Jeanne Goosen (1938–2020)

  • 2

Gebore en getoë

Jeannette Helena Goosen is op 13 Julie 1938 in Parow gebore. Sy word in Parow groot in die dae van George se kafee en Visser se skoenwinkel op die hoek en die Roomse kerk. Haar ma was ’n storieverteller: "Die vreemdste, absurdste goed. Sommer so terwyl sy skottelgoed was. En sy't gesing. Kastig in Russies. En dan sing ons kinders saam. Ook in Russies!" Sy onthou haar pa met die tuinslang in sy hand en sy liefde vir tuinmaak wat sy geërf het. Sy onthou ook sy vreemde humorsin. (Rooi Rose, 29 Desember 1993)

Op agtjarige ouderdom het sy met klavier begin en ’n paar jaar daarna met die klarinet as tweede instrument. Later verwerf sy haar lisensiaat in klavier aan Unisa, maar sy het dit altyd suiwer vir die plesier daarvan gedoen. "Vir onderrig, nooit," sê sy.
Jeanne begin as tiener skryf uit ’n emosionele behoefte van liefde, wraak, jaloesie en pyn – op los stukkies papier en in ou oefeningboeke. Op twaalfjarige ouderdom publiseer sy haar eerste poësie in Rooi Rose en skryf sy ook vir Die Jongspan. Haar skrywersloopbaan het rigting begin kry nadat sy op veertien jaar vir die eerste keer Crime and punishment van Dostojewski gelees het: "Die boek het my geruk."

Jeanne is trots op haar Poolse bloed. Sy het as kind Gorki begin lees en was daarna nooit weer ’n volbloed-Boer nie. Haar eerste werk was dié van junior Kersvader in standerd ses in Ackermans in Parow.

Verdere studies en werk
Na haar skoolopleiding ontvang sy ’n beurs van die Universiteit van Kaapstad en gaan studeer radiografie. Sy werk in hospitale as radiografis en arbeidsterapeut. Sy was egter ook al smous, boer en visserman. As sy haar daarop sou wou toespits, sou sy ’n mikrobioloog gewees het, ’n kernfisikus en veral ’n konsertpianis, maar sy het verkies om outsider te wees, selfs tussen die outsiders.

Een van Jeanne se groot liefdes is musiek. Sy studeer musiek aan die Rondebosch School of Music en is in ’n klassieke rigting opgelei. Sy ontvang formele musiekopleiding onder Magriete Herbst van Parow, Japie Malan en Toronti Florenti van die Kaap. In 2003, met die bekendstelling van Deborah Steinmair se digbundel A see-through suitcase, het Jeanne vir die eerste keer in jare weer voor ’n gehoor klavier gespeel. Steinmair het ook in 2004 die lirieke geskryf vir Jeanne se kabaret Hartedief  wat by die KKNK gehore gaande gehad het.

Jeanne was vir sestien jaar werksaam as joernalis en in daardie tyd was sy verslaggewer by die Transvaler, die Oggendblad, Hoofstad en Tempo terwyl sy in (die destydse) Natal gewoon het en in 1986 by die Paarl Post.

Die 1980’s saam met joernaliste in die Vegkop-hotel in Johannesburg onthou Jeanne met nostalgie. "Die koerant is die enigste plek waar ek eintlik rêrig ingepas het. Dinge wat vir my in ander beroepe nie lekker uitgewerk het nie, was tot my voordeel daar.

"Dis nie meer vandag só by koerante nie. Almal is te bleddie reg in hul koppe, man. Almal is met almal bevriend. In my tyd moes jy betrokke raak by jou onderwerp, nie by die mense oor wie jy skryf nie. Nou’s joernaliste blykbaar hand om die blaas met elke storie wat hulle skryf.

"Voor ’94 het ons ’n saak gehad in Afrikaanse koerante. En ek was gelukkig, want ek kon nogal min of meer skryf wat ek wou, want die ou wat my gestoot het tot waar ek was op die ou end, was Harald Pakendorf. En hy was ’n fantastiese redakteur en mentor gewees."

Haar joernalistieke loopbaan wissel sy af met van ’n sitrusboerdery by Hartebeeshoek tot visvang aan die Weskus. Sy smokkel met die sitrusvrugte by ’n Griek totdat sy besluit om "eerlik" te wees en liewer haar suurlemoene aan die beurs te lewer. "Maar toe is daar ’n dokstaking. Ek het vir my totale oes net 24c gekry … Weens die staking moes hulle alles wegsmyt … Toe’t ek besluit eerlikheid loon nie; dis sommer nonsens daai. Ek dink ek het smokkelaarsbloed in my."

Jeanne publiseer in 1971 haar eerste digbundel, ’n Uil vlieg weg, maar sy het nooit rêrig welkom gevoel in die tradisionele letterkunde nie, en omdat sy só ontradisioneel is, het sy ook nooit regtig daarvoor gesoek nie.

