Johann Lodewyk Marais (1956–)

  • 0

Gebore en getoë

Johann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in die Koningin Victoria Kraaminrigting in Hillbrow in Johannesburg gebore as die enigste kind van Hendrik Salomon Marais en Johanna Herculina Oosthuizen. Die Queen Elizabeth Nursing Home (of Queen Vic) is agter die Ou Fort en Suid-Afrika se Konstitusionele Hof is in die Ou Fort agter die Queen Vic gevestig. (Netwerk24, 3 November 2020)

Sy oupa aan vaderskant, Johannes Lodewyk Marais, na wie hy vernoem is, was ’n boer in die Harrismith-distrik, maar hy is oorlede ses maande na Johann se geboorte. Sy ouers was twee van die duisende Afrikaners wat gedurende die 1920’s en 1930’s na die stede gegaan het. Beide sy ouers was werkers wat nie hulle skoolopleiding kon voltooi nie. Hulle het gewone lewens gelei en sou nooit kon dink dat ’n kind van hulle ’n digter sou word nie.

Drie maande na Johann se geboorte is die gesin terug na Harrismith, waar sy pa die boerdery op die plaas Sans Souci by sy ouers moes oorneem. Op hierdie plaas, ongeveer 50 kilometer oos van Harrismith op die Collinspaspad het Johann grootgeword. Sy speelmaats was die Sotho-kinders op die plaas en saam met Afrikaans leer hy ook Sesotho – soveel so dat hy vandag nog Sesotho as ’n soort van moedertaal beskou. Johann vertel dat een van die wonderlike dinge omtrent die plaas was dat dit tussen die berge geleë is. En vir die plaasgemeenskap was en is reën baie belangrik, en wanneer dit gereën het, is dit as ’n groot gebeurtenis beskou.

Johann bring sy eerste ses skooljare deur by ’n klipskooltjie op Mont Pelaan, ’n plekkie tussen Harrismith en Memel in die Oos-Vrystaat. In ’n onderhoud met Henning J Pieterse op LitNet vertel Johann dat hulle op hierdie plaasskooltjie elke jaar resitasies in ’n bloemlesing moes oorskryf om voor te dra en by elke resitasie ’n mooi prent moes inplak of ’n eie tekening moes maak. “Eenkeer het ek ’n gedig in, as ek reg onthou, Die Jongspan of Vonk, gelees, die gedig effens gewysig en toe in die bloemlesing oorgeskryf met my eie naam onderaan. Hierdie byna terloopse gebeurtenis het ’n indruk op my gemaak. Om iets te skryf met my naam daarby het my gefassineer!”

Sy eerste “ware gedig” het hy in standerd vyf aan die Laerskool Harrismith geskryf, vertel Johann aan Henning Pieterse op LitNet se ABSA Ketting. “Ek was een aand by ’n volkspelebyeenkoms wat deur die skool aangebied is. My kleinniggie Moira Brunsdon (wat vir my soos ’n suster was) was ook daar. Dié aand het ek egter ’n donkerkop meisie met ’n pers rok en spierwit sandale langs die dansvloer sien sit. Sy het onmiddellik my hart gesteel en ek het haar gevra om te dans toe ek sien sy kyk ook heeltyd na my. Daarna het ek en sy lank op die dansvloer rondgespring. Ek was dolverlief, maar het na die tyd verstrooid in die nag verdwyn. Oor dié meisie, Dalene van Rooyen, het ek kort daarna my heel eerste gedig met rym en al geskryf. Sy het dit natuurlik nie geweet nie, al het ek en sy daarna saam na een of twee skoolfunksies gegaan. Mense wat ’n mens skaars ken, het soms ’n geweldige en lewensbepalende invloed op jou!”

Daar was maar min boeke in Johann se ouerhuis en in die laerskool was hy geen groot leser nie, maar die plaaslewe en die ryk natuurlewe het meer as vergoed daarvoor. “Ek was gelukkig dat my pa die natuur en natuurverskynsels waardeer het en my aandag daarop gevestig het.” Hy onthou ook baie ander ervarings in en om die klipplaashuis met sy plankvloere, houtvensters en sinkdak. “Augustusmaand met sy winde was onvergeetlik: die geluide by die vensters, die bloekom- en sederbome wat deur die westewinde skeef gewaai word, die vertroosting van die koolstoof, die sensuele teenwoordigheid van die Sesotho-meisies wat my hulle taal geleer het en my ouers wat iewers met hulle dagtaak besig was.” (op LitNet)

Toe Johann twaalf was, het sy pa ernstig siek geword. Hy het aan leukemie gely en hulle moes die plaas verlaat om in Harrismith te gaan woon. Na ’n erge lyding is sy pa in 1970 in Kroonstad se hospitaal oorlede.

’n Vriend van Johann, Werner Vermeulen, het hom in standerd vyf aangespoor om te begin lees. Sy belangstelling in die letterkunde ontwikkel eers in die hoërskool op Harrismith. Hy begin verwoed lees en leer ken skrywers soos Eugène Marais, DF Malherbe , CM van den Heever, PJ Schoeman en Jan J van der Post. Die Engels-onderwyseres op Harrismith, mev El Bedford, het ’n baie groot invloed op Johann se ontwikkeling gehad. Sy was die suster van sir Laurens van der Post en die ma van die Springbok-rugbyspeler Tommy Bedford. (Beeld, 15 Februarie 1990)

In standerd nege verskyn Johann se eerste gedig in ’n spesiale bylae tot Die Vaderland genaamd Ons jong digters. In sy matriekjaar in 1975 lê hy sy eerste bundel voor vir publikasie, maar dit word afgekeur. Hy besef dat hy hom sal moet losskryf uit sy onervarenheid as hy ooit ’n digter wou word.

Johann het ook op Harrismith aan die ouerhuis van sy vriend Costa Georghiou kennis gemaak met veral musiek, die beeldende kunste en die letterkunde. Daardie sfeer waarin hy soms daagliks kon deel, het ’n belangrike rol in sy ontwikkeling as skrywer en as mens gespeel.

Hy vertel aan Henning Pieterse dat dit die kennismaking met die Sestigers was wat hom laat afsien het van sy voorneme om eendag in ’n natuurwetenskaplike rigting te gaan studeer. “Die taal- en styleksperimente in André P Brink se Lobola vir die lewe (1962) het my verras, terwyl sy reisverhale vir my ’n nuwe wêreld oopgemaak het. Daarby het Brink se resensies en Coenie Slabber se literêre nuus in Rapport my literêre verwysingsveld verbreed.” Maar die twee bundels wat hy in standerd nege oor en oor in die Carnegie-biblioteek langs Harrismith se stadsaal uitgeneem het, was NP Van Wyk Louw se Tristia en DJ Opperman se Dolosse.

Die een enkele boek wat hom die meeste bekoor het, was Chris Barnard se Mahala. “Ek onthou nog die dag toe die bibliotekaresse, mev Harriet Smith, vir my gesê het dat Barnard se Duiwel-in-die-bos en Mahala opgedaag het. Ek het die boeke met hulle pragtige omslae van die een klas na die ander saam met my gedra en trots en vol verwagting op die bank voor my neergesit.” (OuLitNet, 2 Augustus 2006)

Johann matrikuleer in 1975 aan die Hoërskool Harrismith.

Verdere studie en werk

In 1976 begin Johann sy studies aan die Universiteit van Pretoria in Germanistiek en Filosofie. Aan die einde van Maart van dieselfde jaar vestig sy ma haar ook in Pretoria.

Op universiteit is Johann ’n stigterslid saam met Hans Pienaar en Koos Prinsloo van die tydskrif Vlieg, wat later gestaak is. In 1980 studeer hy vir sy BA Honneursgraad in Afrikaans en hy slaag sy MA cum laude oor opleiding in skeppende skryfwerk, waarvoor hy die Marius Jooste-medalje ontvang. Hy behaal sy DLitt in 2001 met sy tesis Die wetenskaplike prosa van Eugène N Marais onder leiding van prof PH Roodt. In 2013 verwerf Johann ’n doktorsgraad in geskiedenis oor Kenia sedert onafhanklikheid in 1963.

Johann is daarna vir twee jaar (Julie 1981 tot Junie 1983) na die Weermag, en ná sy ontslag in 1983 word hy aangestel as navorser by die RGN in Pretoria, eers by Sensal en later by Groep Samelewingsdinamika. Hy was by Sensal veral betrokke by die tipering van rasseverhoudinge in die Suid-Afrikaanse letterkunde en by navorsing oor opleiding in skeppende skryfwerk wat uitgeloop het op die boek Opleiding in skeppende skryfwerk wat in 1987 deur die RGN gepubliseer is.

Johann het die werksomstandighede by die RGN baie stimulerend gevind, hoewel hy soms die bevindings van die navorsing betwyfel het. Gedurende die laaste tien jaar van sy werk by die RGN het hy meer betrokke geraak by sosiale navorsing. Dit het hom in aanraking gebring met kwessies soos die agteruitgang van die omgewing, plattelandse ontwikkeling, armoede, migrasie met buurlande en MIV/VIGS. Hy doen heelwat ondervinding op die gebied van volhoubare ontwikkeling op toe hy gekontrakteer word om navorsing te doen vir die voorbereiding van die bou van ’n dam in die Lomatirivier in Mpumalanga vanaf 1991 tot 1993.

Vanaf 1986 tot 1993 is hy deeltydse dosent aan Unisa se Instituut vir Voortgesette Opleiding, waar hy verantwoordelik was vir die aanbied van kursusse in skeppende skryfwerk vir prosaskrywers (1986–92) en digters (1993).

Johann word later assistentdirekteur: hooftaalpraktisyn by die Suid-Afrikaanse Weermag in Pretoria en in 2005 word hy Navorsingsgenoot by die Eenheid vir Akademiese Geletterdheid aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ook hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort en erepresident van die Eugène Marais-Skrywersvereniging.

