Sirkelgang deur Johann Lodewyk Marais: ’n resensie

  • 0

Sirkelgang deur Johann Lodewyk Marais (Naledi, 2023)

Titel: Sirkelgang
Skrywer:
Johann Lodewyk Marais
Uitgewer: Naledi (2023)
ISBN: 9781991256096

’n Sirkel dra assosiasies van orde en beheer. Dit is ’n volmaakte vorm van heelheid, veiligheid en beperking. ’n Kringloop of sirkelgang impliseer beweging en tydsverloop. Ons herken dit as argetipe, neem dit waar in die natuur  en pas dit toe in die kunste. Wanneer ál die betekenisse van die woord saamkom in een digbundel, ervaar die leser dat noukeurige waarneming kan lei tot dieper insig, ingehoue ontsteltenis en selfs ’n tipe nugter ekstase. Só het ek Johann Lodewyk Marais se nuutste bundel, Sirkelgang, beleef.

Marais is bekend as ’n beheerste en beplannende digter wat by uitstek met suggestie en subtiliteit werk. Soos ’n wetenskaplike hou hy dop en dokumenteer getrou, ongeag die resultaat van sy waarneming. Die gevolgtrekkings wat hy maak, word nie hiperbolies aangebied nie, maar tref dikwels met akute berekendheid in woordkeuse of verrassende beeldtoepassing. Hierdie werkswyse vind ons opnuut in Sirkelgang (sy 14de bundel). Dit is egter nie blote herhaling nie – eerder ’n nuwe reis na jeugmomente, historiese figure, geografiese bestemmings en ruimtes in die mens se bewussyn.

Marais is navorser, historikus en letterkundige. Hy debuteer in 1983 as digter en ontvang die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud. In 2012 wen hy die Sala-toekenning vir poësie met sy bundel Diorama. Hy is ook die samesteller van drie bloemlesings in Afrikaans. In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, Lae wolke oor Mosambiek: ’n reisboek, wat hy opvolg met nog drie boeke: Die Platberg van Harrismith: ’n geskiedenis (2021), Mont Pelaan, Verkykerskop en Swinburne: ’n kultuurgeskiedenis (2022) en Kumbukumbu: ’n reisboek oor Kenia (2022).

Die digter se oeuvre is ’n legkaart; elke bundel is ’n boustuk en die leidrade word in die gedigte self gegee. Marais verklaar homself telkens as ’n Afrika-gerigte digter, soos ook in die slotstrofe van “Reisplan”:

Ek wil my land
en die kontinent leer ken,
bewus net van sterre en wind.
Met ’n AA-kaart op my knie
reis ek my Afrika vol.

Hierdie gedig beweer moontlik selfs dat die leunstoelreisiger ook ’n kontinent kan verken; ’n ligte verwysing na die waardevolle rol van navorsing.

Tydens ’n aanlyn gesprek¹ met Alwyn Roux definieer Marais die gedig “Interteks” as waarskynlike ars poëtiese aanduider:

Interteks
Na John Updike

’n Mens kan nie verhelp om meer te leer
wanneer jy die aarde in jou hand neem
en gebuk by die kleisloot ’n vorm,
oeroud én nuut, te voorskyn wil bring nie.
Tel dit met eerbied op: Dit is rou klei
met miljoene vingerafdrukke op.

In hierdie kort gedig kom al die elemente van Marais se digterskap bymekaar: die mens, die natuurwetenskappe, die kunsmaking, die verloop van tyd, die aaneenskakeling van generasies, die grondstowwe van die planeet, die kind se speelmilieu en die digter se skatpligtigheid teenoor ander digters, net soos die mens se skatpligtigheid teenoor vorige beskawings. Die onvermydelikheid van die weetgierige se konfrontasie met realiteite word reeds in die eerste versreël aangedui en bied aan die leser ’n blik op die digter as natuurwetenskaplike waarnemer se ingesteldheid teenoor die heelal. Om onverskrokke te dokumenteer is een manier waarop die soeke na begrip voortgesit word.

Die verwagte sirkelgang van lewe en dood, jeug en ouderdom word in die bundel teruggevind. Marais keer dikwels in sy oeuvre terug na jeugherinneringe, en in Sirkelgang ervaar die leser hoe die kind die grootmens bewoon, soos dit vir ons almal die waarheid is. Die eerste gedig in Afdeling I bied ’n tipiese kinderaksie aan – ’n persoonlike “museumpie” waarin plastiekdiertjies langs versteende blare uitgestal word, sonder die kritiese waarde-onderskeid wat volwassenes eers later toepas. Tydgenote van Marais herken die fyn besonderhede wat gegee word, terwyl heel jonger mense dit dalk selfs as artefakte uit die verlede sien. Op sigself dui hierdie gegewe ’n kleiner tydsverloop aan wat deel is van die geskiedenis, argeologie en groter geheel.