In 1986 word ’n Kat in die sak gepubliseer na ’n stilte van elf jaar. Dit bevat verhale wat van 1965 tot 1986 geskryf is. EC Britz skryf in sy resensie in Die Burger (20 November 1988): "Goosen se neiging om bisarre verhaalsituasies op te bou, of om oor ontstellende sake soos lyke en begrafnisse te skryf, hou alles verband met haar 'gekwelde gees' as kunstenares, om vir ’n oomblik soos die Dertigers te praat. Agter die soms grappige verbeeldingsvlugte en die pront styl gaan verskriklike gevoelens skuil. Hoewel al die verhale nie op dieselfde peil is nie, het ek die beste verhale in ’n Kat in die sak besonder menslik, eerlik, humoristies, verbeeldingryk, gevoelig en tegnies versorg gevind. Jeanne Goosen het ’n oorspronklike en veelsydige talent as skryfster en ’n onthutsende kyk op die lewe. In haar jongste verhale verwoord sy die skisofrene sosiale situasie in ’n Karoodorp in die jare 1985/1986 op meevoerende wyse."

In 1987 verskyn die novelle Louoond, met herdrukke in 2010 en ’n e-boek-uitgawe in 2013. Vir Gunther Pakendorf (Die Burger, 6 Augustus 1987) "draai hierdie kort prosateks met ’n ongewone intensiteit om die problematiek van vervreemding en, meer spesifiek, die isolasie van die kunstenaar in ’n ontredderde wêreld sonder hoër waardes of bindende norme. Die uitgangspunt is die situasie van ’n persoon – ’n skryfster - wat in haar kombuis met huishoudelike takies besig is, begelei deur die stem van Callas en études van Chopin op ’n kasset. Terwyl ’n triestige sifreëntjie buite blykbaar nie wil ophou nie, slaan sy haar oë op na die berge, maar weet nie waar haar hulp vandaan sal kom nie, want die hele wêreld is vir haar soos ’n 'vreemde land'.

"Die teks is nie ’n verhaal in die konvensionele sin van die woord nie, maar bestaan eerder uit ’n reeks flitse wat assosiatief en kontrapuntaal aan mekaar geryg is en gedurig na die vraag oor die sin van die bestaan herlei word. Hierdeur word die kombuis simbolies van die afgesonderdheid van die enkeling (en die kunstenaar). Terselfdertyd is die kombuis ’n heelal in die kleine waar die 'lang elegie van die lewe' hom op verskeie vlakke afspeel, byvoorbeeld in die insekwêreld, waar ’n verbete oorlewingstryd die mens se soeke na betekenis relativeer, of in die bevrore varkvleis wat ontdooi, begin lewe en weer van vooraf sterwe."

Pakendorf beskou Jeanne Goosen as ’n skrywer met intelligensie wat haar taalgebruik goed kan beheer. Sy openbaar ook goeie beheer oor haar onderwerp en die algemene aanbieding van haar storie. "In die kortverhaal 'Karoo' (in haar bundel ’n Kat in die sak) het sy die problematiek van ’n veranderende Suid-Afrika baie oortuigend as die verwarrende botsing van wêrelde behandel. Dit is jammer dat sy in Louoond nie daarop voortbou nie, maar haar eerder in haar 'arbitrêre' kombuis terugtrek en toevlug neem tot die ahistoriese fatalisme van ’n (pseudo-) Darwinistiese siening van die mens en sy samelewing, soos blyk uit die groot aantal verwysings na stryd - byvoorbeeld die honde wat ’n hoender doodbyt of Hermien wat visse slag, om van die krioelende insekte nie te praat nie - of na dood, verrotting en ontbinding. In dié opsig is Louoond seker geslaagd, maar tog ’n deprimerende boek."

Sy het in haar lewe al oor die hele Suid-Afrika gewoon – van Pretoria tot die Weskus, Durban, die Karoo, Brixton, Hartebeeshoek, Franschhoek en Aucklandpark. Tans bly sy in Parklands "na die Weskus se kant toe" in ’n woonstelgebou. In ’n stadium tydens haar verblyf in Durban speel sy naweeksaande klavier en sing sy bas in die immigranteklub vir R80 ’n aand.

Sy trek in 2001 na ’n plek tussen Brits en Pretoria-Noord om plek vir haar honde, Bubbles en Wolf, te kry. Haar honde is haar konstante blymaats. Haar twee blymaats was toe Dolores en Mabel. Jeanne het al per geleentheid gesê dat sy diere bo mense verkies. Sy is lief vir die grond, natuur, musiek, skilderkuns, wetenskap en kuns, en wou nog altyd ’n biochemikus of insektekundige wees. Visvang is ook lekkerder as skryf. In die vyf jaar wat sy vis gevang het by Keurbooms, naby Plettenbergbaai, het sy drie boeke geskryf en ook geboer. Sy bring die boot saam toe sy daar weg is. Partykeer vang sy vis by Langebaan, en anderkant by Hermanus en by Velddrif waar sy snoek gevang het met die bakkie, wat sy op die swartmark gekoop het.

Tydens die toekenning van die Afrikaans Onbeperk-toekenning in 1998 by die KKNK sê André P Brink (Beeld, 4 Maart 1998): "Oor meer as twintig jaar het dié besonderse vroumens die taal laat praat en dinge laat sê wat niemand haar nog regtig kon nadoen nie. En dit oor ’n verstommend geskakeerde en gevarieerde terrein: poësie, romans en novelles, kortverhale, teater en kabaret."

