Jou dokter kan van die rol geskrap word oor ivermektien

  • 4

Gerd Altmann | Pixabay

...
In gewone Afrikaans: Ivermektien en stokkielekkers is ewe effektief in die behandeling van COVID-19; stokkielekkers is wettig te koop.
...

Moenie vir jou dokter dwing om ivermektien voor te skryf nie. Jy kan die einde van haar loopbaan tot gevolg hê. Die samesweerders op YouTube gaan nie haar loopbaan red nie.

Meer nog, moenie enige ivermektien gebruik wat vir diere vervaardig is nie; dit is onwettig en gevaarlik.

Verskeie mediese verenigings begin nou openlik die gebruik van ivermektien kritiseer en maan mediese dokters om hulle nie aan onwettige bedrywighede skuldig te maak nie.

Die vereniging wat medies-geregtelike beskerming aan mediese dokters bied, bekend as die Medical Protection Society (MPS), maak dit baie duidelik dat ’n mediese dokter nie geregtig is op enige beskerming as die letter van die wet nie gevolg is nie. Op 8 Julie het hulle die volgende op hulle webruimte gepubliseer:

Illegally or incorrectly dispensing or administering Ivermectin could also potentially lead to charges being brought by the HPCSA for unprofessional conduct, or in the worst-case scenario, the practitioner being tried criminally or pursued through the civil courts.

HPCSA staan vir Health Professions Council of South Africa. Sonder registrasie by hierdie liggaam mag ’n mediese persoon nie in Suid-Afrika praktiseer nie.

Op 21 Julie 2021 skryf Graham Howarth, die hoof van die mediese dienste by die MPS, die volgende:

A medical practitioner who prescribes Ivermectin to a patient takes on a considerable legal liability, including the possibility of legal censure, unless the letter of the law has been followed.

In dieselfde artikel skryf hy:

Indeed the way animal Ivermectin is registered for animals makes prescribing, dispensing or administration of animal Ivermectin unlawful for human consumption – a point well worth remembering.

Dit kan nie duideliker gestel word dat mediese dokters hulleself blootstel deur ivermektien voor te skryf nie.

En dit is nie al die. Ons hospitale loop oor.

...
Laat weet ons asseblief wie van hulle intussen oorlede is, dan kan ons ander op lys plaas wat wag vir beddens.
...

’n Medikus wat in die Covid-sale werk, het aan LitNet vertel van ’n skrywe oor die bednood in hospitale. Dit was ’n skrywe met ’n lys pasiënte wat nie die vorige aand beddens kon kry nie. Die boodskap sluit af: Laat weet ons asseblief wie van hulle intussen oorlede is, dan kan ons ander op lys plaas wat wag vir beddens.

Dit is die realiteit.

Die mense wat die swaarste kry in hierdie pandemie, is diegene wat kritiese-sorg-beddens bestuur; hulle probeer mense op ventilators plaas om hulle van ’n gewisse dood te probeer red. Hierdie dokters het nou ook tot die ivermektien-debat toegetree.

Op 23 Julie 2021 het die Critical Care Society of Southern Africa (CCSSA) en die Suid-Afrikaanse vereniging vir narkotiseurs (SASA) saam ’n sterkbewoorde persverklaring die lig laat sien. Daarin sê hulle onder andere: “Many patients under their clinical care in the 3rd wave have not received the COVID-19 vaccination, whilst a large majority of these patients have been treated with Ivermectin.”

Die volgende paragraaf sê:

The collaborative work by many role players has seen the rapid and safe development of vaccines against the SARS-COV-2 virus, an amazing achievement in a limited time. Vaccinations, together with stringent public health measures, remain the most crucial steps of our response to the COVID-19 pandemic.

Dit is ons land se beste breins in kritieke sorg wat dit sê.

En dan volg hierdie woorde:

There is no substitution for vaccination. CCSSA and SASA are also deeply concerned that many patients and their families view treatment with Ivermectin as an alternative to getting vaccinated.

Ons moet ophou met die nonsens dat daar onsekerheid is oor inentings en oor ivermektien.

Inentings werk.

Ivermektien werk nie.

Kan ek my onwillige dokter (GP) dwing om beesdip vir my voor te skryf?

Op die sosiale media hoor ’n mens gereeld dat ivermektien goedgekeur is vir algemene menslike gebruik in Suid-Afrika. Dit is vals nuus. Die MPS maak dit baie duidelik op hulle webblad.

Op 28 Januarie 2021 het die liggaam wat medisynegebruik kontroleer in Suid-Afrika, bekend as die South African Health Products Regulatory Authority (Sahpra), dokters toegelaat om onder artikel 21 van die wet ivermektien voor te skryf indien die pasiënt moontlik sou sterf sonder mediese ingryping.

Die agtergrond tot artikel 21 is baie belangrik. Aangesien Sahpra deur ’n aansienlike aantal hoepels moet spring om medisyne vir algemene gebruik voor te skryf, laat dit onder sekere omstandighede dokters toe om aansoek te doen om nuwe tipes medisyne aan pasiënte voor te skryf. Dink byvoorbeeld aan rare kankers. Sou ’n pasiënt nie reageer op bestaande medisyne nie, kan ’n mediese dokter by Sahpra aansoek doen om vir daardie pasiënt ’n medisyne in te voer wat onlangs ontwikkel is, maar nog nie volledig getoets is nie. Dit sou ook geld vir medisyne wat in Suid-Afrika ontwikkel word.