Lucky packets

By oom Piet en tannie Liet se winkel
koop ons graag in die dae van die week
toffies, suigstokkies en Lucky Packets.

Teen ’n tiekie op ’n slag bly verras
die inhoud my elke keer mateloos
en lê my kamer gou vol allerlei.

Uit die pakkies kom alles te voorskyn:
fluitjies, poppies, ’n Oosterse waaier,
paddamanne en ’n Beatles-badge.

 Dan opeens kry ek ’n dinosourus
met stekels op die rug, ’n lang nek
en reusekake om hom te kan vrees.

Op pad plaas toe ry Pa verby
’n plek waar versteende blare voorkom –
gou stilhou, stukke optel en saamneem.

By die huis sit ek in die uitstalkas
daardie reptiel uit ’n oerverlede
wat pryk tussen figure van plastiek.

Marais het veral as ekodigter bekend geword en in Sirkelgang kom die groter spektrum van die Antroposeen en spesieverse aan bod. Ter bewaring, ter optekening, ten einde insig en begrip te verkry, bou die digter bundel vir bundel aan ’n geheel wat verrys soos ’n argief of ’n diorama teen die horison. Die tegniese vaardigheid en indrukwekkende struktuurdissipline wat kenmerkend is van Marais is deurgaans teenwoordig en bied ryke stof vir ontleding. Ek bepaal my vir hierdie kort bespreking egter by die inhoud van die bundel.

........
Marais het veral as ekodigter bekend geword en in Sirkelgang kom die groter spektrum van die Antroposeen en spesieverse aan bod. Ter bewaring, ter optekening, ten einde insig en begrip te verkry, bou die digter bundel vir bundel aan ’n geheel wat verrys soos ’n argief of ’n diorama teen die horison.
........

Terug by die woord sirkelgang. My assosiasies reeds hier bo genoem, voeg ek nou by: roetekaart, planetepad, reisplan en herhaling. Ek kyk ook wat die woordeboek sê: “Sirkelgang: In homself gesluite beweging: sirkelvormige beweging. Die sirkelgang van die geskiedenis” (HAT). Ek kou aan die gedagte dat ’n sirkelgang ook vooruitgang kan aandui en dat daar tekens van progressie in die bundel kan wees. Vinnig kyk ek na die eerste gedig van Afdeling I en die laaste gedig in die laaste afdeling. Ja, daar is die vordering: van die kind met die tiekie na die voorouers in die grafte. Die sobere toon van die laaste gedig staan in sterk kontras teenoor die ligte vreugde van die eerste gedig.

As leser kies ek egter om met ’n eerste lees deur die bundel te drentel en wanneer ek die boek toemaak, uit elke afdeling ’n gedig te kies wat my bybly. Nie noodwendig omdat dit die beste is nie, maar waarskynlik omdat dit waarby ons subjektief aanklank vind, heel idiosinkraties is. Dit is ook hoe ek wil aanbeveel dat enigeen wat die bundel aanskaf, die gedigte probeer beleef; want hoogs toeganklik is hierdie verse, met raakpunte wat elke leser kan raaksien en waardeer.

........
Ek kou aan die gedagte dat ’n sirkelgang ook vooruitgang kan aandui en dat daar tekens van progressie in die bundel kan wees.
........

Afdeling I bevat jeugherinneringe en ek verkneukel my in ’n versreël, want ek weet nie of die digter dalk my humorsin deel nie, maar die dubbelbetekenis verskaf plesier as ek voor my geestesoog sien dat Darwin aankom aan die Kaap

om by af te klim, uit te stap
en te kyk wat aan’t verander is.

Getrou aan Marais se werkswyse, is die feit dat Darwin natuurlik wél besoek aan die Kaap gebring het; hierdie is nie ’n fantasievlug nie.

In Afdeling II vind ons plekgedigte en verdere jeugbelewenisse. Die meelewende, maar onsentimentele blik op die mense en plattelandse omgewing is vervleg met ’n liefde vir die landskap. Besoeke van gaste en ook besoeke aan bekende figure word taamlik boeiend aangebied, met die gevolg dat die leser soms byna-byna kan hóór hoe mense in vertrekke gesels, lag en etes geniet. Die bal-en-klou-meubels iewers in ’n voorhuis bly my nogal by. Maar die vers wat ek nie uit my kop kan kry nie, is die onthutsende “An African Farm” met sy presisie van kleurplasing en die huiwerende oomblik wat herinner aan ’n foto en Cartier-Bresson se “Decisive moment”, die spanning voelbaar, maar gestol. Ek laat dit aan die leser oor om hierdie gedig te gaan soek op bladsy 28 in die bundel.

