Titel: Quinn se jaar van kwik
Skrywer: Zelda Bezuidenhout
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637006248
Zelda Bezuidenhout praat met Naomi Meyer oor Zelda se boek wat pas een van die naaswenners van die LAPA-jeugromankompetisie was, Quinn se jaar van kwik.
Zelda, baie geluk met die verskyning van Quinn se jaar van kwik, ’n naaswenner in die mees onlangse LAPA-jeugromankompetisie. Waar het jou idee(s) vir hierdie storie vandaan gekom? Of het jy die kompetisie gesien wink en toe skep jy die idee self?
’n #MeToo-boek vir Afrikaanse tieners was die voorstel van een van my jeugboekredakteurs. Ek het volgens kontrak vir haar ’n boek geskuld, maar het nie geweet waaroor ek wil skryf nie. Omdat ek lank in die reklamebedryf was, werk ek gewoonlik lekker binne die grense van ’n soort "opdrag". Maar dié keer het dit nie gewerk nie. Die redakteur het gevoel my stem is te lig vir so ’n swaar onderwerp. Die manuskrip het vir maande in my rekenaar se "Onvoltooide werk"-lêer gelê. ’n Bietjie soos daai laaste knoetserige aartappel in die groentemandjie. Nie goed genoeg om te gebruik nie, maar darem ook nie so vrot dat dit summier asblik toe moet gaan nie! Toe LAPA hul kompetisie aankondig, het ek gedink: Wat het ek om te verloor? So het dit gebeur dat Quinn se verhaal toe by ’n heel ander redakteur en uitgewer beland.
Quinn is ’n meisie met ’n lekker selfstandige stem (jou skrywerstem lees so lekker). Quinn is ook ’n tipiese jong vrou. Sy het ’n plan dat daar nie met haar hart gemors sal word nie, maar voor sy weet, het sy haar hart verloor. Ken jy ’n Quinn? Begin Quinn praat en dan leer jy haar ken? Vertel my van haar en haar ontstaan.
Ek wou ’n storie met ’n introvert as hoofkarakter skryf. Quinn was dus aanvanklik baie antisosiaal. Ek het gevoel dit sal die ding wat met haar gebeur, nog meer ingrypend maak. Maar dit het haar ’n bietjie afsydig gemaak, en ek was bang dat lesers nie simpatie met haar sou hê of met haar sou kon identifiseer nie. Toe maak ek haar ’n jong meisie met sterk menings en ’n fout in haar verlede.
“Quinn” en “kwik” is sulke lekker woorde in ’n titel. Was die titel van die begin af daar? Want dit knoop die drade sommer van die begin af, of dit help om die silwerwit vloeiende stof te laat sien vloei op die plekke waarheen die karakter loop.
Quinn het eers verskeie ander name gehad. Ek het begin met Susanna Maria (Su-Mari) en vir haar ’n baie konserwatiewe ouerpaar gegee. Maar soos die storielyn ontwikkel het, het ek besef sy is eintlik die kind van ’n enkelouer. Wêreldwys en street smart. Ek het haar naam gemoderniseer en dit boonop die manlike spelvorm gegee, sonder die "e" aan die einde. En raai, toe werk dit so lekker saam met die woord "kwik".
Die boek het ’n tydige tema – en die boekomslag verklap iets daarvan (#MeToo). Praat gou met my as ma. Is dit nie baie moeilik om oor ’n meisie se weerloosheid en kwesbaarheid te skryf en te weet jou kind is daardeur of moet nog daardeur nie? Hoe klim mens in jou karakter se vel, as skrywer, met al die kennis van ’n ma – en sidder nie van angs nie?
Oeg ja, daardie weerloosheid! Ons dogter is nou 24 en ek is intens bewus van die selftwyfel wat sy ervaar as direkte gevolg van dinge wat veral seuns in die verlede vir haar gesê of aan haar gedoen het. Sy is nie ’n oorsensitiewe mens nie, maar daar is soms ’n gebrek aan basiese respek aan die jong mans se kant. Dit is asof daar van kleins af ander sosiale reëls vir seuns geld as vir meisies.
Ek onthou natuurlik soos gister hoe ek op 16 en 17 gevoel het. Hoe ongemaklik ek in my vel was, en hoe belangrik die mening van die seuns in my hoërskool vir my was. Ek was ’n onsigbare meisie sonder ’n date vir die matriekdans. Op ’n manier maak dit nie saak wat later in jou lewe gebeur nie, jou hoërskooljare word ’n soort bloudruk vir jou lewe. Dis waarom elke jeug- of jongvolwassene-boek wat ek skryf, dieselfde subliminale boodskap dra: Jy is oukei net soos jy is!
..........
Op ’n manier maak dit nie saak wat later in jou lewe gebeur nie, jou hoërskooljare word ’n soort bloudruk vir jou lewe. Dis waarom elke jeug- of jongvolwassene-boek wat ek skryf, dieselfde subliminale boodskap dra: Jy is oukei net soos jy is!
.............
Daar is natuurlik heelwat meer cool, respekvolle ouens as teisteraars. En daarom was dit ook vir my belangrik om ook daardie soort cool, respekvolle seunskarakters in te skryf.
As mens die verhaal in ’n sin kan opsom, kan mens dit skryf. Stem jy saam? Waaroor gaan Quinn se jaar van kwik – en ek bedoel nie net dieselfde as wat ek in die vierde vraag gevra het nie.
Dis nie wat met jou gebeur wat jou definieer nie. Dis hoe jy daarop reageer.