’n Ander, onlangse voorbeeld is ’n nuwe middel teen malaria wat baie goed werk om die parasiet dood te maak, maar nog nie oor die lang termyn getoets is nie.

Verskeie mediese dokters doen tans aansoek onder artikel 21 om malariapasiënte wat nie na wense reageer op bestaande, goedgekeurde medisyne nie, op hierdie nuwe middel te sit. So ’n aansoek is omslagtig en verg baie tyd, maar talle mediese dokters én die aptekers wat met hulle saamwerk, doen dit gereeld en wanneer nodig; want die bewyse is daar dat dit werk.

...
So ’n aansoek is omslagtig en verg baie tyd, maar talle mediese dokters én die aptekers wat met hulle saamwerk, doen dit gereeld en wanneer nodig; want die bewyse is daar dat dit werk.
...

Artikel 21 bestaan dus om twee redes. Aan die een kant maak dit dit vir medici moontlik om, onder baie streng omstandighede, medisyne te gebruik wat nog nie goedgekeur is nie, en in die tweede plek gee dit aan Sahpra data om te analiseer, wat uiteindelik kan help met die besluit om daardie medisyne goed te keur, al dan nie.

Sahpra se besluit om ivermektien onder artikel 21 toe te laat, maak dus dat mediese dokters wel ivermektien mag voorskryf as ’n pasiënt se prognose swak is, veral dan as die familie of die pasiënt self daarop aandring. Maar, en dit is ’n groot maar, die mediese dokter moet ook aan die pasiënt en/of die familie verduidelik wat die risiko’s is, en belangriker nog, wat die moontlike kans op sukses is. Daar is egter verskeie ekstra stappe wat gedoen moet word sou ’n pasiënt nie self kan besluit om ivermektien te neem nie – hierdie stappe word deur die MPS voorgeskryf.

Wat meer is, die MPS waarsku ook op hulle webblad dokters moet in gedagte hou dat die Departement van Nasionale Gesondheid se aanbeveling lui: “The current evidence for the use of Ivermectin in COVID-19 does not suggest any clear benefits with respect to mortality, clinical improvement, or viral clearance.”

Mediese dokters moet dus baie mooi dink oor artikel 21, want alle goeie studies oor ivermektien toon dat die middel niks beter doen as die plasebo in die behandeling of die voorkoming van COVID-19 nie. In gewone Afrikaans: Ivermektien en stokkielekkers is ewe effektief in die behandeling van COVID-19; stokkielekkers is wettig te koop.

Tog, die MPS sê dat hulle dokters sal bystaan in sake sou hulle vooraf toestemming kon kry onder artikel 21, maar hulle waarsku ook dat alle gevalle geëvalueer sal word en dat dokters wat veel meer ivermektien voorskryf as hulle eweknieë, ondersoek mag word.

Sahpra het ook uiteindelik, weens druk van verskeie populistiese groepe, ’n skikking in die hof aangegaan rakende artikel 14 van die wet op medisyne.

...
Die skikking berus op ’n tegniese punt, want op 16 Maart 2021 is ’n gesigroom met die handelsnaam Soolantra® deur Sahpra goedgekeur.
...

Die skikking berus op ’n tegniese punt, want op 16 Maart 2021 is ’n gesigroom met die handelsnaam Soolantra® deur Sahpra goedgekeur. Dié room word gebruik om ’n velirritasie bekend as rosacea, te behandel. Rosacea word veroorsaak deur ’n mikroskopiese parasiet wat in die vel nes skop.

Ivermektien, wat die Nobelprys gewen het vir die stryd teen menslike parasiete, is die aktiewe bestanddeel in Soolantra.

Op ’n tegniese punt is ivermektien toe op ’n baie beperkte skaal as aktiewe bestanddeel vir menslike gebruik goedgekeur, wat dit tegnies vir ’n apteker moontlik maak om ’n tinktuur voor te berei waarvan die aktiewe bestanddeel ivermektien is.

So ’n tinktuur moet deur ’n dokter voorgeskryf word. Dit mag egter net vir daardie pasiënt gegee word en mag nie langer as 30 dae aaneen gebruik word nie. Enige medisyne wat ná 30 dae nie gebruik is nie, moet vernietig word.

Artikel 14 kan dus nie gebruik word om vir iemand ’n voorskrif te skryf wat hulle kan gebruik om maande lank klein bietjies ivermektien te drink vir die voorkoming van COVID-19 nie.

Wat meer is, ’n mediese dokter moet aan die pasiënt verduidelik dat die tinktuur nie ’n medisyne is wat goedgekeur is nie. Erger nog, die mediese dokter moet die uitslag van die nuutste kliniese toetse aan die pasiënt voorlê – dit word wetlik vereis. Gegewe die nuutste bewyse dat ivermektien glad nie effektief is nie, sal dit vir mediese dokters moeilik wees om die teendeel te bewys – lukrake video’s van die internet af gaan nie staande bly in die hof teen artikels wat deur ewekniebeoordeling getroef word nie.