Dit som Jeanne se skryfloopbaan in ’n neutedop op. Sy behaal in al die genres sukses en die bekronings bly nie agter nie. Benewens haar veelbekroonde novelle Ons is nie almal so nie ontvang sy ook die Rapport-prys vir drama in 1992 vir Drie eenakters. Sy wen die Sanlamprys as Rubriekskrywer van die Jaar vir haar rubriek in die Natalse koerant Tempo en ontvang die Helen Maartens Fellowship van Athol Fugard. Kombuis-blues ontvang die Vita-Toneelprys en is in Londen, Frankfort, Brussel, Leuven en Den Haag opgevoer.

Ons is nie almal so nie, wat oorspronklik in 1990 gepubliseer is (13 jaar na Louoond), met verdere uitgawes in 2000 en 2007, is bekroon met die CNA-prys en Rapport-prys in 1990 en met die MNet-prys in 1991.

Oor die ontstaan van Ons is nie almal so nie vertel Jeanne aan André le Roux (Die Burger, 14 September 1991): "Die boek is langhand geskryf. In die bed!" Sonder bepaalde werkwyse of beplanning. "Ek het nog nooit iets in my lewe beplan nie. Ek het siekteverlof gehad en ek kon weer meer lees. Ek hou baie van die kontemporêre Amerikaanse skrywers. Ek het Richard Ford se Rock Springs gelees – die kultus van roadhouses en waitresses en goed ... ek het heelparty boeke in daardie trant gelees. En ek kon sien: maar ek kén ook sulke mense. Dit was vir my ’n geweldige bevryding." Sy het begin skryf uit haar eie geheue, mense en dinge wat sy onthou het uit haar grootwordjare in Parow in die jare vyftig. Die karakters het maklik gekom: mense soos ant Mavis en Doris en Uncle Tank deur die oë van klein Gertie.

"Toe Uncle Tank in ’n stadium (heel vroeg in die boek) sê jy kan nie so maak met mense nie, al is hulle kaffers, toe het die ding sy eie loop geneem. Maar ek was nie van plan om die boek te publiseer nie." Sy verduidelik met verwysing na die omstrede ANC-skrywersbesoek in Victoria Falls: sy het die Amerikaanse skrywers soos Ford die vryheid beny waarmee hulle kon skryf . "Ons is weg van die ANC af met feitlik ’n nie-amptelike opdrag om nou, jy weet, betrokke te skryf. Maar met dat ek die tyd gehad het en die Amerikaners so beny het, het ek sommer daar in my bed gelê en begin skryf wat ek self kon onthou.

"Ek dink ook ek kon eerliker wees omdat ek nie van plan was om die boek te publiseer nie. Toe ek kom by Doris wat die koek vir die bruin bure neem en sê ons is nie almal so nie toe hulle dit nie wil vat nie, toe dink ek: wat sal gebeur as ek só ’n boek publiseer. Ek het begin lag, want die boek is so teen letterkunde in; wat sal gebeur as ek my totale reputasie opneuk?"

Skryf is vir Jeanne deel van sosiale betrokkenheid. "Dis verset teen sosiale logika." En oor die aandrang dat ’n skrywer bepaalde temas moet hanteer, sê sy: "Ek dink dit gebeur vanself in die skryfproses, maar as jou vertrekpunt ’n ideologie is, glo ek vas dit kan nie werk nie, altans nie vir my nie."

Jeanne vertel verder aan Le Roux dat Ons is nie almal so nie die enigste van haar boeke tot op daardie stadium was wat sy geniet het om te skryf. Sy het ook betrokke geraak by die storie en Gertie, die kind, was ’n nuwe verteller: "Grootmense spreek menings uit en dan word dit kommentaar vir effek. Ek wou nie kommentaar lewer nie; ook nie dat die boek as pleidooi dien vir die Afrikaner nie. Toe het die boek ernstiger geword. Basies is dit so dat voor ’n Afrikaner-kind skoolgaande ouderdom bereik, is hy klaar sielkundig, godsdienstig, sosiaal en polities totaal en al opgeduiwel. En vandag se besluitnemers kom uit daardie agtergrond!"  

Ons is nie almal so nie is deur André P Brink in Engels vertaal en Nederlandse en Franse uitgawes is ook uitgegee. Oor Brink se vertaling het Barend Toerien (Die Burger, 28 Desember 1992) geskryf: "[N]ou kom hy nou met hierdie uitstekende weergawe van Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie, in Suid-Afrikaanse werkersklas-Engels. Goosen se boek, so sappig en bekkig, een wat mens jou beswaarlik in ’n ander taal sou kon indink, verskyn as Not all of Us by Queillerie-uitgewery. En dit klink glad nie soos ’n vertaling nie. Doodnatuurlik, en soos dit verg, is dit deurspek met South Afrikanderisms, dinge wat die lokale Queen's Englishers so laat gril. (...) Goosen se fyn oor vir spraak word doodreg weergegee. Kyk bietjie: ’nee, sê hy vir my met so ’n stemmetjie, jy weet, hy weet nou nie, maar die laaste trein is al weg ... 'So klink Brink: ’no, he tells me in a whiny little voice, no I'm sorry Madam, but you see the last train’s gone, so I really don’t know ...' Doodreg."

Jeanne hou van mense wat "nie heeltemal kosher is nie," erken sy teenoor Danie Marais (Die Burger, 15 Maart 2013), "en arm buurte".

"Daai mense skep taal. Kierkegaard het gesê taal is situasie-gebonde, maar ons is al so normaal en ghrênd ons het nie eintlik meer ’n situasie nie. Daai mense hét en die taal wat daaruit voorkom, is absoluut wonderlik.

