Die vakansie is hier. Vir baie is daar meer tyd om met die jongstes in gesinne tyd te spandeer. Vir ander, waar dit tradisie is dat families dié tyd van die jaar bymekaarkom, is daar gewoonlik meer vrywilligers om die jongstes op binneblydae besig te hou én moontlik slaaptydgevegte met slaaptydstories af te weer. Kinders kry verbasend baie uit hierdie ervarings, en positiewe assosiasies met boeke word so gevestig. Dis mos lekker om op ’n skoot te sit en spesiale aandag te kry.
........
Stories en vakansieboeke kan ook deel wees van baie spesiale vakansieherinneringe.
........
Die mooiste en lekkerste vakansies hoef nie net te gaan oor wat geëet is, speletjies, uitstappies, wat daai onmoontlike nefies weer dié jaar aangevang het of die familie van oorsee se gawe geskenke nie. Stories en vakansieboeke kan ook deel wees van baie spesiale vakansieherinneringe. Dit sal wel help om binne die verwysingsraamwerk en belangstellingsveld van die gehoor te bly. Goeie herinneringe wat die verteller of voorleser aan sekere stories het, waarborg nie noodwendig dat jonger gehore daarby aanklank gaan vind nie. Die einddoel moet altyd, wat ook al die uiteinde of ontknoping van ’n verhaal, ’n positiewe ervaring met ’n boek wees. Gelukkig maak die huidige kinder- en jeugboekmark vir ’n verskeidenheid voorkeure voorsiening. Boeke ís baie kosbare geskenke wanneer dit oordeelkundig aangeskaf word.
Vakansies moet pret wees, en enige iets wat Philip de Vos en Piet Grobler uitgee, is altyd groot pret, dus is hulle splinternuwe en goudgeel Die tantes van Atlantis – 100 lighartige en lekker lawwe limerieke – ’n moet vir die vakansie. Boonop behoort lesers van agt tot tagtig dit te geniet, so dié boek sal beslis huidjie en muidjie deur die hele familie verslind word.
En ingeval daar oor die betekenis van limeriek gewonder word, verduidelik De Vos as volg:
Dié versie staan regop en styf
met ’n grappie in reël nommer vyf.
met ’n dun middellyfie
nes ’n perdebywyfie
en met pret in sy limerieklyf.
Ek vermoed dis omdat die pret wat De Vos en Grobler tydens hulle onderskeie skeppingsprosesse het, deurskyn dat hierdie twee se boeke so betower en op elke boekversamelaar se rak hoort.
Nog ’n baie mooi verseboek wat deur oud en jonk geniet sal word, is Vetplantfeetjies deur Antjie Krog, Ingrid de Kock en Fiona Moodie. In kreatiewe rym lees lesers van die Ghaapfee se stink–TV-skottel-blomme, huil die Halfmens-elf omdat hy eintlik ’n heelmens is, en is Norsie Noorsdoring knorrig omdat sy vingers vol dorings word as hy sy kop wil krap. Speel-speel leer almal wetenskaplike name en interessante en nuttige feite. Tongknopername soos Vletterfee en Vetmensie-vabond en Koesnaatjie en Kleinaalwyntjies waarborg ’n vrolike voorleeservaring. Ek sien sommer hoe anders gaan daar na die vetplante in Ouma se rotstuin gekyk word.
Hierdie is ’n boek oor monsters! is iets anders. Dis ’n boek oor feetjies, maar dis ook vol monsters; en dié wat Jaco Jacobs se boeke ken, sal sommer dadelik weet dat sy sin vir humor vir die verwarring verantwoordelik is. Theodore Key se karikatuuragtige illustrasies in pen en waterverf is laf en lieflik en maak dit moeilik om vir die harige monsters met skubbe en slymerige neuse te gril. Monsters of feetjies, wat ookal die gunsteling is ... dié een sal vermaak en kom met ’n lekker verrassing aan die einde.
Jaco Jacobs is die skrywer van byna 300 boeke vir kinders, maar lesers wat nog nie Net nie ’n hond nie! gelees het nie, behoort dié slim en snaakse storie ook vir die Kerskous te oorweeg. Dis ’n onderhoudende en plek-plek skreeusnaakse storie waarin Wim dolgraag ’n hond vir sy verjaardag wil hê en telkemale sy ouers se argumente daarteen met geskenkalternatiewe moet troef. En Patrick Latimer se ekspressiewe en lewendige illustrasies eggo Jacobs se humor perfek.
