’n Geheelbeeld op die oeuvrebydrae van die digter Johann Lodewyk Marais ten opsigte van natuurpoësie en ekokritiese poësie

  • 1

Natuurpoësie en ekokritiese poësie is nie nuwe terme in die Afrikaanse poësie- en literêre wêreld nie. Natuurpoësie het eerste ontwikkel en ekokritiese poësie het as ’n “subgenre” ontwikkel, juis om ’n boodskap of kritiek rakende menslike interaksie met natuur oor te dra.

Daar gaan ’n agtergrond oor die digter Johann Lodewyk Marais geskets word. Die verskil tussen natuurpoësie en ekokritiese poësie gaan verduidelik word. Uiteindelik gaan die wyse waartoe Marais tot die kategorisering van natuurpoësie en ekokritiese poësie bydra, bespreek word. Dit gaan aan die hand van sy bundels en enkele gedigte ontleed word.

Johann Lodewyk Marais (Foto: Facebook)

 

1. Agtergrond rakende Johann Lodewyk Marais

Die Afrikaanse digter en navorser Johann Lodewyk Marais is in 1956 in Hillbrow, Johannesburg gebore. Hy matrikuleer in 1975 aan die Hoërskool Harrismith. In 1980 behaal hy sy BA Honneurs-graad en daarna sy MA-graad in 1994. In 2001 behaal hy sy DLitt-graad. Al die grade is aan die Universiteit van Pretoria behaal. Die somer is ’n dag oud is sy debuutbundel. In hierdie bundel word daar reeds tekens van tegniese vaardigheid bespeur. Sy eerste werklike “natuurgedig”-bundel, Verweerde aardbol, fokus op die fauna en flora oor die Afrika-kontinent. Hy wys in hierdie bundel reeds op die bewaring en vernietiging van die omgewing (Wikipedia 2020).

In 2012 word hy met ’n Goue Pen-toekenning vir sy bydrae tot die taal en kultuur van Afrikaans vereer. In 2013 word hy as eerste feesdigter aangewys by die Innibos-fees wat in Nelspruit plaasgevind het (Wikipedia 2020). Hy is tans ’n navorsingsvennoot by die Universiteit van Pretoria se Eenheid vir Afrikaanse Geletterdheid (Linkedin 2020).

 

2. Natuurpoësie en ekokritiese poësie 

2.1 Omskrywing van begrippe

2.1.1 Natuurpoësie

Natuurpoësie behels die mens-onderwerp wat oor die landskap- of dier-voorwerp mediteer om toegang tot dieper betekenis oor die lewe van die mens-onderwerp te kry (Arigo sj:2, Smith 2012a:512). Webster (2000:109) sluit daarby aan deur die stelling te maak dat dit as ’n tipiese vereenselwiging met die natuur gesien kan word. Volgens hom kan mense nie net na die natuur as ’n losstaande voorwerp kyk nie; hulle moet menslike emosie daaraan koppel. Die tradisionele definisie van natuurpoësie sluit mediterende beskrywings van natuurlike liggings, berouvolle odes aan ’n landskap wat reeds verlore gegaan het, asook liriese soektogte vir ’n beeld van die natuurlike wêreld om die menslike situasies of keuses te beskryf, in (Hall 2011:14).

Veral in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis se Eerste Afrikaanse Beweging-periode het die poësie twee kenmerkende eienskappe bevat. Eerstens het die navolging van die vreemde in die poësie uitgestaan. Tweedens het dit stof of situasies uit die leser en selfs die outeur se ervaringswêreld geneem om die gedig meer verstaanbaar te maak (Malan 1996:5).