In 2006 en 2007 is hy lid van die besprekingspan wat gedigte van nuwe digters vir die digBy-poësieprojek help evalueer. By 2009 se Volksblad-kunstefees in Bloemfontein lei Johann die poësieslypskool.

In 1983 word Johann se eerste digbundel, Die somer is ’n dag oud, gepubliseer. Dit word in 1984 bekroon met die Ingrid Jonker-prys. In sy commendatio vir die prys skryf LC Eksteen: “Die bundel wat die sterkste indruk maak, is Die somer is ’n dag oud van Johann Lodewyk Marais. Veral die verse in die eerste drie afdelings val op deur ’n stewige vormbeheer, ’n wrang ironie en ’n etsende beeldhouvermoë. Hoewel die laaste afdeling op ingetoë wyse die eietydse problematiek van die soldatelewe wil ontluister, bevredig dit minder. [...] Die somer is ’n dag oud kan nietemin as ’n goeie debuut met ’n onderskeidende stem beskou word.” (De Kat, datum onbekend)

Johann vertel aan Koos Prinsloo (Beeld, 29 Oktober 1985) dat die Ingrid Jonker-prys vir hom nogal iets besonders is, “want sy staan vir ’n hele paar dinge. Dit is die enigste prys wat om die beurt vir Afrikaanse en Engelse poësie toegeken word en een van die min pryse wat ’n Afrikaanse skrywer kan wen wat voorheen deur ’n swart skrywer gewen is. Ek dink nie dit het al ’n establishment-prys geword nie en om daardie rede het dit waarskynlik ook nie soveel aansien nie. Ek en my poësie verteenwoordig nie noodwendig al dié dinge nie, maar ek het heelwat respek vir sommige van die vorige pryswenners, byvoorbeeld Jeremy Cronin, Wally Serote, TT Cloete. Jy kan hulle nie kategoriseer en sê dat hulle gesamentlik een of ander ideologie verteenwoordig nie.”

Johann de Lange beskryf die gedigte as tydruimtelike gedigte, gedigte van die verhoudings tussen dinge, en dit is ook terselfdertyd sterk outobiografies. Hy skryf verder in Die Vaderland (5 Desember 1983) dat Marais ’n digter is met baie talent, met tegniese vaardighede, fyn beeldsintuig en ’n aanvoeling vir die regte woord en die nuanses van taal. “Kritiek is daar sekerlik ook: sommige gedigte dra swaar aan die las van verliteratuurdheid en soms kry ’n mens die gevoel dat van die gedigte vassteek in die taal en nie deurdring tot die kern waaroor daar geskryf word nie. Maar dit is mindere besware teen ’n bundel met soveel opwindende gedigte en bewyse van vaardigheid.”

EC Britz (Die Burger, 5 Januarie 1984) meen dat baie gedigte in die bundel deur “suiwer, deursigtige eenvoud gekenmerk word en wat ’n mens dadelik beïndruk, is die wonderlike kwaliteit wat hulle besit in die afwesigheid van ’n opvallende tematologie, dramatiese kragtoere, oorstelpende verbeeldingsvondste en taalspel of welluidende woordmusiek. Die beste gedigte is juis gesuiwer van oordrewe gedig-agtighede.”

André P Brink (Rapport, 11 Desember 1983) beskryf Johann as ’n belowende nuwe digter wat – in weerwil van jeugdige oneweredigheid – sy eie sê kan sê.

Op ’n vraag wat sy idee van die digter van Tagtig is, antwoord Johann: “Ek is wel betrokke by die woelinge om die sogenaamde ‘Tagtigers’ as gevolg van die feit dat ek redakteur van die poësietydskrif Ensovoort is. Tog sien ek myself nie as ’n ‘Tagtiger’ met elemente soos aanvanklik gevisualiseer deur André Letoit nie. Ek sien myself ook nie as ’n ‘ouer skrywer’ nie en glo nie dat ’n mens my werk in ’n kategorie kan plaas nie. My werk sluit aan by DJ Opperman. Ek het by hom geleer en my eie ding begin doen.”

Hy vertel dat hy die meeste aanklank vind by die Chileense digter Pablo Neruda. Hy lees ook graag digters soos Octavio Paz en Czeslaw Milosz. “Milosz se historiese bewussyn is verbluffend en ek leer graag by hom.” (Fokus op die RGN, Augustus 1985)

Johann vertel in Die Vaderland van 23 Julie 1985 dat sy skryfwerk grotendeels outobiografies is, hoewel daar ook ’n paar politieke gedigte in sy eerste bundel is. “Ek skryf nie volgens ’n vaste dissipline nie en stel intens belang in die poëtiese tegniek en sal een gedig tot veertig maal oorskryf totdat ek tevrede is.”

In 1988 word Johann se tweede bundel, Palimpses, deur Human & Rousseau uitgegee. Hans Pienaar (Insig, Mei 1988) beskou hierdie bundel as die bundel van die jaar. Pienaar meen dat Marais se bundel oor “oorsake” gaan, “die verlede, oorheers deur sy vader, wat hom nie net fisiek veroorsaak het nie, maar deur sy eie drifte, ambisie en behoeftes die wêreld herskep het wat Marais se eie wêreld psigies struktureer. [...] [Dit] het nie die paal gehaal in vanjaar se pryse nie,” skryf Pienaar verder. “Daarvoor is sy poësie te virtuoos en is hy te veel in beheer van sy medium – sy gemaklike reëls dra nie die stempel van gemaaktheid wat die beoordelaars en kanoniseerders wil hê om poësie te verhef tot die bowêreldse nie.”

Die titel van hierdie tweede bundel verwys na ’n perkamentrol wat weer beskryf word nadat die oorspronklike skrif afgekrap is. En hierin tree Johann as waarnemer op in sy familiegeskiedenis oor die afgelope drie, vier geslagte – die sondes van die voorvaders wat die latere geslagte beïnvloed (Transvaler, 21 Julie 1987). Johann vertel aan Erika Gibson dat die een rede hoekom die skryf van die bundel vir hom sinvol was, die bewuswording van verval was. “Al die ou bakens soos die plaashuis, die kruis op die berg waar die swartmense kerk gehou het en die regopstaande klippe (grafte) het verval en al wat oorbly, is ‘gefnuikte ideale en enkelmense’. Marais sinspeel ook indirek op die uiteindelike verval van die hele Afrikanernasie.

“Met die bundel het ek gepoog om die Afrikaner-mite te beskryf – die plaaswêreld met al sy onderstrominge; die kragte en spanning tussen die families en onmiddellike bure op die plaas waar ek grootgeword het. Dit is nie ’n nostalgiese bundel nie – meer ’n oop skryf oor dinge wat mense nie graag oor praat nie.”

Johann vertel verder aan Gibson dat sy tweede bundel drasties van die eerste een verskil. “Waar die eerste een, soos die meeste eerste bundels, baie uiteenlopende gedigte bevat het en meer eksperimenteel van aard was, is Palimpses streng tematies. Daar is ’n deurlopende storie hoewel die bundel uit losstaande gedigte bestaan. Die nuwe bundel is egter eenmalig. [Ek] het die hoorsê en herinneringe van [my] familiegeskiedenis vir die eerste keer in woorde neergelê – vir oulaas. Die onderskrif van die Palimpses is die vertellinge, ou dagboek, grafskrifte. Nadat [ek] die boonste laag afgekrap het, kry [ek] die oorspronklike boodskap en soos ’n ‘argeoloog van herinneringe’ rekonstrueer [ek] die ou stuk geskiedenis.”

In ’n artikel in Insig van Oktober 1987 skryf Johann dat dit vir hom noodsaaklik geword het om self rekenskap te gee van sy ervaring van die plaas, wat in belangrike opsigte heeltemal van die ouer persepsies verskil. “Ek moes nie net fisiek nie, maar ook in my skryfwerk teruggaan plaas toe, wat ek dan ook in Palimpses gedoen het. Die eerste gedig in Palimpses is geskryf in ’n hotelkamer op Ficksburg op 20 Mei 1983. In die daaropvolgende week het ek die wêreld waar ek grootgeword het, besoek met die bedoeling om ’n boek daaroor te skryf: ’n kontreiboek het ek gedink. Dit het toe ’n digbundel geword.”

Lucas Malan meen dat Marais ’n boeiende bydrae lewer tot die tipe verse in Afrikaans wat die “beeld van ’n jeug” herskep en dat Palimpses ’n waardige opvolger vir sy debuutbundel is. (De Kat, Maart 1988)

By die dinge word in 1989 uitgegee. Volgens Riana Botha (Die Burger, 8 Februarie 1990) word die dilemma van die digter aangegryp deur die alledaagse en die banale, aangespreek. “Vir die leser wat bekend is met Marais se oeuvre, is dit opvallend hoeveel motiewe, karakters, stylfigure en digkonstruksies, wat reeds in die vorige twee bundels aanwesig was, weer hier ’n plek kom opeis het. [...] Die poëtiese wêreld van Marais is hier ’n wêreld gestroop van poëtiese kosmetiek. [...] Ondanks die afwesigheid van opsigtelike poëtiese middele soos rym, metrum en beeldspraak, handhaaf die digter egter deurgaans poëtiese konvensies.”

Lucas Malan meen dat hierdie bundel ’n baie duidelike profiel trek van Johann Lodewyk Marais as kundige en boeiende jonger digter. (De Kat, September 1989)

En vir Joan Hambidge (Beeld, 11 Desember 1989) is die belangrikste deel van Marais se digkuns die “ingehoue, praattoon daarvan. Die verse skep allerweë ’n spontane, ‘maklike’ indruk, wat met ’n oppervlakkige lesing na ’n dunnerige vers mag lyk. Tog is die verse meesal fyn opgebou en word hulle deur subtiele skakels vasgeheg. Wanneer dié gedigte geslaagd is – soos dit dan ook in die meeste gevalle is – kan ’n mens selfs verwys na ’n magiese moment.”

