persepsie, idee en opinie van sekswerkers, dwelmmisbruik en mensehandel geheel en al verander. Reg onder ons neuse floreer hierdie praktyke en daar sterf daagliks kinders en vroue wanneer hulle nie aan die eise van pimps en sekskopers voldoen nie. Dit is ’n verskriklike, gewelddadige industrie wat met die steun van korrupte wetstoepassers volhoubaar groei.
........
Daar word op die koop toe behuising verskaf. Hierdie tuiste is nie ’n familiehuis met ’n white picket fence nie. Dit is meestal vervalle, onhigiënies en in gevaarlike areas. Kos en dwelms word slegs deur haar pimp verkry. Daar is vele vereistes om aan te voldoen voordat hierdie kommoditeite verdien kan word. Sy word “betaal” met verblyf, dwelms en dalk iets om te eet. Mediese sorg vir hierdie meisies bestaan nie. Haar liggaam word letterlik verniel deur sekskopers. Stel jouself voor dat daar op een dag ten minste 10 verskillende kliënte is waarmee jy moet seks hê, en dit mag kliënte wees wat rowwe seks wil hê, ook wat verkies om nie kondome te gebruik nie. Vigs en seksueeloordraagbare siektes is onvermydelik. Die R20 wat sy verdien vir ’n diens gelewer, is deel van die dag se “target”. Hierdie geld word in elk geval van haar weggeneem deur haar pimp of die bordeel se ontvangsdame.
Hierdie industrie word gevoed deur mensehandel. Nadat ’n meisie gewerf is, word sy ge-groom. Sy word geklee in suggestiewe, uitlokkende klere en word in ’n sekere gebied of bordeel geplaas om te werk. Meisies tussen die ouderdom van 12 en 17 is hoog in aanvraag. Dit is op hierdie ouderdom dat ’n diep soeke na liefde en erkenning hoogty vier. Meng hierdie emosies, ons swak ekonomiese klimaat en ’n hemelhoë werkloosheid syfer vir ’n teelaarde van dwelmmisbruik, mensehandel en seksslawe.
Dit is verseker baie makliker om deur die lewe te gaan sonder om te weet van hierdie euwel op ons voorstoep. Ignorance is bliss. Ek vermoed dit is dalk die rede vir my ontsteltenis met die lees van Emma se boek. Die feit dat daar daagliks kinders en vroue verkrag, mishandel en uitgebuit word is ’n realiteit. En ek dink dit is tyd vir elke Suid-Afrikaner om verantwoordelikheid te aanvaar vir hierdie gemors. Eerstens moet die vraag na seks met kinders beter beveg word, asook die perverse sekskopers se onbevredigbare aptyt. Om sekshandel te wettig, gaan onder geen omstandighede ’n verskil maak nie. Dit mag dalk mediese hulp meer toeganklik maak vir sekswerkers, maar dit gaan ’n groter vraag na seks ontketen, wat meer sekswerkers gaan benodig.
’n Sekswerker is nie noodwendig ’n goedkoop vrou wat haar liggaam sal verkwansel vir haar volgende fix of ’n skamele betaling wat enige iets van R20 tot R100 kan wees nie. Daardie meisie, vrou of selfs man, is die kind van iemand. Dit kon jou en my kind wees wat met toenadering, geskenke, komplimente en geld gelok is om in hierdie strik te trap.
Die belofte van ’n goeie werk en ’n goeie inkomste word kundig ingespan om onskuldige mense te bedrieg. Vroue van regoor die wêreld word so verlei. Daardie meisie in die kort rokkie en swaar grimering staan heel waarskynlik op straat omdat sy graag vir haar familie wou geld verdien op ’n eerbare manier. Sy het nie geweet van die ongeskrewe fynskrif wat haar lewe onherroeplik gaan verander nie. Daar is ’n goed-geoliede masjien agter daardie vrou wat staat maak op jou oordeel en afsku ten opsigte van hierdie dame. Want hoe minder jy jou daarmee ophou, hoe makliker is dit om daardie meisie te navigeer en manipuleer. Die samelewing verafsku die sekswerkers, terwyl die sekskopers wat van haar dienste gebruik maak, geregverdig word op een of ander lagwekkende verskoning.
Meneer sekskoper, jy veroorsaak dalk nie nou probleme in jou eie gesin nie. Wat jy wel doen, is om die lewe van die sekswerkers wat jy gebruik, met jou kort tydjie van lekkerkry te vernietig. Geen mens moet die slaaf van enige iets wees nie. Hierdie mense gee alles prys om jou te bevredig van die vloek wat binne jou heers. Sy is nie jou gemorskos wat jy verorber het om jou honger te stil nie. Sy is jou dogter.
Met die lees van Sy is veilig het ek my onskuld verloor. Ek kan nooit weer grappe maak oor sekswerkers nie. Ek kan nie meer na haar kyk vanuit my veilige verwysingsraamwerk nie. Al kan ek net vir haar bid, moet ek IETS doen. Want sy is my kind. My dogtertjie wat ek warm toegemaak het as dit koud is, mooi aangetrek het en haar geprys het vir elke nuwe mylpaal wat sy bereik het. Dit is sy wat daar staan in die hoop dat sy genoeg sekskopers vir die aand kry om haar bestaan te regverdig. Dit is sy wat haar binneste verdoof met dwelms, sodat sy net weer en weer en weer verkrag kan word. Dit is sy wat wens dat die dood haar sal kom haal, want dit is al hoe sy kan vry kom. Dit is sy wat skree: HELP MY, ASSEBLIEF. Maar niemand hoor haar nie.
Daar is te min Emmas.
Lees ook:
Oor kraaie en neste: ’n lesersindruk van Salemstraat deur Erla Diedericks
Verskrikking in die ergste graad: So lyk ’n vrou ... deur Ilse Verster
“God die Ondersteuner lewe”: ’n lesersindruk van Christina Landman: ’n lewe