As troeteldiere, en veral honde, ’n gewilde tema is, is Paula Fourie se debuutprenteboek van verlede jaar ook ’n goeie geskenkkeuse. Haar hoofkarakter, Jakkals, is ook ’n hond. Nuutskeppings, rym en alliterasie maak Die hond met die stert sonder swaai die perfekte keuse as voorleesboek, en Emily House se vrolike en speelse illustrasies in helder pastelle skep ruimte vir verdere interpretasie. Iets aan hierdie prenteboek voel klassiek.
Nog ’n goeie opsie vir die Kerskous is Lisa Liefbesie se sewe verlore kolle deur Riana Scheepers, geïllustreer deur Elsabé Ebersöhn. Dis ’n prenteboek waar die heel kleintjies in die gehoor in die groepie diere met kolle sal belangstel en die oueres agter die humor aan sal luister. “Liewenheersbesie” is ’n baie lang woord, dus noem almal wat na Lisa se verjaardagpartytjie kom, haar Lisa Liefbesie. Kort ná die diere vir haar gesing en die hoenders gedans het dat die stof so staan, ontdek Lisa haar kolle is weg en begin sy naarstig daarna soek. Ja, uile bly maar die wyses onder die geveerdes, en lyk my die hele diereryk.
Van geveerdes gepraat, Scheepers se storie herinner aan ’n prenteboek wat verlede jaar verskyn het waarin vere wegraak en elkeen byna soos in ’n aflosresies weer by die regte eienaar beland. Uiteindelik word die winde wat hierdie vere so rondwaai, se meesterplan ook duidelik. Vyf verlore vere is deur Giulia le Roux in Frans geskryf toe sy maar net sewe en ’n half jaar oud was en is toe twee jaar later deur haar peetpa, Nataniël, in Afrikaans oorvertel. Dis ’n heerlike storie en bekoorlik deur Juani Scholtz in dowwe skakerings van groen en herfskleure geïllustreer.
Die bekende skrywer Wendy Maartens se Diere-maniere-reeks is nog ’n goeie keuse as Kersgeskenk. In dié vier dierestories hoor kinders dat alle emosies belangrik is. Lukas, die olifantjie, leer in Lukas laat sy lig skyn dat ’n mens op verskillende maniere dapper kan wees. Miekie, die meerkatjie, leer in Miekie maak haar merk hoe om haar humeur te beteuel. Simon, die leeutjie, leer in Simon staan sy man hoe om boelies te hanteer. En Katryn, die sebratjie, leer in Katryn kry ’n ster sommer op haar eerste skooldag dat ’n omgeehart nie eensaam bly nie en vinnig vriende maak.
Nog ’n storie waarin boelies en die uitdagings van grootword ’n draai maak, is Groot skoene deur Upile uThixo Bongco en geïllustreer deur Zinelda McDonald. Dié keer is die hoofkarakter, Zinzo, ’n seuntjie wat by sy oupa woon en gereeld hoor dat hy groot skoene het om vol te staan. Wanneer die kinders by die skool uitvind dat Zinzo twee pa’s het wat in die stad woon, word hy gekonfronteer met die vooroordele van ander teenoor die onbekende en onkonvensionele. Soos die agterplat belowe, is Groot skoene wel ’n trots Suid-Afrikaanse boek wat aanvaarding aanmoedig. Zinzo leer dat die groot skoene wat hy trots moet volstaan, uiteindelik sy eie skoene is – dat hy sy eie drome mag kies en najaag.
’n Prenteboek waarvan ek verlede jaar toe dit verskyn het, nie genoeg kon kry nie, is Husse met lang ore van Elsa Winckler, geïllustreer deur Alida Bothma. In hierdie lieflike prenteboek moet Tiaan ’n groot gedeelte van die aandag van sy ma en pa aan sy nuwe babasussie afstaan. Sy ma se lang en interessante antwoorde van voorheen op sy oneindige vrae het nou almal dieselfde frustrerende antwoord: “Husse met lang ore”. Bothma se illustrasies vertel, soos gewoonlik, kliphard saam aan hierdie verhaal en sorg dikwels vir belangrike leidrade tot die atmosfeer of gemoed van karakters. Husse met lang ore is ’n pragtige en realistiese storie wat ouderdomsrelevante emosies en gedrag uitlig om as moontlike aanknopingspunte tot gesprek ná of tydens storietyd in te span. Dis ’n uitstekende boek vir ’n ouma of oupa om vir die Tiaan- of Tiana-karakters voor te lees terwyl hulle ouers aan die jonger sibbes moet aandag gee. En wanneer die vrae dreig om Ouma of Oupa se lorries se wiele soos Tiaan s’n in die lug te laat beland, is daar altyd “husse met lang ore”.