"Ons is nie almal so nie speel byvoorbeeld in Parow af. Baie mense dink dit is sleng, maar dit is nie. Dit was hoe Afrikaans in die vyftigerjare gepraat is. Nou die heel teenoorgestelde daarvan is ’n Pawpaw vir my darling (2002). Aan daai taal van Pretoria-Wes en daai mense se stories kon ek my verluister. Ek het  baie daar gekom as verslaggewer, want daar was altyd óf ’n moord óf ’n huisbaklei. Eintlik het ek nogal baie tuis gevoel daar. Iets in my kon hulle situasie begryp. En sieners. Daar was baie sieners gewees.

"Eintlik moet ek dankie sê vir die mense in my boeke, want sonder hulle sou ek dit in elk geval nie kon geskryf het nie. Ek dink mense is naar soos ek skryf. Hulle steek dit net weg."

Kombuis-blues, ’n eenvrouvertoning, is opgevoer met Trudie Taljaard in die hoofrol en Sandra Prinsloo as regisseur. Van die twee vroue wat met haar stuk werk, het Jeanne gesê: "Net wat dié twee vroue doen, is ’n kragtoer. Dit is vir my ’n groot eer, en ek dink hulle verbeter op my boek. (Vrye Weekblad, 20 April 1990)" Dié stuk het groot opslae gemaak tydens die jaarlikse Leeskringseminaar in 1990 in Welkom, toe die predikant geweier het om ’n tafelgebed te doen na die opvoering daarvan.

Jeanne se kabarettekste en toneelstukke word altyd met groot sukses op die planke gebring. Lizz Meiring en André Stolz speel in 1990 die twee rolle in Jeanne se Kopstukke met Stephan Bouwer as regisseur en in 1991 regisseer Sandra Prinsloo die stuk. Dit is ook in 1990 met groot welslae by die Grahamstadse Kunstefees opgevoer. In 1991 skryf sy die kabaret Nagmerries met Lizz Meiring en Nomsa en Sandra Prinsloo as regisseur, en in 1993 ’n Mens huil nie oor alles nie / If only we had arsenic, ook met Lizz Meiring. By 2003 se Aardklopfees en 2004 se Woordfees en KKNK word haar stuk Desnieteenstaande met Sandra Prinsloo as regisseur met groot sukses op die planke gebring.

Jeanne is ook een van die Afrikaanse skrywers wat die ANC by die Victoria Waterval ontmoet het en dit bly haar by – die ontmoeting met Willie Kgotsisile, Barbara Masekela, Wally Serote en Steve Tshwete. Sy dien in die bestuur van die Afrikaanse Skrywersgilde en is nog altyd gekant teen alle vorme van onderdrukking en sensuur.

By die Woordfees van 2001 is ’n samestelling van Jeanne se werk gedoen deur Susanne Beyers en Joanie Combrink onder die titel Dalk is ons almal só.

In 1995 verskyn ’n Gelyke kans, ’n bundel kortverhale. Hieroor vertel sy: "My stories skryf hulleself. Daar’s geen mistieke proses nie. Al wat ek doen, is om mense dop te hou. En dis die sogenaamde 'laer klas' wat my van kleinsaf gefassineer het. Daar is ’n goudmyn van temas, verhale, volkskultuur, bygelowe, trots.

"Ek onthou hoe ek op my eerste skooldag nege-uur die aand deur die Polisie opgespoor is waar ek iewers in die onderdorp saam met ’n regte klomp fietas, ’n gesin van twaalf kinders, in die straat gespeel het. Ek het sommer saam met hulle huis toe gegaan. Dit het so lekker gelyk.

"Ek dink die ophef wat oor stories oor armblanke Afrikaners gemaak word, is omdat ons te gewoond is aan die stereotipe van arm maar edel veral in die geval van vroue. Maar daar was vroue daardie tyd wat lief was vir sonde, wat hul mans verneuk en gerook het, wat gehou het van bioscopes, en as waitresses en usherettes gewerk het." (Boekewêreld, 19 Julie 1995)

Nou speel Jeanne Goosen in ’n Gelyke kans klaar met dié tema. "Op ’n grandiose manier: geweld, bloed, derms; die antiheld wat met geweld ’n einde wil maak aan die getelery." Teen die einde van die boek word ’n ander tema sterker: dié van die magiese wêreld van tricks en die sirkus, waar alles wat onmoontlik is, moontlik word. Maar hierdie is ook die wêreld van die outsider, van mense wat 'anders' is, wat kan vlieg.

"Elke mens droom een of ander tyd van vlieg. Dink aan daardie kind op die dak met die klip en die laken: die angs en die spanning, maar ook, hel! die ademlose opwinding van net daardie klein kans dat hy tog sal vlieg ...!"

Sedert November 2003 is Jeanne ’n gereelde en gewilde rubriekskrywer in By, bylae tot Die Burger,met haar rubriek Kaalvuis.

Met die verskyning van die novelle Wie is Jan Hoender? in 2001 vertel Jeanne aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 7 Februarie 2001): "Wie is Jan Hoender? is ’n metafoor vir die interafhanklikheid van mens en dier. Hoenders is getem na die mens se wil, maar die mens is ook getem tot opperekonomiese gesag," sê Goosen.