Al hierdie bewyse dat die mediese dokter alles gedoen het om die pasiënt in te lig voor die voorskrif vir ’n tinktuur oorhandig is, moet boonop bewaar word om later moontlike regsaksie teen te staan.

Daar is egter nog struikelblokke:

  • ’n Dokter mag nie verwys na ’n apteker wat ivermektientinkture op ’n groot skaal vervaardig nie. Elke tinktuur moet afsonderlik voorberei word.
  • Mediese dokters mag ook nie adverteer dat hulle ivermektien sal voorskryf nie.
  • Ook, sou dit aan die lig kom dat ’n sekere mediese dokter veel meer ivermektienvoorskrifte skryf as sy/haar eweknieë, kan hy/sy ondersoeke in die gesig staar.

Laastens: Dit is onwettig om ivermektien te gebruik wat vir diere geregistreer is. Geen mediese dokter mag sulke medisyne voorskryf nie, en geen veearts mag dit aan ’n persoon verkoop wat dit self gaan gebruik nie.

Dus: Kan ek my onwillige dokter (GP) dwing om beesdip vir my voor te skryf? Nee. Beesdip is onwettig en jou mediese dokter het die volle reg om nee te sê vir enige ander middel wat ivermektien bevat. Artikels 14 en 21 maak dit wel moontlik vir dokters om ivermektien voor te skryf, maar die opstapelende bewyse dat ivermektien nie werk nie, maak dit al hoe moeiliker om so ’n voorskrif te regverdig.

Moenie jou mediese dokter dwing nie. Jou valse inligting wat jy van die internet kry, mag haar haar werk kos.

...
Dit is onwettig om ivermektien te gebruik wat vir diere geregistreer is. Geen mediese dokter mag sulke medisyne voorskryf nie, en geen veearts mag dit aan ’n persoon verkoop wat dit self gaan gebruik nie.
...
Die dilemma van die mediese praktisyn

Die MPS het onlangs ’n webinaar gehou vir mediese dokters om hulle in te lig oor die gevare wat hulle loop as hulle ivermektien sou voorskryf sonder al die nodige protokolle.

Hierdie artikel is nie gerig op dokters nie, maar wel op pasiënte.

Daarom net die volgende:

  • Mediese dokters is altyd benoud dat hulle gedagvaar kan word as hulle nie genoeg gedoen het om ’n pasiënt te genees nie.
  • Medici is egter onder die eed van Hippokrates verbonde daaraan om nie iets te doen wat moontlik skadelik is vir die pasiënt nie.
  • Artikels 14 en 21 maak dit wel moontlik vir medici om onder baie streng voorwaardes ivermektien voor te skryf, mits hulle van mening is dat daar genoeg bewyse is dat ’n baie siek pasiënt moontlik daarby kan baat. Ongelukkig is die bewyse in artikels wat deur geakkrediteerde tydskrifte gepubliseer is, aan die opstapel om te bewys dat ivermektien niks beter doen as die plasebo in die behandeling van COVID-19 nie.

Dus, jou mediese dokter het die reg om nee te sê vir enige voorskrif wat ivermektien insluit vir die behandeling van COVID-19.

Moenie jou mediese dokter dwing nie. Jou valse inligting wat jy van die internet kry, mag haar haar werk kos.

Lees ook:

Die sielkunde agter samesweringsteorieë

Ivermektien, entstowwe en die wetenskap – ’n veearts verduidelik

Saphra kry pak oor ivermektien; inperking, reisbeperkings en inentings ook ondersoek

Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie

Dodelike entstoffiksie: Wat is die waarheid?

Wat gebeur wanneer ons ’n entstof kry?

Dokters sonder grense en die suurstofdief, ’n virus sonder grense

  • 4

Kommentaar

  • Robert Barrie

    Uitstekend en waar. En enige dokter wat sy sout werd, is sal nie met mense se lewens speel nie. Ivermektien is vir beeste wat ander geluide as mense maak. Siek mense se geluide is altyd naby aan diere...

  • Robert, om die balans te stel: Daar is medisyne wat wat in die Trope gebruik word om menslike parasiete te behandel, en baie daarvan het ivermektien as aktiewe bestanddeel. Die probleem is a) daardie medisyne is nie in Suid-Afrika goedgekeur nie, want ons kry nie daardie siektes in Suid-Afrika nie en b) ordentlike mediese toetse bewys dat ivermektien geen antivirale eienskappe het nie. Dit is boonop gevaarlik in hoë dosisse, selfs ook die middels wat in ander lande vir mense met parasiete voorgeskryf word.

  • Marius, gelukkig het my politieke sienings niks hiermee uit te waai nie. Hierdie artikel gaan oor die mediese wetenskap en ek haal ook mense aan wat iets weet van die regte van mediese dokters.
    Ons land het uitstekende medici en briljante navorsers. Ek is ontsettend trots op hulle.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top