Gedurende Johann se werkstyd by die RGN toe hy navorsing gedoen het oor die agteruitgang van die omgewing en oor volhoubare ontwikkeling, bereik hy ’n fase waarin hy oor hierdie onderwerpe begin dig. Dit lei tot die publikasie van Verweerde aardbol in 1992.

Hierdie bundel gee ’n besinning oor Afrika en ’n visie op die vasteland via die fauna en flora wat dit kenmerk, volgens JC Kannemeyer. (Rapport, 17 Januarie 1993)

PH Foster (Afrikaans Stereo: Skrywers en Boeke, 14 Januarie 1993) skryf dat belangrike temas dié van die interrelasies tussen mens en dier en plant, die bedreiging van die natuur, skrywerskap en die verhouding tot en met God is. “Wat veral opval, is die sterk sintuiglikheid in baie van die verse; hierdie sintuiglike waarnemings dien as verweer teen die verwering wat in die natuur aan die gang is: teenoor die aftakeling en die verganklikheid in die natuur is daar dus die herskepping in en deur die gedig.”

TT Cloete (Insig, April 1993) beskryf hierdie bundel, wat as ons eerste uit en uit groen bundel gesien kan word, as ’n “sonderlinge bundel”. “Die vers loop van hierdie eerste gedig af vlot, ’n pragtige vers wat die aarde in sy volheid en rykdom teken. Marais skryf ’n nuwe soort ‘vaderlandsvers’, en ’n nuwe soort landskapgedig. [...] Die visie in sommige gedigte is groots, en van die beste gedigte neem mens saam met hulle op loop.”

In Beeld (22 Februarie 1993) begin Henning Pieterse sy bespreking van Verweerde aardbol só: “Met sy vorige drie bundels het Johann Lodewyk Marais reeds vir hom ’n eie plak in die Afrikaanse poësie oopgeskryf. Sy verse spreek, dikwels op ’n bedrieglik eenvoudige wyse, van die dinge naaste aan hom – jeugherinneringe, natuurbeskouings, die familie en die gesin. [...]

“Al die verse getuig van ’n sterk visuele inslag, van fyn waarnemingsvermoë. [...] Daar sal sekerlik diegene wees wat Marais wil kritiseer omdat hy nie ‘betrokke’ genoeg skryf nie, dit wil sê nie die ‘struggle’ genoegsaam aanspreek nie. Maar watter groter betrokkenheid kan daar wees as dié met die skepping, die aarde, die mensdom as geheel? Verweerde aardbol is ’n sterk en afgeronde bundel waarin die hand van ’n ware vakman te bespeur is.”

Na ’n stilte van ongeveer tien jaar verskyn Johann se volgende digbundel, Aves, in 2002 by Protea Boekhuis in Pretoria. Hy vertel dat hy feitlik daagliks die werk van drie digters wat hy noodsaaklik vind, lees: Pablo Neruda, DJ Opperman en Wilma Stockenström. By Neruda het hy geleer om die voëls van sy land opnuut te waardeer en skryf hy hierdie digbundel oor hulle. Die eerste prikkels vir hierdie bundel het ontstaan in sy kinderjare op die plaaswerf in Harrismith en is verder geneem in sy jare as sosiale navorser by die RGN toe hy wyd gereis het en voëls kon kyk.

Bernard Odendaal (Volksblad, 1 April 2002) skryf dat Johann in hierdie bundel digterlike gestalte gee aan waarskynlik die eerste liefde in sy natuurgevoelige en omgewingsbewuste gemoed, die voëlfamilie. “Op enkele gedigte na – wat minseggend is of in prosa-agtige mededeling vassteek - bevat Aves myns insiens van Marais se mees geslypte gedigte. Saam met sy ander omgewingsbewuste werk, wat twee bloemlesings insluit (Groen, 1990, en Ons klein en silwerige planeet, 1997), lewer hy met Aves ’n belangrike bydrae tot die reeds ryke poësieskat oor fauna en flora in Afrikaans – veel ryker as in enige van die ander Suid-Afrikaanse letterkundes.”

Joan Hambidge (Die Burger, 15 April 2002) meen dat dit in hierdie bundel om meer gaan as die natuur of landskap. “’n Mens sien dit byvoorbeeld in die ou bloemlesing van Lategan waarin gedigte meer beskryf as die veld of die natuur. Deur middel van die landskap word die herinnering aan die vader bestendig. Die vader is hier die een wat die kind leer om na die natuur te kyk en te orden, [...] Marais skryf ’n sober, byna eenvoudige praatvers. Dit lyk ‘eenvoudig’, ‘maklik’ juis omdat die gedig so goed afgewerk is. Met hierdie bundel bestendig hy sy reputasie as digter.”

Johann het oor die jare al hoe meer in die verhouding tussen literatuur en die wetenskap begin belangstel en het “begin om die digotomie tussen hierdie wêrelde te bevraagteken,” vertel hy aan Jo Prins. “Wat byvoorbeeld gemaak as ’n mens in sowel die kuns as die wetenskap geïnteresseerd is? As die figure wat jou van kleintyd af die meeste geboei het, die hartchirurg Chris Barnard, die digters Dirk Opperman en Pablo Neruda, die viskundige JLB Smith, die filosoof Martin Heidegger en die etoloog Jane Goodall was, en jy ‘weier om te kies’?”

Hy sê dat ’n mens uit die insigte van die natuurwetenskappe kan aflei dat elke voëlspesie uniek is en op ’n unieke wyse geleer het om hom aan te pas, en dat dit hierom vir hom belangrik was om in Aves in die individuele gedigte oor die voëls vir elkeen sy wetenskaplike naam te gee. “In Aves is op uiteenlopende manier erkenning gegee aan digters, natuurwetenskaplikes en gewone mense wat my gehelp het om die uniekheid van die wêreld van die voëls raak te sien. Dit is ’n manier om dankie te sê.” (Die Burger, 21 Mei 2002)

Twee jaar later, in 2004, publiseer Protea Boekhuis ook Plaaslike kennis: gedigte. In hierdie bundel neem Johann die leser weer op die spore van bewaring, skryf Lucas Malan in Die Burger van 5 April 2004, “maar hierdie keer val die klem op landelike ontwikkeling en hoe dit die huidige ‘plaaslike bevolking’ met sy agrariese leefwyse en die eertydse bewoners van landelike streke sowel konkreet as emosioneel ontwrig. Op kleiner skaal, maar onmiskenbaar so, het ons hier dus nog ’n weergawe van die ou-ou verslag oor paradise lost.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 26 April 2004) meen dat dit is asof Johann nou met ’n groter dringendheid en selfvertroue as ooit dig. “Die dringendheid het waarskynlik te doen met ’n nypende verganklikheidsbesef wat in Plaaslike kennis oorheers. ‘Plaaslik’ het eerstens te doen met die plaaswêreld van die digter se jeug, maar daar is ook ’n ander kant van die ‘plaaslike kennis’ wat uit heelwat gedigte spreek: respek vir die magiese elemente van die Afrika-leefwêreld, en vir vrygewigheid te midde van armoede. [...] Marais s’n is ’n weinig demonstratiewe digterskap, soos die oorwegend beheerste vormgewing, maar wat nie onderworpe is aan die eise van vaste digsoorte nie.”

Terwyl Johann navorsing gedoen het oor die migrasie oor die grense van suidelike Afrika, het hy met baie Mosambiekers gepraat wat sonder dokumente op die grensplase in Suid-Afrika gewerk het. Hy het ook die geleentheid gehad om in 1998 Mosambiek te besoek. Hierdie ondervindings word saamgevat in Lae wolke oor Mosambiek: ’n reisboek wat in 2004 by Skeurklip Uitgewers verskyn het.

HP van Coller (Volksblad, 5 April 2004) skryf dat Marais se fokus postkoloniaal is in dié opsig dat hy terdeë bewus is van koloniale vergrype en onderdrukking. “Daarom word vrae ook uit hierdie perspektief geformuleer en is daar by hom ’n voortdurende bewuswees van armoede, oorlogletsels en skuld.” Volgens Van Coller toon hierdie reisverhaal van Marais al hoe meer parallelle met die reise van koloniale reisigers in Afrika wat in wese buitestanders is en wat voortdurend op ’n afstand bly van dit wat hulle moet ondersoek omdat hulle nie die taal kan praat nie. “En só word Marais en sy kollegas se reis (dalk onbedoeld) ’n metafoor van die blanke se vreemdheid op hierdie kontinent. [...] Marais slaag daarin om in dié teks as ekologie-bewuste iets oor te dra van die skoonheid en potensiaal van ’n ryk land, maar ook van die skending daarvan. Sy boek is daarom meer as net ’n verslag; dit is ook ’n waarskuwing ten aansien van die gevolge van politieke diktatuur, wanbestuur, anargie en burokrasie op mens en omgewing.”

Johann vertel aan Henning Pieterse (OuLitNet) dat hy dit baie geniet het om hierdie reisboek te skryf en dat hy besef het dat hy aangetrokke is tot reisliteratuur, waarmee hy heelwat van sy belangstellings tot hulle reg kan laat kom.

Sedert die skryf van Lae wolke het hy ’n besoek aan Botswana gebring en hy beoog om ’n boek daaroor te skryf, en verder wil hy ook in Lesotho gaan rondreis. Maar hy wil nie net oor Suider-Afrikaanse gebiede skryf nie, maar ook oor sy besoek aan die Matterhorn in Switserland, sy reis op die spore van Darwin, en ’n verblyf in ’n Franciskaanse klooster in Rome. “Eendag wil ek ook al die plekke besoek waar Paulus gereis het. Soms skryf ek ’n gedig oor hierdie ervarings, maar die skryf van reisboeke is nou vir my so lekker (al is dit vrek harde werk dat ek nie altyd daaraan dink om ’n gedig van my ervarings te maak nie. Die wetenskaplike ingesteldheid het iets van ’n oorhand by my gekry, en die moontlikheid om met ’n wyer en ander publiek te kommunikeer, trek my aan. Digters se geselskap is vir my soms vervelig!”