"Hoenders wat vry rondloop is skaars. Hulle sit almal in broeihokke, hoenderghetto’s waar hulle so gou moontlik eiers moet lê of geslag moet word. So is die mens ook. Hoenders is ’n bloudruk van die mens, wat sonder vlerke en ’n stert is. Mense wil vlug, maar kan nie vlieg nie. Die maatskaplike ineenstorting wêreldwyd is ’n simptoom van die mens se ingeperktheid."

Haar boek is nie filosofies nie. Dis eerder bespiegelend oor die dilemma waarin die natuur vasgevang is. "Mense verwag seker weer iets snaaks van Jeanne Goosen. Daar's mense wat dink Ons is nie almal so nie is snaaks. Ek is glad nie f...n snaaks nie. Ek is doodernstig."

Het sy al deur haar skryfwerk en omswerwinge antwoorde op die lewensvrae gekry?

"Ek vra al twee dekades lank waarheen ek op pad is. Die tegnologie verander en jy kry nuwe insigte, maar jy pas dan net weer jou vrae aan. Ek verstaan nie mense wat sê hulle wil met vakansie gaan om hulself te vind nie. Ek wil myself net verloor."

Jeanne se eerste digbundel sedert die 1970’s, elders aan diens, word in 2007 gepubliseer. Oor die lang digterlike stilswye sê sy aan Marius Crous (op LitNet) dat sy gedurende dié tyd ander goed geskryf het. Sy het nie opgehou gedigte skryf nie en dit het naderhand opgehoop. Petra Müller het daarna gekyk en gevoel dit kan ’n bundel wees. Die bundel het aanvanklik aantekeninge geheet, maar Müller het nie daarvan gehou nie en elders aan diens voorgestel. "Somehow klink dit reg."

In hierdie bundel skryf sy oor haar ouers, kreatiwiteit, honde en hoe sy haar krag as kunstenaar ontdek het. In 2008 is elders aan diens verwerk tot ’n kabaret of ’n musiekvertolkingsteaterstuk met sang en aanbieding wat soms aan Laurie Anderson en Diamanda Galas herinner. Marion Holm het die rol van Goosen vertolk, met die sangeres Luna en die aktrise Frieda van den Heever agter die klawers en mikrofone. Albert Maritz was die regisseur. Van Jeanne se gedigte is getoonset en die drie vroue het daarin geslaag om die regte toonaard van waansin, wanhoop, verwondering en humor raak te slaan en die verskillende luime van die digter te vergestalt.

Oor die drama gesels Jeanne in 2008 met Deborah Steinmair (Die Burger, 15 April 2008): "Dis jammer dat skrywers bang is om weer politieke kwessies aan te raak. Mense by ’n fees wil sports hê en lag. Daar moet nog baie oor apartheid geskryf word, lest we forget en dit herhaal, na watter kant ook al. Feeste moet meer uitreik na ander rassegroepe. Dis ’n wonderlike geleentheid om Afrikaans te bevry, te destigmatiseer en depolitiseer.

"Weens ’n gebrek aan geld, is dit dikwels een- of tweemensvertonings, met sepiesterre om vol sale te lok. Jy kan nie ’n woord hoor wat hulle sê nie. Daar het ook goed uit die sepiestergeledere gekom, soos Nina Swart wat besig is om te ontluik in iets groots.

"Daar roer beslis iets onder jong dramaturge: Adriaan Meyer van Stellenbosch en Willem Anker is uitstekend. Daleen Kruger van Langebaan se goed het lyf. Nico Luwes se Zollie van 2005, wat oor straatkinders handel, was skitterend. Hy is by Kovsies se dramadepartement. Die Vrystaat kom met wonderlike goed vorendag."

Goosen het drama studeer aan die Akademie van Dramakuns in Kaapstad, waar die basiese beginsels, soos artikulasie, by hulle ingedril is. Sy wou nooit self toneel speel nie; sy wou net meer van drama weet, met die oog daarop om dramas te skryf.

"My eerste drama was Kombuisblues in 1992. Trudie Taljaard wou dit doen, Sandra Prinsloo was regisseur. Dít was vir jou ’n produksie! Sandra is my mentor. Ek wens sy wil weer meer speel. Sy het ’n emosionele intelligensie wat skrik vir niks en ’n fyn sin vir satire. Sy is deeglik en vreesloos, laat haar nie intimideer deur politieke temas nie. Sy is moeilik, maar dis nodig. Sy het my baie vasgevat. Ek was dikwels in trane. As sy vlamvat, bly daar f–k–l van jou oor. Die volgende dag kom sy daar aan met R100 en tien pakkies sigarette, want sy weet jy’s broke. Dan’s alles weer orraait.

"Ons was so begeesterd daardie dae, iets het verkeerd gegaan, ons het nie meer genoeg kontak met mekaar nie. Skryf is ’n geweldige geïsoleerde oefening."

Goosen reken goeie stukke is tydloos. "Van Wyk Louw kom terug, Raka; Bartho Smit ook, soos Bacchus in die Boland. Heelparty van Smit se dramas was verbied in die ou bestel. Uys Krige is ook gesensor. Wilma Stockenström het vertel sy was in ’n stuk van hom toe die boodskap kom: 'Poep' en 'God' is uit'."

