Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout: ’n resensie

  • 0

Titel: Quinn se jaar van kwik
Skrywer: Zelda Bezuidenhout
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637006248

Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout is een van die naaswenners van LAPA se jeugromanwedstryd van 2023.

Quinn Albertyn is die dogter van ’n diplomaat. Om alleen te wees is een van haar vaardighede. Sy beplan om in haar laaste jaar op skool soos kwik te wees – vloeibaar. Niks of niemand gaan haar raak nie; daar mag geen haakplekke wees nie. Haar ma koester juis groot verwagtinge van haar en haar matriekuitslae by hierdie “koesterskool”, Excellentia, waarheen sy haar duisende kilometer ver gestuur het.

Quinn sou veel eerder steeds in New York City wou wees, maar ná sy haar ma teleurgestel het en haar punte gedaal het, het haar ma besluit dat Quinn terug Suid-Afrika toe moet kom om haar matriek te voltooi. Haar ma het baie van die styl van die skoolkompleks gehou toe hulle vir haar toelatingsonderhoud gekom het, maar die argitektuur is vir haar oordadig. “Byna asof dit ’n mens se aandag van iets belangrikers probeer aftrek.” Al die leerders van Excellentia bly op die perseel in seuns- en meisieskoshuise. Haar kamer voel vir haar so groot soos ’n duiwehok. Boonop vind sy uit dat sy die enigste leerder met ’n voertuig daar is. Sy hou niks daarvan dat haar ma spesiale vergunning gekry het net omdat sy so ver is nie. Dis nou wel haar ouma se ou bakkie, maar sy wou nie uitstaan nie.

Volgens die bemarkingsteks is “Excellentia g’n gewone skool nie. Die plek is vol geheime en tradisies wat Quinn se hare laat rys.” Tog is Quinn se jaar van kwik ’n pragtige boek met ’n baie mooi, moderne en indrukwekkende omslag, kreatiewe tipografie, en my gunsteling, turkoois en wit #MeToo-buiterande. Die bemarkingskopie waarsku ook dat dit soms nie saak maak wat jy doen nie – “die moeilikheid kom soek jou.”

Quinn vind reeds op haar eerste dag uit van die Brothers en die punteskrum, en, ten spyte van haar voornemens, maak sy vriende met Jozi en Luna en raak sy onbewustelik deel van die geheime en tradisies waarvan gepraat word. Sy baklei daarteen, herinner haarself daaraan dat sy nie Erin Brockovich is nie, terwyl die leser, wat dié mooi boek vashou en die buiterande gelees het, weet dat sy nie gaan teleurstel nie.

Maar niks is voor die hand liggend nie. Die meisies wat meer as agt uit tien by die Brothers  met hulle punteskrum kry, het geen idee wat om te verwag nie. Almal gaan nie noodwendig ongemaklik daarmee voel nie. Party gaan, soos Luna aan die begin, hulle “vroulike toolbox” poets en inspan. Party gaan van meet af ongemaklik daaroor voel, ongeag wat daarna volg of nie. Baie min weet wat “sambok” of “sleutelgat” beteken.

...........
Ongelukkig gaan tradisies en geheime dikwels hand aan hand. ’n Mens hoef net na die nuus te kyk of die koerant te lees om te sien dat daar baie grys areas bestaan wanneer daar vir of teen tradisies baklei word.
..............

Ongelukkig gaan tradisies en geheime dikwels hand aan hand. ’n Mens hoef net na die nuus te kyk of die koerant te lees om te sien dat daar baie grys areas bestaan wanneer daar vir of teen tradisies baklei word. Bezuidenhout se storie speel af teen die agtergrond van ’n baie ernstige tema – seksuele teistering. Haar hantering van die onderwerp, karakterisering en storielyn bewys dat sy duidelik nie ’n byltjie te slyp het teen tradisie in die algemeen nie, maar wel teen geheime praktyke wat in die naam van tradisie ongestraf kan bly. Die graad 8’ie wat jou skoene moet skoonmaak, is iets anders as die graad 8’ie wat verplig word om medepligtig te wees aan iets baie verkeerd wat jy in die naam van tradisie beplan.

.............
Bezuidenhout se storie speel af teen die agtergrond van ’n baie ernstige tema – seksuele teistering. Haar hantering van die onderwerp, karakterisering en storielyn bewys dat sy duidelik nie ’n byltjie te slyp het teen tradisie in die algemeen nie, maar wel teen geheime praktyke wat in die naam van tradisie ongestraf kan bly. Die graad 8’ie wat jou skoene moet skoonmaak, is iets anders as die graad 8’ie wat verplig word om medepligtig te wees aan iets baie verkeerd wat jy in die naam van tradisie beplan.
................

Quinn se jaar van kwik word egter nooit ’n neerdrukkende en wroegende boek nie. Bezuidenhout slaag daarin om ronde en geloofwaardige karakters te skep wat opstaan en saamstaan en, soos sy, die bal eerder as die man speel. En die fluitjie blaas waar nodig, want die vriendinne ontdek ook dat daar, soos dit dikwels die geval is, te veel weggekyk en weggeskram is.

Met alles hier bo in ag genome, raak Bezuidenhout se lekker onderhoudende storie, steeds nooit ’n aktivistiese tirade nie. Geen leser behoort ook hierdie boek toe te maak met ’n bepaalde idee teen ’n sekere groep nie. Ja, in hierdie verhaal is die oortreders seuns, maar Bezuidenhout gooi nie die kind met die badwater uit nie. Aan die einde sê Schalk: “As julle dink meisies tjop af in hierdie skool, kan ek julle verseker dis erger as jy ’n ou is wat nie reg lyk of reg praat of aanvaarbare belangstellings het nie.”

Vir jare is daar baie by Excellentia “toegesmeer” deurdat daar toegekyk of weggekyk of omgekoop is. Dis nie om dowe neute dat Quinn die ou geraamde, geborduurde skoolwapen in die hoof se kantoor raakgesien het nie. Waar die leuse “Ons kyk vorentoe” moes lees, was die motte bedrywig en lees dit nou: “Ons kyk     toe.” Bravo, Zelda Bezuidenhout!

Ja, Quinn het dit helaas nie reggekry dat niks of niemand haar raak nie. Sy’t studeer, en vriende gemaak, en verlief geraak, en in die moeilikheid beland en iets daaromtrent gedoen.

..........
Teen die agtergrond van hierdie groot onderwerp is Bezuidenhout se boodskap aan haar lesers dat jou omstandighede en wat met jou gebeur, jou nie mag definieer nie. Dat dit eerder gaan oor wat jy daarna of daaromtrent doen.
..............

Teen die agtergrond van hierdie groot onderwerp is Bezuidenhout se boodskap aan haar lesers dat jou omstandighede en wat met jou gebeur, jou nie mag definieer nie. Dat dit eerder gaan oor wat jy daarna of daaromtrent doen.

En op die agterplat is ’n blikkie Zambuk.

Lees die boek.

Lees ook:

Ons laaste legendariese somer deur Fanie Viljoen: ’n resensie

Quinn se jaar van kwik: ’n onderhoud met Zelda Bezuidenhout

Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout, ’n lesersindruk

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top