Om die publikasie van Eugène Marais se gedig “Winternag” in 1905 te vier, gee Johann en die Uitgewery Praag ’n bundel gedigte uit waarin nuwe en ongepubliseerde gedigte van Afrikaanse digters (gevestig en ongevestig) opgeneem is, onder die titel Honderd jaar later: ter viering van Eugène Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905. Gilbert Gibson skryf dat die poësiegemeenskap gepas hulde bring aan “Winternag” – “nie net aan die gedig nie, maar ook aan die geografiese plek waar die grassade roer, en aan Eugène Marais, nie net die skrywer nie, maar deelnemer aan ’n taal se ontwaking”. (Volksblad, 18 September 2006)

Johann is ’n gereelde besoeker aan die Waterberg en as ’n mens van die Waterberge praat, kom die naam van Eugène N Marais na vore. Hy het sy doktorale proefskrif oor Eugène Marais se wetenskaplike prosa gedoen. Hy vertel aan Opperman: “Jare gelede het ek een middag in my motor geklim om na die plekke te gaan kyk waar die digter, prosaïs, joernalis, amateurwetenskaplike, morfinis en kindervriend Eugène Marais in die Waterberg gebly het.

“Marais het my reeds as jong leser geboei en dit was die plek waar my reise op Marais se spore begin het. Sedertdien boei dié streek my nog steeds en is dit elke keer vir my ’n verrassing om in hierdie natuur tuis te kom. Die afgelope jare was daar ’n geleentheid om meer dikwels in die Waterberg te kom.”

Ses jaar verloop voordat Johann se volgende bundel, Diorama, in 2010 deur Protea Boekhuis gepubliseer is. En dit was ’n tyd wat vrugte afgewerp het toe Diorama in 2012 met die SALA-toekenning weggestap het.

Die commendatio lui as volg: “Diorama bevat van die mees deurdagte gedigte oor die natuur en die mens se verhouding met die natuur wat die afgelope jare in Afrikaans verskyn het. Die bundel is goed gebalanseer deurdat dit op verskillende wyses, in verskillende afdelings en deur middel van ’n groot verskeidenheid digterlike vorme die leser uitdaag om betrokke te raak en verantwoordelikheid te neem vir verskeie vraagstukke met betrekking tot natuurbewaring en die natuurlike lewe in Suid-Afrika en die res van Afrika.

“Deur klemlegging op individue wat op een of ander wyse by natuurbewaring betrokke was, soos Thomas Baines (die skilder wat kolonialisme deur sy skilderye uitgebeeld het), Jan Smuts (’n kenner van grassoorte en skrywer van Holism and Evolution), Richard Leaky (bekend om sy paleontologiese studies in Kenia) en Jane Goodall (gorilla-kenner), word die sterk verhaalmatige aard van die bundel gesuggereer.

“Die bundel word gekenmerk deur sterk progressie, soos deur verskeie resensente aangetoon word. Die eerste afdeling van die bundel bevat gedigte oor die oorsprong van die mens, daarna kom onderskeidelik die diereryk, die voël- en insekteryk en die planteryk onder die vergrootglas (in gedigte wat volgens een resensent met fabels vergelyk kan word) waardeur die evolusieproses en die eenheid van alle lewende vorme op aarde gesuggereer word. Die slotafdelings handel oor die mens as vernietiger van sowel sy eie spesie as die ander spesies op aarde. Sodoende kom daar ’n holistiese beeld van die lewe op aarde te voorskyn wat ’n beduidende bydrae lewer ten opsigte van sogenaamde ‘groen’ argumente wat tans oral ter wêreld veld wen. Die mens se verantwoordelikheid as beskermer van alle spesies word sterk gesuggereer.

“Literêr gesproke is die bundel van hoogstaande gehalte. Marais word dikwels gekritiseer vir sy kort gedigte wat volgens resensente dikwels eenselwig voorkom. Volgens die insigte van die beoordelaars kan die kort gedigte in afdelings II tot IV egter gesien word as ’n soort poëtiese skyfievertoning van spesies waarin die aard van elke lewende wese in ’n kort gedig vasgevang word soos in ’n foto. Die gedigte in ander afdelings is oor die algemeen goed deurdag en deur middel van interessante en stimulerende intertekstuele verwysings word ’n groot aantal onderwerpe en ’n wye verskeidenheid wetenskaplike navorsingsterreine betrek wat deel uitmaak van ’n diggeweefde verhalende bundel – tematiek wat mense oor grense van ras, klas, kleur en nasionaliteit saambind in hulle gemeenskaplike menslike opdrag van bewaring en verantwoordelike omgang met die aarde en wat daarop lewe.”

TT Cloete is die resensent vir Beeld en hy beskou Diorama as ’n “unieke, ekopoëtiese bundel in die Afrikaanse digkuns”.

Cloete sluit af: “Marais het sy eie plek in die Afrikaanse digkuns oopgeskryf, met aktualiteitsgedigte oor die mooie en verbygaande van mens, dier, plant en die gedig self. In hierdie bundel doen hy dit met groot behendigheid.”

In Rapport (2 Januarie 2011) omskryf Marlies Taljard die titel Diorama: “Die term diorama verwys na sowel ’n Middeleeuse mobiele teater as na ’n driedimensionele miniatuurlandskap – in teenstelling met ’n panorama. Albei betekenisonderskeidinge word duidelik in Marais se bundel ontgin – die digter verskaf ’n snit van die hedendaagse samelewing wat in die vorm van ’n drama aangebied word: Ek wil in my gedig ’n wildtuin skep / en jou uitnooi om besoek te kom bring...

“Hierdie voorneme van die digter herinner sterk aan tradisionele verhaalkonvensies wat behels dat die skrywer ’n bepaalde ruimte skep waarbinne jy sy karakters en verhaal situeer. Veral in die postmodernistiese verhaalteorie is die leser ’n belangrike komponent in die totstandkoming van die verhaal, want hy moet letterlik ‘besoek bring’ aan die verhaal ten einde dit te laat ontvou en sin daarvan te maak. Dit is opmerklik hoeveel gedigte in Diorama egte verhalende gedigte is waarin al vier die narratiewe elemente – karakters, gebeure, plek en tyd – sinvol aanwesig is. (soos ‘Santiago’) [...]

Diorama is ’n ryk en gelaagde bundel met besliste literêre meriete, veral wanneer dit gelees word teen die agtergrond van die groter raamwerk waarin die rol en tegnieke van narratiewe praktyke binne literêre genres ondersoek word. Dit behoort in die smaak te val van literêre lesers én ‘gewone’ fynproewers.”

Dit lyk asof Johann sedert die publikasie van Diorama ’n vrugbare tydperk beleef wat die verskyning van sy digbundels betref. In 2011 verskyn In die bloute, weer by Cordis Trust. Op Versindaba vra Louis Esterhuizen vir Johann uit oor dié bundel.

Louis wou meer weet oor die ontstaan van In die bloute. Johann vertel dat die see al ’n ruk lank ’n rol in sy poësie speel. Hy het in ’n artikel op Versindaba (Poëtiese Leerjare: Versindaba) meer uitgebrei oor sy belangstelling in die see as onderwerp vir sy digkuns. En in daardie artikel het hy gepraat van ’n Duitse filosoof Hans-Georg Gadamer wat in 1980 genoem het dat een van die dinge wat die mens uniek maak, is dat ons dooies se grafte met skulpe versier: “Dié opmerking van die vader van die hermeneutiese etiek het die verwantskap tussen dink en dank beklemtoon en heelparty van my jeugervarings in ’n filosofiese en/of poëties verrykte verband geplaas. ’n Hand vol gedigte oor die see (en heelparty ander onderwerpe!) het daarop gevolg. Ná die publikasie van Aves (2002) het ek ernstig aan die moontlikheid begin dink om ’n bundel uitsluitlik aan die see te wy, maar dit was natuurlik makliker gedink as gedaan. Vir my wat nie by die see grootgeword het of daar woon nie, was dit ’n uitdaging omdat dit my sou dwing om deur middel van leeswerk, navorsing en eerstehandse ervaring meer van die onderwerp tewete te kom. Die werk van digters soos J Slauerhoff, Pablo Neruda, Uys Krige, DJ Opperman, Derick Walcott en Grace Nichols het natuurlik die idee vir so ’n bundel verder gevoed.”

Esterhuizen wou by Johann meer weet van sy bemoeienis op sosiale media: “Die sosiale media het my ’n groot aantal nuwe lesers besorg. Hulle is mense wat andersins niks van my sou geweet het nie of glad nie met my werk in aanraking sou kom nie. Heelwat van my Facebook-vriende is kennisse van my skool- en kinderdae en dit was ’n groot verrassing om weer van hierdie mense te hoor en om te weet dat hulle al van my gedigte gelees het. Daarbenewens gebruik ek ook die sosiale media as ‘werkswinkel’ vir my gedigte. Ek publiseer natuurlik ook graag van my gedigte in literêre tydskrifte, waar ek ook die geleentheid gebruik om my gedigte te toets voor hulle uiteindelik in ’n bundel opgeneem word. Ons as digters het nie noodwendig baie lesers nie en ons moet hulle soms maar self gaan soek. Daarbenewens hou ek van die gedagte om nuwe publikasiegeleenthede en -vorme te verken.”