2.1.2 Ekokritiese poësie

Ekokritiese poësie is poësie wat ’n sterk ekologiese boodskap oordra of klem daarop lê. Binne so ’n gedig speel natuur ’n integrale rol. Die klem word dus op die omgewing en mense gelê. Dit sluit mense in ’n natuurlike ruimte, seisoen, metafoor, simbool, situasie of tema in. Die poësie is aan die wêreld gekoppel op ’n wyse wat verantwoordelikheid impliseer (Wazzan 2011:2). Scigaj (2015:37) sluit aan by Wazzan deur ekokritiese poësie te definieer as poësie wat konstant menslike samewerking met die natuur aanspoor.

Postnikov (2001:1) sê selfs dat ekokritiese poësie ’n poging is om komponente van die wêreld aan mekaar te verbind. Hy meen dat dit ’n poging is om harmonie te vind tussen die mensdom en die wêreld. Volgens Fisher-Wirth en Streets (2013:1) het ekokritiese poësie diep wortels, maar dit is besig om eksponensieel in verskeie rigtings te groei.

Bryson (2002:5–6) vat die begrip ekokritiese poësie goed saam deur dit te definieer as ’n vertakking van natuurpoësie wat die konvensies van romantiek navolg, maar terselfdertyd kontemporêre probleme aanspreek. Dit eindig dan op in ’n weergawe van natuurpoësie wat deur drie kenmerke geïdentifiseer word. Eerstens word die interafhanklike aard van elemente van die wêreld erken. Tweedens word die nederigheid van die verhouding met die menslike en niemenslike wêreld uitgelig. Derdens word dit gekenmerk deur skeptisisme wat betrekking tot hiperwerklikheid en oordrewe tegnologie het.

2.2 Die verskil tussen natuurpoësie en ekokritiese poësie

Uit voorgenoemde is dit duidelik dat natuurpoësie en ekokritiese poësie afsonderlik van mekaar staan. Tog is daar sekere ooreenkomste, en ook verskille. Die voorgenoemde drie kenmerke van ekopoësie is juis dít wat ekokritiese poësie anders as natuurpoësie maak (Bryson 2002:6). Volgens Smith (2012b:915) bied ekokritiese poësie die ontsnapping van ’n mensgemaakte en kunsmatige wêreld. Sy is verder van mening dat dit vooropgestelde patrone van lees en skryf en gemaklike definisies van na die wêreld kyk, teenstaan. Arigo (sj:2) sluit by bogenoemde aan deur te sê dat ekokritiese poësie nie gesien moet word as ’n terugkeer na die natuur nie, maar eerder as ’n herinnering dat ons nooit weg was nie en dat menslike ontwikkeling soos die oprig van geboue, tesame met voëls en ander spesies deel van die ekologie is.

Ekokritiese poësie kan as ’n vertakking van natuurpoësie gesien word. Dit het dus uit natuurpoësie ontwikkel, maar tog kan dit van natuurpoësie onderskei word. Dit kan onderskei word omdat ekokritiese poësie meer klem lê op die verbintenis tussen die menslike en niemenslike lewe tydens die tydperk van ongeëwenaarde antropogeniese skade wat aan die omgewing aangerig word. Ekokritiese poësie, wat ook soms as groen poësie bekend staan, is deel van ’n wyer sosiale bekommernis rakende die toekoms van ons planeet wat vereis dat mense weer ondersoek instel rakende ons verhouding met die natuurlike wêreld (Johns-Putra 2012:273).

Ekokritiese poësie gaan verder as die tradisionele natuurpoësie deur kontemporêre kwessies aan te spreek deur te fokus op die interafhanklikheid van alle lewensvorme op aarde, die wildheid en “onderskeid” van die natuur, asook die mens se onverantwoordelike poging om die natuur te tem en te verwoes (Wazzan 2011:3). Natuurpoësie, aan die ander kant, het eers onlangs begin om die natuur op grond van sy eie terme te erken, en om begrip vir die onderliggende ekologiese siklusse te kry. Daar moes ook ’n begrip verkry word van die erkenning van die kompleksiteit rakende die verwoesting van die omgewing se kwesbare sisteme (Wazzan 2011:4).

