Die skole het begin. Baie kinders is opgewonde om te leer lees maar ander, wat meer as gewoonlik met skermtyd bederf is, moet weer aan die lees kom. Terwyl almal een of ander leesboek of -boeke, of dit nou interessant of vervelig is, sal moet deurlees, is dit belangrik om hulle ook weer aan die lees vir die lekker te kry. Dit klink heel maklik, maar as ’n mens jou oor op die grond het, blyk dit ’n ander storie te wees.
Die outjies wat vir die eerste keer skool toe is, gaan hopelik opgewonde wees om te leer lees. Vir almal gaan dit nie ewe maklik wees nie en om te verhoed dat lees ’n negatiewe konnotasie kry, moet daar steeds vir hulle uit lekker boeke soos prenteboeke en bundels voorgelees word. Dis nie genoeg en regverdig dat slegs die skool en die leesboek daarvoor verantwoordelik gehou word om ’n liefde vir lees te kweek nie.

Springboekie deur Fanie Viljoen (LAPA)
In Fanie Viljoen se Springboekie is Springboekie ’n springbok wat nie rugby speel nie. Hy het ’n boekrak en hy lees. Hy wil só graag hê sy vriende, Oliefie, Koolio en Zula moet ook lees, maar hulle kommentaar op die boeke wat hy voorstel, is dat dit te dik, vervelig of moeilik is. Ná ’n onderonsie tussen Lemmer, die leeu en Springboekie se boeke, kry hulle hom egter jammer en gou is die vier weer groot maats. Springboekie maak slim planne en Viljoen se storie eindig met, “Dan lees hulle verder. En lag. En gril. En kry lekker. Lees-lekker.”

Lekkerlag-pretboek deur De Wet Hugo (Human & Rousseau)

101 Grappe-reeks deur Jaco Jacobs (LAPA)
So, gestel ons neem ’n bladsy uit Springboekie se boek om die lotjie wat nou al probeer of kan lees aan die lees te hou en vir die lekker te laat lees. Oliefie, Koolio en Zula openbaar in Viljoen se storie elkeen ’n eie voorkeur ten opsigte van leesstof. So hou party kinders nie van stories nie of word hulle maklik van langer tekste afgeskrik. Daar is gelukkig truuks om in te span om hulle ook na boeke te lok.
Baie beginnerlesers slyp geslaagd hulle leestande op grappe of raaisels. Hier kan De Wet Hugo se Lekkerlag Pretboek wat al in 2022 verskyn het en Jaco Jacobs se 101 Grappe-reeks wat in 2023 ook as ’n boekpak uitgegee is, in gedagte gehou word.
.........
Kinders wat sukkel om te lees of konsentreer se selfvertroue kán met die regte boeke opgebou word om uiteindelik wel by die langer en ingewikkelder tekste uit te kom.
.........
Die volgende hekkie wat ons moet oor, is die effe ouer kategorie, moontlik so van nege jaar oud af waar dit lyk asof die leesgogga wel gebyt het, maar hulle skielik nou minder opgewonde oor die vooruitsig om ’n hele boek te lees, is. Miskien was die sprong na dikker boeke of kleiner druk vir party kinders te groot. Myns insiens bestaan daar nie iets soos ’n te maklike of jong boek vir ’n kind wat wil lees nie. Dit gebeur wel maklik dat lees of boeke met sukkel of vernedering of selfs angs geassosieer word. Kinders wat sukkel om te lees of konsentreer se selfvertroue kán met die regte boeke opgebou word om uiteindelik wel by die langer en ingewikkelder tekste uit te kom.

’n Hart is net atome deur Cecila Steyn (LAPA)
Daar moet asseblief ook nie op strokiesverhale of grafiese romans neergesien word nie. Die trots en tevredenheid van ’n kind om te kan sê dat hy ál die Kuifie- of Asterix-boeke gelees het, mag nie onderskat word nie. Daar word inderwaarheid ook lansies vir visuele geletterdheid gebreek met die lees van hierdie boeke. Daar is ongelukkig min grafiese romans in Afrikaans, maar Jaco Jacobs se Tekkies en Cecilia Steyn se ’n Hart is net atome is goeie voorbeelde van boeke waar die storie op ’n ouer ouderdom (ouer as hier ter sake) gemik is as waarop die teks dui. Die selfvertroue ná die lees van ’n “dik” boek PLUS die feit dat die leser met die temas kon identifiseer, is twee kosbare regmerkies.