En oor die plek waar In die bloute in sy oeuvre pas, antwoord Johann: “Hoe die bundel in my oeuvre inpas sou ek natuurlik veral by my lesers wou hoor. Tematies sluit die bundel aan by my vroeëre gedigte oor voëls, soogdiere en plante en is deel van my poging om oor lewe op aarde te skryf. Die bundel bevestig waarskynlik my belangstelling in die biologiese wetenskappe en mense wat hulle daarmee besig gehou het. Ek werk in die Darwinistiese tradisie en bou ’n legkaart oor lewe op aarde, sodat ek beter kan verstaan en die wonder en weerloosheid van lewe te midde van die globale omgewingskrisis kan aantoon. Hierna sou ek nog oor insekte, kieme, virusse en bakterieë wou skryf. Ek het egter ook ander belangstellings wat my op ander paadjies deur die landskap kan neem.”

Susan Smith begin haar bespreking (Tydskrif vir Letterkunde, 2013) oor In die bloue só: “Die jongste bundel van Johann Lodewyk Marais, In die bloute, keurig uitgegee deur Cordis Trust Publikasies, bou voort aan die steeds groeiende oeuvre van Marais se natuursentriese bundels en verse. Reeds met die titel van die bundel, met die klem op die onverwagte voorsetsel in, word die leser ingetrek in die seeboek (soos die subtitel die bundel beskryf). Die bundel is ingedeel in ses afdelings waarin die see en sy inhoud agtereenvolgend aan bod kom en wat bydra tot ’n hegte strukturering van die bundel. Die verdeling dien bykans as reisplan vir die leser die bloute in, vanaf die persoonlike vlak, die aanvanklike verklaring van die digter in die openingsgedig dat hy ’n bundel ‘met seesand tussen die blaaie’ (9) wil skryf tot die kosmiese vlak wat deur die titel van die slotgedig ‘Save our planet’ (77) gesuggereer word. [...]

“Vanuit ’n breë ekokritiese perspektief dra die bundel daartoe by om ’n veranderde sosiale gewete en bewussyn by die leser tot stand te probeer bring deur die uitbeelding van die spanning in die verhouding tussen mens en natuur. Die Latynse nomenklatuur in die subtitels (volgens die taksonomiese klassifikasiesisteem van Linnaeus) skep ’n wetenskaplike onderbou en interdissiplinêre samehang eie aan ekokritiek en verbreed die verwysingsraamwerk van die gedig.

“Dit is egter veral die digter-navorser se persoonlike emosionele meelewing met en ingeplaastheid in sy niemenslike omgewing waarin vir my die krag van die bundel lê, wat dit onderskei van sy vorige werk wat soms meer afstandelik was. Hier is duidelik ’n meesterstem aan die woord, ’n meesterhand, wat woorde maak. In In die bloute herinterpreteer Marais wat dit beteken om die interafhanklike verhouding van alle lewende dinge raak te sien, om ín te kyk en ín te skryf, oor al die grense heen: Terug op die strand hurk ek neer / en met my vingers teken ek / in die wit sand ’n halfmaan, kruis / en sirkel met pyle deurgetrek.”

Johann se volgende digbundel, Nomade (2014), word deur Cordis Trust uitgegee wie se kerkstrewe is om doelgerig en onbevooroordeeld te streef om die hartklop van die lewe en van die medemens te begryp en daadwerklik mee te doen met betekenisvolle steun vir gelyke kanse deur deernisvol op te tree (Teater van die lewe); moedertaal insluitend te bevorder (Afrikaanse woordkunsakademie); en geestelike groei (Boodskap van hoop).

In ’n onderhoud met Rudolf Stehle vertel Johann meer oor sy belangstelling in Afrika en sy reise op hierdie vasteland: “Ek was vier jaar oud toe ons vir my oom Les en tannie Bes Leite in Windhoek gaan kuier het. Die anderse atmosfeer en kulture van die ou Suidwes het my bygebly en was die voorspel tot my reise ná 1994 toe Suid-Afrikaners redelik vryelik in Afrika kon rondbeweeg. Ek het ons buurlande as ’n gewone toeris besoek, maar in 1998 was ek in Mosambiek om navorsing oor onwettige immigrante uit dié land te doen. My eerste reisboek, Lae wolke oor Mosambiek (2003), het gevolg. My mees intense ervarings was die besoeke sedert 2007 aan Kenia, wat my nou as ’t ware tweede burgerskap skuld. [...] My belangstelling in Afrika-geskiedenis en my huidige beroep het my ook op [verbeeldings-] reise na talle ander lande geneem.”

Op ’n vraag van Stehle oor hoe lank dit vir Johann geneem het om die gedigte wat in Nomade opgeneem is, te skryf, antwoord hy: “Die vroegste gedigte in die bundel is ná my eerste besoek aan Mosambiek geskryf. Ek dink veral aan ‘Maxixe’ na aanleiding van my eerste sien van ’n dhow, waaroor ek in vervoering was. Die meeste ander gedigte het ek oor ’n tydperk van ongeveer sewe jaar geskryf. In dié tyd het ek twee ander digbundels gepubliseer, maar die gedagte was om ook ’n bundel met ’n sterk Afrika- en reistema die lig te laat sien. Navorsing vir my proefskrif het my boonop kennis laat maak met figure soos die Marokkaanse reisiger Ibn Battuta; en Keniane soos die Mau-Mau-leier Dedan Kimathi, die vermoorde politikus Tom Mboya en die fotojoernalis Mohamed Amin.”

En of hy sy gedigte as geskiedskrywing sien, sê Johan: “Die gedigte wat oor ’n aspek van die geskiedenis handel, is almal so getrou moontlik op historiese bronne gebaseer. Ek probeer om verantwoordelik met dié bronne, en ander kennisvelde, om te gaan, omdat ek graag wil hê dat my gedigte ’n betroubare weergawe van die werklikheid sal wees. In ’n sin dra my gedigte moontlik tot geskiedskrywing by, want ons aanvaar nie meer dat geskiedkundiges die ‘alleenreg’ op die verlede het nie.”

In Tydskrif vir Letterkunde (2015) skryf Susan Smith: “Die bundeltitel aktiveer by die leser ’n verskeidenheid van verwagtinge: ’n tematiese fokus rondom die aksie van reis en van plek tot plek beweeg; die swerwende, onvaste aard van ’n swerwersbestaan; die teenstellende aspekte van aan die een kant die eksotiese ontdekking van die onbekende en aan die ander kant die vervreemding wat die onbekende meebring; en die reis nie net as fisiese reis nie, maar ook as geïnternaliseerde reis. Met hierdie assosiasies in die agterkop begin die leser se eie reis deur die landskap van die bundel.

“Die bundel is pragtig uitgegee en die voorbladkunswerk van Lynette ten Krooden met die gepaste titel, Timbuktu, sowel as haar pensketse wat met gedigte regdeur die bundel in gesprek tree, dra by tot ’n geskakeerde visuele ervaring.

“Dieselfde visuele rykheid vind neerslag in die digter se soeke na en verwoording van Afrika in sy kleurryke en dikwels teenstrydige geheel van teenstellings en botsings – die postkoloniale lewe teenoor die disintegrerende oorblyfsels van ’n koloniale bestel; die fokus op natuurgegewens en die mens se afhanklikheid van die natuur, maar ook die uitbuiting van natuurlike hulpbronne, soms juis deur dié wat daarvan afhanklik is; uiteenlopende godsdiensbeskouinge (met ’n gepaardgaande blik op die Islamgeloof en verwante simbole) en politieke onrus, geweld en oorlog. [...]

“Johann Lodewyk Marais bevestig met hierdie bundel nogeens die nisposisie wat hy in die Afrikaanse poësie beklee en verruim terselfdertyd die tematiek van sy oeuvre. Nomade is ’n heg gestruktureerde bundel wat met die uitsondering van enkele gedigte wat minder digtheid en dwingendheid vertoon, ’n waardevolle toevoeging maak tot sy bestaande oeuvre en substansieel daarmee in gesprek tree. ’n Hoogs aanbeveelbare bundel waarin die vrugbaarste sade [...] geheel / en al ongemerk ontkiem het.”

Op Netwerk24 sluit Marius Crous sy resensie van Nomade só af: “Johann Lodewyk Marais erken ook skatpligtigheid aan Opperman, en ’n mens kan dus hierdie bundel van hom lees as Marais se gesprek met Sonklong oor Afrika; as sy eie Sonklong-bundel.

“Tog slaag nie al die gedigte in Nomade nie. Etlike verse is soms bloot beskrywend en skep die indruk dat ons hier ’n soort sinopsis kry in vaste versvoet van dit wat die digter oor ’n bepaalde onderwerp gelees het, byvoorbeeld ’n kameel of ’n Arabierperd of ’n hond.

“Daar is egter tussendeur heelwat verse wat die leser opnuut bewus maak van die mens se vergrype op aarde – en die digter se vaardige omgang met die taal bevestig.”

Imprimatur is die uitgewers van Johann Lodewyk Marais se volgende bundel, Insektarium en ander gedigte, wat in 2018 verskyn het.

In Insektarium en ander gedigte sit Marais sy “missie” voort om die mens bewus te maak van die vernietiging van die aarde, skryf Bibi Burger (Die Burger, 28 Mei 2018). Daar is nuwe, asook vier ouer, gedigte in die bundel en dit was vir Burger nogal “onthutsend” om in 2018 die gedig “Heuningby” te lees wat al in 1969 geskryf is voordat bye so bedreig was: “Dit wys hoe lank Marais al besig is met idees waaroor die meeste mense eers redelik onlangs begin dink het.”

Op Versindaba (23 Mei 2018) skryf Heilna du Plooy oor Insektarium: “Nadat Marais die leser in hierdie inleidende afdeling bewus gemaak het van sy hooftemas, die wêreld en wat daarin leef, die kulturele ruimte waarbinne die digter leef en werk en die digter en sy vak as sodanig, handel die tweede afdeling oor die insekte in sy insektarium. Die insekte word nie slegs wetenskaplik beskryf nie. Hoewel die gegewens absoluut korrek is en elke insek se uniekheid uitgelig en sy funksie beskryf word, skep die verse betekenis na aanleiding van die insekte se rarighede en skoonheid. [...] Die derde afdeling van die bundel gaan oor giftige insekte, spinnekoppe en skerpioene en die digter tree in gesprek met ’n ander natuurkundige, Jacques Cousteau.