Na aanleiding van bostaande kan daar afgelei word dat ekokritiese poësie en natuurpoësie in ’n dualistiese verhouding tot mekaar staan.

 

3. Die wyse waarop Marais tot die kategorisering van natuurpoësie en ekokritiese poësie bydra

Johann Lodewyk Marais beskik oor ’n groeiende oeuvre van natuursentriese bundels en verse (Smith 2013:175). Hy word ook as ’n groen- en natuurdigter erken (Mӧller 2012). Hy het ’n groot rol gespeel om ekologiebewuste, “groen” poësie ’n besliste plek in die Afrikaanse digkuns te gee (Odendaal 2016:308).

By ’n kongres in 1990 stel Marais die bloemlesing Groen: Gedigte oor die omgewing bekend. Verskeie digters lewer ’n bydrae oor hierdie onderwerp (Odendaal 2016:308). Met die verskyning van dié bloemlesing word die digter tot verantwoording gebring om meer verantwoordelik en verantwoordbaar in terme van omgewingsbewustheid te wees (Malan 1996:154). Die titel Groen suggereer volgens Malan (1996:59) nuut, oorspronklik en lewend. Volgens haar is dit gepas omdat die gedigte vir die eerste keer in hierdie bloemlesing die lig sien, en nog nooit voorheen verskyn het nie. Marais het al die bydraende digters versoek om nuwe gedigte vir publikasie voor te lê. Hulle kon dus oor enige natuurlike voorwerpe, artefakte, toestande of invloede wat die menslike bestaan beïnvloed, skryf. Hy het in hierdie bloemlesing as die abstrakte outeur gefunksioneer (Malan 1996:59–60). Die bundel is suksesvol in sy aktualiteit, want omgewingsbewustheid, natuurbewaring en groen kwessies het deel van die hedendaagse digkuns geword (De Wet 1994:8).

In 1997 verskyn Ons klein en silwerige planeet. Dit bevat Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing. Die bundel is in samewerking met Ad Zuiderent, ’n Nederlandse digter en literator, uitgegee. In 2006 verskyn Honderd jaar later. Die bundel bevat gepubliseerde sowel as ongepubliseerde gedigte, ter viering van die verskyning van Eugène N Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905. Dit is geprikkel deur sy belangstelling in die literêre en natuurwetenskaplike werke van genoemde digter (Odendaal 2016:308).

In 1992 verskyn Verweerde aardbol. Groen as tema is op die voorgrond, met ’n spesifieke fokus op die fauna en flora van Suid-Afrika. Marais brei uit op die mensdom se siening van die aarde deur middel van besitname, byvoorbeeld deur naamgewing, kartering en die trek van polities-staatkundige grense (Odendaal 2016:308). In Verweerde aardbol word Marais se kommer oor die verganklikheid van die natuur duidelik (Malan 1996:3). Verweerde aardbol volg op Marais se vorige twee bundels, Palimpses (1987) en By die dinge (1989). Gemeenskaplike temas in hierdie bundels is jeugherinneringe en persoonlike geskiedenis. Marais herhaal die tema van die verhouding met grond en aarde in Verweerde aardbol soos wat dit reeds in Palimpses was. In Groen het hierdie tema ook uitgestaan. Nog hooftemas in Verweerde aardbol is bedreiging en bewaring (Malan 1996:114).

Die titel van Verweerde aardbol dui op die vernietiging van die aardbol deur die mens. Die boodskap is dat die mens verantwoordelikheid moet neem vir die skade wat hy die natuur berokken. Die mens moet sy afhanklikheid van die natuur besef, asook die verwoestende effek wat hierdie afhanklikheid op homself kan hê (Malan 1996:127). In die bundel word daar in ’n meerdere mate op die bedreigingstema en afbrekende invloed van die mens op die natuur gefokus as op die bewaringstema (Malan, 1996:154).

