“God die Ondersteuner lewe”: ’n lesersindruk van Christina Landman: ’n lewe

  • 0

Titel: Christina Landman: ’n lewe
Skrywer: Christina Landman
ISBN: 9780796323149
Uitgewer: Lux Verbi

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. LitNet het die skrywer nie versoek om dit te stuur en geen vergoeding is aan die skrywer betaal nie.

Wanneer ’n mens vandag die rubrieke van Christina Landman in die koerant lees, dan kry jy dalk ook, soos ek, die indruk van ’n skrywer met ’n heel gematigde, by tye dalk selfs behoudende perspektief op die sake. Laasgenoemde is miskien spesifiek ten opsigte van sommige van Landman se teologiese idees die geval. Maar mens onthou ’n tyd dat Landman gedurig die sedebewakers ontstel het met haar uitsprake. Sy was ’n bietjie die vergestalting van andersdenkende soort Afrikaners, en veral ook “berug” as ’n feminis. Sy verwys self ook na dié transformasie in Christina Landman: ’n lewe. Vanaf die teoloog wat uitdagings aan die “volksmoederkultuur” gestel het, tot die waarneming deur mede-akademikus Dawid Kuyler dat Landman “vervelig geword het en nie meer stir nie” (bl 163). Daar was nog vele ander “alternatiewes” soos Landman binne die teologiese kringe in daardie jare, mens dink byvoorbeeld aan Wollie Grobler, die sogenaamde “middelvinger-dominee” van Bloemfontein, maar daar bestaan goeie historiese redes wat ’n studie van die lewe en werk van Landman verwerdig. Daar is Landman, die heel eerste Suid-Afrikaanse vrou wat ’n professor in teologie geword het, en dan is daar ook haar verstommende hoeveelheid navorsing en publikasies. Ten opsigte van Landman se akademiese loopbaan, is die laaste woord waarskynlik nog lank nie gesprook nie.

Daar is talle metodologiese vraagstukke wat die genre van outobiografie/biografie problematiseer, en veral die outobiografie. Die meeste outobiografiese vertellinge word hoofsaaklik geskryf met die geheuebank as die hoofbron van verwysing, en die geheue is bedrieglik. Hoekom dan ook die lewe van een mens isoleer en daarvan ’n konstruksie in eie reg maak? Die mens staan immers in bepaalde maatskaplike, sosiale, politieke en ekonomiese verbande en vorm eintlik maar net ’n rolspeler in daardie groter geheelbeelde. Dit word skynbaar dikwels gedoen vir kommersiële redes. Dan praat mens nog nie eens van die kwessie van volledigheid nie. Pal moet daar in hierdie soort boeke name verander word, of sake bewustelik onaangeroer gelaat word. Landman dui vroeg reeds in haar boek aan dat daar geen sprake is van enige volledigheid nie. Boonop bestaan daar ook bronne wat ’n goeie uiteensetting van Landman se loopbaan verskaf, byvoorbeeld Mary-Anne Plaatjies van Huffel (1959–2020) se artikel “The remarkable career of Christina Landman, pioneer feminist theologian rooted in the reformed tradition”[1] wat in 2014 verskyn het (wat vandag seker nog veel bygewerk sal kan word). Wat mens egter in die outobiografiese vertellinge vind, is natuurlik die een eienskap wat nie in akademiese bronne deurskemer nie, naamlik Landman se eie subjektiewe perspektief op haar lewensloop. Die stories agter die storie. Daarvan is die oes groot.

Soos met elke vrou van daardie era, was dit nooit die plan dat Landman ’n voltydse teoloog sou word nie. Landman is in 1956 in Lyttelton gebore, en die gemeenskap se ideaal in daardie jare was dat elke vrou sou trou, kinders kry en haar lewe wy aan die welsyn van haar gesin: “As jy nie ’n man gekry het nie, was jou lewe bitter in die oë van die samelewing” (bl 9). Sy was vroeg reeds ’n begaafde leerder en behaal vyf onderskeidings in matriek. Landman het verder studeer en ingeskryf vir die graad BA Admissie aan die Universiteit van Pretoria (UP): “Ek was nie veronderstel om iets te word nie; die universiteit was ’n vrugbare plek om ’n man te kry” (bl 28). Haar latere aansoek tot die kweekskool is egter geweier met die onsmaaklike terugvoer dat vroue nie by die UP toegelaat word nie. Hierna volg ’n honneursgraad in Grieks. Tydens hierdie studie is Landman deur Johan Heyns (1928–1994) aangeraai om haar teologiese studies voort te sit aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Dit sou ’n noemenswaardige wending meebring, aangesien studente by Unisa veral ook aan bevrydingsteologie blootgestel is, anders as by die UP.

Landman is eindelik getroud, maar nie voordat sy eers in ’n buitengewone suksesvolle akademikus ontwikkel het nie. By Unisa ryg sy die een graad na die ander met onderskeiding in, en begin later ook kerkgeskiedenis doseer. Haar bemoeienis met Unisa sou uiteindelik 42 jaar lank duur. Haar kortstondige huwelik beskryf sy as “onheilsgeskiedenis” en ook ’n “ramp”, waaroor daar slegs opsommend geskryf word. Die opsomming getuig van ’n gewelddadige verhouding, maar ook een waaruit ’n seun gebore is. Daar word gereeld in die boek na die seun verwys en die beeld wat vorm, is die van ’n hegte band tussen ouer en kind. Hierdie deel van die boek dokumenteer ook enkele ander ontstellende gruverhale van persoonlike aard.