Hoe skryf ’n mens ’n drama? Goosen meen alles begin by die idee, jy brei daarop uit en sodra jy daarop ingestel is, begin jy dinge om jou opmerk wat kan werk in jou drama. Die belangrikste is ­dialoog tekenend van die karakters. "Dieselfde geld by drama as by ’n roman: waarneming en absorbering. Dit lê onder ’n ou se neus. Ek het geskryf om werk te verskaf. Ek skryf altyd sodat enige ouderdom dit kan speel. Jy moet dit só skryf dat dit op enige plek opgevoer kan word, selfs in ’n skoolsaal. Van die sketse uit my kabarette is al gebruik vir die opening van blomtentoonstellings en geld­insamelings vir die kankervereniging. Dramas beteken min geld vir die skrywer. Drama is ’n k–k show." (Die Burger, 15 April 2008)

In 2009 is Jeanne se kortverhaal "Spokie Snygans maak sy buiging" verwerk vir die verhoog en was dit die Universiteit van die Vrystaat se inskrywing vir Spat (Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater). Dit was een van die finaliste vir die prys.

Ná ’n kortverhaalstilte van 15 jaar verskyn Plante kan praat in 2010. Die karakters in Plante kan praat herinner die leser aan die karakters van Ons is nie almal so nie soos Joey van Parow wat haar sigaretstompie in ’n piering doodruk. "Die skrywer ondersoek ook ’n magiese, soms donker wêreld. Dwarsdeur alles loop plante, musiek, diere en woorde soos ’n goue draad – dinge wat balsem word vir die siel, skryf Riette Rust (Rapport, 3 Julie 2010). "Plante kan praat is beslis ’n lees werd met interessante temas, karakters wat lewe en dialoog wat vlot. Die minimalistiese taal dwing bewondering af en die meeste verhale is goed gestruktureer."

Cilliers van der Berg skryf as volg oor Plante kan praat (Volksblad, 14 September 2010): "Dit gaan hier oor ’n betreklik eklektiese versameling van 16 kortverhale, om die bundel eerder as ’n soomlose en koherente tematiese eenheid daar te stel, ’n verskeidenheid verhaaltipes te vertoon: van tekste wat op realistiese wyse die subkultuur en geweld van die minder gegoede buurte beskryf ('Malva', 'Spokie Snygans maak sy buiging', 'Hulle noem my Jean'), tot by die op die oog af soms byna allegoriese beskrywings van magiese gebeure ('Lubbert Das' of 'Begeerte'). Die bundeltitel en omslag moet dus nie om die bos lei nie – dit is slegs in die titelverhaal waar plante letterlik aan die woord kom.

"Die tipiese Goosen-temas, -motiewe en -maniere van vertel is egter daar: Parow, geweld, agterlikheid, die gereelde kinderperspektief waaruit vertel word en ’n goeie skeut (soms baie grafiese) seks. Wat laasgenoemde betref, is dit die openingsverhaal ('F**ked for life'), en veral 'Wolwors', wat vir sommige lesers dalk ’n ding of twee sal leer. Want soos wat Marna in eersgenoemde sê: 'Dis my gat se deksel, ’n literator wat geen sin, laat staan nog begrip, vir erotiek het nie.'

"Maar ook die geweld kom aan bod – en dit alles in ’n onopgesmukte, gestroopte taalgebruik. Dít is waarskynlik juis die belangrikste samebindende faktor van die verhale.
Die verhale is nie almal van gelyke gehalte nie en sal oor die algemeen dus nie ná ’n herlees noodwendig opnuut ontsluit kan word nie. Binne die konteks van Goosen se hele oeuvre is van die motiewe dalk ook net te bekend. Maar dit beteken hoegenaamd nie die bundel is nie ’n baie interessante leeservaring nie.

"Goosen se vermoë om met die besondere taalregister wat sy handhaaf karakters en gebeure te laat leef, of die leef- en verwysingswêreld van sekere maatskaplike klasse te evokeer en in te kleur, is werklik goed. Soms is dit die eenvoud van vertel wat ’n verhaal soos 'Lemoene' laat uitstaan. Plante kan praat kan aanbeveel word vir diegene wat aanklank vind by Goosen se werk. Dit is eerder ’n bestendiging as hoogtepunt in haar oeuvre, maar vir iemand wat haar tyd verwyl 'met plante, diere, musiek, skryf en so aan' tog ’n beduidende bydrae."

Op 24 Februarie 2011 is Jeanne in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem nadat sy ’n hartaanval gehad en haar huishulp haar in haar woonstel in Parklands in Kaapstad gekry het. Sy sou ’n pasaangeër kry, maar was te swak vir die operasie en moes aansterk voordat die operasie gedoen kon word. Die pasaangeër was vir haar ’n vreemde gedagte. "Ek het altyd gedink dit lyk soos ’n sigaretboksie met ’n hart in, maar deesdae klink dit of elke Jan Rap en sy maat een het. Ek sal moet gaan oplees oor die ding." (Nuus24, 25 Februarie 2011)

Sy het haar geliefde honde geweldig gemis, hoewel sy nie gedink het hulle het haar te veel gemis nie. "Jy kan ’n hond se siel mos maklik vir ’n stuk droëwors verruil."