...........
Dis nie wat met jou gebeur wat jou definieer nie. Dis hoe jy daarop reageer.
.............
Ek mag niks sê oor die einde van Quinn se jaar van kwik nie, maar dit was vir my een van daardie soort eindes waarvoor mens die skrywer verkwalik. Mens moet weet wat gebeur volgende. Dis so goed. Het jy daardie stukkie slot geweet toe jy dit begin skryf het?
Nee, glad nie. Dit het my ook verras!
Quinn se jaar van kwik is jou negende boek. En elkeen lees so vlot en so maklik, en so eiesoortig. Word dit makliker met elke boek? Hoe werk jou proses van skryf?
Ek kan eerlikwaar vir jou sê dit word vir my moeiliker met elke boek. Voel jy nie ook so nie, Naomi? Ek dink ’n mens raak slimmer oor die skryfslaggate, en daarom stap jy die pad stadiger en versigtiger. Ek het langer aan Quinn geskryf as aan al twee my romans vir volwassenes sáám. Kan jy dit glo?
My skryfproses is ongestruktureerd. Ek begin gewoonlik met ’n lukrake toneel. Dit kan op enige plek uitspeel. ’n Skoolkafeteria of ’n dokter se wagkamer. Die spreekwoordelike “slice of life”. Dan kyk ek of daar interessante karakters opdaag en hoe die interaksie tussen hulle werk. Gewoonlik "wys" die belangrike karakters hulself vir my deur iets wat hulle sê of doen. Dit word dan die vonk vir ’n storielyn.
Jy skryf boeke vir kinders, vir tieners en vir volwassenes. Wat geniet jy die meeste? En hoekom?
Ek skryf makliker aan fiksie vir volwassenes, bloot omdat ek self (meestal) ’n volwassene is. Maar ag, dis heerlik om terugvoer oor ’n jeugroman van ’n jongmens self te kry. Dis een van die groot lekkertes vir my. Ek wens taalonderwysers wil vir leerders wys hoe om lesersindrukke op Goodreads.com te plaas.
Jou boek word reeds goed ontvang; ek sien hoe bekende mense soos Marita van der Vyver op die sosiale media daaroor skryf. Ek verstaan hoekom: Jy het ’n stem wat mens binnetoe katrol. Dis ook ’n welbekende feit dat mens met die Engelse mark kompeteer as mens vir Afrikaanse jongmense skryf. Waarom doen jy dit nog – om Afrikaanse boeke vir Afrikaanse jongmense te skryf? Of is dit nie jou rede nie – daar was ’n storie en hy moes vertel word? Of iets anders?
Ek het al dikwels gedink ek gaan heeltemal ophou skryf. Ek het dit al ’n keer of wat aangekondig ook! Ek dink die eerlike antwoord is dat ek dit regtig geniet om te skryf. Ek mis dit as ek dit nie doen nie. Ek bedoel, daar is nie vreeslik baie ander dinge wat vir my redelik maklik is en waarmee ek redelik goed is nie.
Jy was nou pas in Richmond. Wil jy iets daarvan vertel?
............
Richmond Bookbedonnerd is ’n unieke boekfees. Dis meer soos ’n klein, intellektuele kerkbasaar met boeke in plaas van ’n poedingtafel. Die skrywers is gaaf, belangstellend en ondersteunend van mekaar. Die feesgangers is passievol oor lees. Al die boekgesprekke is gratis.
..............
Richmond Bookbedonnerd is ’n unieke boekfees. Dis meer soos ’n klein, intellektuele kerkbasaar met boeke in plaas van ’n poedingtafel. Die skrywers is gaaf, belangstellend en ondersteunend van mekaar. Die feesgangers is passievol oor lees. Al die boekgesprekke is gratis. Alles gebeur in die klein biblioteek in die hoofstraat. Mense ken of herken mekaar van vorige Bookbedonnerd-feeste en die atmosfeer het die gemoedelikheid van ’n familiereünie. Die organiseerders, Peter Baker en Darryl David, is soos ’n ou getroude paar wat mekaar se gedagtes lees en mekaar se sinne voltooi. Daar is sprake dat die afgelope Bookbedonnerd dalk die heel laaste een was, aangesien daar nie befondsing is nie. Dit laat my keel sommer toetrek.
Hoekom skryf jy? Vir enige ouderdom lesers?
Om iets uit niks te maak gee ’n mens ’n onbeskryflike thrill. Dis immers die naaste wat ’n mens sal kom daaraan om "God te speel". Ek besluit elke dag wat my karakters gaan oorkom. Dis ’n bedwelmende mag daai.
Wil jy verklap aan watter boek vir watter ouderdom lesers jy nou werk? En het jy raad vir mense wat boeke vir kinders en tieners en volwassenes wil skryf? Lees mens binne die genre, skryf mens boeke wat mens self wil lees, herskryf mens ...? Komaan, deel jou geheime. 😉
Ek het begin met ’n roman vir volwassenes. Maar ek hou aan om die eerste 4 000 woorde oor te skryf! Ek hoop my onderbewussyn is besig om te woeker, want dit voel ’n bietjie soos failure to launch.
Lees ook:
Madibaland @ Bookbedonnerd Literary Festival 2024: an interview with Darryl David
Ons laaste legendariese somer deur Fanie Viljoen: ’n resensie
Persverklaring: Wenners van die LAPA-jeugromankompetisie 2023
Die dekonstruksie van Retta Blom: ’n onderhoud met Zelda Bezuidenhout