In 2002 verskyn sy vyfde bundel, getiteld Aves. Dit bevat ’n digterlike kernskets van die voëlklas. Die uitbeelding bied dan toegang tot ’n kykie na die “groter” ekosisteem. Die ooreenkomste tussen, en verwantheid van die lot van, die mens en die voël word die fokuspunt. In 2004 verskyn Plaaslike kennis. Hooftemas wissel tussen die mens se verganklikheidsbesef en wetenskaplike ingrypingsmiddels op die natuur en tradisionele leefwyses. In 2010 verskyn Diorama. Hierin oorheers fauna- en flora verse. ’n Geheelbeeld kan gevorm word as die leser na die interafhanklikheid en verbintenis van al sy gedigte kyk (Odendaal 2016:308–9).

In 2012 verskyn In die bloute. Hierin is verse oor die seelewevorme opgevat (Odendaal 2016:309). In 2013 het Smith (2013:175) ’n “in die kol”-resensie oor In die bloute geskryf. Sy wys daarop dat die bundel in ses afdelings verdeel is. In die eerste afdeling dien die gedigte as oorgang van die land na die see. Die reismotief word uitgelig. In afdeling twee word daar rekenskap oor ’n groot aantal visse gegee. Dit herinner aan die voëls in Aves hy ook die wetenskaplike name van die spesies verskaf. In afdeling drie is die fokus op seeplante. Die deurbraak is juis op grond van die sistematiese en strukturele benaming van plante en diere. Afdeling vier sluit ander akademici en individue soos wetenskaplike navorsers, omgewings-en bewaringsbewustes asook ’n seiljagvaarder in (Smith 2013:175). In afdeling vyf word daar op die intersistemiese aard van die ekologie en die mens as verbruiker gefokus. Daar word ook gefokus op die manier waarop die see die grense tussen hom en die mens ophef. Afdeling ses is die slotafdeling. Die fokus is hier die mens as verbruiker en dit dra ook die boodskap oor (Smith 2013:176).

Die gedig “Na ’n besoek aan Kaapstad” vorm deel van afdeling een (Marais 2012:14). Die reismotief en oorgang van die land na die see is duidelik in hierdie gedig. In reëls een en twee kom die vrou se woorde daarop neer dat sy nie inbreuk op die see wil maak nie. Sy sê: “Ek hou nie van die inkyk / in die see en die afloer van die haaie nie.” Daar is nog ’n gaping tussen die land en die see.

In reëls drie en vier spreek sy weer die digter aan: “Daar is klomp ou digters in die Kaap wat daaroor kan skryf. Los dit vir hulle.” Die klem verskuif van net inkyk na die see in reël een na die skryf daaroor deur “ou digters”. In reëls vyf tot sewe stel sy vir die digter ’n alternatiewe opsie voor. “Waarom skryf jy nie liewer oor berge, / die kremetart teen die Limpopo / en die dorre Vrystaatse vlaktes nie?” Haar voorstel kom daarop neer dat sy wil hê hy moet eerder oor die land as die see skryf. Hy moet dus skryf oor dit waaraan hy gewoond is. In reëls agt en nege stel sy die volgende en laaste vraag aan hom: “Moet jy opsluit die walvis se beentjies / loop tel en seegoed begin versamel?” Hier word dit bevestig dat die klem verskuif het van dig oor die land na dig oor die see. Die digter wil dus ’n sprong maak na die onbekende seelewe wat wag om verken te word. In hierdie gedig word die mens binne ’n natuurlike ruimte geplaas. Daar word gewys op die nederigheid van die digter wat oor die oseaan wil dig.