Jeanne se honde is vir haar soos kinders. Katte is vir haar anders as honde, omdat hulle vir hulself kan sorg, terwyl "elke haar op daai hond se lyf afhanklik is van jou". In 2012 moes sy vir Poppie, ’n "staffiekruis", laat uitsit nadat sy ’n hartaanval gekry het. Sy het haar in Johannesburg gekry toe sy ’n storie oor die DBV gedoen het. "Toe sit hierdie hondjie daar verlore en ek sê vir die mense: 'Maak haar reg, ek kom haal haar môre'," vertel sy vir Murray la Vita (Die Burger, 17 Maart 2012).

Jeanne het met honde grootgeword. "Toe my ma met my pregnant was, het sy ’n wit-en-bruin pekinees gekoop. Haar naam was Toodles. Ek was ’n baie energieke kind. Soms het my ma Toodles saam met my in die cot gesit en ’n bietjie musiek aangesit. Dan was ek ­rustig."

Jeanne sê sy wou ’n ophef maak van Poppie. Sy het dit oorweeg om ’n doodsberig in die koerant te plaas: "Tot weersiens, lojale vriend." Sy het al dikwels vir La Vita gesê die mens het vir hom ’n lojale vriend geteel, maar dit is iets wat hy nie self kan wees nie.

"My enigste begeerte was dat my honde voor my moet doodgaan. En nou is enetjie dood en dit is vir my hel. Dolores is nog baie spelerig, maar haar beurt kom ook. Sy is ook 12 en die veearts sê labradors maak dit nie veel ouer as 11 nie."

Tydens die KKNK van 2012 is Kopstukke weer op die planke gebring met Sandra Prinsloo as regisseur en Lizz Meiring en André Stolz in die rolverdeling. Sandra Prinsloo het die stuk as "’n portret van die huwelik" beskryf. 

André Stolz, wat saam met Lizz Meiring in die stuk te sien is, sê die komedie dek ’n hele palet van emosies: "Teatergangers lag dat jy hulle wie weet waar hoor, maar daar is tye wanneer hulle tjoepstil word." 

Meiring en Stolz speel man en vrou wat albei ná ’n motorongeluk van die nek ondertoe verlam is en in hul dubbelbed gekluister lê. Die man is ’n professor in filosofie wat sy intellek en spitsvondigheid as wapen teen sy middelklas-vrou gebruik. Sy is nie naasteby op sy intellektuele vlak nie, maar sy weet hoe om hom met vroulike aanvalle terug te kry.

"Die twee se houding en siening wissel voortdurend. Kwinkslae word kwistig heen en weer geslinger en oomblikke daarna raak hulle weer diepsinnig. Selfbejammering is nie deel van die teks nie, hoewel die vrou tog haar man vir die ongeluk verwyt," sê Stolz.

Goosen het Kopstukke sowat 20 jaar gelede vir Meiring en Stolz geskryf. Sy was in daardie stadium ’n koerantjoernalis in Pretoria en het die stuk gegrond op berigte wat in die koerante verskyn het. Kopstukke is die eerste keer in 1991 opgevoer en weer in 2001. Prinsloo en Kosie Smit is van die begin onderskeidelik die regisseur en vervaardiger. 

Oor die ontstaan van Kopstukke vertel Jeanne aan Danie Marais (Die Burger, 15 Maart 2013) dat André en Lizz een aand by haar huis aangekom het en gesê het hul toneelstuk vir die Potpourri-fees "is ’n total flop – kan ek nie iets vir hul skryf nie. Toe sê ek eers: 'Maar is julle mal? Dis oor twee weke, man!' En toe sê ek: ’nee maar goed, dan sit ek julle in die bed en julle’s verlam.' En dis hoe dit begin het. En vir die dekor vat ons sommer ’n bossie kosmos, want dit pluk jy verniet langs die pad en ons moes met daardie Potpourri-fees self vir rekwisiete en goed betaal.

"Daai stuk het toe vir my die anatomie van die huwelik geword: Jy lê later in ’n mekaar se dinges, maar jy's verlam. Jy kan nie daar uit nie."

Jeanne vertel tydens die Woordfees van 2013 aan Danie Marais (Die Burger, 15 Maart 2013) dat sy nog ’n drama klaar het. "Ek dink dit kan nogal ’n bom wees, want dit gaan oor wrywing in die Kaap tussen die bruin en die swart mense. Op ander plekke in die land moes baie boere hul grond afstaan omdat swart mense eerste daar was. Maar die Khoi-San en hul voorgeslagte was eerste in die Kaap – eeue nog voor Jan van Riebeeck. En dis vir my baie tragies wat besig is om met hulle te gebeur, want die tikverbruik is iets ontsettends en jy sien wonderlike mense totaal en al ondergaan oor hulle nie werk het nie. Ek kon nooit  verstaan waarom niemand daaroor skryf of moan daaroor in die koerante nie. Maar dié drama het sy humor darem ook in. Ek weet net nie vir watter regisseur om dit te gee nie." 

Sy is ook druk besig met ’n boek wat uit drie novelles bestaan. Oor die inhoud was sy effe vaag, maar sy reken dit is nogal surrealisties en die een verhaal het ’n sterk musiektema.

Oor haarself het Jeanne aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 19 Julie 1995) gesê: "Ek’s nie moeilik nie. Ek is intens, ja. Ek's ’n baie intense, emosionele mens wat met al my gevoelens op my mou loop. Ongelukkig laat dit mense skrik. En ek het ’n diep stem. ’n Militante stem. Maar ek haat geweld, en ek is naïef. Ek het na myself gekyk op daardie vroueprogram op TV en gedink: got, Jeanne, jy’s só naïef."

