ABSA Ketting: Johann Lodewyk Marais gesels met Alexander Strachan

  • 0

1. Jy bly nou die afgelope twee jaar permanent in Milnerstraat op Harrismith. Hoe het dit gekom dat jy jou daar gaan vestig het?

Ek en my broer Johannes het dit drie jaar gelede reggekry om my oupa se familieplaas terug te koop. Op daardie stadium het ek in Johannesburg gewoon en dit het die plaas baie onbereikbaar gemaak. As gevolg van die afgeleë ligging van die plaas moes ek noodwendig 'n huis in die dorp kry - 'n ou huis met 'n eiesoortige plaaskarakter. Verder was ek ook moeg vir die groot stad se bedrywigheid en gejaagde tempo. Harrismith was 'n logiese keuse omdat dit die naaste dorp aan die plaas is. Die eiesoortige sandsteenboustyl van die omgewing is vir my 'n groot bekoring en as ek op die plaas tussen die sandsteenkoppe rondry, voel dit dat tyd hier gaan stilstaan het en die verlede en die hede ineenvloei. Jy kry die gevoel dat dit is soos dit eeue gelede was. Niks het hier verander nie.

2. Toe ek onlangs saam met jou Oude Hamelberg toe gery het, het jy my jou oupa Alex se opstal gaan wys waar hy teenaan die pad ’n plaaswinkel gehad het. Dit is ’n baie mooi plaas tussen die berge langs die boloop van die Wilgerivier waar jy graag saam met jou oupa gaan visvang het. Het jy die rondawel al reggemaak en wat beoog jy om op die plaas te doen?

Ek boer op die oomblik met vleisbeeste daar. Ek het die murasie skoongemaak, die bloekombome wat daarbinne gegroei het, afgekap en vergiftig, en die vloer gelykgemaak. Die plankvloere is vir ewig weg en die murasie sal waarskynlik nooit 'n dak opkry nie, maar dis 'n lekker gevoel om daarbinne rond te stap. Die plek het 'n teenwoordigheid. Ek herken nog elke kamer, al het ek die sooi-binnemure afgebreek, en ou herinneringe kom terug as ek daardeur stap. Selfs die kaggel is nog steeds daar en die werkers maak soggens daarin vuur om hul hande warm te maak.

Die plaaswinkel is nou net 'n herinnering van ingevalle klip wat nooit weer sal herleef nie. Die rondawel (oorspronklik my oupa se vleiskamer) het darem intussen 'n dak opgekry met dekgras wat ek in KwaZulu-Natal gaan koop het en dit bied goeie skuiling teen die wilde weer van dié bergwêreld. Dis altyd donker in die rondawel, want daar is net 'n klein venstertjie in en die hoë bloekombome maak dat die geboutjie nooit son kry nie en altyd in skadu gehul is. Ek het ook die werf skoongemaak en die heining teruggesnoei. Dit was eienaardig dat, nadat ek aan die grond geroer het, die plante uit my ouma se beddings skielik weer begin uitloop het. Die kweekgras het ook na al die jare weer begin groei.

Visvang op die plaas is nie meer soos ek dit uit my kinderjare onthou nie. Vroeër jare het die visse altyd opwaarts geswem tot in die bo-stroom van die Wilgerivier wat op die buurplaas, Toronto, ontspring, maar omdat die wilgers so oorgeneem het, het die rivier al smaller geword. So het die visvang tot niet gegaan.

3. Mense assosieer jou altyd met KwaZulu-Natal, waar jy grootgeword, later met wild geboer en aan die Universiteit van KwaZulu-Natal gedoseer het. Jou plaas is egter nou aan die Vrystaat-kant op die Drakensberge, 12 km van die plaas af waar ek grootgeword het. Ek het hierdie deel van die Vrystaat altyd as ’n “tussenwêreld” tussen die Vrystaat en KZN ervaar. Ervaar jy dit ook so?

Jy is reg. In hierdie omgewing is die mense tweetalig (Zulu en Sotho) en ek kom baie gemaklik in Zulu met die gemeenskap oor die weg. Dis 'n onherbergsame wêreld en jy sien selde motors of fietse. Die vervoermiddel hier is perde, en dan ook perde wat eie aan die omgewing is - 'n perderas wat generasies oorleef het met langerige hare, aangepas by die skielike koue en mistigheid wat soggens toeval. Op sulke oggende laat die dag hom nie voorskryf nie en wag almal vir die mis om te verdwyn voor die werk begin. Dis 'n bergwêreld met 'n misgordel waar die klimaat nie eie is aan óf die Vrystaat óf KZN nie. Die paaie is sleg en uit die berghange syfer daar gedurig water. As jy die plaaspaaie wil ry ná die reëns geval het en jy baie moed het, kom jy in die somer net met 'n 4x4 waar jy wil wees.

4. Die Nguni-beeste waarmee jy boer, het pragtige velle en die vrystelling van die dokumentêre rolprent Heaven’s Herds gaan heelwat mense van hierdie besondere inheemse beeste bewus maak. Is die kouer Vrystaat geskik om met hulle te boer?

Die Nguni is 'n geharde ras en kom uit die warmer dele van KwaZulu-Natal. Soos alle beeste sukkel hulle egter ook om in die eerste jaar in hierdie mistige klimaat aan te pas, maar na die eerste winter raak hulle vinnig daaraan gewoond en dan het jy steeds die voordeel dat jy met 'n taai bees boer. Natuurlik boer ek nie met suiwer Nguni's nie, eerder 'n mengsel van verskillende rasse. Verder moet jy in gedagte hou dat my boerdery eintlik maar belaglik klein is in vergelyking met die ander boerderye in die omgewing. Maar daar is na al hierdie jare darem weer Strachan-beeste op Oude Hamelberg. As gevolg van onlangs ingekoopte beeste het die koeie vanjaar te vroeg begin kalf, en ek weet nie of die kalwers die strawwe klimaat sal oorleef nie, maar jy hou moed. En jy hoop.

5. Jy is ook baie lief vir perde en het vir jou ’n duur Australiese saal gekoop. Kry jy nog tyd om aan ’n roman te werk as jy so baie boerderybelangstellings het?

Die perdry hou my fiks en die plaas inspireer my. Elke boerdery, hoe klein ook al, het sy eie bekommernisse en jy probeer maar gedurig jou skades beperk. My aandag is dus nie altyd by die skryfwerk nie; dis 'n luukse wat behoort aan skrywers wat voltyds voor die rekenaar kan sit. Maar ek kry stof uit elke dag se gebeure en as 'n skrywer met min verbeelding put ek hieruit. So iewers in my skryfwerk sal Oude Hamelberg ook deurskemer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top