“Klipmossel” vorm deel van afdeling twee (bl 24). In die titel verskaf hy die wetenskaplike naam van die klipmossel, naamlik Patella concolor. Die spesifieke mossel is juis teenwoordig aan die Ooskus van Suid-Afrika. In reël een beskryf hy die dier, “[d]ie slym aan die suieragtige voet”. Reël twee maak dit duidelik dat die mossel lewe as hy deel van die natuur is, maar as hy nie meer teen die rots is nie, gaan hy dood en word deur mense gebruik. Reëls vier en vyf het die grootste trefkrag en die gedig eindig op ’n hoogtepunt: “[H]y sit onbeweeglik en gevestig in die skuilplek van die Allerhoogste.” Die digter besef dat die natuur deur God geskep is en deur Hom onderhou word. Die gedig kan as ekokritiese poësie geklassifiseer word, omdat die mens (digter) sy verantwoordelikheid teenoor die natuur en ten opsigte van die gebruik daarvan besef. God het die verantwoordelikheid van die natuur se gebruik in die mensdom se hande geplaas. Dus moet die mensdom dit op ’n volhoubare wyse gebruik.

In afdeling drie word die wisselwerking tussen die natuurelemente uitgelig. Die wetenskaplike name van die plante word onder die titels aangedui. Hierdie afdeling fokus deurlopend op plante by of onder die see. In “gebedeplant” word die wetenskaplike naam van die plant gegee, naamlik Maranta leuconeura (58). Die gedig bestaan uit net twee versreëls, maar dit is kort, kragtig en treffend. “Die gebedeplant op my vensterbank / ontvang die daglig met ope hande.” Die “gebedeplant” is op die spreker se vensterbank. Dus is dit daar vir estetiese waarde. Al is die plant van die mens afhanklik vir water, is dit hoofsaaklik van die mens afhanklik vir oorlewing. Die gedig grens ook aan natuurpoësie waar die digter oor die plant dig en mediteer en sodoende ’n dieper betekenis ontdek. Die gedig kom beslis vanuit die digter se ervaringswêreld en dit word meer realisties en verstaanbaar vir die leser gemaak. Die boodskap van “gebedeplant” is dat die natuur afhanklik van die natuur is en dat die mens ook van die natuur afhanklik is.

In afdeling vier word ander akademici deel van die gedigte. In “Kenneth S Norris” vertel die digter hoe hy deur een van die navorser se boeke blaai en meer oor dolfyne oplees (63). Hy kan die dolfyn in sy geestesoog sien, so realisties is die beskrywing daarvan. Reëls drie en vier skets hierdie situasie, “en meteens, stroboskopies, spring ’n dolfyn uit die bloute op”. Die skrywer van hierdie boek maak dus die dolfyn lewend vir die leser van die boek. Die digter dig nie net oor die dolfyn nie, maar hy koppel ook menslike emosie daaraan. Die dolfyn word in diep besonderhede beskryf. Die kenmerkende beskrywing is kenmerkend van natuurpoësie.

“Vuurtoring” vorm deel van afdeling vyf (72). Sy gedig fokus op die mens se interaksie as verbruiker met die natuur. Reël drie dui die versigtigheid wat die mens vir die natuur het, aan, “wat die seë aangedurf het”. Die vaarders het op die natuur, “nag- en dagtekens” staat gemaak om hulle weg deur die “hellevaart” te vind. Die nuwe ontwikkeling wat deur die mensdom geskep is, “het vir ander eras gestaan”, en “vir nuwe reisigers gewerk”. Die digter besef in die laaste twee reëls dat hy steeds ’n versigtige tipe respek vir die natuur het, ten spyte van die menslike ontwikkeling. Hy besef dit met “Aan die donker onsigbare / sal ek steeds uitgelewer bly.” Die mens en natuur sal nooit werklik as een funksioneer nie. Daar is ’n deurskynende “muur” wat tussen die mens en natuur staan.

Die slotgedig, “Save our planet”, is die enigste gedig in afdeling ses en lig weer die mens as verbruiker van die natuur uit (77). “Spring op!” in reël een spoor die mens tot aksie aan. In reël vier word die resultaat van die gebruik van die natuur verwoord: “Iewers eet iemand ’n omelet.” Die omelet suggereer ook die deurmekaarskommeling van die natuur deur die toedoen van die mens. Die bundel eindig op ’n hoogtepunt wat die wisselwerking tussen die mens en natuur aandui.

