Resensie: Nomade deur Johann Lodewyk Marais

  • 0

Titel: Nomade
Skrywer: Johann Lodewyk Marais
Uitgewer: Cordis Trust
ISBN: 9780987039781

Johann Lodewyk Marais is bekend vir sy omgewingspoësie en reisgedigte. Met die lees van sy nuutste digbundel, Nomade, kan jy ook maar jou Afrika-atlas, ’n paar geskiedenisboeke en ’n plant- en dieregids byderhand hou. Volgens die uitgewersnota karteer “die digter as optekenaar, as ontdekkingsreisiger” in dié bundel die “geografie”, “die bloedige geskiedenis van ’n kontinent, die stryde om besit daarvan, en die tydelikheid van tekens”.

Die kunstenaar Lynette ten Krooden is verantwoordelik vir die kunswerk in sand en goudblad getiteld Timbuktu wat op die buitelblad van die bundel verskyn. Daar is verder 45 van haar sketse in die bundel opgeneem. Aanvanklik het die eenvoudige lynsketse in die bundel my nie werklik geboei nie. Soos ek verder gelees het, het ek egter besef dat dit gesien kan word as die vinnige, rowwe tipe sketse wat ’n reisiger in ’n reisjoernaal sal maak om later sy/haar geheue mee te verfris.

Die bundel bestaan uit agt afdelings, waarvan die tweede deel gewy word aan gedigte oor bome; die derde diere; die vierde geskiedkundige figure wat strek van Hypatia, ’n vroulike wiskundige en sterrekundige wat tussen 315 en 415 nC in Alexandrië woonagtig was (“Hypatia”, 35), tot Nelson Mandela (“Nelson Mandela”, 45); en die vyfde geografiese plekke in Afrika. Die geskiedenisse van plant, dier, mens en plek word op gelyke voet naas mekaar geplaas. Hulle stories versmelt ook met mekaar. In “Ebbehout” (22) uit die tweede afdeling hou die reisiger ’n beeld uit Dar es Salaam gemaak uit Dalbergia melanoxylon (sebrahout of driedoringebbehout) in sy hande vas. Die boom (die natuurlike voorwerp) is omvorm tot ’n kultuurvoorwerp, maar die oorsprong van die hout word tog opgeroep deur die noem van die wetenskaplike naam van die boom. In die “dier”-afdeling gaan dit spesifiek oor die wisselwerking tussen mens en dier: die teling van opregte arabierperde (“Arabierperd”, 27); die verhouding tussen Bedoeïnes en hulle kamele (“Kameel”, 29); en die ruil van “roltabak en koperdraad” vir “lewende hawe” in koloniale tye (“Boerbok”, 31). In die “mens”-afdeling is die beeld van die dier ook gedurig teenwoordig. Ibn Battuta, ’n Islamitiese reisiger uit die 14de eeu, stap “onder sonkappe/ met goue voëls versier” (“Ibn Battuta”, 36) en David Livingstone se oorblyfsels word uitgeken as gevolg van “die linkerboarmpyp wat lank terug/ gebreek is deur ’n stormende leeu” (“David Livingstone”, 37). Een van die treffendste beelde van die interaksie tussen mens en dier kom voor in die gedig “Hamerkop by Dunga” (72) in die sesde afdeling:

Die hamerkop in die mvula
loer uit haar lae nes van stok en lap
en draad en plastiek en gras
oor die hawe waar almal welkom is
[...]

Hier handel dit nie oor die verre verlede nie, maar oor die hedendaagse mens se invloed op die omgewing.

Die gegewe van die verloop van tyd, tydelikheid en verganklikheid kom veral na vore in die sewende en agste afdelings. Alhoewel dit voorkom asof tyd stilstaan in die uitstallings van ’n olifantskelet en opgestopte voëls in Nairobi se nasionale museum, is verganklikheid hier ook sigbaar (“Ahmed van Marsabit”, 78; “Bird Hall”, 79): as die reisiger die museum verlaat,
“breek ’n stuk marmer los onder [sy] hak” op een van die trappe (“Bird Hall”, 79).

Dit is ook nie net in mensgemaakte ruimtes soos die museum waar “die tydelikheid van tekens” duidelik is nie, maar ook in natuurlike ruimtes. In “Skeurklip” (89) begin klippe wat “deur die millennia heen/ onwrikbaar op mekaar bly staan” het, te tuimel totdat daar “niks van die grootste landmerk/ op die veld” oorbly nie. In “Oorlees” (90) en “’n Lewe” (91) besef die digter dat sy woorde en sy persoonlike geskiedenis ook uiteindelik sal vervaag en verdwyn.

In die uitgewersnota word daar gemeld dat Marais met Nomade “nuwe wêrelde vir sy poësie [en] die Afrikaanse poësie verwerf”. Ek beskou die bundel nie as besonder vernuwend of baanbrekend nie. Dit is egter ’n pragbundel, en net ’n meesterdigter soos Marais kan reëls soos die volgende voortbring:

Nou lees ’n man met leersandale aan
in ’n stokou manuskrip van tye
toe koopliede en bedevaartgangers
maande lank deur die duine getrek het
met die gang van die sterre en die wind
soos ’n kameel se leisels losgeknoop (“Timboektoe”, 64).

Een beswaar is dat daar moontlik te veel gedigte (’n volle 59) in die bundel is en al die gedigte nie ewe sterk is nie. ’n Nomadiese reis deur die bladsye van hierdie bundel word wel ten sterkste aanbeveel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top