Tekkies deur Jaco Jacobs (Pan Macmillan)
Ander makliker formate sluit in ruimer geïllustreerde boeke waar pensketse en/of karikatuurtekeninge, spraakborrels of ander kreatiewe tipografie onder andere ingespan word. Hierdie boeke lyk nes ander, dikker boeke op die rak. Die leser behoort dus nie uitgesonder of gestigmatiseer te voel nie.
Die volgende drie boeke, al drie briljant deur Kobus Geldenhuys in Afrikaans vertaal, val so reg in die kraal van hulle teikenmark, wat ek glo hoofsaaklik seuns tussen agt en elf jaar oud is, want toilethumor is aan die orde van die dag.

Die stoutste klas op aarde raak wild! deur Joanna Nadin, vertaal deur Kobus Geldenhuys (Human & Rousseau)
In die vierde boek in Joanna Nadin se Die stoutste klas op aarde-reeks, Die stoutste klas op aarde raak wild! is nie mnr. Abdoo of mnr. Winterboud, die aflosonderwyser, mans genoeg vir klas 4B nie. Alex en Manjit beraam dié keer planne om die Wizard Woekerkaart in die hande te kry. Om dié kaart te bekom, moet Manjit iets waardevols met Brian Hunt ruil. Die hele 4B-klas neem aan die ruilery deel en die skoolhoof, Mev. Brombom-Bredeboud, het haar hande vol om haar 150 reëls, wat agterin die boek gelys word, te laat geld. Nes dit verbode is om te beweer jy’s ’n alien, is dit verbode om te beweer dat wiskunde erger as broccoli is.

Die Goorste week ooit! Donderdag deur Justin Chase (Human & Rousseau)
In Die Goorste week ooit! Donderdag deur Justin Chase, of ploefseun, soos hy bekend geraak het ná die gehekelde-swembroek-duikplank-

Kaptein Onderbroek en die inval van die koelbloedige kostannies uit die ruimte (én die aanval van die ewe bose zombie-nerds) deur Dav Pilkey (Human & Rousseau)
Kaptein Onderbroek en die inval van die koelbloedige kostannies uit die ruimte (én die aanval van die ewe bose zombie-nerds) is die derde boek in Dav Pilkey se Kaptein Onderbroek-reeks. Hierdie kleurvolle boeke is deels strokiesprentverhaal en deels geïllustreerde leesboek en lees maklik. Dié keer moet Harold en George die skool teen ’n aanval uit die ruimte beskerm en teen die “nuwe” kostannies baklei terwyl kaptein Onderbroek sy hande onder andere vol het met pirana-perdeblomme.

Die spinnebotte slaan toe deur Marga Jonker (Tafelberg)
Wanneer lesers eers meer leesselfvertroue het, is daar fiksie wat tematies op spesifieke belangstellings fokus om kinders se aandag te trek én te behou, beskikbaar. Marga Jonker het onlangs twee boeke, Die spinnebotte slaan toe en Die robotte voer oorlog! geskryf. Dis skoolstories en die drie vriende, Georgi, Frikkie en Enzo, wat hulle eie robotikaklub begin het, is die hoofkarakters. Ná dié drie die skool heel kreatief van die spinnebotte gered het in Die spinnebotte slaan toe, word hulle in Die robotte voer oorlog! ingeskryf om Laerskool Klipdassie in die Lego Brick Robot Wars-kompetisie te verteenwoordig al is hulle maar in graad 5 en die res van die deelnemers almal hoërskoolspanne of selfs ouer.
........
Nog ’n groot positiewe eienskap van hierdie boeke, is dat niks wat gebeur buite bereik van huidige tegnologie is nie, en die jonger generasie dadelik by hierdie stories sal inkoop.
........
Dit raak spannend, maar al wen die drie maats nie die kompetisie nie, tree hulle weer as helde uit die stryd. Nog ’n groot positiewe eienskap van hierdie boeke, is dat niks wat gebeur buite bereik van huidige tegnologie is nie, en die jonger generasie dadelik by hierdie stories sal inkoop. Dis duidelik dat Marga Jonker haar robotika-storie ken. Hopelik volg nog titels.

Die robotte voer oorlog! deur Marga Jonker (Tafelberg)
Die lees van reeksboeke bou leesselfvertroue. Teen die derde boek, ken die leser die karakters en voel hy of sy in beheer van die storie, begin selfs berekende voorspellings oor intriges en karakteraksie maak. Hulle begin vinniger lees, wat ook by die skool en tydens toetsreekse en eksamens sal help. Hierdie stories word hopelik dan onder mekaar bespreek en dra so daartoe by om ’n leeskultuur te skep.

Roosville Raaisels: Die hoenders in deur Marita Aswegen (LAPA)
Marita Aswegen het al twee Roosville Raaisels-boeke geskryf. In Die hoenders in raak twee diamante tydens die jaarlikse hoenderskou weg. Dis snaaks eerder as spannend en baie lekker as Karla en haar maats die saak voor die polisie oplos wanneer hulle die kloutjie by die oor sit en ’n baie onverwagse skuldige vastrek.