 

4. Samevatting

Johann Lodewyk Marais kan as ’n digter van beide groenpoësie en ekokritiese poësie gesien word. Hy vind ’n balans tussen die twee kategorieë. Sy oeuvre ontwikkel deurentyd en sy bundels sluit struktureel by mekaar aan. Daar kan nie afsonderlik na enkele gedigte in sy bundels gekyk word nie; elke gedig moet as deel van die groter “struktuur” en boodskap bestudeer word. Die verskil tussen Marais se natuurpoësie en ekokritiese poësie is duidelik. In die natuurpoësie dig hy oor die landskap, maar hy heg tog emosies daaraan en skryf vanuit sy menslike ervaringswêreld. In sy ekokritiese poësie dra hy ’n betekenisvolle boodskap oor. In die meerderheid van sy bundels en gedigte is die tema bewaring, vernietiging van die natuur en die verbruikersverhouding tussen mens en natuur. Marais vervul ’n integrale rol in die Afrikaanse literatuur met sy intelligente en emosionele kommentaar op die omgewing en die gebruik daarvan.

 

Bibliografie

Arigo, C. sj. Notes toward an ecopoetics: Revising the postmodern sublime and Juliana Spahr’s “This connection of everyone with lungs”. how2, 3(2). https://www.asu.edu/pipercwcenter/how2journal/vol_3_no_2/ecopoetics/essays/arigo.html. Datum van gebruik: 26 Maart 2020.

Bryson, SJ (red). 2002. Ecopoetry: A critical introduction. Salt Lake City: The University of Utah Press.

De Wet, K. 1994. Gebek vir die groen gesprek. Ensovoort, 6(1):8–10.

Fisher-Wirth, A en LG Streets. 2013. The ecopoetry anthology. Journal of Ecocriticism, 5(2):1–2.

Hall, P. 2011. Gathering points: a natural selectiom. Wollogong, UOW. Doktorale tesis.

Johns-Putra, A. 2012. Climate change in literature and literary studies: From cli-fi, climate change theatre and ecopoetry to ecocriticism and climate change criticism. Wires Climate Change, 1(1):266–282.

Linkedin. 2020. Johann Lodewyk Marais. linkedin.com/in/johann-lodewyk-marais-22b02679. Datum van gebruik: 26 Maart 2020.

Malan, IC. 1996. Die ekologiese kode in die Afrikaanse poësie. Universiteit van Johannesburg. MBA.

Mӧller, L.A. 2012. Resensie: In die bloute (Johann Lodewyk Marais). Versindaba: http://versindaba.co.za/2012/11/19/resensie-in-die-bloute-johann-lodewyk-marais. Datum van gebruik: 27 Maart 2020.

Odendaal, BJ. 2016. Die Afrikaanse poësie: 1960–2012. In Van Coller (red) 2016.

Postnikov, V. 2001. Eco-poetry. The Trumpeter, 1(1).

Scigaj, LM. 2015. Sustainable poetry: four American ecopoets. Kentucky: University Press of Kentucky.

Smith, S. 2012a. Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman. LitNet Akademies, 9(2):500–523.

—. 2012b. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ’n ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3):887–928.

—. 2013. Resensie: In die bloute. Tydskrif vir Letterkunde, 50(2):175–176.

—. 2014. Ekokritiek en die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johannes Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012). LitNet Akademies, 11(2):749–774.

Van Coller, HP (red). 2016. Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel drie. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Wazzan, S. 2011. Canadian eco-poetry between terror and delight. Research Gate, 1(1). https://www.researchgate.net/publication/310465078. Datum van gebruik: 27 Maart 2020.

Webster, M. 2000. EE Cummings: The new nature poetry and the old. Spring, 9(1):109–124.

Wikipedia. 2020. Johann Lodewyk Marais. https://af.wikipedia.org/wiki/Johann_Lodewyk_Marais#Eerbewyse. Datum van gebruik: 26 Maart 2020.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top