“Die vierde afdeling gaan oor bakterieë en visse en die laaste afdeling se gedigte gaan oor die ekologie (en die mens se plek daarin) in die algemeen. Daar word dus beweeg vanaf ’n tradisionele siening van die natuur as teenpool van die menslike, na ’n siening van die mens as deel van die natuur en ten nouste verstrengel daarmee,” verduidelik Bibi Burger ook.

Heilna du Plooy sluit haar resensie af: “Dit is juis hierdie subtiele vervlegting van mens en wêreld en skrywerskap wat mens bybly na die lees van die bundel. Hierdie eenvoudige verse is slegs oënskynlik eenvoudig: dit is eintlik uitgekristalliseerde gedagtes wat geëssensialiseer is in woorde, min woorde maar die juiste woorde. Die helderheid van gedagte en vers, in vorm en formulering, die onpretensieuse maar trefsekere hantering van woord, versreël en strofe, van klank en ritme sodat betekenis oorspoel na die leser, dit is sekerlik wat poësie veronderstel is om te doen.

“Die bundel sluit af met hierdie pragtige gedig:

DER UNTERGANG

Na die dialek van die insekte
het ek geluister, na hulle gaan soek
in die name van my moedertaal;
die heilige wetenskap afgekyk
en die plaasvervangende liggaamsdele
van die woord stuk vir stuk uitgepak.
Terwyl die einde nader kom, sien ek
op die plaas grafte waar wurms gewerk
en nooit skoenlappers geword het
om na die Laaste Oordeel te vlieg nie.
Met die wete van die dood skryf ek
die estetika van die lewe na.
Julle wat die grond ná my sal besit,
wees goed vir die aarde en alles hier.”

2020 begin goed vir Johann met die publikasie van twee digbundels: Ondertussen, wat deur Naledi uitgegee is, en Veldboek, wat later verskyn by Imprimatur, ’n uitgewer wat in Pretoria gesetel is.

Johann vertel aan AJ Opperman (3 November 2020) dat die bundels onder verskillende omstandighede ontstaan het: “Die gedigte in Ondertussen is meestal oor ’n lang tydperk geskryf, terwyl Veldboek die afgelope twee of drie jaar ontstaan het. Laasgenoemde was ’n meer gefokusde onderneming om uitgebreid oor bome, blomme en ander soorte plantaardiges te skryf. My liefde vir die flora het vroeg begin, maar is tydens meer onlangse staptogte en reise verder gestimuleer.”

Johann het baie goeie herinneringe aan sy grootwordjare op die familieplaas Sans Souci naby Harrismith: “Ek het groot waardering vir die natuurlike omgewing, wat ek heel dikwels maar in die stad moet soek. Wanneer ek hoegenaamd kan, bring ek graag tyd buite die stad in die natuur deur. My digbundels getuig van hoe belangrik die natuur vir my is om volledig mens te wees,” vertel hy verder aan Opperman.

Rondom hulle plaashuis was baie bome – bloekoms, seders en denne – en vir hom was bome ’n “durende teenwoordigheid”: “Daardie geluid van die wind in die bome sal my altyd bybly. Van die inheemse bome in die berge en klowe het ek eers later bewus geword. In die Laeveld en die Bosveld het ek met die ryke verskeidenheid van inheemse bome kennis gemaak en met die skryf van Veldboek het ek spesifieke plant- en blomspesies beter leer ken.”

Piet van Wyk, Jo Onderstall (’n oudinwoner van Harrismith) en Elsa Pooley is veldgidse wat hom gehelp het om plante te identifiseer.

In Ondertussen dig Johann Lodewyk Marais oor mense wat ’n indruk op hom gemaak het – mense soos Elsa Joubert, Anne Frank, Hendrik Witbooi, Louis Eksteen, Vincent van Gogh en die Iranse Siamese tweeling Landan en Laleh Bijani wat in 2003 gesterf het.

“Oor ’n klompie van hulle kon ek gedigte skryf. Hulle is skrywers, kunstenaars, vryheidsvegters, geteisterde mense en bowenal gewone mense wat verdien om in die herinnering te bly voortleef. Daar is verskillende fasette wat my belangstelling prikkel, maar, dink ek, veral die uniekheid van elkeen van hierdie mense.”

Ander onderwerpe vind ook neerslag in sy gedigte, soos gebeure in die Arabiese wêreld en in die Horing van Afrika: “Moontlik help dit om ’n meer geskakeerde beeld van die kontinent te gee. Ek probeer ook om elke gedig so goed moontlik af te rond.”

Hein Viljoen bespreek Ondertussen op Netwerk24 (24 Januarie 2021): “Johann Lodewyk Marais is ’n fyn gebruiker van die oorwoë woord en is veral bekend vir sy belangstelling in diere, die omgewing en groen poësie. [...] Ondertussen is sy 11de bundel en dra die tekens van ’n volwasse en beleë digterskap. [...]

“Die verse in die bundel is onderbeklemtoon, selde verse van die groot gebaar, maar tog wrang en skrynend oor menslike pyn en lyding.”

Op Versindaba sluit Daniel Hugo sy gedetailleerde bespreking van Ondertussen só af: “Ondertussen is ’n ryk bundel wat die broosheid van die mens, en veral van die mens in Afrika, onderbeklemtoond maar trefseker in Standaardafrikaans, ook ’n bedreigde spesie, verwoord.”

Op Woorde wat weeg vat Joan Hambidge Ondertussen só saam: “Johann Lodewyk Marais is ’n produktiewe en bekroonde digter wat terugbeweeg in Ondertussen na jeugherinneringe van die Oos-Vrystaatse landskap. Daar is reisverse deur Afrika en Europa. Liefdesverse en lykdigte. Ekologiese besinnings. Fragmente en langer verse. En politieke verse van langer terug en resente opstootjies. [...]

“Marais se verse is bekend om hul subtiliteit en suggestie. Die klein tersyde wat ’n mens altyd bybly: grootouers wat beskryf word róndom ’n skildery wat hulle nooit kon bekostig nie; ’n plaas in Harrismith waar die jeugherinneringe ópgevang word in ’n murasie; gesprekke met Pablo Neruda wat in die jongste bundel sluit met ’n vers wat Lorca en Neruda aktiveer. ’n Gedig oor Diego Maradona. 

“Landskapgedigte, so weet ons, handel dikwels oor ’n spanning tussen die buitelandskap en die binnelandskap. Die reisvers aktiveer ’n opposisie tussen bekend en onbekend. Die liefdesvers registreer (dikwels) ’n spel tussen verlange oor wat was en nou nie meer is nie. 

“Hierom die ‘ondertussen’ van die digbundel se titel wat liminaliteite en oorgange aktiveer soos uitgespel in COVID-19:

op die drumpel tussen lewe 
en nielewe het ’n organisme getalm [...]

“’n Mens sou hierdie bundel Jungiaans kon benader en nagaan hoe die digter hier tot heling en klaarheid kom. Van die oopsluit van herinneringe met die vader se bos sleutels (soos die programgedig ‘Sleutels’ waarsku) tot die slotgedig ‘Ode’ wat inspeel op Neruda en natuurlik, die vertaler, Uys Krige in Spaanse dans.

“Harrismith, Afrika, Europa en die Ooste word in reisverse opgeteken. Dit word geplaas teenoor lykdigte en liefdesverse. In die lykdig oor die nooit volprese sinoniem-optekenaar en rymsamesteller, Louis Eksteen (wat hy waardig en hoflik as u aanspreek), skryf hy:

Die dood het baie/min sinonieme. [...]

“Waar die laaste twee bundels dikwels te gestroop en spaars was, is hierdie bundel oorvloedig en aangrypend vir al in die jeugherinneringe. Die gedigte oor Afrika veral is besonders. As historikus gee hy dan ’n besonder interessante perspektief op Afrika wat ’n gesprek met Opperman aktiveer. Daar is ’n handvol uitstaande verse in hierdie ryp, beleë digbundel.”

Oor Veldboek skryf Joan Hambidge op Versindaba: “Dit is ’n boeiende bundel wat bekoor, ontroer en die leser imponeer met navorsing wat oënskynlik moeiteloos tot gedigte getransformeer is. Die vierde afdeling heet dan Geestelike eskarp en ’n mens vind hierdie digter ’n soeke na spirituele sin.

“Marais is ’n tydgenoot – soos Johann de Lange – en hul verse is en bly vir hierdie leser en digter ’n belangrike verslag van hoe ontwikkeling plaasgevind het. 

“Jeugherinneringe, grondhervorming, Afrika-belewenisse, die migrasieroetes van mense en plante (as peule saamgeneem word) en ’n uitgebrande boom, en die gedig as ’n totem, vind ons hier. Die ouer digter kyk telkens terug na sy ongeskonde plaasbestaan en met helderheid kan hy nou daardie mense en sy wêreld verstaan. Die plante en bome en swamme en grasse en ligene aktiveer dus meer as net die natuur. Neil Cochrane noem dit tereg op die agterplat ‘digterlike botanie’. Hierom dan ’n vers oor Thomas Pakenham soos ander botaniste en navorsers. [...]

“Imprimatur het met hierdie bundel ’n belangrike digter, sowel tematies as tegnies, vir ons gegee. ’n Mens kan net die hoop uitspreek dat ander boetiekuitgewers hierby kan leer met betrekking tot versorging en gehalte.”