Prinses Minna: Die eenhoring-gedoente deur Kirsty Applebaum (Human & Rousseau)
Prinses Minna hou daarvan om probleme op te los. Kirsty Applebaum se Prinses Minna-boeke is deur Ronelda Kamfer in Afrikaans vertaal. Hierdie helderkleurige, prettige boeke, deur Sahar Haghgoo geïllustreer, moenie onderskat word nie. Humor word slim ingespan en daar word kreatief met woorde gespeel en tradisionele sprokies word oorspronklik ingevleg. In Die eenhoring-gedoente begin winkelvoorraad met dieselfde letter van die alfabet. Spelling is belangrik, want in Trompet se T-winkel sal jy nie pterodaktiele kry nie. Daarvoor sal jy Papier se P-winkel moet besoek. En arme Minna is juis so deurmekaar. Moet sy die padda soen of iets in sy oor fluister en hom streel? In Die betowerde woud moet Minna Prins Knijpstewel gaan wakker maak ná hy aan die slaap geraak het toe hy sy vinger op ’n spinwiel geprik het. Maar op pad daarheen is daar só baie ander wat hulp nodig het. Hierdie twee boeke waarborg leesplesier en hopelik word die res van hierdie reeks ook in Afrikaans vertaal.

Prinses Minna: Die betowerde woud deur Kirsty Applebaum (Human & Rousseau)
In Luna Skitterster word gered vertel Peta Troskie die verhaal van twee meisies wat tydens ’n verjaardagpartytjie op ’n eenhoring afkom, haar heel dramaties red en terug by haar huis besorg. Dis ’n realistiese vriendskapsverhaal met ’n goeie skoot fantasie wat jong eenhoringaanhangers se tone sal laat krul.

Luna Skitterster word gered deur Peti Troskie (LAPA)
So, wat kry kinders van alle ouderdomme van ’n lekker boek – Hulle lees. “En lag. En gril. En kry lekker. Lees-lekker.” Nes Springboekie en sy maats.
Op ’n ernstiger noot kan ’n spul voordele, waaronder stimulasie, woordeskat, emosionele volwassenheid, ontspanning, ontsnapping, en meelewing gelys word. Vir eers, aan die begin van die skooljaar, moet daar egter gemik word na en baklei word vir … ’n positiewe verhouding met boeke en lees.
Lys van boeke hier bespreek:
- 101 Grappe 8-in-1 Bokspak deur Jaco Jacobs. LAPA, 2023.
- Die goorste week ooit! Donderdag deur Eva Amores & Matt Cosgrove. Human & Rousseau, 2024.
- ’n Hart is net atome deur Cecilia Steyn, illustrasies deur Danielle Albertyn. LAPA, 2021.
- Kaptein Onderbroek en die inval van die koelbloedige kostannies uit die ruimte (én die aanval van die ewe bose zombie-nerds) deur Dav Pilkey. Human & Rousseau, 2024.
- Lekkerlag pretboek deur De Wet Hugo, illustrasies deur Tumi Steyn. Human & Rousseau, 2022.
- Luna skitterster word gered deur Peti Troskie, illustrasies deur Bronwyn Webb. LAPA, 2024.
- Prinses Minna – Die betowerde woud deur Kirsty Applebaum, illustrasies deur Sahar Haghgoo, Human & Rousseau, 2023.
- Prinses Minna – Die eenhoring-gedoente deur Kirsty Applebaum, illustrasies deur Sahar Haghgoo, Human & Rousseau, 2023.
- Die robotte voer oorlog! deur Marga Jonker. Tafelberg, 2024.
- Roosville Raaisels – Die hoenders in deur Marita van Aswegen, illustrasies deur Cheslea Taylor, LAPA, 2024.
- Die spinnebotte slaan toe! deur Marga Jonker. Tafelberg, 2023.
- Springboekie deur Fanie Viljoen, illustrasies deur Elsabé Ebersöhn. LAPA uitgewers, 2024.
- Die stoutste klas op aarde raak wild! deur Joanna Nadin, illustrasies deur Rikin Parekh. Human & Rousseau, 2024.
- Tekkies deur Jaco Jacobs, illustrasies deur Alistair Ackermann. Pan Macmillan SA, 2022.
Lees ook:
Goue lint, my storie begint: Die effek van lees op kinders se breine
Goue lint, my storie begint: Die mag van volwassenes se boekkeuses vir kinders
Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke
Die Meerkat-reeks deur Mart Meij en Beatrix de Villiers: ’n resensie
Nina-omnibus – Die awesome speurklub deur Elizbè van der Colff: 'n resensie