........
Baie beginnerlesers gaan hierdie Kersvakansie by die see deurbring. Zandile Ndhlovu, Suid-Afrika se meermin en eerste swart vroulike vryduikinstrukteur, se debuutprenteboek het verlede jaar die lig gesien.
........
Baie beginnerlesers gaan hierdie Kersvakansie by die see deurbring. Zandile Ndhlovu, Suid-Afrika se meermin en eerste swart vroulike vryduikinstrukteur, se debuutprenteboek het verlede jaar die lig gesien. Zandi se lied is oorspronklik en verfrissend; dis lewendig en in sagte kleure deur Katlego Keokgale geïllustreer; en dit vertel die treffende storie van Zandi se see-avontuur, waartydens sy haar eie lied ontvang. Dis die perfekte boek om saam te neem op ’n seevakansie en behoort kinders anders na die see en ons verbintenis met die natuur te laat kyk.
........
Soos in die geval van volwassenes is daar ook kinders wat meer feitelike boeke bo fiksie verkies, en om ’n liefde vir lees by hulle te kweek is dit belangrik om hulle voorkeure in ag te neem wanneer daar op boeke as geskenke besluit word.
........
Soos in die geval van volwassenes is daar ook kinders wat meer feitelike boeke bo fiksie verkies, en om ’n liefde vir lees by hulle te kweek is dit belangrik om hulle voorkeure in ag te neem wanneer daar op boeke as geskenke besluit word. Die derde titel in Riaan Manser, avonturier en ontdekkingsreisiger, se avonturetrilogie, is pas bekendgestel. In My eerste Ysland-avontuur vertel Manser lesers van sy reis rondom Ysland in ’n tweemankajak saam met Dan Skinstad. Tussendeur gee hy interessante feite oor Yslandse diere, soos die Atlantiese papegaaiduiker, die narwal, kasjoewalvis, witbekdolfyn en Arktiese jakkals. Hy vertel ook meer oor die Yslanders se tradisionele disse, wat ek my terloops nie kan voorstel ooit met enige iets op ons tradisionele spyskaarte sou kon meeding nie. Soos met die vorige twee titels, My eerste Afrika-avontuur en My eerste Wilde-eiland, is die illustrasies deur Martinus van Tee gedoen.
Die storie van hoe Mohandas Gandhi die Mahatma geword het, is nog ’n boek waarin niefiksie-aanhangers sal belangstel. Hoe om ’n trein te stop is deur Stephanie Ebert en Kathryn Pillay geskryf. Pillay beskryf dit, heel gepas, as ’n handboek oor moed en dapperheid. Maar moenie ’n vervelige geskiedenisboek verwag nie. Gandhi se verhaal word in prenteboekformaat aangebied en is treffend geïllustreer deur Paddy Bouma, wat uitstekend daarin slaag om ’n bewustheid van plek oor te dra. Lesers sit saam met Gandhi op daai trein.
Dus: Doen ’n bietjie huiswerk oor die gelukkiges vir wie geskenke gekoop gaan word. Stories of feite, diere of mense, gaan die outjie dalk deur ’n uitdagende stadium? Maak dan ’n draai by ’n boekwinkel of boekwinkels of soek aanlyn, en sorg dat daar hierdie jaar boeke in Kerskouse of onder Kersbome is. Daar is deesdae verskillende groottes Kerskouse beskikbaar en die grootte van dié kouse is ook maar bedrieglik. Daar pas maklik honderde bladsye vol pret en avontuur en nuwe insigte én herinneringe daarin.
Lees ook:
Goue lint, my storie begint: Die mag van volwassenes se boekkeuses vir kinders
Hierdie is ’n boek oor monsters: ’n onderhoud met Jaco Jacobs