Alhoewel daar nie ’n gebrek aan patos is nie, het Afdeling III meer op ’n universele as op ’n persoonlike wyse tot my gespreek. Ek het die insluiting van mitologiese parallelle waardeer, tesame met die verplasing na eie omgewing. “Kroegpraatjies” herinner my aan “Die begrafenis” van Eitemal, met die man wat nou anders optree, of ander omstandighede beleef. Ek het die interteks met NP Van Wyk Louw geniet in die gedig “Onvoltooid II”, en dit is ook die gedig wat ek die beste onthou uit hierdie afdeling, vanweë die slim woordspel en die sterwensbewustheid in die aangesig van die geliefde. Ek wonder ook, terwyl ek nogmaals stilstaan by die woord interteks, of ek sou kon uitkom by ’n eie klein studie van intráteks by die digter – dit kan interessant wees in die lig van 14 bundels wat stof bied.

Afdeling IV, die middelste afdeling, is die enigste met ’n titel, en dit sluit in verwysing aan by nóg ’n natuurwetenskaplike digter, Eugène Marais. Die titel “Siel van die slang” is weliswaar ’n inspeling op “Siel van die mier”. Natuurlik is hierdie bundelafdeling ’n korter studie, maar akkurate tekening word nogtans aangevul deur geïmpliseerde aspekte van die psigologie. Hierdie afdeling is kenmerkend van Johann Lodewyk Marais se spesieverse. Ses of sewe soorte slange word aangebied, afhangende daarvan of mens dié in mites en legendes as werklike slange beskou of nie. Die gedig oor die alombekende molslang is vir my besonder treffend, maar dit was moeilik om te kies, omdat hierdie afdeling so sterk is in ’n menigte opsigte. Marais se woordekonomie en meesteraanslag met die kort gedig is hier voorop:

Molslang
Pseudaspis cana

Die dooie molslang
in die winterveld

wys hy was hier
en langer deel

van dié grond, van dié aarde
en dié veld

as ek, die toevallige,
’n kortstondige dier.

Die kleiosse van Afdeling I maak in Afdeling V plek vir ontstellende kommentaargedigte oor veral beeste; is soms rou en aards, soms byna ekfrasties en kunstig-afstandelik. Almal doen veronrusbarend aan en is onthoubaar. Die dinamika tussen bloed en kuns wat gejukstaponeer word, het “Oskarkas” vir my die uitklophou gemaak. Gaan kyk gerus wat met ’n Rembrandt-assosiasie gedoen kan word.

Wapens, oorlog en oorloggedigte kom in Afdeling VI voor, saam met pandemies, ekokwessies en aktuele etiese vraagstukke. Die werklikheid van massa-uitwissing, klimaatskrisisse, magsvergrype en die mens se aanspreeklikheid op globale skaal word in hierdie afdeling tot ’n digterlike hoogtepunt gevoer. Uiteindelik is dit die kortste gedig wat dit vir my die beste saamvat, omdat dit die spesifieke hééltemal verplaas na die tydlose, op akuut sintuiglike wyse:

Kiëf*
2023

In die strate vol sneeu
stol
die skreeu:

gaap die skreeu
rou soos ’n bomkrater
in die sneeu.

*Alternatiewelik Sarajevo, 1994, en Kosovo, 1999.

Die gedig se voetnota is dan ook bevestiging van ’n kringloop in die geskiedenis. Ek het gevoel dat die bundel miskien met hierdie afdeling kon geëindig het, maar daar is tog ’n saak uit te maak vir die gedigte wat in Afdeling VII volg, veral “Die Geel Wandelaar” en die slotgedig met sy verwysing na varkore wat na die “voorouers se graftes” geneem word en sodoende die sirkelgang mooi sluit vir die bundel se outobiografiese aspek. Die stilte wat ingelui word deur die aanvangsreëls van die slotgedig, stem die leser dan ook tot nadenke, om hierdie besondere bundel in bestek te neem.

Die uur

Daar is ’n uur as die lig verander,
die skadu van die bome langer word,

“’n Mens neem nie maklik afstand van die poësie nie,” sê Johann Lodewyk Marais tydens die reeds genoemde aanlyn gesprek waarop ek op 27 September 2023 inskakel. Dankie tog, dink ek, dat ons as lesers voordeel trek uit die spesifieke waarheid van hierdie woorde vir hierdie toegewyde digter. Mag hy en die poësie nooit van mekaar wegdraai nie, sodat ons weer en weer kan lees.


 

Verwysings

¹ Samespraak. https://www.youtube.com/watch?v=tGfJWxU8kfg.

Lees ook:

Sirkelgang deur Johann Lodewyk Marais: ’n lesersindruk

’n Geheelbeeld op die oeuvrebydrae van die digter Johann Lodewyk Marais ten opsigte van natuurpoësie en ekokritiese poësie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top