Johann Lodewyk Marais was sedert 2021 baie besig, nie net met sy digwerk nie, maar ook met ander genres. Hy brei uit teenoor Marlies Taljard op Versindaba (5 Augustus 2023): “Sedert 2021 het daar drie niefiksie werke van my verskyn waarin ek oor die geskiedenis van Harrismith en die omgewing daar geskryf het. Die Platberg van Harrismith: ’n Geskiedenis (2021) handel oor die besondere berglandskap van die Oos-Vrystaat, waar ek my kinderjare deurgebring het en nog gereeld besoek. Mont Pelaan, Verkykerskop en Swinburne: ’n Kultuurgeskiedenis (2022) betrek in besonderhede drie nedersettings in die distrik Harrismith. My ervaring as leerling op Mont Pelaan se plaasskool was die oorspronklike inspirasie vir hierdie werk, wat die kollig op die landelike wel en wee van hierdie deel van die Vrystaat laat val.

“Verlede jaar het Kumbukumbu: ’n Reisboek oor Kenia (2022) verskyn, waarin ek oor my besoeke aan Kenia (en een hoofstuk oor die Sentraal-Afrikaanse Republiek) skryf. Die boek handel in hoofsaak oor my ervarings in Kenia terwyl ek aan my proefskrif oor ‘Internasionale reisliteratuur oor Kenia met spesifieke verwysing na die tydperk sedert onafhanklikheid in 1963’ (2013) gewerk het.

“My historiese benadering is sterk deur die Franse Annalesskool beïnvloed, wat in al die voorgenoemde publikasies duidelik behoort te wees. Hierdie benadering plaas die klem op die rol van die totaliteit van gewone mense, die klimaat, demografie, landbou, handel en tegnologie. Daarom benut ek ook verskillende genrevorme om my onderwerpe beter te verstaan. Voorts is my boek King Shaka (ca. 1781–1828): From shades of grey to fascination tans in produksie en sal dit in die lente die lig sien.

“Intussen het ek ook die gasredakteur van die nuwe tydskrif Streek/Region uit die Plus 50 Media-stal geword. Die eerste uitgawe betrek die Oos-Vrystaat in 29 splinternuwe artikels deur bekende en ingeligte skrywers en joernaliste van die streek en is tans op die rakke. Dit was ’n ervaring en voorreg om hierdie streek van die Vrystaat nog beter te leer ken en meer daarvan te vertel. Ek is bevoorreg om deel van ’n span te wees wat die tydskrif voortbring, en aan heelparty van die deelnemers is die geleentheid gegee om hulle verskyning op kykNET te maak.”

Oor Kumbukumbu: ’n reisboek oor Kenia skryf Joan Hambidge op Woorde wat weeg: “’n Uitsonderlike boek van die digter (en historikus) Johann Lodewyk Marais se reise na Kenia. Regdeur hierdie digter se digkuns is daar ’n bemoeienis met Afrika en meer spesifiek: Kenia. Die reisverslag is besonder insigryk met ’n historiese gegewens wat afgewissel word met die digter se indrukke. Oor die verskille in kulturele kodes, misverstande rondom taal, onverwagse tegemoetkomende gidse en natuurlik kansvatters. [...]

“Die voortdurende spel tussen belewenis en optekening (wat later gedigte word), is vir hierdie leser die belangrikste aspek van hierdie herinneringsboek, soos die titel reeds aandui. Hierdie reisverslag gee vir ons ’n kaart van die ruimte wat die reisende digter besoek. Ons beleef sy vreugdes en frustrasies. Maar dit is veral die kaarte van onthou wat hier tersaaklik is: ’n terugreis na sy jeug op Harrismith waar hy ’n swart taal aanleer as kind. [...]

“In hierdie reisverslag verwys hy na die Mau Mau; verder terug: die invloed van die Portugese seevaarders en Vasco da Gama se besoek in 1498. Later natuurlik, die kolonisering deur die Britte en hoe besetters ryk geword het weens koffie- en teeplantasies. Out of Africa deur die Deense skrywer Barones Karen von Blixen-Finecke (in 1937) karteer politieke oorgange.

“Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Kenia uiteraard voedsel en soldate voorsien aan die Britte. En die belangrike historiese oomblik beskryf Marais ook: in 1952 was Prinses Elizabeth en Prins Philip op besoek in Kenia toe haar vader, Koning George VI, in sy slaap oorlede is. Sy is terug Engeland toe en in 1953 as Koningin gekroon. Die opstande van die Mau Mau’s, Jomo Kenyatta en die opkoms van Daniel arap Moi is die ondergrond van hierdie vertelling met latere politieke woelinge. Leakey is hier en die Adamson’s met ’n uitgebreide bronnelys vir verdere lees.

“Uit Johannesburg, rigting Mosambiek, Tete, Malawi dan oor Tanzanië waar hy Berg Kilimanjaro sien. Mombasa en Malindi. Nairobi en Douala en Bangui ...

“Lees hierdie boek saam met Lae wolke oor Mosambiek (2003). Dis in ’n pragtige hardeband gepubliseer deur Imprimatur met mooi foto’s.

 Kumbukumbu beteken herinnering. Die werklike reise word gesinchroniseer met die reise van die hart.”

Johann se volgende bundel, Sirkelgang, verskyn 40 jaar ná sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud. In sy lesersindruk op LitNet van Sirkelgang skryf Alwyn Roux: “In die hedendaagse letterkunde is daar selde ’n werk so deurdrenk van ’n diepgaande begrip van die mens se plek in die groter konteks van ons planeet as wat Johann Lodewyk Marais se nuutste digbundel, Sirkelgang (2023), bied. Hierdie bondige bundel van sewe afdelings is nie net ’n magtige toonbeeld van Marais se meesterskap van die Afrikaanse taal nie, maar ook ’n getuienis van sy vermoë om belangrike en aktuele kwessies aan te spreek.”

En dan sluit Roux af: “Sirkelgang is ’n omvattende bundel wat kwessies soos klimaatsverandering, oorlog, pandemies en die voortbestaan van die planeet ondersoek. Marais bou voort op sy spesieverse, en die werk is ’n voortsetting van sy indrukwekkende poëtiese nalatenskap. Een van die hoogtepunte is beslis die 10-sillabetelling van die versreëls, ’n unieke kenmerk van Marais se poësie in Afrikaans. Hierby moet daar ook genoem word dat die bundel keurig uitgegee is deur Naledi. Sirkelgang is nie net ’n poëtiese kragtoer nie, maar ook ’n weerspieëling van die tydsgees en die diepe insigte van die digter.”

Oor die rol wat die muse in sy digwerk speel, vertel Johann vir Marlies Taljard op Versindaba: “Sirkelgang toon waarskynlik dat ek sekere bronne vir inspirasie het, wat deur leeswerk in ’n verskeidenheid velde gevoed word. Die tekste van ander skrywers help my om met ’n effens verrykte visie na die werklikheid te kyk. Min van my gedigte is uit die staanspoor vir my aanvaarbaar en min of meer bevredigend. Die inhoud van die gedig is telkens neergeskryf (en daar is heelwat sulke gedigte in my talle notaboeke), maar die afronding verg tyd en verdere besinning. Die gedig ‘Leroux op Onrus’ is byvoorbeeld kort ná Etienne Leroux se dood op 30 Desember 1989 geskryf, maar nou eers in ’n bundel opgeneem. Enkele verstellings was nog nodig en ek het baie jare nodig gehad om daardie insig te hê om dit te kan doen; ook selfs om my sekere wysigings of toegewings in gedigte ‘toe te laat’. Maar goed, normaalweg word my gedigte wel deur ’n sekere bemoeienis met die gegewe gepuur tot ’n afgeronde, geslypte vorm wat vir my bevredigend en bevrydend is.”

Daniel Hugo skryf op Netwerk24 só oor Sirkelgang: “[Johann Lodewyk Marais] skryf ’n unieke, byna onnavolgbare soort vers. Met ’n minimum aan tipies poëtiese middele noteer die digter sy ervarings: jeugherinneringe, reisbeskrywings, natuurwaarnemings en wye leeswerk. Die leser soek byvoorbeeld verniet na rym, wisselende ritmes en verrassende beeldspraak. Tog is die tekste wat hy skep, onmiskenbaar gedigte. Die strak en nugter optekening is bedrieglik en net skynbaar heeltemal deursigtig.

“Watter poëtiese middele wend hy dan wel aan? Lettergreeptelling (die versreëls bevat byna deurgaans tien sillabes), ’n verdiepende slotwending (hoewel nie altyd nie), intertekste (verwysings na ander digters) en verskuilde metafore. Die openingsvers heet inderdaad ‘Interteks’ en maak die leser dus uit die staanspoor attent op hierdie digterlike strategie. [...]

“Die verse in Sirkelgang pas soos legkaartstukke in mekaar en vorm ’n boeiende narratief vir die geduldige en aandagtige leser. Dit is nie ’n bundel van vuurwerke nie, maar van ’n smeulende intensiteit wat sy gloed lank sal bewaar.”

In 2024 verskyn Johann Lodewyk Marais se boek oor koning Shaka. Op Versindaba wou Martjie Bosman by hom weet waarom hy so ’n studie aangepak het. En of daar nog vandag ’n mondelinge tradisie in isiZulu bestaan waarin die historiese figuur/legendariese koning van die Zulu’s oorgelewer word?

