Toe ons oneindig was: ’n onderhoud

  • 0

Titel: Toe ons oneindig was
Outeur: Zelda Bezuidenhout
Uitgewer: Pan Macmillan 

Kara Immelman se lewe is eintlik nogal uitgesorteer. Sy is in matriek, en hoewel sy heeltemal te skaam is om gewild te wees, het sy vir Eduard, haar beste vriend van laerskooldae af. Sy is ook haar skool se topswemmer, en die moontlikheid van ’n swembeurs wink. Al gebeur daar nie veel op die dorpie waar hulle woon nie, het sy en Eduard groot planne om eendag die wêreld te sien. Planne wat aangevuur word deur hulle gedeelde passie vir flieks. Wanneer Samantha egter op die toneel verskyn, herrangskik dit Kara en Eduard se hele bestaan. Want Sam is nie net onmoontlik mooi nie, sy speel ook volgens haar eie reëls.

Toe ons oneindig was is die verhaal van ’n meisie wat nog altyd presies gedoen het wat van haar verwag is. Iemand wat so besig was om almal gelukkig te hou dat sy nooit regtig probeer uitvind het wat háár gelukkig maak nie. Totdat sy een middag in ’n aantrekhokkie vir die heel eerste keer gesoen word. Dis ’n storie oor vriendskap en lojaliteit. Oor seksualiteit en vloeibaarheid. Maar bowenal is dit die verhaal van ’n meisie op ’n selfontdekkingsreis – die soort reis wat in ’n Hollywood-fliek hoort.

Cliffordene Norton gesels met Zelda Bezuidenhout oor haar derde jeugboek.

Zelda Bezuidenhout (foto: verskaf)

Toe ons oneindig was is ’n treffende titel. Wat is die inspirasie en betekenis daaragter?

Die titel verwys na die boek se eindtoneel, een van daardie situasies waar dit voel asof tyd stilstaan en iets baie belangrik aan’t gebeur is. Almal van ons kom sulke dinge oor in ons lewens. Ek onthou veral sulke oomblikke uit my tienerjare saam met vriende. ’n Mens voel asof jy sweef, asof moontlikhede onbeperk is.

Wat was die inspirasie vir hierdie storie? Kan jy die oomblik onthou toe  jy besef het dít is die tema en hierdie is die karakters? Of het hierdie boek meer organies ontwikkel?

Ek wou ’n storie skryf oor ’n matriekmeisie wat nog nooit verlief was nie. Glo my, dis nogal seldsaam. ’n Mens het gewoonlik jou eerste crush lank voor matriek. Namate Kara se storie ontvou het, het ek (en sy) besef daar’s ’n goeie rede waarom sy nog nooit op ’n ou verlief was nie.

Tienerjare is ’n moeilike fase om vas te vang. Waarom skryf jy jeugboeke? Wat is jou geheim om hierdie lewensfase opreg vas te vang? Help jou dogter, Mia, hiermee?

Ek het As ’n mens geluk kon proe geskryf toe Mia in graad 10 was. Die 6 weke van Thomas & Ella is geskryf toe sy in graad 11 was, en Toe ons oneindig was toe Mia in matriek was (verlede jaar). Dit het beslis gehelp dat daar ’n tiener van presies dieselfde ouderdom as my hoofkarakters in my omwêreld was terwyl ek die boeke geskryf het. Met elkeen van die manuskripte was Mia ’n heerlike bron van “inside information”. Ek is gek oor tieners. Hulle is vreemde, snaakse, eerlike en onvoorspelbare wesens.

Samantha lei tot die grootste verandering in die hoofkarakter, Kara, se lewe. Wat/wie is die inspirasie agter Samantha? Hoe sou jy haar beskryf?

Samantha Adams is nie geïnspireer deur enigiemand wat ek ken nie. Sy is meer geïnspireer deur die plakkaat op Kara se slaapkamermuur. Sy is ’n sexy, cappuccino-bruin meisie met ’n lieflike bos donker hare. Haar bene is lank en haar skoolrokkies is kort. Sy is slim en streetwise, oopkop en eerlik. En sy het ’n baie mooi hart onder al haar traak-my-nie-agtigheid.

Kara en haar beste vriend Eduard wil graag reis. Wat is die top drie plekke op hul reislys? En hoekom hierdie spesifieke plekke?

Skotland is heel bo-aan Kara se lys, en spesifiek The Isle of Skye. Sy het verlief geraak op die plek nadat sy na TV-reekse soos The Highlander gekyk het. Eduard wil weer Peru en Patagonië toe – hy het ’n meer avontuurlustige streep en wil eendag ’n vlieënier word. Die twee se reisdrome hou hulle positief in die dooierige klein dorpie waar hulle woon.

Jou debuutboek, As mens geluk kon proe, het in 2017 verskyn. Toe kom Die dekonstruksie van Retta Blom – ’n roman vir volwassenes – en Die 6 weke van Thomas & Ella. Nou Toe ons oneindig was. Skryf jy dadelik weer ’n volgende boek nadat een klaar is?

Ek neem gewoonlik ’n paar weke af en werk aan iets anders, soos kortverhale of ’n radiodrama. Ek skryf om te ontsnap uit die werklikheid. Nie alles wat ek skryf, is natuurlik goed genoeg om die lig te sien nie.

Beplan jy jaarliks hoeveel boeke jy gaan publiseer of laat jy jou loopbaan meer organies ontvou?

Alles ontvou maar organies. Ek is glad nie ’n beplanner nie.

Hoe het jou skryfproses verander sedert die publikasie van As mens geluk kon proe, Die dekonstruksie van Retta Blom en Die 6 weke van Thomas & Ella?

Dis eintlik nog presies dieselfde. Ek het ’n baie vae idee vir ’n storie wanneer ek die eerste keer voor my rekenaar inskuif. Om myself aan die gang te kry, dink ek aan die eerste hoofstuk as die eerste toneel in ’n fliek, en visualiseer dit. Dan begin ek dit beskryf. Kort voor lank begin karakters en ’n storielyn uit daardie eerste toneel vloei. Dit werk nogal vir my. Wanneer ek dieper in die verhaal is, skryf ek elke kerngebeurtenis in die storie op ’n kleefnota en plak dit in rye op my lessenaar. So maak ek seker die storie het genoeg kinkels, hoogtepunte en laagtepunte. Soms kronkel daardie sticky note-slangetjie teen die lessenaarpoot af tot by die vloer.

Wat was vir jou die aanmoediging om te begin skryf? Wou jy altyd ’n skrywer wees?

Ek skryf nog my hele lewe lank. (Ek was vir 30 jaar ’n kopieskrywer in die reklamewese.) Op laerskool wou ek ’n haarkapper word, maar dis voordat ek besef het ek het ronde handjies. Ek is baie sleg met enigiets logies of wetenskaplik. Skryf was eintlik al wat oorgebly het.

Hoeveel halwe manuskripte het jy tans op jou rekenaar?

Geen, maar ek het wel ’n voltooide eerste probeerslag vir ’n nuwe jeugboek wat by ’n uitgewer lê. 😉

Waaraan werk jy op die oomblik?

Ek skryf aan ’n radiodrama en ook aan die filmdraaiboek van Die dekonstruksie van Retta Blom.

Lees ook 

Die dekonstruksie van Retta Blom: ’n onderhoud met Zelda Bezuidenhout

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top