Daar is wel ’n familiegeskiedenis van endogene depressie, wat haar by tye onmoontlik maak. "Dan sien ek g’n siel nie. Ek gaan koop groceries, soveel as wat ek kan. En ek kook dat die walms in die straat afgaan. Dit was die inspirasie vir Louoond. En ek rook dat die bolle so staan. En plant, blombolle, steggies, enigiets. Ek luister musiek. Ek skilder mure. Maar ek lees niks nie. En ek skryf niks nie. Eers as die hond tot satwordens toe gevoer is, die vrieskas uit sy nate bars en die blare van die eerste bolle begin wys, is die depressie verby en kan ek weer begin werk."

Jeanne was self nog nooit getroud nie. "Die huwelik is uit die oude doos. Ek weet nie waarom mense dit nog doen nie. Ek is buitendien liewer vir diere as vir mense. Ek het elke langnaweek en vakansie altyd in die Wildtuin deurgebring. Dit was vir my die wonderlikste om te sien hoe ’n groep bobbejane daar sit en kibbel, of ’n trop olifante met die kleintjie by ... en hulle gewoontes. Dan het ek altyd hierdie ongelooflike warmte gekry, ’n welgeluksaligheid. Ek het nog nooit so teenoor ’n mens gevoel nie. Ek moet darem bysê, ek was nooit seksueel aangetrokke tot diere nie."

Sy was twee en ’n half keer verloof (aan mans) en "ek het na weerskante toe geëksperimenteer tot ek besef het, hoor hier, dis nie my emmer k*k daai nie. Forget about it. Want jy weet as jy eers begin verloof raak," verduidelik sy aan Marais, "dan begin dit daai ding word wat Kopstukke is. As jy die aand stil is, dan’s dit 'Waaraan dink jy?' en 'Is daar ’n probleem?'. Jy kan nooit eintlik jouself wees nie.

"As jy lief is vir diere, het jy ’n ander uitkyk. Iemand het eenkeer vir ’n vriend van my gesê: 'Wat de hel makeer daai Jeanne Goosen? Eers praat haar hoenders, nou praat haar honde. Nou hoor ek haar plante praat ook.'"

Sy vind nog altyd haar troos in haar klavier en haar geliefde Chopin en Liszt. "Dit en 'Mamy Blue'. Ek het besluit as ek veras word, moet iemand 'Mamy Blue' sing. En as die rokie opgaan, 'I’ve got rhythm'," vertel sy aan Danie Marais.

Jeanne Goosen is op 2 Junie 2020 oorlede.

Publikasies:

Publikasie

’n Uil vlieg weg

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1988

ISBN

0624026914 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Om ’n mens na te boots

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1986

ISBN

  • 0628008457 (hb)
  • 079861739X (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Orrelpunte

Publikasiedatum

1975

ISBN

0628008465 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die groot griep

Publikasiedatum

1981

ISBN

 

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Geskiedenis (kinderboek)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Brood-hooglied

Publikasiedatum

1981

ISBN

 

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Resepte

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Kat in die sak

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798620587 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Louoond

Publikasiedatum

  • 1987
  • 2010
  • 2013 (e-boek)

ISBN

  • 0798623047 (sb)
  • 9781869193072 (sb)
  • 9781869198756 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons is nie almal so nie

Publikasiedatum

  • 1990
  • 2de uitgawe 2000
  • 2007

ISBN

  • 0798630663 (sb)
  • 0795701160 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1990
  • Rapport-prys 1990
  • MNet-prys 1991

Vertalings

  • Engels; vertaal deur André P Brink 1992; 2007
  • Nederlands; vertaal deur Riet de Jong-Goossens 1993
  • Frans 1993

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drie eenakters: Kombuis-blues; Kopstukke; ’n Koffer in die kas

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798632942 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Rapport-prys 1992

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

o.a. Daantjie Dromer

Publikasiedatum

  • 1993
  • 2de druk 1993

ISBN

1874901104 (sb)

Uitgewer

Strand: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Gelyke kans

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134003 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wie is Jan Hoender?: ’n novelle

Publikasiedatum

2001

ISBN

0795701276 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Straataf

Publikasiedatum

2001

ISBN

0799329398 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

’n Pawpaw vir my darling

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2006
  • 2007

ISBN

  • 0795701454 (sb)
  • 9780795702419 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

elders aan diens

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780980260663 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Genugtig! Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Plante kan praat

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780795703003 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Vertalings deur Jeanne Goosen

  • Fast, Julius: Die mag van houding. Pretoria: Daan Retief, 1981 [ISBN 0868143502 (hb)] – Afrikaanse vertaling van Body politics: how to get power with class
  • Berry, Mary: Prutpot-etes. Johannesburg: CNA, 1982 [ISBN 0620059443 (hb)] – Afrikaanse vertaling van One pot cooking

’n Keur van artikels deur Jeanne Goosen op die internet

’n Keur van artikels oor Jeanne Goosen op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Francois Verster

    Groot geeste gaan ook, almal word kosmiese stof, maar sommiges laat 'n mens wens jy het hulle tog ook geken, al is alle lewens maar net 'n bos-asemteug en 'n sterlig-flikkering.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top