Hierop antwoord hy: “Ek het in my standerd 9-jaar op Harrismith, naby KwaZulu-Natal, die eerste keer met koning Shaka kennis gemaak. Dit was helaas nie in Geskiedenis, een van my vakke vir matriek nie, maar danksy ’n artikel in die tydskrifbylae van Rapport. Die artikel het oor Cecil Skotnes en Stephen Gray se indrukwekkende The assassination of Shaka (1974) gehandel, wat kort tevore verskyn het. Veral Skotnes se houtsneekuns-afdrukke het my én van my skoolmaats beïndruk en iets van die Zulu-monarg se lewe en gewelddadige en tragiese einde gewys. Gray se gedigte en, in die artikel, ’n verwysing na die bronne wat hy gebruik het (onder meer ’n gedig van DJ Opperman), het my belangstelling geprikkel. André P Brink se gloeiende resensie in Rapport van prof Chris Swanepoel se eerste Afrikaanse vertaling van Thomas Mofolo se roman Tjhaka (1974/1926) en die lees van die roman het my verder op Shaka se spoor gesit. Vandag leef hy ongetwyfeld nog voort in die mondelinge Zulu-tradisie. Of daar in hierdie vertellings nuwe of tot dusver onopgetekende inligting bestaan, is wel debatteerbaar. Dan Wylie, waarskynlik Shaka se belangrikste (anti-)biograaf, meen dit is onwaarskynlik. Ek verkies om die moontlikheid oop te laat en erkenning te gee aan die rol van mondelinge oorlewering in die bestudering van die geskiedenis.”

Johann vertel voorts aan Bosman dat die historiese navorsing oor Shaka moet voortgaan en beskikbare bronne moet verken en herinterpreteer word. “My boek probeer om rigting in hierdie verband te gee en minder bekende tekste te betrek. Die gesprek oor Shaka as historiese figuur gaan voort soos blyk uit die onlangse publikasies en werk oor hom in ander media, wat aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis help herinterpreteer. Ons moet voortgaan om te probeer uitvind wie ‘die ware Shaka’ en sy moeder, koningin Nandi, was. Laasgenoemde is een van die projekte wat tans my aandag verg.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, vertel Johann aan Beeld (16 April 2001) dat dit beslis Mahala van Chris Barnard is: “Daar was iets geheimsinnigs aan Helmut Starcke se ontwerp op die omslag van die boek: op die voorblad ’n rivier met tropiese plante op die oewer, en op die agterblad gesigte in die blomme.

“Maar dit was die vlugtende Max Delport en sy antagonis, Ritter, wat my al dieper in die hart van dié boek ingetrek het. Die bedreiging en die vrees waarmee Delport saam met An en die kind gelaat is, het as ’t ware in alles gaan sit. Die tropiese atmosfeer, stemming en leefwyse in Mosambiek tydens die Portugese koloniale heerskappy voor 1974/’75 het my geboei.

“Ek het ’n kompulsiewe Mahala-leser geword. Een keer per jaar, wanneer die weerlig begin uitslaan en die eerste reën val, haal ek die boek van die rak af. Sedertdien het ek drie referate oor Mahala gelewer, en lank navorsing in die Laeveld gedoen, en self Mosambiek besoek, wat die broeiende wêreld in dié roman vir my verder oopgemaak het. Martin Heidegger, Pablo Neruda, DJ Opperman en talle ander digters, skrywers en filosowe het waarskynlik ’n groter invloed op my gehad, maar Mahala is soos ’n jeugliefde wat ’n mens bybly. Dit alles maak net vir my halfpad sin.” (Beeld, 16 April 2001)

Publikasies:

Publikasie

Die somer is ’n dag oud

Publikasiedatum

1983

ISBN

0798116064 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Ingrid Jonker-prys 1984

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Nuwe digter wat sy sê kan sê. Rapport, 11 Desember 1983
  • Britz, EC: ’n Suiwer eenvoud. Die Burger, 5 Januarie 1984
  • Debuutbundel vir Johann. Fokus op die RGN, November 1983
  • De Lange, Johann: Die somer is ’n dag oud ... Vaderland, 5 Desember 1983
  • Die somer is ’n dag oud... Standpunte, Augustus 1985
  • Die somer is ’n dag oud. Tydskrif vir Letterkunde, November 1984
  • Eksteen, LC en LC Malan: Commendatio Ingrid Jonker-prys 1984. De Kat
  • Húl soek Jonker-prys. Beeld, 15 Julie 1985
  • Johann kry Ingrid Jonker-prys. Vaderland, 19 Julie 1985
  • Johann Lodewyk Marais: INTAK se eie digter wen die Ingrid Jonker-prys. Fokus op die RGN, Augustus 1985
  • Johann Marais wen Jonker-prys. Volksblad, 24 Julie 1985
  • Marais kry literêre prys. Die Burger, 23 Julie 1985
  • Marais se “Somer” bekroon met die Ingrid Jonker-prys. Beeld, 20 Julie 1985
  • Pienaar, Hansie: ’n Belowende digter ... Beeld, 14 November 1983
  • Versorgde poësie in debuutbundel. Volksblad, 21 Januarie 1984

 

Publikasie

Opleiding in skeppende skryfwerk: ’n sisteembeskrywing

Publikasiedatum

1987

ISBN

0796905266 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: Dink deeglik en dink groot oor “skryfskole”. Die Burger, 17 Maart 1988
  • Hambidge, Joan: Waarde van dié handleiding onskatbaar. Vaderland, 13 Junie 1988
  • Marais, Johann Lodewyk. Opleiding in skeppende skryfwerk: Die skryfskool aan die Instituut vir Voortgesette Opleiding van UNISA (1985-1993). Literator, Augustus 2000

 

Publikasie

Palimpses

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798122315 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Gibson, Erika: Marais verken weer. Transvaler, 21 Julie 1987
  • Hambidge, Joan: Bundel bevestig belofte van knap digterskap. Beeld, 8 Februarie 1988
  • Malan, Lucas: ’n Jeug herskep. De Kat, Maart 1988
  • Pienaar, Hans: Kanoniseerders gefnuik. Insig, Mei 1988
  • Van der Lugt, Pieter: Groter beheer, groter selfvertroue. Die Burger, 21 Januarie 1988

 

Publikasie

By die dinge

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798124679 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Riana: Onpersoonlike, maar betrokke visie op alledaagse wêreld. Die Burger, 8 Februarie 1990
  • Cloete, TT: Dig oor dinge van elke dag. Volksblad, 23 Desember 1989
  • Hambidge, Joan: Poësie met magiese momente. Beeld, 11 Desember 1989
  • Malan, Lucas: Die gewone word ongewoon. De Kat, September 1989
  • Van realisme na magiese. Transvaler, 26 Februarie 1990
  • Van Vuuren, Helize: Rustige, tevrede, huislike poësie. Vrye Weekblad, 12 Januarie 1990

 

Publikasie

Aves: gedigte

Publikasiedatum

2002

ISBN

1919825517 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Grové, AP: Digterlike voëlgids bied leesplesier. Beeld, 8 April 2002
  • Hambidge, Joan: Bundel bevestig Marais se talent. Die Burger, 15 April 2002
  • Marais, Johann Lodewyk: Om oor voëls gedigte te skryf
  • Naudé, Charl-Pierre: Marais is ’n St Franciskus van die woordsaad. Rapport, 12 Mei 2002
  • Odendaal, Bernard: Poësie oor mens, voël belangrike bydrae. Volksblad, 1 April 2002
  • Parker, Elize: Onlangs verskyn. Sarie, Junie 2002
  • Pieterse, Henning: Poësie. Insig, Maart 2003
  • Weideman, George: Raakvat-woorde. Taalgenoot, Junie 2003

 

Publikasie

Plaaslike kennis: gedigte

Publikasiedatum

2004

ISBN

186919036X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Lae wolke oor Mosambiek: ’n reisboek

Publikasiedatum

2004

ISBN

97806200301169 (sb)

Uitgewer

Wonderboompoort: Skeurklip Uitgewers

Literêre vorm

Reisjoernaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Diorama: gedigte

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781869193652 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2012 Sala-toekenning vir Poësie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

In die bloute: gedigte

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780987039712 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Cordis Trust

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Nomade

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780987039781 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Cordis Trust Publikasies

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Insektarium en ander gedigte

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780620775823 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Imprimatur

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Ondertussen: gedigte

Publikasiedatum

2020

ISBN

9781928518556 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Veldboek: gedigte

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780620903967 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Imprimatur

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Kumbukumbu: ’n reisboek oor Kenia

Publikasiedatum

2022

ISBN

9780629743981 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Imprimatur

Literêre vorm

Reisboek

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Sirkelgang

Publikasiedatum

2023

ISBN

9781991256096 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die Platberg van Harrismith: ’n geskiedenis

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780620938822 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Imprimatur

Literêre vorm

Vrystaatse geskiedenis

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Mont Pelaan, Verkykerskop en Swinburne: ’n kultuurgeskiedenis

Publikasiedatum

2022

ISBN

 9780639728476 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Imprimatur

Literêre vorm

Kultuurgeskiedenis

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Stormlantern: ’n reisboek oor Botswana. Saam met Christili Muller

Publikasiedatum

2024

ISBN

9780037019661 (sb)

Uitgewer

Prins Albert: Turksvy Publikasies

Literêre vorm

Reisboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

  • Koning Shaka (ca 1781-1828): van skakerings grys tot fassinering
  • King Shaka (ca 1781-1828): from shades of grey to fascination

Publikasiedatum

2024

ISBN

9780796128430 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Imprimatur

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Johann Lodewyk Marais as samesteller

  • Groen: gedigte oor die omgewing. Pretoria: HAUM-Literêr, 1990 [ISBN 0798630434 (hb)]
      • Bouwer, Stephan: Bundel beweeg ’n mens byna om “groen” te word. Rapport, 4 September 1997
      • Hambidge, Joan: Gedigte oor die omgewing. Beeld, 18 Junie 1990
      • Kannemeyer, JC: “Die broos seepbel wat ons bewoon”. Die Burger, 7 Junie 1990
  • Honderd jaar later: ter viering van Eugène Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905. Dainfern: Praag, 2006 [ISBN 1920059040 (hb)]
  • Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing. Saam met Ad Zuiderent. Pretoria: Van Schaik, 1997 [ISBN 0627022669 (sb)]

Artikels oor Johann Lodewyk Marais

 Artikels deur Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-08-20 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top