
Foto: Jason Beukes
Titel: Ons laaste legendariese somer
Skrywer: Fanie Viljoen
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637005623
Tobi, Rowan en Dean besef matriek gaan rof wees. Die onderwysers deel alreeds huiswerk uit en dis nou eers die einde van graad 11. Daarom moet hulle hierdie laaste Desember-vakansie legendaries maak.
Ons laaste legendariese somer deur Fanie Viljoen, die wenner van vanjaar se LAPA Uitgewers se Jeugromankompetisie, het dadelik my aandag getrek met sy pragtige voorblad – hoe mooi is dit nie!

Ons laaste legendariese somer deur Fanie Viljoen (Lapa, 2024)
In hierdie storie ontmoet ons vir Tobi, ’n gemiddelde tienerseun, wat besluit om een laaste legendariese somer saam met sy twee beste vriende, Dean en Rowan, voor hul matriekjaar te hê. Die boek begin met ’n beskrywing van hoe Tobi homself sien in vergelyking met sy twee vriende, wat op sport- en akademiese gebiede uitblink. Tobi ontvang ’n sertifikaat vir beste bywoning, iets wat sy ouers met ’n tikkie humor opmerk.
Tydens die prysuitdeling is Tobi so gelukkig, hy gee die hoof ’n drukkie – ’n flater! Dis sy eerste leidraad dat sy ouers besluit het om ’n date night te hou en nie vir die prysuitdeling gebly het nie.
Ek weet ouers is mense met ’n lewe van hul eie, maar al wat ek kon dink, was: Op die aand waarop jou kind gevier word? Regtig?
Tobi is teleurgesteld, maar vergewe sy ouers baie gou en kry die blink idee dat hy en sy vriende moet duimgooi om by sy oom Peet in die klein kusdorpie Vleesbaai vakansie te gaan hou. Sy ouers was vry geeste wat as jongmense met ’n rugsak deur die wêreld gereis het. Dis hoe hy sy ouers van sy planne oortuig. Rowan en Dean wil ook nie die lang somervakansie ná hul graad 11-eksamen by die huis sit nie.
Dean, die beplanner van die vriendegroep, stel sekere reëls voor om die somer legendaries te maak:
- Geen bakleiery nie.
- Almal doen alles saam.
- Geen meisies nie.
Hierdie reëls, veral die een oor geen meisies nie, skep probleme wanneer Tobi later verlief raak.
........
Ek het die eerste driekwart van die boek regtig geniet – dit lees maklik en vloei lekker. Ek was gek oor Tobi se stem as verteller, en vir die eerste driekwart van die boek was dit lig, speels en baie getrou aan die karakter van ’n tienerseun.
........
Een oggend laai sy pa vir Tobi en sy vriende op die N1 af – en as ’n gereelde Bloemfontein-gas (my ma en beste vriendin woon daar) kon ek my inleef in hierdie toneel. Hulle avonture is ’n lekker mengsel van onder die sterre slaap, by ’n vulstasie eet, en ’n rit saam met ’n skaap agter op ’n bakkie. Dit voel soos ’n prettige someravontuur vol spontane oomblikke.
Ek het die eerste driekwart van die boek regtig geniet – dit lees maklik en vloei lekker. Ek was gek oor Tobi se stem as verteller, en vir die eerste driekwart van die boek was dit lig, speels en baie getrou aan die karakter van ’n tienerseun.
Wanneer hulle by die kusdorpie aankom, vergeet Tobi waar sy oom bly en raai net by watter huis hy moet wees. Hulle breek in by ’n strandhuis, wat natuurlik later probleme veroorsaak wanneer dit blyk dat dit nie sy oom se huis is nie. Gelukkig bel die eienaars van die huis nie die polisie nie, maar skop hulle net uit.
Liefde en die meisies
Tobi raak verlief op die gesin se dogter, Klarabelle, en dis waar die verhaal my begin pla het. Klarabelle en haar vriende het ook hul eie reëls vir die somer, wat sorg vir konfrontasies wanneer Tobi en Klarabelle die reëls oortree en mekaar soen.
Rowan en Dean, sowel as Klarabelle se vriendinne, Carmen en Manda, is kwaad omdat hulle die reëls oortree het.
My een groot stryd met die boek is dat Carmen en Manda se karakters onderontwikkeld voel. Hulle maak aanvanklik ’n sterk indruk op my, veral Carmen, wat vir Tobi aanvat tydens hul eerste ontmoeting. Aan die einde van die storie voel dit asof Carmen en Manda slegs daar is om die storie aan te vul. Tobi verwar selfs wie van die twee met hom ongeskik was.
........
Wat ek waardeer het, was hoe outentiek die dinamika van die vriendskap tussen Tobi, Dean en Rowan voel. Dit is werklik hoe tieners optree, en ek dink jonger lesers sal maklik met Tobi se avontuurlustige, impulsiewe aard kan vereenselwig.
........
Ek hou ook nie daarvan dat Carmen en Manda met Rowan en Dean afpaar nie. Dit laat hulle minder soos “mense” voel en meer gerieflik. Ek moes myself herinner om nie op ’n feminisitiese rant te gaan nie.
Tobi se reaksie nadat hy een van die reëls oortree het, het my ook laat wonder oor sy perspektief op vriendskap. Sy teleurstelling met sy vriende was te verstane, maar ek het meer selfinsig van sy kant verwag. Dit het gevoel asof die konflik vinnig opgelos word, sonder diepere karakterontwikkeling.
Wat ek waardeer het, was hoe outentiek die dinamika van die vriendskap tussen Tobi, Dean en Rowan voel. Dit is werklik hoe tieners optree, en ek dink jonger lesers sal maklik met Tobi se avontuurlustige, impulsiewe aard kan vereenselwig. Dit is ’n prettige, ligte leeservaring wat baie aanhangers onder die jeug sal vind.
Lees ook:
Cliff-hanger: "Afrikaanse boeke is net so goed soos Engelse boeke"
Cliff-hanger: Foto’s & fairy lights deur An-Mari do Carmo – resensie en onderhoud
https://www.litnet.co.za/goue-lint-my-storie-begint-die-mag-van-volwassenes-se-boekkeuses-vir-kinders/