Teen die laat 1990’s het Landman se loopbaan weer ’n wending geneem toe sy betrokke geraak het by wat bekend staan as narratiewe berading, wat heelwat verskil van kliniese berading, en toe sommer ook ’n tweede doktorsgraad voltooi het. In narratiewe berading val die fokus stewig op die verhale wat mense van hulleself vertel en hoe daardie narratiewe aangepas kan word. Die berader maak geen diagnoses nie en die idee is eerder om mense tot selfinsig te lei. Op die manier sou Landman uiteindelik ook betrokke raak by mondelingse geskiedskrywing, gegewe die groot gapings wat bestaan in die Suid-Afrikaanse historiese dokumentasie en wat met mondelingse geskiedskrywing aangevul word.

Een van die mees fassinerende dele van hierdie boek is die perspektief wat dit vir (moontlike belangstellende) lesers op die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) bied. Die VGK het in 1994 ontstaan uit die voormalige “swart” vertakkinge van die NG Kerk wat saamgesmelt het. Landman is nooit gelegitimeer in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) waarin sy opgegroei het nie (legitimasie is ’n vereiste om as predikant binne die Gereformeerde kerke te kan praktiseer).

Ná baie jare in die akademie is Landman egter eindelik op 18 November 2006 as predikant in die VGK gelegitimeer en is uiteindelik op 18 Mei 2008 in die amp bevestig ná ’n beroep na die gemeente Dullstroom. As amptenaar van die VGK het Landman meteoriese opgang gemaak en ook as die aktuaris van die sinode gedien. Sy was ’n prominente en invloedryke leier binne die VGK, maar die VGK se werkinge is ook besonder deur interne kerkpolitiek ondergrawe, waaronder gedurige hofstryde deur ’n voormalige VGK-moderator teen die kerk. Ten opsigte van die verhoudinge tussen die NG Kerk en die VGK, skryf Landman dat die NG Kerk se liturgie (die orde waarvolgens kerkdienste georganiseer word) deesdae so dramaties verander het dat die NG Kerk en die VGK waarskynlik nooit sal kan verenig nie. In teenstelling met die NG Kerk, handhaaf die VGK vandag nog ’n streng en formele liturgiese orde, terwyl die NG Kerk dikwels besig is om lidmate te vermaak, “orrels uitgooi” en die “preekstoel uithaal”. Dit is waarskynlik ook nie waar dit eindig nie, en die twee kerkgenootskappe het ook ander reuseverskille soos die kwessie van die Belhar Belydenis, sowel as die onderskeie benaderinge tot die LGBTQI+ gemeenskap. Landman het haarself al in die verlede krities uitgelaat teen die sekularisering van die NG Kerk se liturgie, en in die proses heelwat steun onder konserwatiewes teruggewen. Dit is ook bekend dat sy krities staan teenoor die Nuwe Hervormingsnetwerk.

Christina Landman het in haar lang en kleurryke loopbaan vele hoede gedra. Danksy mense soos sy en andere, kan vroue vandag ook kies of hulle wel hoede in die kerk wil dra of nie (hoede was lank verpligtend vir vroue in kerke).

Enkele lastige los drade in die boek het wel so ’n bietjie gesteur. Landman skryf byvoorbeeld sy is “onseker of my en ander vroue se lewe die regte pad gevat het. Of ons gesê het wat ons moes. En of ons dalk meer skade gedoen het as wat ons ongedaan kan maak” (bl 167–8). Dit is glad nie duidelik wat presies met hierdie “skade” bedoel word nie en daar word nie verder op uitgebrei nie. Die teendeel is waarskynlik eerder waar en vroulike teoloë soos sy en andere was baanbrekers binne die behoudende en patriargale mure van die kerk. Daar word in hierdie boek ook eintlik maar min geskryf oor Landman se berge navorsing. Wat belangrik is ten opsigte daarvan, is dat Landman veral deur middel van godsdiensrubrieke in die Afrikaanse koerante sedert 1994 talle debatte oor teologiese sake gestimuleer het, terwyl sy as akademikus eintlik veel meer op die onderwerp van berading begin fokus het as op vraagstukke oor die aard en wese van God. Haar loopbaan, sowel as hierdie boek, word miskien goed versinnebeeld in een van haar rubrieke wat op 6 Augustus 1996 in Beeld verskyn het, ’n geloofsbelydenis waaroor sy “nog dieselfde” voel. Hier is slegs die eerste reëls van die geloofsbelydenis. Wie die res wil lees, sal die boek in die hande moet kry:

“Ek glo in God, maar nie in ’n God wat gebruik word om my mee te boelie nie. God die Boelie is dood. God die Ondersteuner lewe ...” (bl 157).

Eindnota:

[1] M Plaatjies van Huffel, “The remarkable career of Christina Landman, pioneer feminist theologian rooted in the reformed tradition”, Studia Historiae Ecclesiasticae, https://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S1017-04992014000200006, September 2014, afgelaai op 7 Mei 2024.

Lees ook:

Gee my die kaas en melk, en vat die bloed en wyn vir jou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top